“27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” – Gen.1:27,28
In die Beeld van 2010.09.21 is daar ‘n berig van Pieter Cilliers, onder die opskrif “‘n Kas is vir klere, ‘n kerk is vir almal”:
http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/n-Kas-is-vir-klere-n-kerk-is-vir-almal-20100920
Cilliers meen dat die kerk ‘n plek is nie net vir sondaars wat genade en vergifnis in Christus ontvang en versterk word om hul lewe lank teen sondige begeertes te veg nie, hy meen dit is ‘n plek waar jy in jou sondes kan bly volhard en lewe, en die kerk moet jou akkomodeer en laat tuisvoel in daardie sondige denke en lewenswyse.
Cilliers antwoord ‘n besliste ‘ja’, waar Paulus ‘n besliste ‘nee’ antwoord op die vraag van Rom.6:1.
” Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?”
Waar Paulus van ons heteroseksuele gelowiges vra wat worstel met die oorblyfsels van die sonde (Gal.5:19-21)), om te stry teen gedagtes en dade van hoerery, afgodery, wellus, diewery, gierigheid, dronkenskap, kwaadsprekery, ens., meen Cilliers homoseksuele gelowiges moet ‘n spesiale status en behandeling in die kerk kry: hulle mag maar openlik en met die kerk se seën volhard in dit wat vir God ‘n gruwel is, naamlik homoseksuele gedagtes, woorde en dade (Rom.1:24-32).
Waar Paulus leer dat geen persoon wat doelbewustelik volhard in sy sonde, en nog erger, sy sonde goedpraat, die koninkryk van God sal be-erwe nie (1 Kor.6:10; 1 Joh.3:6-9), leer Cilliers dat sulke persone juis die Koninkryk van God sal be-erwe en nie verlore sal gaan nie.
Wie is nou liefdevol of nie: Paulus of Cilliers ?
Paulus leer dan ook dat die ware Evangelie: ons is deur God se genade in Christus bevry van die volhardende lewe in sonde, en deur die krag van die Gees en sy Woord word ons gehelp om die goeie stryd in heiligmaking te stry, hoe moeilik dit ook baiemaal vir ons is (lees 1 Kor.6:11 wat volg op vers 10: maar dit ‘was’ sommige van julle …)
Cilliers se valse evangelie verwoes nie net duisende mense se lewens nie, maar ook kerke. Sien in die besonder sy ‘profetiese woord’ oor die GKSA:
“En in die Gereformeerde Kerke is die saak nie eens op die agenda nie. Voordat vroue nie daar op die kansel toegelaat word nie, sal die gay gesprek ook nie begin nie”
So, daar is dit, die kas het oopgegaan: verander die kerk se standpunt oor die skeppingsordelike verhouding tussen man en vrou (Gen.1 en 2), dan verander dit ook die geslagsbeskouing vir die res van die lewe. As geslag nie meer bepalend is by die ampskwessie nie, dan is dit mos ook nie bepalend vir die ‘huwelik’ nie. Sien Paulus se argument in 1 Tim.2:10-15: hy begrond die ampskwessie van die kerk (v.11,12), in die skeppingsordening van die huwelik tussen man en vrou (v.13-15. ‘Want …”), juis omdat geslag, wat deur God geskep en verorden is, werklik saak maak. Nie die natuur wat God daar gestel het, maar ons sondige misbruik daarvan, is die probleem, na die sondeval (Matt.15:16-20).
Die implikasie daarvan, met liefde teenoor my broeders en susters wat hul nog in kerke bevind wat vroue in die ampte toelaat: julle het geen gronde om homoseksualisme af te keur indien julle vrou in die ampte goedkeur nie.
En, waar het die afval van Cilliers en medestanders begin, wat ons almal waarsku ?
Die artikel verwoord Cilliers se teologiese afval:
“Hy hoop daar gaan nie weer op ou argumente en ou tekste teruggeval word nie, maar dat die mense, die gay mense, raakgesien gaan word.”
Dit wat God se Woord leer, sy Wil soos geopenbaar in die Heilige Skrif, is nie meer belangrik nie, dit is ‘n klomp ‘ou tekste en argumente’ wat nie meer ‘relevant’ is vir ons moderne wêreld nie (2 Tim.4:3,4).
Ironies genoeg, het Paulus al reeds 2000 jaar gelede daaroor geskryf, mense wat die ‘ou tekste en argumente’ verruil het vir hul eie sondige begeertes en welluste:
“24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; 27 en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. 28 En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie.” (Romeine 1)
Dit gaan in ons tydsgees, die feministies-homoseksuele tydsgees, oor die Mens as sy afgod, die Humanisme, en nie oor die ware liefdevolle God se goeie en heilige wil vir mense se lewens en die ware redding wat Hy in Christus vir verlore sondaarmense gebring het, watter sondes ons ookal mee worstel.
Cilliers skryf ook van ‘n gay predikant wat “behoeftes (het) soos enige mens. Hy wil ‘n lewensmaat van sy eie geslag hê. Hy wil ‘n monogame verbintenis met hom aangaan.”
Maar, wat dan van die dief se behoefte om te steel?
Die hoereerder se behoefte om te hoereer?
Die moordenaar se behoefte om te moor?
Die egbreker se behoefte om egbreek te pleeg?
Die dronkaard om homself uit sy sorge te drink?
Kan ons ‘gewone sondaars’ nie maar ook al hierdie ‘behoeftes’ van ons vervul, en dan moet die kerk ons so akkomodeer nie, want, soos Cilliers mos sê, “die kerk is vir almal”?
En, laat ek nie vergeet van die molesteerder se behoeftes nie, wat van hom?
Daarteenoor leer die Skrif, aan ons almal, ongeag watter sondes ons elkeen mee worstel:
“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. 5 Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, 7 waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. ” (Kol.3)
Nee Pieter, gaan lees maar gerus weer Spr.14:12.
Saam met mede-gelowiges worstel ons almal met sondes, moet ons stry teen sondes, teen dit wat God verbied in sy Woord, sondes waarvoor Christus kom sterf het, sodat ons daarteen sal stry, nie daarin sal bly lewe en volhard nie.
En, let wel, nie net sondes van die ‘daad’ nie, maar ook gedagtes. Christus veroordeel egbreek dade én gedagtes (Matt.5:27,28), so ook homoseksuele dade én gedagtes. Daarom is ook die NG Kerk se besluit van 2007 verkeerd, indien Cilliers dit reg vertolk het:
“Daar was mense, sê Cilliers, wat die besluit van die NG Kerk se algemene sinode in 2007 as ’n deurbraak vir gays bestempel het. Hy kan dit egter nie sien nie. Alles bly voorwaardelik. Jy mag gay wees, mits jy nie gay leef nie. Gays mag predikante word, mits hulle selibaat bly.”
Dit is waar dat die kerk van Christus nie kan optree teenoor ‘sondige gedagtes’ nie, die Here alleen sal oordeel, maar die kerk van Christus moet wel leer en waarsku, in navolging van Christus en die res van die Skrif, dat sondige dade én gedagtes verkeerd is, en dat alle gelowiges in die gemoed (gedagte wêreld) vernuwe moet word om God se goeie wil te ken in sy Woord (Rom.12:1,2).
God se Woord en standaard is hoog. Kom ons erken ons gebrokenheid, kom ons erken dat ons almal dikwels struikel en worstel om sy gebooie te gehoorsaam en bely daagliks ons oortredinge (1 Joh.1:8-2:2), maar laat ons nooit God se wil, sy Wet verander om ons sondige gedagtes en lewenstyle (doodstyle) te akkomodeer nie, want die uiteinde daarvan is die ewige dood.
Om God se wil en wet te wil verander om by ons ‘sondige behoeftes’ aan te pas, is om soos God self te probeer wees, dit is die oersonde, en, nog erger: dit is ‘n ontkenning dat die Seun in die vlees gekom het, om die sonde in die vlees te oorwin (1 Joh.4:1-6), sodat ons nou in dankbaarheid vir Hom kan lewe, in heiligheid en geregtigheid.
Laat ons eerder vlug na Hom van wie ons lees:
“15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebr.4)
Pieter, voordat jy jou boek weer publiseer, onthou: Matt.18:5-7.
“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. 21 Wee hulle wat … die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.” (Jes.5:20ev)
Laat ons eerder bekeer en terugkeer:
“So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” (Jer.6:16a)
Hier is ‘n paar bronne om te bestudeer oor die onderwerp:
‘n Bybelstudie program oor homoseksualiteit:
https://proregno.files.wordpress.com/2010/09/bybelstudie-program-vir-homoseksuele-lidmate.docx
Slabbert, ons kan maar net stil word. Dankie…
Tydige Woord, br Slabbert, baie tydig … Dankie.
Hoe waar _ ons Verlosser het Homself geoffer uit liefde vir ons, wat nie in staat is om onsself uit ons sondes te bevry nie. Dikwels hoor mens die verskoning dat gays met ‘n geneigdheid en liggaamlik-homoseksuele afwykings gebore is, en dus geregtig is daarop om so te lewe. Ons is egter almal met erfsondes gebore wat ons moet bely, waarteen ons in die krag van die Heilige Gees moet stry en oorwin. Wie Jesus se plaasvervangende offer ignoreer en volhard in sonde kan net hulleself blameer vir die vernietigende gevolge en regverdige Goddelike oordeel.
Tannie Rosalie, tannie maak ‘n baie geldige en belangrike punt: selfs al is ek nou van ‘nature’ geneig tot sondige gedagtes en dade (bv. homoseksueel), dan is dit a.g.v. van die sondeval waaraan ek as mens ook skuldig is, en dit moet bely.
Die Here het egter ook die uitkoms gegee, Jesus Christus, wat geen sonde geken het nie, het Hy sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid in Hom (2 Kor.5:21). Dit beteken waar die versoeking kom, Hy ook die uitkoms sal gee (1 Kor.10:12,13).
So, in ‘n sekere sin as iemand sê: “ek kan dit nie help nie, ek is homoseksueel gebore”, dan kan ons antwoord, soos die HK dit treffend stel (in my eie woorde):
JA, jy is van nature geneig om sondig-homoseksueel te wees en te dink, en kan alleen gered word daarvan as jy weergebore word
(HK Sondag 2-4).
En, hoe vind dit plaas ? Deur die Evangelie van Christus, wat ‘n KRAG is tot redding vir elkeen wat glo.
Alle sondaars, ook homoseksueles moet opnuut die genadige redding en bevryding in Christus hoor:
“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” Joh.8:36
Matt 6:33 “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” – dit geld vir alle mense, Celliers & kie ingesluit