Posted by: proregno | October 11, 2010

Nie wêreldkerk of volkskerk nie, maar wel volkerekerk

In die Beeld van 2010.10.07 kom die kwessie van volkskerk en ‘n ‘Christelike volk’ weer na vore, of ten minste die laaste stuiptrekkings daaroor, onder die opskrif ‘Ek sien ‘n nuwe hemel kom’. Die volledige artikel kan hier gelees word:

http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Ek-sien-n-nuwe-hemel-kom-20101007

‘n Paar dinge het my opgeval waaroor ek ‘n paar opmerkings wil maak:

Volgens dr. Wim Dreyer (viseskriba van die Hervormde Kerk) is die ‘definisie’ of veronderstellings van ‘n Christelike volk:

a. dat ‘almal’ van ‘n volk Christene is,

b. dat net sekere volke (wittes) Christene is (en dus nie swartes, bruines, ens. nie), en

c. toe Konstantyn die Christelike geloof tot staatsgodsdiens verklaar het, hy daarmee almal tot ‘Christene verklaar het’.

Nou het ek nie geweet Konstantyn het bomenslike kragte gehad nie, maar dit daar gelaat. 

Uit laasgenoemde het dan gevloei  die “ideaalbeelde … (dat) … die Voortrekkers … almal Christene sou wees.”

Ekself het nog altyd die idee van ‘n ‘Christelike volk’ of ‘Christelike land’ of ‘Christelike staat’ verstaan as dat die Bybel die basiese lewens- en wêreldbeskouing, die basiese ‘instellings’ (gesin, gemeente, gemeenskap) beïnvloed en bepaal.   Die werklikheid en bestaan van God Drie-enig word erken, Sy Woord, veral die Tien Gebooie word erken, en Christus word as enigste Verlosser en Koning bely.

Die term het nie God se werk (uitverkiesing, wedergeboorte, ens.) beskryf nie, maar die mens se antwoord op sy Openbaring, hoe gebroke en sondig laasgenoemde ook nog altyd was en sal wees tot die laaste Dag.

Nog nooit het ek dit verstaan (en ek vermoed ook nie my calvinistiese gereformeerde voorvaders soos o.a. Calvyn, Knox, Kuyper, Bavinck, Totius, ens.) dat terme soos ” ‘n Christelike volk, land, staat” sou beteken dat elke Afrikaner/burger kop-vir-kop ‘n Christen sou wees nie.  Inteendeel.  Die Evangelie, die Woord sny deur alle terreine van lewe en denke, deur gesinne, deur gemeentes, deur volke, wie vir en teen Hom is (Ps.2; Matt.10:34-36; 1 Kor.5:11; Matt.25:32; Op.21:24).

Net so min as wat die term ‘Christelike kerk’ beteken elke lidmaat van die sigbare plaaslike kerk is ‘n gelowige (sien NGB art.27-29, veral die eerste 2 sinne van art.29), net so min beteken die term ‘Christelike volk’ elke volksgenoot is ‘n gelowige oftewel Christen.   Wanneer ‘n volk (geel, bruin, swart, wit, pienk of pers) oor die algemeen (nie elkeen kop-vir-kop nie) die Christelike geloof aanneem, wanneer so ‘n volk se instellings, hetsy gesinne, kerke, tradisies, kultuur, taal, gewoontes, politiek, maatskappy, ens., hoofsaaklik (nie alleenlik) deur die Bybel beïnvloed word, dan kan dit beskou word as ‘n ‘Christelike volk’. 

Nou is dit heel ironies, dat hoe meer daar gepraat word van ‘Moslem lande’ en ‘Moslem volke’, hoe minder mag ons praat van ‘Christelike lande of volke’ ?  Wonder hoekom ? 

Ja, toegegee, daar is omtrent nie ‘n land oor in die wêreld van jou tradisioneel ‘Christelike lande’ (ook baie maal genoem ‘Westerse lande’) wat meer konsekwent die Christelike geloof bely en bevorder nie (skande!), die god van Humanisme bepaal deesdae die wese van elke land se geloof en lewensbeskouing, maar as die term reg verstaan word, en nie in ‘n utopiese of perfeksionistiese wyse nie, kan die term wel weer in die toekoms regmatig gebruik word. 

As iemand gou klippe gooi en sê: ja, maar so en so land kan nie ‘Christelik’ wees nie, want kyk wat het hul gedoen, dan vra ek die teenvraag: kyk na jou eie lewe wat jy as Christen al gedoen het wat verkeerd is … en dalk nou nog doen, maar jy bely en dra die naam van Christus ? Is jy volmaak ?  Oortree jy nooit God se gebooie nie ? 

Die punt wat ek wil maak: as ons die term ‘Christelik’ alleen wil gebruik vir volke wat ‘almal uit Christene bestaan’ of waarin almal volmaak optree en nooit iets verkeerd doen nie (wat nêrens ooit al bestaan het of sal bestaan in hierdie lewe nie), wel, dan moet ons ook nooit praat van ‘n Christen man of vrou nie, of ‘n Christen gesin, of Christelike kerk, of Christelike skool of onderwys nie, of wil iemand beweer enige van laasgenoemde persone of ‘instellings’ is almal volmaak en almal kop vir kop Christene ? 

Vir beide ‘n kerk of volk wat haarself/homself die byvoeglike naam ‘Christelik’ toe-ein, geld die Woord en eis:

“Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.” (2 Tim.2:19)

 

Dit is baie duidelik, ongelukkig ook uit die artikel in Beeld (ongeag die goeie ontwikkelinge wat daarin genoem word, o.a. die fokus wat weer op die plaaslike kerk val en nie op die ‘kerkverband en strukture’ nie), dat die wêreldkerkgedagte ons heersende tydsgees is.  Beide die wêreldkerk- en volkskerkgedagte is egter nie aanvaarbaar nie.

Prof. JC Coetzee in sy werk, Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament, vat dit as volg saam:

“Uit hierdie studie is dit duidelik dat nog die wêreldkerkgedagte nog die volkskerkgedagte uitdrukking gee aan die Nieu-Testamentiese openbaring aangaande die verhouding van volk en Godsvolk. Die wêreldkerkgedagte wat ‘n absolute skeiding van volk en Godsvolk maak en slegs in terme van indiwiduele gelowige en mensheid dink, misken sowel die solidariteit wat daar volgens die N.T. bestaan tussen die indiwiduele gelowige en sy volk (dat in die gelowige lede van die volk die volk gered word) as die besondere aard van die universaliteit van die messiaanse Godsvolk, wat daarin bestaan dat alle volke ingesluit word in die Godsvolk onder die heerskappy van Jesus Christus, die Koning van die volke. Dit kom ten diepste neer op ‘n miskenning van die verbond wat ten grondslag lê aan die inbegrepenheid van die volkere in die Godsvolk.

Die volkskerkgedagte met sy vereenselwiging van volk en Godsvolk, wat in terme van die volk as ‘n korporatiewe eenheidswese dink of in indiwidualistiese sin aan die verlossing van die volk na sy empiriese, kwantitatiewe omvang, gaan uit van ‘n volksbeskouing wat geen grond vind in die N.T. nie en misken die absolute eis van persoonlike geloof vir opname van lede van die volk in die Godsvolk. Dit laat nie reg geskied aan die Nieu-Testamentiese openbaring dat die volk in sy gelowige lede gered word nie. Ten diepste is dit ‘n miskenning van die uitverkiesing van God, wat in nouste samehang met die verbond die grondslag vorm vir die verhouding van volk en Godsvolk. Indien ‘n term gevind moet word om uitdrukking te gee aan die ware verhouding van volk en Godsvolk in die N.T. sou in plaas van wêreld kerk of volkskerke gespreek kon word van die volkerekerk. …

Hierdie besondere verhouding van volk en Godsvolk wortel volgens die N.T. in die karakter van God se verbond. Die verbond is ‘n verbond met al die volke, al die geslagte van die aarde. Terselfdertyd dra die verbond ‘n uitverkiesende karakter. As verbond met die volke bepaal God se verbond dat die gelowiges as volke opgeneem word in die Godsvolk; en as verbond met ‘n uitverkiesende karakter bepaal God se verbond dat alleen die uitverkorenes van elke volk, diegene wat vooruit geglo het in Christus, nou reeds glo en nog tot geloof sal kom, voor God as die hele volk gereken word.” (bl.319, 320) 

Prof. Coetzee voeg die volgende belangrike aspek by:

“Dit is besonder opvallend dat dit in die Nieu-Testamentiese openbaring steeds gaan om die volke en nie om rasse nie. Terwyl die volke na vore tree by die kernmomente van die openbaringsgeskiedenis, word rasse-onderskeidinge glad nie genoem nie.” (bl.321)

Vir die wat nog nie oortuig is nie, maar toekomstige ‘kerk en volk’ verhoudinge op ‘ras’ wil bou (blanke kerk en die blanke volk, in plaas van ‘n Afrikaanse kerk en Afrikaanse/Afrikanervolk) en nie op ‘volkskap’ (geloof, taal, kultuur, gewoontes, ens) nie, gaan doen gerus ‘n woordstudie oor die onderwerp in die Bybel.  Ek het ‘n woordsoek gedoen: onder ‘ras’ en ‘rasse’ het my soekenjin geen getal uitgegooi nie.  Toe ek ‘volk’ intik: 1335, ‘volke’: 252 (Sien Coetzee se werk vir die verskillende gebruike van die woord ‘volk’ [hfst.1] in die Skrif). 

Vir enige een wat die regte verhouding tussen volk en Godvolk in die NT beter wil verstaan, is daar nie ‘n beter bron wat ek kan aanbeveel nie. Die boek is ongelukkig uit druk, so soek by tweedehandse boekwinkels of vra ‘n paar wêreldkerk predikante wat skaam geword het vir hul volkskap of jy nie sy kopie gratis kan kry terwyl hy Tutu se ‘Rainbow Nation’ lees nie.  Hier het ek die inhoudsopgawe en laaste samevattende hoofstuk vir u kennisname geplaas:

https://proregno.files.wordpress.com/2010/10/volk-en-godsvolk-in-die-nuwe-testament.docx

Sien ook prof. WJ Snyman se artikel oor dieselfde onderwerp:

https://proregno.wordpress.com/2008/06/02/kerk-en-volk-prof-wj-snyman/


Responses

  1. weereens, dankie

  2. […] Nie wêreldkerk of volkskerk nie, maar wel volkerekerk […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: