DIE HERE BESKIK OOR ALLES
In die Beeld van 2010-12-14 skryf prof. Adrio König, na aanleiding van die wrede moorde op die Potgieter gesin, dat God nie alles (d.w.s ook die kwade) beskik nie:
“Hier staan dat God omgee, nie dat hy alles beskik of selfs net toelaat nie. God gee om. God sal sy kinders deur hul nood dra. Maar ek lees nie in die Bybel dat God alles beskik of toelaat nie. Ek lees in die Bybel dat ons God teleurstel, dat God téén die sonde is, dat God in sy wet sonde veroordeel. Daarom wonder ek of “Jesus huil vandag” nie dalk ’n treffende opskrif was nie.”
Kom ons kyk wat openbaar die Bybel (of ons sondige harte daarvan hou of nie):
1. God beskik oor alles
Exodus 4:11 11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? (sien ook Joh.9:1-3)
Job 2:10 10 Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.
Psalm 135:5-6 5 Waarlik, ék weet dat die HERE groot en onse Here bo alle gode is. 6 Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.
Spr.16:4 4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Jes. 45:5-7 5 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Amos 3:6 6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?
Rom.9:18 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.
Rom.11:36 36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Ef. 1:11 11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.
2. God beskik die goeie dinge wat gebeur
Hosea 6:11 11 Ook vir jou, o Juda, is daar ‘n oes beskik as Ek die lot van my volk verander.
Hand.10:40 40 Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn
Efesiërs 1:5, “…deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil..”
Hebr.11:39-40 39 En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, 40 omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.
3. God beskik die ‘slegte’ dinge wat gebeur
Exodus 8:12 Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan; en Moses het tot die HERE geroep vanweë die paddas wat Hy oor Farao beskik het.
Exodus 12:29 29 En middernag het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. 30 Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ‘n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.
Lev.26:14-16,22,28,29 14 Maar as julle (die Here se verbondsvolk wat Hy lief het – slc) nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; 15 en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek 16 dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. … En Ek sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees. … 28 sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ek sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes. 29 En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet.
Deuteronomy 32:35, My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou. (Deut. 32:35)
Joshua 24:20, As julle die HERE verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en julle vernietig, nadat Hy aan julle goed gedoen het.
1 Samuel 2:6,25 Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom. … Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.
1 Samuel 16:14 14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.
2 Samuel 24:15 15 En die HERE het ‘n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.
Jes. 54:16 16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
Matt.13:40-42 40 Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: 41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, 42 en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Joh.12:40 40 (God) het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
Hand 2:23-24 23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; 24 Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.
Hand 4:27-28 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
Rom.1:26 26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is.
Rom.11:8 8 Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.
2 Thess.2:11-12 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
4. Hy beskik dat alle dinge wat met ons gebeur (ook die kwade), vir sy kinders ten goede meewerk
Genesis 45:5-7 5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. 6 Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. 7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.
Genesis 50:20 20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.
Joh.9:1-3 En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. 2 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? 3 Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.
Rom.8:28 28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
5. God se soewereine almag en beskikking veronderstel menslike verantwoordelikheid/ plig/skuld
Ex. 7:3; 8:15 3 En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig. … 15 En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.
Luke 22:22 22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!
Joh.12:37-40 37 En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; 38 sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? 39 Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: 40 Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
Hand 2:23 23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring.
Hand. 4:27-30 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. 29 En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, 30 deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.
2 Kor.5:10 10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
1 Pe.2:7-8 7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling — 8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.
6. Die alomteenwoordige voorsienigheid (beskikking) van ons almagtige God bely ons ook in die gereformeerde belydenis (onderskryf prof. König dit nog?) :
Sondag 9
Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan (f) en ook as ‘n getroue Vader wil doen (g).
(a) Gen 1 en 2; Exo 20:11; Job 33:4; Job 38; Job 39; Act 4:24; Act 14:15; Psa 33:6; Isa 45:7.
(b) Heb 1:3; Psa 104:27-30; Psa 115:3; Mat 10:29; Eph 1:11
(c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Eph 1:5.
(d) Psa 55:22 (Ou Vert. Vers 23); Mat 6:25-26; Luk 12:22.
(e) Rom 8:28
(g) Mat 6:32-33; Mat 7:9-11.
Sondag 10
Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Act 17:25-28; Jer 23:23-24; Isa 29:15-16; Eze 8:12.
(b) Heb 1:3.
(d) Joh 9:3.
(e) Pro 22:2.
7. Ons enigste troos: die goeie regverdige liefdevolle almag van God
Ons enigste troos, in lewe en in sterwe, in liggaam en in siel, is dat ek (HK Sondag 1):
… nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a) Rom 14:8.
(b) 1Co 6:19.
(d) 1Pe 1:18, 1Pe 1:19; 1Jo 1:7; 1Jo 2:2, 1Jo 2:12.
(e) Heb 2:14; 1Jo 3:8; Joh 8:34-36.
(f) Joh 6:39; Joh 10:28; 2Th 3:3; 1Pe 1:5.
(h) Rom 8:28.
(i) 2Co 1:22; 2Co 5:5; Eph 1:14; Rom 8:16.
Christus het volkome Mens geword om saam ons te ly (Joh.11:35; Rom.8:17; Heb.4:15) ,maar belangriker, om vir ons te kom ly (Luk.24;46,47; 2 Kor.5:21). Maar, Hy is ook volkome God wat regverdig sal oordeel oor elke onreg, elke misdaad wat plaasgevind het, ook van klein kindertjies wat gruwelik vermoor en verkrag word.
In hierdie laaste sin, ly God nie soos mense met hande afgekap en magteloos om iets te doen teen die bose nie. Ons Here Jesus is in sy mensheid oorgelewer aan mense (Matt.17:22), en was ‘n slagoffer, maar selfs dit kon nie plaasvind sonder die wil van sy Vader (Luk.22:22; Hand.2:23; 4:28) en dat die Seun sy lewe vrywilliglik afgelê het nie (Joh.10:17,18).
Die Here sal opstaan tot die stryd, en sal sy haters (en sy kinders se haters), ver en wyd, laat wegvlug voor sy oë (Ps.68:1, Totius beryming, sien: Op.6:16,17), maar belangrik, op die Here se tyd, nie ons tyd nie (2 Kor.5:10; Kol.3:25; 1 Pe.4:17-19).
Daarom ook ons belydenis in NGB artikel 37:
Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Mat 25:41).
Ons as begenadigde sondaarmense, klein en swak, onkundig en baie maal ongehoorsaam, het nie altyd antwoorde op al die hartseer lewensvrae van ons tye nie. Ons weet oor die algemeen dat alle boosheid en sonde die gevolge is van die sondeval (Gen.3) en daarna, en dat selfs kindertjies in sonde gebore word (Ps.51:7), en dat ons aan alle ellende en tot alle kwaad geneig is en daarom die ewige dood verdien, tensy ons opnuut wedergebore word (HK Sondag 3).
Maar ons het nie altyd detail antwoorde oor presies waarom sekere slegte dinge met spesifieke persone moet gebeur nie, dit is deel van die Here se raadsplan wat ons nie hierdie kant van die lewe ken nie. Ons glo egter nie die dwaling wat leer: “waarom gebeur slegte dinge met goeie mense nie”, maar eerder, uit genade, deur die geloof aan “waarom gebeur daar nog soveel goeie dinge met ons as slegte mense” (sien Matt.7:11; 1 Thess.5:16-18) ?
Wat ons wel mag weet, en waarlik in vertroos mag wees, is dat die Here wel alle dinge vir sy kinders ten goede laat meewerk (al beleef ons dit nie elke dag nie), dat Hy as goeie liefdevolle Vader almagtig is en alles raaksien, elke onreg raaksien (Spr.4:21; Hebr.4:13) en regverdig sal oordeel op sy tyd (2 Kor.5:10; Kol.3:25), en nie ‘n slagoffer is van mense se optredes of ander magte in die heelal nie (Jes.40:12ev), én dat Hy alles in sy Hand hou, bo-alles ons ewige saligheid, vir ewig in sy liefde vir sy kinders (Jer.31:3):
Joh. 10:28-30 28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een..
Ons troos vir ons ewige saligheid, lê juis daarin dat ons goeie liefdevolle hemelse Vader almagtig en soewerein is, en daarom oor alles beskik, in die besonderheid ons redding: … en niemand kan hulle uit die (almagtige!) hand van my Vader ruk nie.
Die god wat ‘n mede-slagoffer is saam met die mens, wat magteloos is teenoor die Bose, wat maar net medelye kan toon maar onmagtig is om te verander of te beskik, kan nie hierdie liefdevolle troos bied vir mense, wat die ware Drie-enige God, die God van Abraham, Isak en Jakob, die Vader van Jesus Christus alleen kan bied nie.
En daarom sing die gelowige dankbaar, jubelend bly, die woorde van Ps.115, in die beryming:
Psalm 115:1
Nie aan óns, o troue God,
aan ú Naam alleen gee eer !
Waarom sou die nasies spot
as hul oor ons triomfeer?
Om u goedheid, wees nie stil !
Red ons om u trou ontwil !
115:2
Waarom sou die nasies spot,
met die uitroep ons trotseer:
“Waar is nou die HEER, hul God?”
In die hemel sit die HEER,
en Hy doen wat Hom behaag:
net sý wil geskied omlaag.
Daarom bely ons as gelowiges van harte ook vraag en antwoord 28 van die Heidelbergse Kategismus, wat ons wys op die groot rykdom wat ons het: ‘n liefdevolle hemelse Vader wat waarlik omgee, omdat Hy nie magteloos ly saam met die mens nie, maar ook almagtig en soewerein is deur alles te beskik tot my beswil, ook die kwade :
Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3; Jam 1:3; Psa 39:9 (Ou Vert. Vers 10); Job 1:21-22.
(c) Psa 55:22 (Ou Vert. Vers 23); Rom 5:4.
(d) Rom 8:38-39.
Dankie vir suiwere Woord verkondiging. Ek stem saam dat ‘n god wat magteloos toekyk as sy kinders swaarkry, nie die God van Abraham, Isak en Jakob is nie. Ons God ly nie maar net saam, of voel saam met ons soos Konig en andere se nie, ons God is die beskikker van ons lot. Voor die grondlegging van die wereld het hy bepaal wie aan Hom behoort. In tyd het Hy hulle geroep deur die evangelie boodskap en die geloof aan hulle gegee. Aan so ‘n God kan ek Glo !
Vrede !
Baie dankie Slabbert vir hierdie Bybelse benadering. Soos jy sê, kan die persoon wat smart ervaar, verwys word na Job, ook hoe God pyn en lyding kan gebruik, om ons te herinner dat ons nog op pad is na die ewigheid. Hoop kan geskep word deur op die toekomstige lewe (Romeine 8:18-25) te wys en te wys dat pyn ons louter (Hebreërs 5:8, 2:10. , 2 Korintiërs 4:17,18). Agter al die pyn is ‘n goeie God wat vir die mens se eie beswil dit bewerkstellig het. Daar kan ook gewys word op die manier waarop Paulus sy pyn en lyding gedra het.
In my eie intense pyn en lyding, na baie wroeging op my knieë, kon ek uiteindelik net sê: “Vader, ons verstaan nie, maar ons vertrou U”.
http://www.ligonier.org/blog/god-ordains-whatsoever-comes-pass/