ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN DIE BYBEL EN BYBELSE TYE … VERAL OOR WAT DIE BYBEL LEER VAN DIE WAARDE EN ROL VAN DIE VROU

Ons moet mooi onderskei tussen ‘Die BYBEL’  en ‘Bybelse TYE’

VERAL OOR WAT DIE BYBEL LEER VAN DIE WAARDE EN ROL VAN DIE VROU

“…. om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus… Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (Filp. 1:10; 2 Tim. 2:15)

“Staan die Bybel in die pad van die emansipasie van vroue? Dit hang af van wat mens bedoel met emansipasie. … Die Bybel bring (die man-vrou)  verhouding tot sy hoogste ontwikkeling. Dit moet deurdrenk wees van die liefde van Christus, die verhouding prikkel, groei en laat blom. Dan is hoofskap geen hindernis nie, net so min as Christus wat die Hoof van Sy kerk is. ‘n Godgegewe orde kan nooit ‘n hindernis wees nie.” – WH Velema

Baie dwalinge en misverstande aangaande wat die Bybel leer oor ‘n bepaalde saak, word veroorsaak omdat daar nie gebalanseerd en mooi versigtig onderskei word in wat die Bybel in sy geheel én sy dele, in sy volle konteks oor enige bepaalde onderwerp leer nie. Voeg daarby dat sekere tekste en sake eensydig aangebied word, en dan word daar dogmaties gesê ‘Die Bybel leer…so en so’ tot ‘skok’ van baie.  Dit veroorsaak sensasie, en erger, dat gesinne en kerke daardeur verskeur en verdeel word, wat tragies is, nie tot eer van God nie, en heil van die gemeentes nie (sien die beginsels van eensgesindheid en orde tot eer van God in 1 Kor. 1:10-16; 14:33-40).

‘n Baie goeie voorbeeld is hierdie skrywe van prof. Adrio König, in sy boek: Die Groot Geloofskommentaar (CUM, 2014), bl. 99 (beklemtonings bygevoeg):

“Watter rol speel vroue in die Evangelies? Vroue was die eerste getuies van Jesus se verskynings. Dit is die getuienis van al vier Evangelies. As dit nie ‘n historiese feit was dat vroue die eerste getuies was nie, sou geen evangelis dit ooit geskryf het nie, want dit was ‘n verleentheid. Vroue het “tweede” gekom in die Bybel, en dit was net omdat daar nie ‘n derde plek was nie.

Hulle het omtrent geen basiese regte gehad nie, hulle was die eiendom van ‘n man, of van hulle pa of van hulle man. Volgens 2 Konings 4 kom ‘n vrou van ‘n profeet by Elisa. Haar man is dood, en nou kom die skuldeisers haar seuns as slawe vat. Maar waarom doen hulle dit nou eers? Waarom nie toe die profeet nog geleef het nie? Omdat die profeet ‘n man was en mans het regte gehad. Jy kon nie ‘n man se kinders vat nie. Maar ‘n vrou het nie regte gehad nie. Jy kon sommer haar kinders as jou slawe vat om die oorlede man se skuld te delg. Dit is ook waarom ‘n weduwee se kinders weeskinders genoem is al het hulle ma nog geleef (God is “die God van die weduwees en die weeskinders” genoem.)”

König met hierdie – om die minste te sê eensydige en genoeg om misleidend te wees – paragraaf, blyk bloot onkundig te wees oor wat die hele Bybel leer oor die vrou se ‘plek’ in die Bybel (wat te betwyfel is vir ‘n professor in teologie?), of hy wil bloot die (meerderheids?) feministiese tydsgees dien en daarom die keuse van sekere sake oor die ‘tweede oftewel slegte plek dus’ wat die vrou in die Bybel inneem, en natuurlike moet en kan hy dit alleen doen deur die Bybel nou te ‘herinterpreteer’ vir die moderne feministiese tye (sien WH Velema se artikel hier onder, Staat de Bijbel de emancipatie van de vrouw in de weg?).  Hierdie herinterpretasie deur ‘nuwe hermenetiek word in ander werke van König ook gesien: sien die volgende artikels: Prof. Adrio König en die kritiese lees van die Bybel; Frits Gaum se kritiek teen Adrio König se nuwe boek oor Paulus; Die HERE beskik oor alles; Die Evangelie op die Spel in König se teologie

Die grootste probleem is egter, wat ongelukkig baie opregte maar misleide gelowiges ook kan begaan, is dat nie baie duidelik onderskei word in sulke ‘sensitiewe sake’ tussen:

a) wat die BYBEL self leer, dus Godsopenbaring (in sy dele én geheel, oor ‘n bepaalde onderwerp), en dan spesifiek hier oor die vrou, en:

b) wat die bybelse TYE EN MENSE (gelowiges in OT/NT) ‘gemaak’ het (dus geleer en gedoen het = wat die Bybel bloot ‘beskryf’), met wat die Bybel geleer/openbaar het ‘wat behoort’ die rol en siening oor vroue te wees (en daarom ook die ‘kultuur-historiese’ tye wat Israel en die kerk omring het deur die eeue, bv Egiptenaars en Babiloniese sienings in die OT; die Grieke en Romeine in die NT, ens). En ja, dan moet verder gevra word: was hul (beide gelowige en die ‘wêreld’) altyd gehoorsaam of nie aan die Godsopenbaring, aan God se wil vir die vrou?

c) Verder, om nie die geleidelike openbaringshistoriese ontwikkeling van die Skrif in ag te neem oor bepaalde wetgewing van Israel en tye wat vir sekere tye gegeld het, maar nie noodwendig vir alle tye nie, lei ook na velerlei verdraaide of eensydige weergawes oor ‘die vrou in die Bybel’.

By dit alles kan dan ook dan bygevoeg word:

d) wat elke gelowige, kerk en ongelowige doen of nie doen met die Bybel deur alle eeue ook ons tye… is ek/ons/julle/hulle/almal van harte gehoorsaam aan wat die Bybel self leer, aan die Godsopenbaring in sy geheel, midde in ons eie tye en omstandighede, midde ons eie ‘tydsgees en kultuur-historiese omstandighede’?

Ons moet altyd onderskei, met baie gebed, wysheid en nederigheid, in liefde vir God en ons naaste.

Ons moet in alle ‘leer- en lewe’ sake, bewe vir God se Woordopenbaring (Jes. 66:2), heeltyd vra na: Daar staan geskrywe (Matt. 4:4), en met die nodige ontsag en heiligheid die Woord ‘reg sny’:

Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (2 Tim 2:15)

Om die waarheid reg te sny = om die regte pad aan te dui, die Woord reg te hanteer, die Woord akkuraat te verkondig (sien 2 Tim. 3:14-4:5). Een vertaling: “rightly dividing the truth” = mooi te onderskei en toe te pas.

Die Godsopenbaring is onfeilbaar, dit is vanselfsprekend tydsgerig, maar nie tydsgebonde nie.

Die antwoord van gelowiges en die kerk kan getrou en gehoorsaam wees aan daardie onfeilbare Godsopenbaring, maar baiemaal, is dit ongelukkig ook nie, weens die gevolge van die sondeval, weens ongehoorsaamheid, weens die Woord wat onkundig of kwaadwillig nie ‘reg gesny word nie’. Baie misbruik selfs die Woord (dink aan Satan, Matt. 4:1-11!) om manne en vroue se rolle en take te verdraai, verwar, omver te werp (Rom. 1:18-32), alles in stryd met die Godsopenbaring. EN ja dit het in ‘Bybelse tye’ in ‘kerk tye’ in ‘kerke’ gebeur deur die eeue, en dit gebeur vandag nog orals, ongelukkig, buite maar ook binne ‘die kerk’.

Daar is ongelukkig nie altyd getroue liefdevolle verootmoedigende bekerende gehoorsaamheid in wat die Bybel leer oor rol, take, verhouding man en vrou, gesin, huwelik, gemeente roeping, ens., nie.

Maar nou baie belangrik, die misbruik van ‘n saak of waarheid, en veral dan Godsopenbaring, van God se Naam, van wat die kerk waarlik glo, hef nie die regte gebruik en gehoorsaamheid daarvan op in ware liefde tot God en die naaste nie.

Dit is juis waarvoor Christus gekom het, die evangelie dat Hy vir ons sondes van ‘misbruik en verdraaiing’ te kom sterwe, vir ons ongehoorsaamheid en opstand as mans én vrouens, vir die herstel en handhawing van ons onderskeie skeppingsordelike rolle, take, roepinge, ens., sodat ons weer daarin bevestig kan word, to sy eer en die heil van ons naaste (sien 1 Petrus 2:11-3:12).

Die evangelie handhaaf en heilig God se skeppingsorde, sy bevelswil, in terme van die rol, waarde, take, ens. van mans en vrouens, en hul onderlinge verhoudinge, nie net in die gesin nie, maar ook in kerk en maatskappy.

So, as mens nie hierdie sake (Godsopenbaring en die mens se antwoord) deeglik en duidelik biddend onderskei en leer nie, dus die waarheid reg sny nie, gaan jy in verskeie dwalinge na beide kante val (bv. van die VIDA agenda na die GAY agenda), in baie onderwerpe en leer en lewe in sake oor ons geloof, en veral vandag in die humanisties- en/of ‘evangeliese’ feminisme wat so baie kerke al verdeel en verskeur het deur die eeue, veral vanaf die middel 20ste eeu, en dan nou ook met die GKSA waar al meer gemeentes God se skeppingsordeninge en bevelswil vir die Here se kerkregering verwerp en ignoreer.

‘n Verdere groot probleem met König se woorde, is dat hy net genoeg ook sê om baie gevaarlik te wees, hy verdraai nie net nie, is nie net eensydig nie, maar veralgemeen so, dat ongelukkig baie lesers dit vir soetkoek gaan opeet, en nie self verder besin en dink soos Hand. 17:11 ons in beginsel leer nie, wat baie hartseer en tragies is. Dit lei verder daartoe dat welmenende maar baie onkundige gelowiges (en nie-gelowiges!) nou meen, wat König hierbo stel, is inderwaarheid wat die ‘Bybel leer’, nl dat vrou ‘volgens of in die Bybel’ sleg ‘tweede’ gekom het, dus altyd as ‘tweederangse burgers’ beskou is, omtrent geen ‘regte’ gehad nie, en dus minderwaardig of van minder waarde as mans was vir die Here.

En dit is om die heel minste te sê, so eensydig dat die nie tot eer van God se Openbaring is om dit bloot so eensydig te stel sonder om die hele saak te stel, of ten minste daardie ‘geen of min regte’ in die hele Bybelse konteks reg te verstaan.

Dit is omdat baie mans (of vroue!) wat die Bybel verdraai het, of eensydig verklaar het, of nie mooi onderskei het tussen wat die ‘Bybel leer’ en wat mense daarvan maak (gehoorsaam of ongehoorsaam), dat soveel chaos en wanorde heers oor die rol van man en vrou, oor die huwelik, oor die besondere dienste en kerkregering, oor wie mag in die besondere dienste van predikant, ouderling en diakens staan of nie staan nie (1 Tim. 2 en 3), ens., veral vandag.

Een van die probleme van die ‘Bybel leer vroue is minderwaardig’ soos König hier stel, is dat hul net sekere verse, veral of meestal net vertellende- of verhalende stof gebruik wat as norm voorgehou word as sogenaamd ‘die Bybel leer …’, om dan hul saak te verdedig van die ‘anti-vrou Bybel’.  Of sekere tydelike wetgewing of omstandighede van die Bybel in die OT, wat vir daardie tye gegeld het word as norm gehandhaaf , sonder om dit in die hele konteks van die Bybel te verstaan en verklaar (Skrif-met-Skrif te vergelyk), deur die bybels gereformeerde openbaringshistoriese gelowige lees van die Heilige Skrif:

“ ’n Besonder belangrike faset hiervan is die feit dat die eksegeet/hermeneut baie deeglik rekening moet hou met die openbaringshistoriese situasie van enige betrokke Skrifwoord. Ons móét rekening hou met die feit dat dit God behaag het om Hom en sy wil in die loop van die geskiedenis algaande al duideliker te openbaar. ‘n Teks in, sê Eksodus, en ‘n teks in Romeine mag dus nie sommer so gelykskakelend langs mekaar gestel word nie. Die LATERE woord in die Godsopenbaring oor DIESELFDE SAAK is altyd deurslaggewend teenoor die voorafgaande! ” (Coetzee, J.C. De Klerk, B.J., Floor, L. 1980. Die hermeneuse van die Skrif met die oog op hedendaagse kerklik-etiese vraagstukke. In die Skriflig, Jg.12, nr.54: 12-26)

[Vir nog so ‘n voorbeeld van ‘n bepaalde saak wat nie in sy volle Openbaringshistoriese konteks gelees en verstaan word nie, sien: IS DAAR ‘N OU TESTAMENT VERBOD OP POLIGAMIE?]

Daarom mede-gelowiges, kerke van Christus, broers én susters:

Dit beteken ons moet ja, die na die hele Skrif luister, van Genesis tot Openbaring om te weet, wat leer die Bybel oor die waarde, roeping en rol, en taak van die vrou. Ons kan nie net sekere verse, en veral nie sekere verse of gedeeltes uit verband ruk en selfs verdraai met humanisties-feministiese bril op, om ons eietydse VIDA agendas te wil bevorder nie.

En dan veral, as dit dan bv. kom by die vrou se verlossing (saam met die man), en wat haar rol en taak is in gesin, gemeente en gemeenskap saam met die man, opnuut en finaal na die Godsopenbaring in die Nuwe Testament mooi luister, en ook baie mooi lees en luister waar die NT Openbaring mooi onderskei in terme van die gelyke waarde en wese van man en vrou, hul is saam verlore sondaars, saam genadiglik gered uit genade alleen, deur die geloof alleen in Christus (Gal. 3:28), maar nog baie duidelik onderskeie in roepinge en take in die gesin en die gemeente, op grond van God se eis, bevel deur sy Woord (Ef. 5:20-34; 1 Kor. 14:33-40; 1 Tim. 2-5; Tit. 1 en 2, ens.)

Kom ons luister nou biddend en aandagtig na ‘n oorsigtelike weergawe van die waarde en rol van die vrou, en na u dit gelees het, vra uself af of König, en soveel ander deur die afgelope paar dekades wat die Skrif so subtiel verdraai en eensydig aanbied oor die rol van ons kosbare susters in die geloof, om by ons tydsgees aan te pas oor die saak (2 Tim. 4:3), of hul werklik van harte opreg mooi luister na die geheel van die Heilige Skrif oor hierdie saak, en die Woord van die waarheid daaroor reg sny:

En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.  Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag” (Gen 1:26–31)

Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.” (Ex 20:12)

En elke dogter wat ’n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe.” (Num 36:8)

Want die dogters van Manasse het ’n erfdeel ontvang onder sy seuns, terwyl die land Gílead aan die ander kinders van Manasse behoort het.” (Jos 17:6)

En sy sê vir hom: Gee my tog ’n geskenk; omdat u my na ’n dor land versit het, moet u my waterfonteine gee. Toe gee Kaleb haar fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte.” (Rig 1:15)

En die naam van die man was Nabal, en die naam van sy vrou Abígail; en die vrou het ’n goeie verstand gehad en was mooi van aansien; maar die man was grof en boosaardig, en hy was ’n Kalebiet.” (1 Sam 25:3)

“…. roep ’n wyse vrou uit die stad: Luister, luister! Sê tog vir Joab: Kom hierheen, dat ek met u kan spreek.” (2 Sam 20:16)

Toe Bátseba dan ingaan na koning Salomo om met hom oor Adónia te spreek, het die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig; daarna het hy op sy troon gaan sit en vir die moeder van die koning ’n stoel laat neersit, en sy het aan sy regterhand plaas geneem.” (1 Kon 2:19)

En Hadad het groot guns gevind in die oë van Farao, sodat dié aan hom sy vrou se suster, die suster van Tágpenes, die gebiedster, as vrou gegee het.” (1 Kon 11:19)

Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en negen-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Abi, ’n dogter van Sagaría.” (2 Kon 18:2)

“En daar het ’n groot geroep van die volk en van hulle vroue ontstaan teen hulle broers, die Jode..” (Neh 5:2)

“En in die hele land is geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Job nie; en hulle vader het hulle ’n erfdeel gegee onder hulle broers.” (Job 42:15)

“… sodat ons seuns soos plante mag wees wat opgekweek is in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare wat uitgebeitel is na die boustyl van ’n paleis;” (Ps 144:12)

Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af.” (Spr 14:1)

Wie ’n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ’n welgevalle van die Here verkry.” (Spr 18:22)

“Huis en goed is ‘n erfenis van die vaders, maar ‘n verstandige vrou is van die HERE.” (Spr 19:14)

Alef. Wie sal ’n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande. He. Sy is soos die skepe van ’n handelaar—van ver af bring sy haar brood in. Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies. Sajin. Sy dink na oor ’n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd. Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig. Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie. Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof. Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper. Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars. Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom. Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong. Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie. Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word. Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte” (Spr 31:10–31)

Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!” (Jes 49:15)

En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra. En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.” (Mark 10:10–12)

“… en het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!” (Luk 1:42)

“… ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.” (Luk 8:1–3)

En op hulle reis het Hy in ‘n sekere dorp gekom, en ‘n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang. (Luk 10:38)

10 En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het. En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie. Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop… En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie. ” (Luk 24:10,11, 24)

En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” (Joh 4:39)

En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.” (Joh 19:26–27)

Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ’n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.” (Hand 1:14)

“Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.” (Hand 8:12)

“Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas ‘n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf. (Hand 13:50)

“En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue. … Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ’n groot aantal, vroue en manne.” (Hand 17:4,12)

“… dat julle haar ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam, en haar bystaan in elke saak waarin sy julle nodig mag hê. Want sy was vir baie ’n beskermster en ook vir my.” (Rom 16:2)

“Groet Triféna en Trifósa, vroue wat in die Here arbei. Groet Pérsis, die geliefde vrou, wat baie in die Here gearbei het.” (Rom 16:12)

Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê. Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.” (1 Kor 7:1–3)

“… en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (2 Kor 6:18)

“… en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.” (Ef. 5:21)

“Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.” (Ef 5:25)

“En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saam gestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is.” (Filp 4:3)

“… maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.” (1 Tim 2:10)

Eer die weduwees wat waarlik weduwees is. Maar as ‘n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.” (1 Tim 5:3-4)

“… maar leraresse van wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie. (Tit 2:3-5)

“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie. Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie. EN eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.” (1 Petr 3:1–8)

Samevatting en konklusie

Hierdie Godsopenbaring, uit beide OT en NT leer oortuigend:

  • die gelyke waarde en wese van die vrou wat saam met die man geskape is na die beeld van God en ‘baie goed’,
  • dat hul gelyk verlos word in en deur Christus alleen, en dus saam glo.

Maar, dit leer selfs:

  • dat die vrou in die ‘bybelse tye’ (ook buite bybelse tye = kultuur historiese tye wat Israel en die kerk omring het) baie meer ‘regte en aansien’ gehad het as wat baie voorgee as hul sê “Die Bybel leer … vrou het sleg tweede gekom” en eintlik nêrens was nie, sommige sal praat van vroue was bloot orals en altyd in ‘bybelse tye’ net ‘besittings en slawe’…

Natuurlik was die sonde en misbruik en mishandeling van vrou en kind (en die man!) na die sondeval nog altyd daar, en ons betreur dit, en moet dit binne en buite die kerk tydig en ontydig aanspreek word met die wet en evangelie van Christus, in beide vermaning en tug.

Teen alle ‘chauvinisme’ én ‘feminisme’, die wet en evangelie van Jesus Christus alleen!

Die Godsopenbaring, en die ware bybelse Christendom, ook die gereformeerde Christendom wat daaruit gevloei het, is goed vir die vrou:

Sien Rebecca Jones* se  Does Christianity Squash Women? A Woman Looks at Womanhood,

“[Women] are, on the contrary, given a place of high honor in the Bible….They play a huge part in the accomplishment of God’s will and in the arrival of the promised seed.”

RS Stark se belangrike sosiologiese studie, The Rise of Christianity: How the Obscure, Marginal Jesus movement Became the Dominant Religious Force in the Western World in a Few Centuries, wys ook hoe een van die wesentlike sake waardeur die Christelike kerk so groot impak op die eerste paar eeue gemaak het, was hul hoë waardige siening van die rol van die vrou volgens die Skrif vir beide kerk en samelewing,

“Women left the religious systems of the Greco-Roman world, with which they were familiar, and consciously decided to join the burgeoning Christian movement. No one forced them to do so. No one made them become Christians. On the contrary, Christianity was a cultural pariah. It was an outsider movement in all sorts of ways—legal, social, religious, and political. Believers were widely despised, viewed with suspicion and scorn, and regarded as threats to a stable society. And yet women flocked to the early Christian movement anyway.”

WH Velema wys ook hoe die huweliksopenbaring van die Ou Testament, aangevul, nog verder verbeter en gehandhaaf deur die NT, in Christus, die wesentlike verdere reformasie in die huwelik in die destydse wêreld gebring het soos die evangelie orals versprei het:

Juist het omgekeerde zou ik willen stellen. De vergelijking van de verhouding Christus en  gemeente met de huwelijksverhouding (Efeze 5:22-23) heeft er niet weinig toe bijgedragen dat de vrouw binnen het huwelijk een andere plaats kreeg dan in het Oude Testa­ment. Aan deze verzen gaat in Efeze 5:21 dan ook vooraf de opwekking om elkander onderdanig te zijn in de vreze Gods. De context van de vermaning aan mannen om hun vrouw als het zwakste vat eer te geven (1 Petr. 3:7) is in de wêreld van die dagen onbekend. Juist de liefde van Christus brengt de man-vrouw verhouding tot haar hoogste ontplooiing en schoonste vormgewing. 

Vanuit het Oude Testament gezien was er inderdaad aan die verhouding wel het een en ander te verbeteren. Dat gold trouwens evenzeer voor het Jodendom in Jezus’ dagen. Men denke eraan hoe Jezus met de Samaritaanse vrouw sprak tot verbazing van Zijn discipelen. Zijn herinnering aan hoe het van den beginne af geweest is (Matth. 19:8) betekende een pleidooi voor de vrouw tegen de willekeurige echtscheidingspraktijken welke mannen in die dagen erop na hielden.”

En, nee, die vroue in die eerste eeue het nie na die kerk gestroom omdat hul ‘feminisme’, die radikale en/of ‘evangelical’ weergawes van die 20/21ste eeu verkondig het nie, inteendeel.

Ja, die Christelike geloof, die Bybel, Christus, die wet en evangelie, ens., is nie net goed vir die vrou nie, maar dan ook vir die man, en vir die gesin, gemeentes, en gemeenskappe …. en ja, daar waar ons ons moet bekeer, moet ons bekeer (ook deur die handhawing van die drie kenmerke van die ware kerk van Christus, NGB art. 27-32), altyd semper reformanda, ook vir ons tye, dieselfde beginsels kan op ander maniere toegepas word, maar … nooit ten koste van die Waarheid nie, nooit ten koste van God se skeppingsordening en rolle wat Hy daar gestel het vir man en vrou vir alle tye en plekke nie, en daarom maak geslag saak, want God se skeppingsorde, sy bevelswil, sy evangelie, sy Woord, maak saak, en daarom is dit ‘n wesentlike saak, daar moet die ware kerke dit handhaaf, ook die GKSA kerkverband in ons tye, teen al die dwalinge van ons tye, binne en buite die kerk. In die woorde van WH Velema,

“God heeft een bepaalde orde gewild. Er is een relatie tussen man en vrouw, waarbij aan de man het leidinggeven, het voorgaan toekomt. Dat is zijn opdracht. Paulus beroept zich voor deze  relatie in 1 Tim. 2: 13 zelfs op de schepping: Adam is eerst gemaakt, daarna Eva. Hoe men het wendt of keert, dit zijn Bijbelse gegevens. … Het komt mij voor dat het hoofd-zijn van de man in het algemeen geldt, maar in de huwelijksrelatie zijn aktuele en praktische toespitsing krijgt. Dat de vrouw de „ontvangende” is, geldt voor elke vrouw. Het wordt binnen het huwelijk aktueel en konkreet. Juist vanwege de overeenkomst in relatie tussen Christus en de ge­meente én het huwelijk, zal ook in de gemeente dat hoofd-zijn van de man geëerbiedigd moeten worden. Vandaar dat de ambten in het Nieuwe Testament niet voor de vrouw openstaan.”

Mag die Here ons daartoe genadig wees om die dinge te onderskei ook in ons tye, en die Woord van die waarheid reg te sny, ook vir ons tye, in ware liefde tot God en ons naaste.

EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening.” (2 Tim. 4:1–5)
_________________________________________________________________

* Rebecca Jones se lesing oor die onderwerp: What is a Woman? 

Sien ook hierdie verdere artikel van GW Knight wat in Afrikaans vertaal is:

Die rol van vroue in die kerk: Mag vroue leer en regeer oor mans in die kerk van Christus?

My eie artikel oor die onderwerp: Die vrou in God se Koninkryk – drie standpunte

Prof. dr. WH Velema, Staat de Bijbel de emancipatie van die Vrouw in de weg?

“De Bijbel krijgt er de schuld van dat de vrouw in haar ontwikkeling bij de man ten achter is gebleven. De Bijbel zou de vrou klein gehouden hebben. Mannen heten de heren der schepping te zijn. De vrouwen zijn hun ondergeschikten.”

“Duidelijk is dat naar het oordeel van velen de Bijbel de emancipatie van de vrouw eer schijnt te remmen dan te stimuleren, tenzij we tot een heel ander lezen van de Bijbel komen dan tot heden het geval was. We zullen de Bijbel dan moeten herinterpreteren om met zijn boodschap vandaag uit de voeten te kunnen.”

De emancipatie­ beweging van onze tijd staat dus niet op zichzelf. Zij is onderdeel van een veel groter en machtiger beweging, die de hele samenleving en alle verhoudingen daarbinnen wil veranderen. De opbouw van de samenleving, het grondpatroon en de struktuur moeten gewijzigd worden. Het is niet onduidelijk waar deze kritiek vandaan komt. Ze vindt haar oorsprong in de ontkerstening die Bijbelse normen loslaat en Bijbelse gedachten voor achterhaald verklaart. Nu de mens zich in het publieke leven van God niets m eer behoeft aan te trekken, moet alles veranderd worden, wat nog enige herinnering zou kun nen bevatten aan een Bijbels patroon.”

“Staat de Bijbel de emancipatie van de vrouw in de weg? Dat hangt er m aar vanaf wat men onder emancipatie verstaat. … De Bijbel brengt die verhouding tot haar hoogste ontplooiing. Zij moet doortrokken zijn van de liefde van Christus. Dat doet die verhouding tintelen, groeien en bloeien. Dan is het hoofd-zijn geen hindernis, net zo min als dat het geval is met het feit dat Christus het hoofd van Zijn gemeente is. Een door God gegeven orde kan nooit een belemmering zijn.”

Sien ook: DIE HERMENEUSE VAN DIE SKRIF MET DIE OOG OP HEDENDAAGSE KERKLIK-ETIESE VRAAGSTUKKE, J.C. Coetzee, B.J. de Klerk, L. Floor

“Agter die benadering van die Bybel as ’n tydgebonde en daarom aan kritiek onderworpe voorstelling van Gods heil en agter die siening van die gesag van die Bybel as tradisie-gesag, sit ’n bepaalde Skrifbeskouing. Daarom is dit by die bespreking van die probleme met betrekking tot die posisie van die vrou in die kerk van die uiterste belang hoe ons die Bybel en die tekste wat spreek oor die plek van die vrou in die kerk benader.”

Belangrike artikels oor Gereformeerde Skrifverklaring:

Oor Ware Gereformeerde Hermeneutiek, proffs. GJC Jordaan & SP van der Walt

“Geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God is derhalwe ‘n voorveronderstel­ling waarmee die gereformeerde Skrifver­klaarder die Bybel benader. Dit rig alle eksegetiese arbeid — gevolglik ook die hermeneuseproses. Gereformeerde hermeneuse glo dat God se Woord ook op vandag van toepassing is. Die proses van hermeneuse wat begrond is op die Skrifbeskouing van en geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God, wil dus die betekenis van die Skrifboodskap toepas op die hedendaagse konteks. God wat eenmaal ‘n tydgerigte woord gespreek het, spreek daardeur ook tydgerig tot die konteks van vandag.”

Skrifgesag en Skrifvertolking, prof. GJC Jordaan

“Aangesien die hele eksegeseproses, in sy grammatiese fase en in sy historiese fase, maar veral in die proses van sintese en hermeneuse, in werklikheid nie sonder die interpretasiegawe van die Heilige Gees kan geskied nie, is dit nie moontlik om dit werklik as ’n meganiese toepassing van hermeneutiese reëls te bedryf nie. Ook in die bepaling van wat werklik God se blywende opdrag vir ons vandag is, en wat slegs as situatiewe opdragte beskou kan word, in die bepaling van wat die fokuspunt van ’n Skrifdeel is en wat bysake is, ook daarin moet die Skrifverklaarder biddend werk dat die Heilige Gees hom die insig sal gee om te interpreteer en die gawe om te onderskei.”

‘n ‘Ou Boek in ‘n nuwe wêreld’, of ‘n ‘Nuwe Boek in ‘n ou wêreld’?, prof. JC Coetzee

“Hoe moet ons die Nuwe Testament besien? As, saam met Vorster: ,,’n Ou boek in ’n nuwe wêreld”? Of veeleer as: ’n Nuwe Boek in ’n ou (verslete, verbygaande) wêreld?”

2 thoughts on “ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN DIE BYBEL EN BYBELSE TYE … VERAL OOR WAT DIE BYBEL LEER VAN DIE WAARDE EN ROL VAN DIE VROU

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑