Die HERE beskik (nog steeds) oor alles

In 2010 het ek ‘n artikel geskryf in antwoord op prof. Adrio König se artikel destyds in die Beeld van 2010-12-14, waar hy na aanleiding van wrede moorde beweer het dat God nie oor alles (d.w.s ook oor die kwade) beskik nie, u kan die artikel hier lees. 

In die Netwerk 24 artikel, “Dis hoe Dopperkerke ‘n verskil maak en wil maak” van Vrydag 6 Januarie 2023, maak ds. Charl van Rooy ongelukkig dieselfde soort geluide, hierdie keer oor covid wat God glo nie gestuur het nie, nie beskik het nie, dit was nie deel van sy wil nie (sien hierdie artikel van ds. Gerrie van Rhyn wat reeds daarop geantwoord het, asook oor die saak van vroue in die besondere amp van predikant/ouderlinge, waaroor die artikel eintlik gaan).

Ds. van Rooy sê onder andere: “Dis die ontnugtering van die ouens: Hulle het grootgeword met die teologie van dit is God wat al hierdie slegte goed laat gebeur, en dan sê mense: Maar ek wil nie in so ‘n god glo nie. Ek stem vir geen oomblik daarmee saam dat God die een is wat Covid gestuur het, of wat ‘n oorlog of een of ander ellende laat gebeur nie.”

Ek plaas daarom die destydse artikel weer hier, maar hierdie keer in antwoord op ds. Charl van Rooy se troostelose opmerkings, met ‘n paar veranderings en byvoegings, want “… alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is” (1 Petrus. 1:24–25)

Kom ons kyk wat openbaar die Bybel oor wat God alles oor beskik (of ons sondige harte daarvan hou of nie, of die tydsgees dit aanvaar, of nie):

Inhoudsopgawe:
1. God beskik oor alles

2. God beskik die ‘goeie’ dinge wat gebeur

3. God beskik die ‘slegte’ dinge wat gebeur

4. Hy beskik dat alle dinge wat met ons gebeur (ook die kwade), vir sy kinders ten goede  meewerk

5. God se soewereine almag en beskikking veronderstel menslike verantwoordelikheid/ plig/skuld

6. Ons bely ook die alomteenwoordige voorsienigheid (beskikking) van ons almagtige God in die gereformeerde belydenis (onderskryf prof. König … en ds. Charl van Rooy dit nog, van harte in navolging van die Skrif?)

7. Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 13: Die voorsienigheid van God

8. Die Dordtse Leerreëls oor God se ‘voorbeskikking’

9. Calvyn in sy ‘Institusies van die Christelike Godsdiens’ oor God wat alles beskik

10. Totius oor God se beskikking

11. Konklusie: ons enigste troos is die goeie regverdige liefdevolle almag van God die Vader, in sy Seun, Jesus Christus, deur die kragvolle werk van die Heilige Gees

 1. God beskik oor alles

Exodus 4:11   11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? (sien ook Joh.9:1-3)

Job 2:10   10 Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.

Psalm 135:5-6   5 Waarlik, ék weet dat die HERE groot en onse Here bo alle gode is.  6 Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.

Spr.16:4  4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Jes. 45:5-7  5 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Amos 3:6   6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?

Rom.9:18  18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

Rom.11:36   36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Ef. 1:11  11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

2. God beskik die ‘goeie’ dinge wat gebeur

Hosea 6:11  11 Ook vir jou, o Juda, is daar ‘n oes beskik as Ek die lot van my volk verander. 

Hand.10:40   40 Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn

Efesiërs 1:5, “…deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil..”

Hebr.11:39-40   39 En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie,  40 omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

3. God beskik die ‘slegte’ dinge wat gebeur

Exodus 8:12 Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan; en Moses het tot die HERE geroep vanweë die paddas wat Hy oor Farao beskik het.

Exodus 12:29   29 En middernag het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. 30 Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ‘n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.

Lev.26:14-16,22,28,29  14 Maar as julle (die Here se verbondsvolk wat Hy lief het – slc) nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie;  15 en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek  16 dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. … En Ek sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees. … 28 sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ek sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes.  29 En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet.

Joshua 24:20  20 As julle die HERE verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en julle vernietig, nadat Hy aan julle goed gedoen het.

1 Samuel 2:6,25  6 Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom. … Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.

1 Samuel 16:14  14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.

2 Samuel 24:15  15 En die HERE het ‘n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.

Jes. 54:16  16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

Matt.13:40-42  40 Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld:  41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,  42 en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Joh.12:40  40 (God) het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Hand 2:23-24  23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;  24 Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.

Hand 4:27-28   27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het,  28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.

Rom.1:26  26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is.

Rom.11:8   8 Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.

2 Thess.2:11-12   11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,  12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

4. Hy beskik dat alle dinge wat met ons gebeur (ook die kwade), vir sy kinders ten goede meewerk

Genesis 45:5-7   5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.  6 Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie.  7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.

Genesis 50:20   20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.

Joh.9:1-3  En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af.  2 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?  3 Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.

Rom.8:28   28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

5. God se soewereine almag en beskikking veronderstel menslike verantwoordelikheid/ plig/skuld

Ex. 7:3; 8:15  3 En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig. … 15 En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.

Luke 22:22   22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!

Joh.12:37-40   37 En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie38 sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? 39 Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het40 Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Hand 2:23  23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring.

Hand. 4:27-30   27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het,  28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.  29 En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,  30 deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.

2 Kor.5:10   10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

1 Pe.2:7-8   7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling —  8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.

6. Ons bely ook die alomteenwoordige voorsienigheid (beskikking) van ons almagtige God in die gereformeerde belydenis (onderskryf prof. König … en ds. Charl van Rooy dit nog, van harte in navolging van die Skrif?)

 Sondag 9

 Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

 Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan (f) en ook as ‘n getroue Vader wil doen (g).

(a) Gen 1 en 2; Exo 20:11; Job 33:4; Job 38; Job 39; Act 4:24; Act 14:15; Psa 33:6; Isa 45:7(b) Heb 1:3; Psa 104:27-30; Psa 115:3; Mat 10:29; Eph 1:11 (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Eph 1:5(d) Psa 55:22 (Ou Vert. Vers 23); Mat 6:25-26; Luk 12:22(e) Rom 8:28 (f) Isa 46:4; Rom 10:12(g) Mat 6:32-33; Mat 7:9-11.

Sondag 10

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Act 17:25-28; Jer 23:23-24; Isa 29:15-16; Eze 8:12(b) Heb 1:3(c) Jer 5:24; Act 14:17(d) Joh 9:3(e) Pro 22:2(f) Mat 10:29; Pro 16:33.

Opmerking: Volgens die HK is dit God self, as Almagtige God en getroue Vader wat die ‘jammerdal’ oor my/ons/sy kerk ‘beskik’, want as Hy nie alles vashou en regeer en bestuur na die Raad van sy wil nie (Ef. 1:4-10), en daar is ‘n ander god of mag wat sy wil kan teenstaan en verydel, dan is daar absoluut geen troos vir enige kind van God persoonlik, of die gemeente van die Here in hierdie ‘aardse jammerdal’ nie, dan regeer die noodlot-afgod en is ons tye nie in God se soewereine liefdevolle Hande nie, maar in mense magte, sataniese kragte en toeval se sondige bose hande, contra:

“Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God. My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers. Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid. HERE, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die  goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk! (Ps. 31:14-17)

7. Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 13: Die voorsienigheid van God
Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie.

Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.

Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Matt. 10:29-30).

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.”

Opmerking: Die belydenis hier handhaaf beide:
a) dat niks – dus ook nie die sondeval en sonde en die Satan – sonder God se wil en beskikking plaasvind en kan handel nie, en

b) dat die skuld van die sonde nie by God te vind is nie, Hy is dus nie die outeur daarvan nie, die feit dat God dinge ‘toelaat’ is deel van sy beskikking en wil, die Satan en ons as sondige mense is skuldig.

8) Die Dordtse Leerreëls oor God se ‘voorbeskikking’

8.1) Die nuutste Psalmboek uitgawes gebruik die term ‘God se voorbeskikking’ by hoofstuk 1, wat handel oor beide ‘uitverkiesing’ en ‘verwerping’ as sake wat God besluit het, dus beskik het:

“Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand. 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef. 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hulle ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense, wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit onuitspreeklike troos.”

8.2)  In DL 1.7,8 vind ons ook die woord ‘voorbeskik’, wat ‘n aanhaling is vanuit Ef. 1

“… deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur  Jesus Christus, na die welbehae van sy wil…” (Ef. 1:5)

8.3) In die ‘Besluit/nawoord’ van die Sinode van Dordt, word die volgende stelling na verwys wat die Sinode verwerp: “…dat volgens hierdie leer God enkel en alleen deur sy wilsbesluit en sonder oorweging of inagneming van enige sonde van enig-iemand die grootste deel van die wêreld vir die ewige verderf voorbeskik en geskep het…”

Opmerking: die Sinode handhaaf dus juis dat ons beide sake moet handhaaf, nl. God se almagtige beskikking en die mens se sondige skuld. Dit is deel van God se beskikking en wilsbesluit om die sonde (dus die verantwoordelikheid en skuld van die mens vir die sondeval en sonde) in ag te neem, soos die Skrif leer in 1 Petrus 2:8, “vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” (1 Pe 2:8)

“vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is…” = die mens se verantwoordelikheid en skuld vir sy verlore gaan word gehandhaaf.

“… waarvoor hulle ook bestem is.” = God se almag, wil en beskikking word gehandhaaf, dat Hy oor alles regeer.

9. Calvyn in sy ‘Institusies van die Christelike Godsdiens’ oor God wat alles beskik

 9.1) Matteus 10:29

“Terwyl die Christen ten volle daarvan oortuig is dat alles deur die beskikking van God geskied en dat niks per toeval plaasvind nie, sal hy altyd sy oë slaan op Hom, die grondoorsaak van alle dinge. Maar tog sal hy ook let op die mindere oorsake, elkeen op sy eie vlak. … Christus het gesê (Matt. 10:29 e.v.) selfs die waardeloosste mossie val nie op die aarde sonder die wil van die Vader nie. Dan maak Hy onmiddellik die toepassing dat na verhouding ons meer werd is as baie mossies. Daarom moet ons weet dat God met des te meer sorg na ons omsien. Dié sorg brei Hy so ver uit dat ons verseker kan wees dat die hare op ons kop almal getel is.” (Institusie 1,17,6)

9.2) Spreuke 16:4

“Dit moet vir almal vasstaan wat Salomo in Spr. 16:4 sê: dat God alles gemaak het vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil… Net soos dit tot die wysheid van God behoort om alles wat sal gebeur vooruit te weet, so behoort dit tot sy mag om alles deur sy hand te regeer en te bestuur. … Die verderf van die goddelose hang so af van die predestinasie van God dat sowel die oorsaak as die saak self in hulle self gevind word. Want die eerste mens het geval omdat die Here geoordeel het dat dit so dienstig is. Waarom Hy so geoordeel het, is vir ons verborge. Dit is egter seker dat Hy nie anders geoordeel het net omdat Hy gesien het dat die eer van sy Naam daardeur treffend in die lig gestel sou word nie. Wanneer u hoor dat van God se eer melding gemaak word, moet u besef daar is geregtigheid aanwesig. Want wat lof verdien, behoort regverdig te wees. Die mens val dus, aangesien God dit so beskik. Maar hy val deur sy eie skuld.” (Inst. III, 23, 6, 7 en 8)

Opmerking: Kyk hoe handhaaf Calvyn beide dat God alles beskik én die mens wat skuldig is: dat God deur predestinasie alles bepaal, Hy is die soewereine oorsaak, maar die mens (onder verleiding van die Satan, HK v/a 9), bly die skuldige en verantwoordelike oorsaak van die sonde.

9.3) Twee soorte roepings wat God bepaal/beskik

“Daar is twee soorte roepings. Daar is ‘n algemene roeping, waardeur God deur die uiterlike prediking van die Woord almal voor die voet na Hom uitnooi. Dié roeping kom ook na hulle vir wie Hy dit (onder sy beskikking) ‘n reuk van die dood en aanleiding tot des te swaarder veroordeling laat word. Daar is ook ‘n ander roeping – ‘n besondere roeping – wat God in die reël alleen die gelowiges waardig ag. Dit gebeur wanneer Hy deur die inwendige verligting van die Heilige Gees teweegbring dat die gepredikte woord in hul harte wortel skiet. Maar somtyds maak Hy ook hulle wat Hy slegs ‘n tyd lank verlig het, deelgenote daarvan. Daarna verlaat Hy hulle weens hul ondankbaarheid en slaan hulle met groter blindheid.”  (Inst. III, 24, 8)

10) Totius oor God se beskikking

“Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan, en elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die HERE op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met ‘n uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg … En weer: “Assur sal verskrik wees vir die stem van die HERE” (Jes. 30:31). “En elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die HERE op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met ‘n uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg” (vs 32). (Musiek van die wêreldgerig – preek, Versamelde Werke, 1960 uitgawe)

“Dis die groot Skriftuurlike gedagte dat alle dinge uit God is, ook die Middelaar is die beskikking van God; ook die oordeel is sy werk.” (Die verseëling van die gerig – preek, Versamelde Werke, 1960 uitgawe)

“Daarvan spreek Jesaja as hy sê dat “die sluise uit die hoogte oopgegaan het”. Dit is die taal van die sondvloed (Gen. 7:11; 8:2). Maar ons weet dat die aarde nie weer deur water nie (Gen. 9: 11) maar deur vuur sal vergaan (2 Petr. 3: 10). Behalwe water het God as verderwers tot sy beskikking: wind, gloeiende damp, vuur, donder en bliksem, Hulle almal sal van die hemele af neerreën, en dan sal die sluise in die hoogte oopgemaak wees.” (Jesaja se Openbaringsboek, Versamelde Werke, 1960 uitgawe)

“En die Here sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ‘n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels. Want vir die stem van die Here sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy (nI. God) slaan, en elke slag van die roede wat (vir hom) beskik is, wat die Here op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met ‘n uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg … Terwyl ons so die komende onheilsdinge in die aangesig staar, is daar ‘n Skrifwoord wat sterkte bied: „Die Skrifte moet vervul word”. Dit kan nie anders nie. Wat God gespreek het, móet kom. As Hy die storm stuur, moet ook die gelowiges daardeur heen. Maar dit is vir ons geen noodlotsleer nie. (Hoe baie moet ‘n mens teenswoordig van „die noodlot” hoor en lees!) Nee, dit is Gód wat die storm stuur. Hy beskik. En geen haar van ons hoof sal sonder sy wil gekrenk word nie. (Die Kerkblad, no. 1008, 9 Februarie 1945)

11) Konklusie: ons enigste troos is die goeie regverdige liefdevolle almag van God die Vader, in sy Seun, Jesus Christus, deur die kragvolle werk van die Heilige Gees

Ons enigste troos, in lewe en in sterwe, in liggaam en in siel, is dat ek (HK Sondag 1):

… nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

 (a) Rom 14:8(b) 1Co 6:19(c) 1Co 3:22; Tit 2:14 (d) 1Pe 1:18, 1Pe 1:19; 1Jo 1:7; 1Jo 2:2, 1Jo 2:12(e) Heb 2:14; 1Jo 3:8; Joh 8:34-36(f) Joh 6:39; Joh 10:28; 2Th 3:3; 1Pe 1:5(g) Mat 10:30; Luk 21:18(h) Rom 8:28(i) 2Co 1:22; 2Co 5:5; Eph 1:14; Rom 8:16(k) Rom 8:14; 1Jo 3:3

Christus het volkome Mens geword om saam ons te ly (Joh.11:35; Rom.8:17; Heb.4:15), maar wesentlik belangriker, om vir ons te kom ly (Luk.24;46,47; 2 Kor.5:21). Maar, Hy is ook volkome God wat regverdig sal oordeel oor elke onreg, elke misdaad wat plaasgevind het, ook van klein kindertjies wat gruwelik vermoor en verkrag word (2 Kor. 5:10).

In hierdie laaste sin, ly God nie soos mense met hande afgekap en magteloos om iets te doen teen die bose nie. Ons Here Jesus is in sy mensheid oorgelewer aan mense (Matt.17:22), en was ‘n slagoffer, maar selfs dit kon nie plaasvind sonder die wil van sy Vader (Luk.22:22; Hand.2:23; 4:28) en dat die Seun sy lewe vrywilliglik afgelê het nie (Joh.10:17,18).  

Die Here sal opstaan tot die stryd, en sal sy haters (en sy kinders se haters), ver en wyd, laat wegvlug voor sy oë (Ps.68:1, Totius beryming, sien: Op.6:16,17), maar belangrik, op die Here se tyd, nie ons tyd nie (2 Kor.5:10; Kol.3:25; 1 Pe.4:17-19). 

Daarom ook ons belydenis in NGB artikel 37:

Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Mat 25:41).

Ons as begenadigde sondaarmense, klein en swak, onkundig en baie maal ongehoorsaam, het nie altyd antwoorde op al die hartseer lewensvrae van ons tye nie.  Ons weet oor die algemeen dat alle boosheid en sonde die gevolge is van die sondeval (Gen.3) en daarna, en dat selfs kindertjies in sonde gebore word (Ps.51:7), en dat ons aan alle ellende en tot alle kwaad geneig is en daarom die ewige dood verdien, tensy ons opnuut wedergebore word (HK Sondag 3).

Maar ons het nie altyd detail antwoorde oor presies waarom sekere slegte dinge met spesifieke persone moet gebeur nie, dit is deel van die Here se raadsplan wat ons nie hierdie kant van die lewe ken nie (sien ook Joh. 9:1-3).  Ons glo egter nie die dwaling wat leer: “waarom gebeur slegte dinge met goeie mense nie”, maar eerder, uit genade, deur die geloof aan “waarom gebeur daar nog soveel goeie dinge met ons as slegte mense” (sien Matt.7:11; 1 Thess.5:16-18)? 

Wat ons wel mag weet, en waarlik in vertroos mag wees, is dat die Here wel alle dinge vir sy kinders ten goede laat meewerk (al beleef ons dit nie elke dag nie, Rom. 8:28-30), dat Hy as goeie liefdevolle Vader almagtig is en alles raaksien, elke onreg raaksien (Spr.4:21; Hebr.4:13) en regverdig sal oordeel op sy tyd (2 Kor.5:10; Kol.3:25). Hy is nie ‘n slagoffer van mense se optredes of ander magte en kragte in die heelal nie (Jes.40:12ev), nog minder van die Satan se sluwe planne, Hy hou alles in sy Hand in hierdie lewe, bo-alles ons ewige saligheid, vir ewig in sy liefde vir sy kinders (Jer.31:3; Rom. 8:31-39): 

Joh. 10:28-30   28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.  30 Ek en die Vader is een..

Ons troos vir ons ewige saligheid, lê juis daarin dat ons goeie liefdevolle hemelse Vader almagtig en soewerein is, en daarom oor alles beskik, in die besonderheid ons redding: … en niemand kan hulle uit die (almagtige!) hand van my Vader ruk nie. 

Die god wat ‘n mede-slagoffer is saam met die mens, wat magteloos is teenoor die Bose, wat maar net medelye kan toon maar onmagtig is om te verander of te beskik, kan nie hierdie liefdevolle troos bied vir mense, wat die ware Drie-enige God, die God van Abraham, Isak en Jakob, die Vader van Jesus Christus alleen kan bied nie. 

En daarom sing die gelowige dankbaar, jubelend bly, die woorde van Ps.115, in die beryming:

Psalm 115:1

Nie aan óns, o troue God,

aan ú Naam alleen gee eer !

Waarom sou die nasies spot

as hul oor ons triomfeer?

Om u goedheid, wees nie stil !

Red ons om u trou ontwil !

115:2

Waarom sou die nasies spot,

met die uitroep ons trotseer:

“Waar is nou die HEER, hul God?”

In die hemel sit die HEER,

en Hy doen wat Hom behaag:

net sý wil geskied omlaag.

Daarom bely ons as gelowiges van harte ook vraag en antwoord 28 van die Heidelbergse Kategismus, wat ons wys op die groot rykdom wat ons het: ‘n liefdevolle hemelse Vader wat waarlik omgee, omdat Hy nie magteloos ly saam met die mens nie, maar ook almagtig en soewerein is deur alles te beskik tot my beswil, ook die kwade :  

 Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jam 1:3; Psa 39:9 (Ou Vert. Vers 10); Job 1:21-22(b) 1Th 5:18; Deu 8:10(c) Psa 55:22 (Ou Vert. Vers 23); Rom 5:4(d) Rom 8:38-39(e) Job 1:12; Job 2:6; Pro 21:1; Act 17:2.

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: