Woordoordenking: 1 Kor.14:20

‘n Kinderlike of kinderagtige geloof ?

Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en volwassenes in die verstand” (1 Kor.14:20).

As ‘n mens baie gelowiges daarop wys dat elke Christen ‘n teoloog behoort te wees (Ps.1:2; Joh.17:3), dan word daar gewoonlik geantwoord met Matt.18:3 waar Christus leer dat ons “soos die kindertjies” moet word as ons in die koninkryk van die hemel wil ingaan. Vir sulke gelowiges beteken dit dan dit is ‘n kenmerk van nederigheid en deug om so min as moontlik kennis van God en Sy Woord te besit en wil hulle “net die ABC van die geloof ken” (en selfs vandag is die ‘ABC’ ook al te veel!).  Sulke een versie Christene (baiemaal Joh.3:16 uit verband geruk!) roem in hulle onkunde, en daarom geld die profetiese Woord van Hos.4:6:

“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.”

Maar, is die ‘onkunde geloof’ die kinderlike geloof wat Jesus in Matt.18 van ons vra of is dit ‘n eiewyse self-regverdigende kinderagtige (on)geloof wat nie in gehoorsaamheid en heiligmaking wil groei nie ?

Die belangrike woord in Matt.18.3 is “soos”. Dit is ‘n duidelike analogie dat soos ‘n kind sy ouers in alles vertrou ongeag of hy alles verstaan of nie, so moet gelowiges ook hul hele lewe lank met groot eerbied en ontsag God vertrou in alles wat Hy hul beveel het, ‘n vastaande kennis en vaste vertroue in alles wat in sy Woord aan ons geopenbaar is (HK v/a 21). In hierdie sin moet elke gelowige, hoeveel hy ookal groei in kennis en heiligheid (Matt.13:23), altyd ‘n kinderlike geloof en vertroue hê in God en Sy Woord, veral in vandag se tye waar ongeloofwetenskap en postmoderne teologie ware kennis en waarheid probeer ontken.

Daar is daarom ‘n groot verskil tussen ‘n kinderlike geloof en ‘n kinderagtige ‘geloof’ wat weier om toe te neem in ware kennis, geregtigheid en heiligheid, wat eindig in ‘n geloof wat onvolwasse wil bly en weier om tot volwassenheid te groei.  As iemand weier om te eet, dan weet ons iets is fout en so iemand moet gehelp word. Hoeveel te meer as lidmate nie daagliks wil eet van die lewende Woord, nie eredienste toe kom nie, nie honger en dors na geestelike voedsel nie.

As ‘n mens na ander dele van die Skrif kyk dan word gelowiges opgeroep om “volwasse” te word, dus te groei in die geloof, met wedergeboorte en verlossing is daar ‘n baba en kindertyd, maar ‘n mens mag nie ‘n baba of kind wil bly nie:

“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle de eerste beginsels van die woord van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Hebr. 5:12-54

In die 1980’s in die V.S.A. het die Gallup organization ‘n studie gedoen oor die rol van godsdiens in die Amerikaanse leefwyse. Daar is bevind dat oor die sestig miljoen Amerikaners beweer dat hulle bekeerd is en dat die meerderheid van Amerikaners ook nog glo dat die Bybel die Woord van God is. Baie kerke glo dan ook dat daar ‘n groot herlewing is in Amerika, maar die ironie van die saak is dat hierdie tipe Christelike “geloof” tog nie mense se lewens verander of die Amerikaanse kultuur positief beïnvloed nie, maar dat Amerika juis al hoe meer afvallig word. Dr. R.C. Sproul gee vir ons belangrike insigte om hierdie situasie beter te verstaan (Essential Truths of the Christian Faith, 1992):

even evangelical Americans, are woefully ignorant of the content of Scripture and even more ignorant of the history of Christianity and classical theology … if such a revival has happened, then we must ask why there is so little evidence of its impact on culture. We seem to have had a huge revival with little or no reformation. … Such a revival is mere fiction, it is spurious, it is not true biblical faith that has been ‘revived.’ The chief reason we observe so little evidence of the revival’s impact on life and culture is because it is too early to discern it. The millions of people who have been born again are still in their spiritual infancy. When they arrive at spiritual maturity their impact on the nation will surely be felt. We hope that those who remain in spiritual infancy will indeed grow to maturity and have a strong impact on the family, the community, the nation, and the world.

Dieselfde kan seker ook van die Suid Afrikaanse situasie gesê word. Daar is baie wat beweer dat daar ook ‘n groot geestelike herlewing besig is om plaas te vind in Suid Afrika. Ons hoor gereeld die statistiek dat tot 77% van die bevolking Christene is. Ek wil nie so vinnig soos andere oordeel dat die syfer heeltemal verkeerd is nie maar eerder vra watter soort van Christenskap dit is wat hierdie groot getal mense aanhang of wat die “kwaliteit” daarvan is? Wat word vir hierdie gelowiges gepreek: Die Andre van Niekerk morele lessies elke Saterdag in die Beeld, of is dit die hele raad van God soos ons dit vind in die Heilige Skrif (Hand.20:27)? Wat produseer dit: ‘n kinderlike geloof wat besig is om te groei in geloof en kennis “tot ‘n volwasse man (Ef.4:13,14), wat ‘n mens se eie lewe, gesin, gemeente en gemeenskap radikaal begin verander (Hand.17:6) of ‘n kinderagtige geloof wat “‘n ywer vir God het, maar sonder kennis (Rom.10:2), en wat nie ‘n lig en sout in hierdie wêreld is nie (Matt.5:13-16), wat vrede met die wêreld maak en eindig in ‘n vyandskap teen God (Jak.4:4) ?

Mense sal baie moeite doen om allerhande kennis op te doen oor allerlei vakgebiede, wat natuurlik goed so is, maar die belangrikste kennis van elke mens se bestaan, om die waaragtige God en Sy Seun wat Hy gestuur het te ken (Joh.17:3), word of geen of ‘n lae prioriteit in die lewe gegee.  ‘n Deeglike kennis van die Bybel, belydenisskrifte en die kerkgeskiedenis – so word baiemaal beweer – is slegs bedoel vir predikante en teoloë … tragies. ‘n Mens hoor dikwels van die onderskeid tussen “gewone” Christene en “ernstige” Christene, waar kry ons dit in die Skrif ? Dit is dan g’n wonder nie dat gelowiges oor die algemeen nie meer geoefen is “om goed van kwaad te onderskei (Hebr. 5:14) nie, en dan gevolglik “soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (Ef.4:14).

Die tradisionele susterskerke oor die algemeen, en in die besonder die N.G. Kerk, is tereg oor die afgelope paar jare baie besorg oor hul gemeentes wat so leeg loop. Sonder om te veralgemeen, word die redes baie maal gesoek by faktore soos verstedeliking, politieke veranderinge, aanbiddingsvorme in ander kerke wat aanlokliker is, musiek, ens. Al hierdie faktore speel ‘n rol maar lê die probleem nie ook of eerder primêr by wat in die kerke self geleer of verkondig word nie? Word die heiliges nog werklik toegerus tot opbouing van die liggaam van Christus (Ef.4:12)? Miskien hoor die skape nie meer die stem van hul Groot Herder by baie leraars in die gemeentes nie (Joh.10:4,5), of ander het ons so onkundig geword (Hos.4:6) oor wat die Christelike geloof behels (en oor wat ons Gereformeerde belydenisskrifte daaroor sê) dat ons nie meer die valse evangelie van die ware evangelie kan onderskei nie (2 Tim.4:3,4)?

Wat ook tragies is, is daar waar wel die volle raad verkondig word, as die gemeente nie wil toeneem in ware kennis en heiligmaking nie, wanneer daar al minder honger en dors is na sy Woord, die erediens word al minder bygewoon, die bybelstudies word as onbelangrik beskou, toerusting geleenthede word nie bygewoon nie, en selfs Christene wat dink dit is ‘cool’ om nie boeklesers te wees nie !  (En, as daar gelees word is dit gewoonlik ‘n Pot(ter) snert of ‘n losbandige romantiese verhaal, wat neerkom op tydmors).  Die heel ergste is natuurlik as die predikant en ouderlinge beweer ons is ‘mens mense’ en nie ‘Boekmense nie’, daar is nie tyd vir leer, onderrig, lees, dink en besin nie.  En tog, was ons Here Jesus besig met beide, die leer en lewe: Hy het gepreek, geleer én mense gedien (Matt.4:17-23), ons moet ook na beide strewe (1 Tim.4:12-16).

Teenoor die kinderagtige geloof leer die Bybel dat alle gelowiges Hom as hul Skepper reg moet ken, Hom van harte moet liefhê en Hom vir ewig moet loof en prys (HK 3), Jesus Christus roep ons op om Hom lief te hê met hart, siel en verstand (Luk.10:27). Ons kan God nie liefhê en dien as ons Hom nie ken nie, en ons het Hom nie lief as ons nie Sy gebooie bewaar nie (Joh. 14:15) en hoe kan ons sy gebooie bewaar as ons dit nie ken nie (1 Joh.2:1-3) ?

En, waar begin ons, as ons besef ons is al dekades lank in ‘n gemeente, maar in my geloof is ek nog ‘n babatjie, ek word nog rondgeslinger, ek is geestelik ondervoed ?

By Hom wat die sleutel tot alle kennis, saligheid, heiligmaking, regverdiging en vrede is, ons Here Jesus Christus, en Hom as Gekruisigde !  Hy wat ons red én leer om te lewe (Tit.2:11-14):

“Want die reddende genade van God (Jesus Christus) het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,  terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”

Laat ons daarom ophou om aan te hou praat, te dink en te redeneer soos ‘n kind en mans (volwasse) word in die geloof, hoe langer hoe meer, wat die dinge van ‘n kind afgelê het (1 Kor.13:11), wat honger en dors na die geregtigheid en waarheid (Mat.5:6), en daarom ag gee op die Gees se oproep deur Paulus:

“Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en volwassenes in die verstand” (1 Kor.14:20).

Waar staan u my broer en suster, geliefdes:

Is u volwasse in die sonde of in die genade ?

Groei u in kennis van die wêreld se genietinge en begeertes, of in Christus Jesus en al sy rykdom ?

Gebed: O Here, skep in my ‘n nuwe gees, dat ek kan let op die wonders van U Woord deur U Gees, en kan aanhou groei tot ‘n volwasse man en vrou in U diens.

Prakties:

1. Lees die Bybel

2. Lees die gereformeerde belydenisskrifte

3. Lees die kerkgeskiedenis

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: