Dr. Michael Kruger (Reformed Theological Seminary) oor die kanonieke vraagstuk
10 Misconceptions About the NT Canon
Neem ook kennis van dr. Kruger se boek oor die onderwerp:
Canon Revisited: Establishing the Origins and Authority of the New Testament Books
Hier is ‘n kort skrywe oor die problematiek van die Kanon, aangesien veral die laaste 10 jaar onder leiding van bewegings soos die Jesus Seminar en die Nuwe Hervorming (asook hollywood films soos die ‘Da Vinci Code’) die kanoniek van die Bybel bevraagteken word:
Die studie van die vroeg-Christelike kerk is verhelderend oor die kanonisiteit van die boeke van die Bybel. Die kwessie van die ‘onsekerheid’ van die kanon in die vroeë eeue het eers ontstaan toe Marcion en andere dwaalleraars die bestaande en aanvaarde NT boeke begin bevraagteken het, en al meer pseudo-geskrifte te voorskyn begin kom het – wat in God se voorsienigheid nie aanvaar is nie (en nou deur die nuwe ‘Da Vinci Code’ teologie van ons tyd uit die grafte weer opgeroep word).
Die kerke moes in antwoord op die dwalinge en dwaalleraars saam besluite neem teenoor die twyfel wat gesaai is teen die eenstemmigheid van die vroeë kerk in die eerste paar eeue.
Die kerk van Christus het dus van die begin af (die eerste paar eeue) nie die Kanon geskep nie, maar ontvang en erken. Hoe verduidelik ‘n mens dan anders die volgende Goddelike uitspraak van die apostel Petrus wat deur die Heilige Gees spreek:
“… soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” 2 Pe 3:16
Die ‘ander Skrifte’ wys dat die lesers geweet het wat die ‘kanonlys’ van boeke was wat die Heilige Skrif uitmaak (en by implikasie, watter geskrifte nie deel is van die kanon nie, sien ook NGB artikel 2-7, veral artikel 6).
Vir elke gelowige wat vrae het oor die Kanon, moedig ek aan om prof. JC Coetzee se werk aandagtig te gaan studeer (saam met dr. Michael Kruger se blog en ander werke):
Hier is die inhoudsopgawe:
Inhoud
DEEL I: FORMELE EN EMPIRIESE ASPEKTE
HOOFSTUK I: FORMELE ASPEKTE
1. DIE BEGRIP “KANON”
2. DIE BENAMING “KANON” VIR DIE BYBEL
3. DIE BEGRIPPE “KANONIEKE” EN “APOKRIEWE” BOEKE
3.1 “Kanonieke boeke”
3.2 “Apokriewe boeke”
4. DEFINIËRING VAN DIE VAK ALGEMENE KANONIEK
HOOFSTUK 2: EMPIRIESE ASPEKTE
1. DIE GROOTTE VAN DIE KANON
2. DIE SAMESTELLENDE DELE VAN DIE KANON
2.2 Die samestellende dele van die Ou Testament
2.3 Die samestellende dele van die Nuwe Testament
3. DIE VOLGORDE VAN DIE BOEKE IN DIE KANON
3.1 In die Ou Testament
3.2 In die Nuwe Testament
DEEL II: HISTORIESE ASPEKTE
INLEIDING: Dat die Bybel of Kanon ‘n geskiedenis het
1. “Heilige boeke” uit die hemel
2. Die Bybel ook in hierdie opsig die heeltemal eensoortige
3. Die aard van die Kanongesag in die lig hiervan
HOOFSTUK 3: GESKIEDENIS VAN DIE ONTSTAAN VAN DIE BOEKE
1. DIE ONTSTAAN VAN DIE BOEKE VAN DIE OU TESTAMENT
1.1 ‘n Ondeursigtige waas
1.2 Die getuienis van die Ou Testament self
2. DIE ONTSTAAN VAN DIE BOEKE VAN DIE NUWE TESTAMENT
2.1 Geheelbeeld
2.2 Die waarskynlike kronologiese volgorde
HOOFSTUK 4: GESKIEDENIS VAN DIE VERSAMELING (BUNDELING) VAN DIE
KANON
1. INLEIDING
1.1 Die kernvraag
1.2 Versameling onder Gods beskikkende leiding
1.3 In die historiese ondersoek kan ons net die menslike werkinge naspeur
2. DIE VERSAMELING VAN DIE OU-TESTAMENTIESE KANON
2.1 Sekere boeke is self reeds ‘n versameling of bundel
2.2 Die bundeling van die Ou Testamentiese boeke tot ‘n eenheid
HOOFSTUK 5: GESKIEDENIS VAN DIE ERKENNING VAN DIE KANON
1. INLEIDING
2. DIE GESKIEDENIS VAN DIE ERKENNING VAN DIE OU-TESTAMENTIESE KANON
2.1 Beste metode
2.2 Die vaste punt: Die vroeë Christelike Kerk van die begin van die Tweede Eeu
2.3 Die beslissende punt vir ons: Die getuienis reeds van die Nuwe Testament
2.4 Erkenning reeds in voor-Nuwe Testamentiese tyd na te speur?
2.5 Slotsom
3. GESKIEDENIS VAN DIE ERKENNING VAN DIE NUWE TESTAMENTIESE KANON
Inleidend
3.1 Die vaste punt: 393 en 397 n.C.
3.2 Getuienis uit die 4e eeu en uit die 3e eeu
3.3 Die Tweede Eeu
3.4 Die Apostoliese Vaders: 90-140 n.C
3.5 Gevolgtrekkinge oor die geskiedenis van die erkenning van die Nuwe-Testamentiese Kanon
HOOFSTUK 6: GESKIEDENIS VAN DIE AFRONDING EN AFSLUITING VAN DIE KANON
1. INLEIDING: DIE BEGRIPPE
2. DIE AFRONDING EN AFSLUITING VAN DIE OU TESTAMENT
2.1 Die afronding
2.2 Afsluiting van die Ou Testamentiese Kanon
3. DIE AFRONDING EN AFSLUITING VAN DIE NUWE TESTAMENT
3.1 Die afronding
3.2 Afsluiting
DEEL III: PRINSIPIËLE ASPEKTE
HOOFSTUK 7: DIE GESAG VAN DIE BYBEL
1. DIE GESAG VAN DIE BYBEL VOLGENS DIE GEREFORMEERDE BELYDENIS
1.1 Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God
1.2 Die Bybel het absolute en onfeilbare gesag
1.3 Die gerigtheid (skopus) van die Skrifgesag
2. DIE GESAG WAT DIE BYBEL VIR HOMSELF OPEIS
2.1 Dat dit die Geïnspireerde Woord van God is
2.2 Dat die Bybel absolute en onfeilbare gesag het
2.3 Oor die gerigtheid of skopus van die Skrif en van sy gesag
HOOFSTUK 8: DIE FUNDERING VAN DIE GESAG VAN DIE KANON
Inleidend
GOD AS KANON
1.1 God is die enigste en ware Kanon vir die ganse Skepping
1.3 God openbaar sy wil volkome in Jesus Christus
2. CHRISTUS AS KANON
2.1 Jesus verkondig Homself as Kanon
2.2 Jesus openbaar Hom in sy dade as Kanon
2.3 Jesus lei sy apostels daartoe om Hom en sy woorde as Kanon te aanvaar
3. DIE GESAG VAN DIE APOSTOLAAT
3.1 Die kernvraag oor die fundering van die gesag van die Nuwe Testament
3.2 Christus handhaaf Homself as Kanon ook na kruis en hemelvaart
3.3 Die betekenis van die roeping van die apostelkring
3.4 Die betekenis van die uitsending van die apostels
3.5 Die betekenis van hulle toerusting
4. DIE NUWE-TESTAMENTIESE GESKRIFTE AS KANON
4.1 Die getuienis van die apostels
4.2 Jesus wil self ook ‘n skriftelike kanon!
5. SLOTSOM
HOOFSTUK 9: DIE ERKENNING EN OMVANG VAN DIE KANON IN DIE KERK – PRINSIPIEEL BESIEN
1. DIE VRAE WAT NOU AAN DIE ORDE KOM
2. WIE MAAK DIE KANON TOT KANON?
3. IS DAAR ENIGE GELDIGE NOTAE CANONICITATIS VIR DIE 27 BOEKE VAN DIE
N.T.
4. DIE ENIGSTE GELDIGE GROND VIR DIE ERKENNING VAN DIE KANON
6. SLOTSOM
HOOFSTUK 10: ‘N GESLOTE OF ‘N OOP KANON?
1. INLEIDEND
2. DIE REFORMATORIESE BELYDENISSTANDPUNT
3. SAMEVATTING VAN DIE VERNAAMSTE GRONDE VIR DIE GESLOTENHEID VAN DIE KANON
3.1 Ten opsigte van die Ou Testament
3.2 Ten opsigte van die Nuwe Testament
‘N KORT LITERATUURLYS
Die opsommende slot van Coetzee se boek:
DIE ERKENNING EN OMVANG VAN DIE KANON IN DIE KERK -PRINSIPIEEL BESIEN
1. DIE VRAE WAT NOU AAN DIE ORDE KOM
Die Christelike kerke besit vandag die 27 kanonieke boeke van die Nuwe Testament, wat saam met die Ou Testament erken word as die Kanon van God, die gesaghebbende Woord van God. Die prinsipiële vrae wat nou aan die orde kom, is die volgende:
i. Het die Kerk die Kanon tot Kanon gemaak? Dit wil sê, die feit dat hierdie 27 boeke as gesaghebbende Nuwe-Testamentiese Woord van God geld in die kerk, is dit die werk van kerklike vergaderinge? Is dit besluite van Konsilies en Sinodes wat aan die Nuwe-Testamentiese Kanon gesag verleen het, en die gesag daarvan waarborg?
ii. Kan en mag daar maatstawwe aangelê word vir die bepaling van die kanonisiteit van bepaalde Nuwe-Testamentiese boeke? Dit wil sê, kan ons en mag ons objektiewe bewyse gaan probeer vind dat hierdie boeke wel die Kanon van God is? Ons praat in die verband gewoonlik van: notae canonicitatis, d.w.s. merktekens of bewyse vir kanonisiteit.
2. WIE MAAK DIE KANON TOT KANON?
Ons het by ons historiese ondersoek die proses van die kanonerkenning in die loop van die eerste 4 eeue na Christus gevolg tot by die offisiële erkenning op die Konsilies van Hippo Regius en Kartago. Ons bevinding was dat die vroeë kerke eintlik nooit sonder ‘n Nuwe-Testamentiese Kanon was nie – al was dit aanvanklik nog nie in sy volle afgeronde vorm nie. Die kerk het dus ‘n gesagvolle Nuwe Testament gehad en as sodanig gebruik lank voor kerklike vergaderings daaroor enige amptelike besluite geneem het. Dit was dan ook die uitgesproke houding van die kerk teenoor die Kanon, dat die kerk nie die Kanon gemaak het nie, maar dit slegs ontvang het, dit nie kanoniek verklaar het nie, maar dit net herken het en erken het vir wat dit insigself was. So het ook die kerke van die Hervorming dit ondubbelsinnig vasgelê in hul belydenis: “net al hierdie boeke neem ons aan as heilig en kanoniek” (NGB art. 5). Dit wil sê ons bely (art. 3 NGB) dat God die boeke gesaghebbend gegee het, en dat ons niks anders doen nie as om hulle uit Gods hand aan te neem nie. So móét dit tog wees: God sélf is tog die Absolute Kanon, die Gesaghebbende. Daarom kan Hy alleen Skepper wees van die Kanon – dit is en bly God se Woord. God alleen kanoniseer, die mens kan net ontvang en bely’.
3. IS DAAR ENIGE GELDIGE NOTAE CANONICITATIS VIR DIE 27 BOEKE VAN DIE N.T.
Uit ons historiese ondersoek het geblyk dat die Kerkvaders vanaf die laat 2e eeu, in reaksie op Marcion se aanslag op die kanon, begin soek het na gronde en bewyse, uitwendige merktekens vir die kanonisiteit van die Nuwe-Testamentiese boeke. Ook in moderne tye word gepoog om uitwendige notae canonicitatis te vind, wat die gesag van die Bybelboeke waarborg en aantoon.
Ons moet egter elke bewys van kanonisiteit wat van buite die Skrif self op die boeke van die Bybel toegepas word, prinsipieel afwys.
Die drie vernaamste bewyse vir kanonisiteit van die ou Kerkvaders, t.w.
i. apostoliese outeurskap;
ii. hoë ouderdom van die geskrif;
iii. die feit dat die boek altyd deur die kerk in ere gehou is, mag nie as norme en bewyse erken word dat hulle inderdaad God se Woord is nie. So verwerp ons ook die Rooms Katolieke standpunt
iv. dat die gesag van, die kerk die suiwerheid en gesag van die kanon waarborg. Die Bybel sou dan Kanon wees omdat die Kerk dit so verklaar het. Die besluite van die kerklike Konsilies sou dan as onfeilbaar geoordeel het. Hier word die kerk voor die Heilige Skrif geplaas as moeder van die Skrif. (Vgl. hier NGB, art. 5).
Ook die volgende moderne sg. notae canonicitatis is onaanvaarbaar:
v. Alleen dit is kanoniek wat die mens as sodanig ervaar en kan aanvaar. Dit is die sogenaamde aktualistiese kanonbeskouing.
vi. Die buitengewone sorg van God. Ook moet afgewys word dat sodanige faktor te vinde sou wees in ‘n buitengewone sorg van God (providentia spesialissima Dei). Die sorg van God ten opsigte van die erkenning van die kanon kan nie ontken word nie net soos wat sy voorsieninge bestel oor alle dinge nie ontken kan word nie, maar daarin lê nie die grond vir die aanvaarding van die kanon nie. Dit is ‘n te simplistiese oplossing om met verwysing na ‘n besondere leiding van God die geskiedenis van die kanon-proses te verklaar. God het gesorg, maar dit kan nie as objektiewe bewys geld nie. Waarom moet al hierdie sogenaamde notae canonicitatis prinsipieel verwerp word? Omdat hulle almal bewyse, en/of maatstawwe is wat die mens gaan aanlê van buite die skrif self. D.w.s. aposteriori – (van agter af neergelegde) maatstawwe. Met ander woorde Gods Woord spreek nie meer vir homself nie. Die mens lê maatstawwe aan om die Skrif te beoordeel, terwyl die Skrif juis deur God gegee is as die hoogste maatstaf vir ons.’ Die mens gaan sit op die regterstoel en wil oordeel oor die Skrif – en dit kán nie en mag nie.
4. DIE ENIGSTE GELDIGE GROND VIR DIE ERKENNING VAN DIE KANON
Hang die geloof in die absolute en onfeilbare gesag van die Skrif – dat dit die betroubare Kanon van God is, dan eenvoudig in die lug? Kan daar dan geen gronde vir ons erkenning van die kanon aangedui word nie? Inderdaad tog wel! Die NGB Art. 5 stel dit baie duidelik soos volg: “Net al hierdie boeke neem ons aan as heilig en kanoniek … En ons glo sonder enige twyfel alles wat daarin bevat is; en dit nie juis omdat die Kerk hulle aanneem en as sodanig beskou nie, maar insonderheid omdat die Heilige Gees in ons harte getuig dat hulle van God is; en omdat hulle ook die bewys daarvan is hulleself het, aangesien die blindes self kan tas dat die dinge plaasvind wat daarin voorspel is.” Hier word dus twee geloofsgronde vir die erkenning van die kanon bely: i. Die getuienis van die Heilige Gees in ons harte (Testamonium Spiritus Sancti ); ii. Die selfgetuienis van die Heilige Skrif (Autopistia).
Hier moet egter baie goed daarop gelet word dat beide geen notae canonicitatis is nie, d.w.s. geen aposteriori-toetse wat die mens in gevalle van twyfel kan aanlê om kanonisiteit te bewys nie. As voorbeeld noem ons: as iemand twyfel aan die kanonisiteit van die Evangelie van Johannes kan hy nie met die vraag: “maar wag, kom ons stel vas wat die Heilige Gees nou hieroor getuig”, uitsluitsel kry nie. Die Heilige Gees tree nie vir die twyfelaars op as “skeidsregter” nie. Nee, soos NGB art. 5 sê: “ons glo sonder twyfel” omdat die Gees dit getuig. M.a.w.: die Heilige Gees se werking in die hart, laat ons onvoorwaardelik glo! Hy werk by die hoor en/of lese van die boeke van die Bybel, die onmiddellike geloof dat God hier aan die woord is. En let wel: dit gebeur nie maar uit die niet nie! Maar dit gaan saam met die lese en/of hoor van die Skrif: want God se Woord getuig vir homself. Die Woord moet geglo word of nie geglo word nie. By die lese en/of hoor dus van die betroubare, gesagvolle Woord werk die Gees ook in ons harte die geloof dat hierdie boeke inderdaad die gesag het wat hulle vir hulle self opeis. Die selfgetuienis van die Skrif en die getuienis van die Heilige Gees in die hart vorm dus ‘n onlosmaaklike eenheid: hulle vorm tesame die getuienis van God self op grond waarvan ons glo in die Bybel as sy Woord. Vergelyk Mk. 1:22, Jh. 6:60, 68; Jh. 12:47, 48; Rm. 10:14-15. Veral moet gelet word op Jh. 20:31: Wat doen Johannes as die mense nog nie wil gló nie? Hy verkondig opnuut die inhoud van die Evangelie. Dieselfde vind ons in Lk. 1:4: As Theofilus nog nie volle sekerheid kan kry oor “die dinge waarin hy onderrig is” nie, verkondig Lukas aan hom opnuut die Evangelie!
6. SLOTSOM
Daar is dus geen aposteriori-bewyse, d.w.s. van buite af toepasbare menslike maatstawwe, objektiewe bewyse vir die gesag van die Bybel nie. Daar kan vir niemand wetenskaplik of teoreties bewys word dat die Bybel Gods Woord is nie. Daar is slegs die één a priori-grond, d.w.s. yooraf-gegewe, Godgegewe grond vir die erkenning van die Kanon, naamlik: die geloof wat die Heilige Gees in ons harte werk by die hoor en/of die lese van die Bybel, waardeur die Selfgetuienis van die Woord gelowig omhels word. Met ander woorde die Skrif self is en bly die Kanon – die enigste maatstaf vir die hele geloof. Ons kan nie maatstawwe neerlê waaraan ons toets of iets Gods Woord is nie. Die Skrif self getuig: hier is Gods Woord – en die Gees lewer dieselfde getuienis in ons harte. Die mens kan hierdie kanonieke getuienis slegs glo of nie.
https://www.michaeljkruger.com/my-six-part-ligonier-video-series-on-the-new-testament-canon/