Nota: ek het hierdie skrywe ontvang van ‘n gereformeerde suster, in reaksie op dr. Jac Howell (en dr. Wim Vergeer) se onderskeie skrywes oor eersgenoemde se Ope Brief.
As gevolg van die lengte plaas ek dit hier as ‘n afsonderlike inskrywing en nie by die Ope Brief se kommentaar afdeling nie.
_________________________________
Vir wie dit mag aangaan
Ek rig hierdie skrywe n.a.v. Dr Jac Howell se opebrief met die oproep aan die wat nie wil vashou aan die beginsel van die Gereformeerde Kerk sedert 1859 nie, om die kerk te verlaat en elders huisvesting te gaan soek by die wat hulle sieninge sal verdra.
Die twee soorte vrugte wat ons huidiglik aan die 150-jarige Gereformeerde “boom” sien hang, wat sigbaar was tydens die 150-jarige feesvieringe, is n produk van inenting van n vreemde bron en verg voorwaar snoei en selfs afkapping as ons weer die regte vorm van die woord van God in sy Gereformeerde betekenis wil wees.
Die HERE sê: “Julle moet of die boom goed maak en sy vrugte goed of julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg WANT aan die vrugte word die boom geken Mat 12:33.
‘n Goeie boom kan GEEN slegte vrugte dra nie, en n slegte boom ook GEEN goeie vrugte nie.
Elke boom wat NIE goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Matt.7:18-19
Ek wil met dié skrywe geen vrou in die amp debat voortsit nie, maar slegs toon wat die kerk as bruid is, omdat sy dit in Christus is en in die afsluitende slot toon wat sy word as sy soos die modernis keuses uitoefen en nie meer n’ roeping nie.
In hierdie beeld van die kerk as bruid lê ook die plek van ‘n aardse bruid om in die behoud van haar vrouwees dit te wees wat sy in Christus gemaak is.
Die kerk van die HERE, Sy wingerd moet ‘n verlustiging wees Jes.5:7, iets moois om te aanskou. Daarby het daar n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here HERE . Eseg.16:14
In hierdie profetiese woorde word die kerk beskryf soos die wêreld, die eensames hom moet beleef.
Kan dit van ons Gereformeerde kerk gesê word as ons die wêreld deur media-dekking vanaf ons sinodes verlam deur nimmereindigende partyskappe, twis en tweedrag, wat dan in plaaslike kerke voortgesit word in briefwisselings wat dieselfde gees versprei?.
Kan ons Gereformeerde kerk landswyd en plaaslik die eensame wêreldling bereik as ons, ons Liefdevolle , Versorgende Bruidegom Jesus Christus voorstel asof Hy nie genoegsaam versorg en dan as bruid ons “huis” verlaat om ook d.m.v. toenemende fondsinsamelings van watter aard ookal en ander versinsels van ons eie hart, onsself probeer versorg nie?. Hy het mos die tiende beveel en die volle offergawe, m.a.w. jou hele self as Nuwe Testamentiese offer. Mal.3:8 en Rom. 12:1,2
Om ware kerk te wees vind sy oorsprong by God self en daarom sal sy vrug ook van Goddelike gehalte wees.
Die gejubel van n onvrugbare wat nie gebaar of weë gehad het nie. Jes.5:7 bevestig die wese van kerkwees.
Die vrug wat ons dra as onvrugbares is die gevolg van God se uitverkiesende liefde wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het 1Pet.1:3 Alles uit genade sonder iets uit onsself m.a.w geen baring of weë.
As ons hierdie kern oorsprong vergeet en dink dat ons vrugdra potensiaal iets is wat ons in jare van kerkbestaan outomaties sal voortbring, kom leer die HERE die Gereformeerdes in hierdie uur weer, wat hulle moet wees, omdat hulle deur Hom kan, en wat hulle geword het weens eiewilligheid.
Die HERE self besing Sy kerk as n wingerd op n vrugbare heuwel wat Hy omgespit het, klippe verwyder het, waarop Hy edel wingerdstokke geplant het. Hy het n toring daarin gebou (m.a.w. gesorg dat daar teen die vyand gewaak kan word) en n parskuip uitgekap(m.a.w. alles was gereed gemaak vir die vrug wat sou kom )MAAR dit het wilde lote voortgebring.Jes.5:2
Die Heilige Woord van God kom leer ons in Jak.3:12 dat n vyeboom nie olywe kan voortbring of n wingerdstok vye nie. Geen kerk kan dus twee soorte vrug dra of twee soorte saad saai nie Deut.22:9.
Die grootste Gawe aan die kerk was die Heilige Gees,God self, wat in ons as geheiligdes kom woon. “Of weet julle nie dat julle liggaam n tempel van die Heilige Gees is, wat in julle is, wat julle van God het en dat julle nie aan julleself behoort nie.1Kor.6:19
Ons kan God dus verheerlik met ons liggaam en gees wat aan God behoort op grond van God se eie toerusting met Sy Gees 1Kor.6:20.
Profeties voorspel Hy reeds in 2 Sam.7:13 dat Hy (Christus) sal vir my Naam n huis bou en Ek sal sy koninklike kroon bevestig tot in ewigheid.
Hierdie voorspelling in die Ou Testament van Jesus wat sou vlees word om die sondegevalle mens te heilig, om weer as geheiligdes die Vader te verheerlik, bring ons by ons groot Vrugdraende verantwoordelikheid.
“Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra en julle sal my dissipels wees. Joh.15:8
Die vrug van die kerk is dus vrug van die Gees as Bron waaruit die sondegevalle, begenadigde mens kan vrug dra.
OF
Die vrug van die kerk is vrug van die vlees waarin die sondegevalle mens na vore tree, selfs Sondae al singende op die kerkbanke.
In Gal.5:16-26 kry ons die welbekende, pragtige opsomming waaraan ons enige vrugdraende boom kan uitken as vrug van die Gees of vrug van die vlees
As ons dus kyk na die 150-jaar oue Gereformeerde boom se vrugte moet ons erken dat daar iewers op hierdie “vyeboom” olywe ingeënt is en ons nou voor n natuurfrats te staan kom.
Hierdie “natuurfrats” kan God nie behaag nie,want uit dieselfde fontein kan nie vars en bitter water opborrel nie. Jak.3:11.
As die HERE sy doringheining, wat dui op die beskermende teenwoordigheid van Sy Gees van Sy kerk wegneem weens haar ongehoorsaamheid sal dit verwoes word. Sy muur sal stukkend gebreek word sodat dit vertrap word. Dit sal n wildernis word wat nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met doring en distels en geen hemelse seën van reën sal daarop val nie Jes.5:5-6.
Die wêreld as eensame sal ons in getalle altyd vooruit wees ,want die HERE openbaar dat hulle meer sal wees as ons wat “getroud” is m.a.w. verbind is aan ons Verlosser Jes.54:5-7
Ons verantwoordelikheid is dus groot om as slegs suiwer lig gekoppel aan die Bron Jesus Christus vir hierdie baie eensames in die wêreld lig tekanwees.
Om in debatte te verval, oor baie duidelike Skrifopenbarings oor die vrou as aardse bruid se plek, volgens die Raadsplan van God en die pragtige beeld van die kerk op aarde, as hemelse bruid met haar Hemelse Bruidegom, Christus, waarin die plek van die vrou verdiepend uitgebeeld word in haar verhouding tot haar eie man, gaan ons nêrens bring nie.
“Dit bring ons by die feit van Skrifgeloof en nie Skrifbeskouings nie! Die Gereformeerde Christendom is nie in die eerste plek leer nie en kom nie met sekere beskouings na die Skrif nie.Dit is in die eerste plek godsdiens en godsdiens is kinderlik-eenvoudige onderwerping, juis omdat dit Gods Woord is. Veel meer van hierdie kinderlike eenvoud is nodig wat juis die kenmerk is van lewensdiepte en lewenskrag”.(aanhaling geneem uit die toekomstaak van die Gereformeerde Kerk deur Prof. dr S.P. van der Walt en Prof. dr S du Toit in die Eeufeesvieringboek 1859-1959)
Die reaksie van dr Wim Vergeer op dr Jac Howell se brief stip n paar punte oor veranderings rondom die vrou aan wat sogenaamd reeds lankal aanvaar is. Ek wil dit as afsluiting net noem en my eie opsomming daarvan gee as potensiële indikasie van hoe ver en diep gesnoei sal moet word.
Die punte is:
– sustersaksies funksioneer sonder manlike toesig.
– kleredragreëls (verbod op die dra van langbroeke) het verdwyn
– nie meer gefrons of gepraat oor ‘n vrou wat werk en haar huis verlaat nie.
– Vroue word nie meer verplig om hoofbedekkings te dra nie.
– Vroue het in die kerke stemreg verkry.
– Vroue is toenemend aktief betrokke by al die diensgroepe\kommissies van die Gereformeerde Gemeente.
Die beeld van die Gereformeerde kerk vandag in opsomming as reaksie op al die sogenaamde veranderings is die van n KAALKOP BRUID 1Kor 11, met geen aanduiding van gesag op haar hoof ter wille van die engele ,wat uitgestuur word as dienende geeste nie. Hebr.1:14
‘n HUISVERLATENDE(Titus 2:5) bruid wat haarself nie meer wil onderwerp aan haar Eie MAN nie Jes.54:5 (verwysend na Christus).
Sy wil haar STEM laat hoor en haar nie meer in stilte laat leer nie. 1Tim.2:11
As n bruidskerk se eie stem stil is omdat sy wag op die stem van die Heilige Gees kom God aan die woord . Hier kom die Spreukedigter se woorde na vore.
‘By die veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie, maar hy wat sy lippe inhou handel verstandig.’ Spr.10: 19
Om haar te ONDERSKEI van die werêld Deut22:5 of as AFHANKLIKE SWAKKERE 1Petr. 3:7 te gedra, word deur haar toenemende selfsorg, met eie versinsels in stede van die vasgestelde versorgende tiende Mal4 as opstand en gelykheid geopenbaar. Haar INNERLIKE VERSIERSELS wat op haar aangebring is en haar volmaak gemaak het Eseg.16:4, het sy veruil vir UITERLIKE VERSIERING Jes.29:13, 1Petr.3:3 van uitgerekte nek (hoogmoed), met oë wat lok (verleiding) en wegstap met trippelgang en haar voetringe laat rinkel (sonder gewete oor die struikeling wat sy veroorsaak) Jes.3:16
Die drywers van my volk is kinders en vroue heers oor hulle, o My volk , jou leiers is verleiers en die weg wat jou pad moet wees het hulle tot n dwaalweg gemaak Jes.3:12
Baie herders het my wingerd verniel, hulle het my stuk land vertrap, hulle het my begeerlike stuk land n’ woeste wildernis gemaak, hulle het dit n wildernis gemaak; dit treur voor My, verwoes; die hele land is verwoes, omdat daar niemand is wat dit ter harte neem nie.Jer.12:10-11.
Profeties is voorspel dat hierdie verbreking of hoerery van die dogter van my volk genees sal word op die maklikste manier deur te se Vrede, vrede, terwyl daar geen vrede is nie. Jer.6:14 en Jer.8:11
As elkeen van ons wat deur die HERE se genade alreeds die vaste kos van die geloof gesmaak het, oortuig is van die LEWENDE FONTEIN en die BROOD van die EWIGE LEWE, laat hom die weg van sy liggaam beoordeel en as dit nodig blyk, omdraai, “want kind en suigeling versmag op die pleine van die stad. Klaagl.2:11
Laat daar nie van ons gesê kan word dat ons wreed geword het soos die volstruise in die woestyn nie. Klaagl.4:3b
Op n’ dwaalweg sal die tong van die suigeling kleef aan sy verhemelte van dors, kindertjies sal brood vra, maar niemand breek dit vir hulle nie. Klaagl.3:4
Die HERE het vir Ds. Dirk Postma voorsien in ‘n uur van nood. Hy sal weer predikante/herders voorsien en selfs kan wegneem in hierdie uur van nood.
Mag die God en Vader van ons HERE Jesus Christus, die Bron van ware vrede by ons die nodige vrees vir Hom gee as beginsel van die wysheid Spr.1:7, sodat ons die vrug van die Gees – dit is die woord van God Ef.6:17, ter harte sal neem en saam kan jubel as vrugdraers met die danklied van ‘n verloste in Ps.107 vers 2 berym:
In woesteny verlore
Was daar vir ons geen pad
Wat ons langs regte spore
Kon heenlei na n stad
Gebrek van drank en brood
Sou hulle laat versmag het
As God nie in hul nood
Op hul geroep geag het
U suster Elsa Smith (GK Parys) wat saam met u as liggaam van Christus bymekaar geroep is en duur gekoop is in Sy bloed.
Dankie vir hierdie getuienis, komende van ‘n Titus 2 vrou