Dag almal,
Die nuutste Kelkiewyn is weer beskikbaar. Dit is ons bede dat die Kelkiewyn jou in jou geloofslewe sal toerus. Geniet elke eier hierin gelê en mag die roep van die Kelkiewyn in jou hart broeiplek kry en in jou lewe opvlieg!
Hier kan dit afgelaai en gelees word:
Redaksioneel:
Ons Here Jesus sê aan die gelowiges: “… julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8). Op watter manier getuig jy van Jesus Christus? Op watter manier reik ons uit buite die gemeentegrense om mense die evangelie te bring? Uitreik is nie iets romanties nie. Dit is onrustig, ontstellend, uitdagend, veeleisend, onseker, selfs vyandig. Dit stel groot eise aan lidmate en kerklike voorgangers. Dit leer om in afhanklikheid van God te lewe.
God se koninkryk word egter uitgebrei daar waar mense Jesus Christus bely as die Here van hulle lewe en tot Sy eer leef. Lidmate en gesinne is deel van die sendingveld, dit is op die drumpel van elkeen se voordeur en in die werkplek. Die eerste en belangrikste taak van die Vroeë Kerk was om deur sy getuienis God se koninkryk in die wêreld te laat kom. Realiseer dit nog? Is jy as gelowige brandende om Jesus Christus te verkondig?
Ongelukkig is instandhouding die grootste saak waarmee meeste van die kerke hulle vandag besig hou. Ons sorg dat ons elke Sondag ten minste ʼn erediens of twee het, elke nou en dan nagmaal en doop en ons wil darem nou en dan Bybelstudie en katkisasie ook hê vir die gemeentelede. Hiermee is ons maand na maand besig en bereik miskien die doelwitte. Wat van die Jesus se stelling/opdrag: “… julle sal my getuies wees …”?
Hierdie uitgawe word gewei aan hierdie opdrag van ons Here Jesus. Dr. Wikus Buys raak Relevant met juis hierdie opdrag en later stel hy evangelisasie as Mikpunt vir die gemeente. In Ywer word daar ʼn metode van Bybelstudie aanbieding gegee en ʼn paar vrae gestel om die gemeente waaraan jy behoort se funksionering te toets.
In Leef kyk Ds. Hannes na ‘getuies in woord en daad’, ons Leeslus word aangewakker deur die bekendstelling van ʼn nuwe boek “Singing the songs of Jesus”. Maatstok meet die Roomse kerk vandag en stel ‘n DVD oor die 16 de eeuse Reformasie bekend.
Morne Diedericks vra in Verbonde of die persoon langs jou vir Jesus Christus ken. Ds. Pierre Cilliers oordink Handelinge 1:8 en Medisyne bespreek Malaria. Webvlug kyk na die evangelie wat nie na die mens is nie en na ʼn webjoernaal, ‘Dag Vreemdeling’, van Alwyn Swanepoel.
Wie is in beheer is oudergewoonte ook in die uitgawe te sien. Hierin word die vraag beantwoord – Vir wie het Jesus gesterf?
Ds. DP Prinsloo
Gereformeerde Kerke Outjo; Otjiwarongo; Biermanskool
Nam. (00264 81) 294 0055
Leave a Reply