Die geskiedkundige reeks: “Erwe vir ons kinders” is ʼn uitbreiding van die werk oor ons vaderlandse geskiedenis wat deur Kraal Uitgewers onderneem word. In hierdie reeks word persoonlikhede uit ons volkslewe van wie sommige hulle reeds as jongmense op ‘n besondere wyse onderskei het, gehuldig.
Die motivering is hoegenaamd nie dat hulle op hierdie wyse verheerlik wil word nie, maar om die aandag op hul getrouheid en standvastigheid in uiters uitdagende omstandighede te vestig. Dit hou meestal met gebeure ten tye van hoogspanning in ons geskiedenis, soos die Tweede Vryheidsoorlog, die 1914/15-rebellie, ens. verband.
Elkeen se lewe en optrede gryp om ʼn besondere rede die bewondering en verbeelding aan, deurdat hulle karaktereienskappe tentoongestel het, wat daarop dui dat hulle onwrikbaar in die Christelike geloof gestaan, en hulle optrede daardeur laat bepaal het. Dit is om hierdie uitstaande oorwegings dat hulle nagedagtenis in ons 21ste eeu steeds voortleef.
Daaruit het die gedagte ontstaan dat hulle lewens op ʼn aanskoulike wyse voorgestel moet word, deur die uitgee van ʼn sestal ryklik-geïllustreerde boekies. Dit is op so ‘n wyse saamgestel dat dit ook maklik deur ons kinders gelees kan word, met die illustrasies daarby, ter versterking van die tema en boodskap. Daar is op die volgende temas en persoonlikhede besluit:
Ons Volksleiers: Pres. Paul Kruger
Volksmartelare: Gideon Scheepers
Kinderhelde: Japie Greyling
Groot krygsmanne: Genl. Koos de la Rey
Volksheldinne: Mev. Nonnie de la Rey
Geloofshelde: Oom Nicolaas van Rensburg
Die eerste drie titels in hierdie reeks het reeds verskyn en kan individueel of as ‘n pakket aangekoop word. Die boekies kan van die VCHO bekom word deur tel. nr 051- 525 2341 te skakel of ‘n bestelling per e-pos of per faks te plaas: vcho@mjvn.co.za of 051- 522 4513.
Die prys beloop R180,00 vir drie titels gesamentlik, versending ingesluit, of R65,00 per enkeltitel, versending ingesluit.
Intekening op die volledige reeks word aangemoedig, vir welke doel die naam en adres aan die VCHO deurgegee kan word. Sodoende sal intekenaars seker maak dat hulle die volledige reeks ontvang, wanneer dit beskikbaar word.
Hugo Hayes
Uitvoerende beampte
VCHO
Bloemfontein