Godsdienstige feesdae in die nuwe nie-Christelike SA

“Hoera ! Die ‘bose’ Christelike staatsidee is weg, nou gaan alles goed gaan ! Nuwe humanistiese menseregte nie-christelike staat en samelewing, hier kom ons, hie-ha !” Susterskerke sinodes: “hoor ! hoor ! Gee daai twee manne ‘n Bells!”

Daar is nou heelwat voorleggings aan die ANC regering en parlement aangaande openbare vakansiedae, vir alternatiewe godsdienstige feesdae en/of om ander godsdienstige dae soos Goeie Vrydag en Kersfees te vervang en/of af te skaf.

Ek plaas die GKSA se voorlegging aangaande die saak deur die Deputate Owerheid eerste, en daarna my bydrae oor die kwessie van feesdae in kerk en samelewing.  My artikel is ‘n paar jaar gelede geskrywe, spesifiek oor Kersfees, en veral aan die einde van die artikel, vanaf ‘Die reformasie van die kerkorde’ afdeling maak ek ‘n paar toepassings oor die huidige debat, veral of dit so belangrik is om die godsdienstige feesdae buiten die Here se rusdag, nog vandag te onderhou kerklik en/of as publieke vakansiedae.

Dit is vir my oor die algemeen vreemd dat kerke en groepe wat met die oorgang van ‘n Christelike staatsidee (hoe onvolmaak ookal in die verlede) voor 1994 na die ‘post-Christelike nuwe SA’, dus:  na ‘n nie-Christelike (en on-Christelike) staatsidee (humanisme met die menseregte-idee), nou ‘n groot pleitdooi doen vir die behoud van godsdienstige feesdae soos Goeie Vrydag en Kersfees, dit:

– terwyl die standpunt van ‘n Christelike staat (soos ons nog bely in NGB art.36?) lankal prysgegee is en saam met dit vanselfsprekend die heiliging van die NT Sabbat, die 1ste dag van die week, die Here se rusdag vir die mens (nie net vir gelowiges nie, sien Mark.2:27,28, ‘n bevestiging/handhawing van Gen.2:1-4), en

– dat die GKSA se omhelsing van die ‘neutrale staatsidee’ deur die nuwe demokraties humanistiese menseregte bedeling, die voorstaanders en stemmers daarvoor (sedert die 1992 referendum en daarna)  juis mos geweet het wat sou volg ?  Dat onder andere die Christelike godsdienstige feesdae sal moet gaan, soos die res van die Christelike beskawingsidee.

Hier onder in my artikel wys ek verder daarop dat vanuit Skriftuurlike, konfessionele, historiese en kerkordelike oorwegings ons die roomse/heidense feesdae maar kan begrawe en laat gaan.

(so tong-in-die-kies byvoeging: ons Afrikaners is die laaste mense om te kla oor te min of nie genoeg vakansie/rus/godsdienstige dae nie … ons het ‘n volle 52 dae jaarliks om ons nasionale godsdiens, Rugabus, te be-oefen!)

A. GKSA SE DEPUTATE OWERHEID VOORLEGGING

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Deputate Owerheid

Posbus 20004 Noordbrug 2522

anberg@absamail.co.za

082-377 1112

25 Junie 2012

Die Voorsitter

CRL Kommissie

Privaatsak X 90 000

Houghton  2041.

(Aandag Mnr. Sipho Mantula)

VOORLEGGING INSAKE GODSDIENSTIGE OPENBARE VAKANSIEDAE IN DIE RSA

Baie dankie vir die geleentheid om langs hierdie weg namens die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika  (GKSA) ‘n voorlegging te kan maak ten opsigte van die besinning oor openbare vakansiedae, meer in die besonder: godsdienstige vakansiedae.

Ds. Anton van Rensburg van Paarl sal die openbare sitting op 28 Junie te Kaapstad bywoon en verdere mondelinge toeligting gee.

1. Amptelike standpunt van en praktyk in die GKSA:

Volgens artikel 67 van ons Kerkorde word die onderhouding van die Christelike feesdae aan die vryheid van die plaaslike kerk oorgelaat. Christelike feesdae soos Goeie Vrydag en Kersfees word nie as heilige dae beskou nie. Daar is dus geen gewetensbinding teenoor ons eie lidmate in diè verband nie, en daar is enkele gemeentes wat die dae nie onderhou nie.

Tog is dit so dat verreweg die oorgrote meerderheid van gemeentes en lidmate hierdie dae onderhou, dat hulle dit kosbaar ag en dat dit ‘n belangrike plek op hul gemeentekalenders inneem. Die dae het veral in familie- en gesinsverband ‘n belangrike betekenis.

2. Goeie Vrydag en Kersfees wêreldwyd en histories belangrike Christelike feesdae:

Christene vanoor die hele wêreld ag hierdie feesdae as baie belangrik en internasionaal word hierdie dae deur die meeste lande by wyse van openbare vakansiedae herdenk. Die oorsprong van hierdie feesdae dateer terug na die eerste eeue van die bestaan van die Christendom.

3. Die situasie in Suid-Afrika:

3.1. Integrale deel van ‘n nasionale konsensus

Dit moet in gedagte gehou word dat die kalender van Openbare Vakansiedae, soos met die nasionale simbole, ‘n belangrike deel van die onderhandelinge tydens Kodesa uitgemaak het. Die samestelling daarvan was ‘n weg waarop verreweg die meeste rolspelers mekaar gevind het. Die saak van die Nasionale Simbole het in die Oorgangsgrondwet van 1994 en in die Grondwet van die RSA van 1996 beslag gekry, terwyl die saak van die Nasionale Vakansiedae met groot eenstemmigheid reeds in Wet 36 van 1994 vasgelê is.

Die huidige Openbare Vakansiedae is dus grootliks ‘n saak van nasionale konsensus wat nie los te make is van die ooreenkoms wat tussen die verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika bereik is nie.

3.2. Die samestelling van die RSA se 12 openbare vakansiedae sien soos volg daar uit:

Godsdienstig-bepaalde feesdae  2
 Neutrale, algemene feesdae  5
 Feesdae sterk aan die “struggle” gekoppel  5

In die Suid-Afrikaanse kalender is Godsdienstig-bepaalde vakansiedae reeds relatief min vir ‘n land waarvan 85%  van die bevolking defnitiewe godsdienstige oortuigings het.

3.3. Die taak en verantwoordelikheid van die Art. 185 Kommissie:

3.3.1. Die naam van die Kommissie, aan die hand van wat art.185 van die Grondwet vereis, spreek reeds daarvan dat die Kommissie die regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe moet Beskerm en Bevorder,  en nie moet inperk en inkort nie.

Afskaffing van die enigste twee openbare vakansiedae met ‘n Godsdienstige inslag sal dus indruis teen die hele aard, bestaan en doel van die Kommissie.

3.3.2.  Volgens art.5(c) van die Wet wat die Kommissie daarstel, Wet 19 van 2002, is dit die taak van die Kommissie om behulpsaam te wees in die ontwikkeling van strategieë wat die volle en aktiewe deelname van kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe  tot nasiebou in Suid-Afrika fasiliteer. ‘n Aanbeveling van die Kommissie om die openbare vakansiedae wat vir 80% van die Suid-Afrikaanse bevolking van groot waarde is in te kort, sal juis die teenoorgestelde effèk hê en vervreemding eerder as versoening en nasiebou in die hand werk.

3.3.3.  Volgens art 21(a) van die Wet, moet die Kommissie besluite neem op ‘n konsensus-soekende wyse wat uitdrukking sal gee aan die beginsel van eenheid in verskeidenheid soos gereflekteer in die Grondwet. Deur die afskaffing van die betrokke twee openbare vakansiedae sal die Kommissie juis ‘n verskeurdheid in die verskeidenheid teweegbring.

Gevolgtrekking:

Die Kommissie sal teen sy eie oorsprong, aard en doel optree deur mee te werk daartoe dat Kersfees en Goeie Vrydag as openbare vakansiedae afgeskaf word.

3.4. Die Godsdienstige samestelling van die bevolking vn die RSA:

Dit is algemeen bekend dat bykans 80% van die bevoking van die RSA hulself as Christene beskryf. Hierteenoor alleen sou met reg die argument van die onwenslikheid van meerderheidsdominansie in die huidige debat oor Godsdienstige openbare vakansiedae ingebring kon word.

Dit is egter so dat daar naas diè persentasie van Christene hoegenaamd nie ‘n enigsins beduidende persentasie van een bepaalde ander godsdiensgemeenskap in die bevolking is nie. Volgens die 2001 Sensus sien die godsdienstige verspreiding van die bevolking van die RSA soos volg daar uit:

PERSENTASIE GELOOFSVERSPREIDING RSA SENSUS 2001

Naas die Christendom se 79,8%,

volg die Islam met 1,5%,

Hinduisme met 1.2%,

Judaisme met 0,2% en

alle ander godsdienste saam  met 0,6%.

Die vraag kan met reg gevra word of dit prakties moontlik en haalbaar is om aan elk van hierdie geloofsgemeenskappe ‘n openbare vakansiedag toe te staan, maar meer nog: of dit billik is om by gebrek aan so ‘n moontlikheid die twee openbare vakansiedae van die Christene af te skaf.

3.5. Die taak van die owerheid in diè verband:

3.5.1. Ingevolge die getuienis van die Bybel:

Die Bybel leer ons in Romeine 13:1-5  dat owerhede daar is “deur die beskikking van God” en “dat die owerheid ‘n dienaar van God is tot jou beswil”. Dit is dus die taak van die owerheid om sy werk sodanig te verrig en die samelewing so te reël dat daar geleentheid is vir die beoefening van ons diens aan God.

Volgens die eis van II Timotheus 2:1 en 2  moet Christene bid vir die owerheid “vir die wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei..(en dan die woorde)..”in volkome toewyding aan God.” Die owerheid moet dus die publieke ruimte skep vir Christene om hulle volkome aan God toe te wy. In hierdie toewyding aan God speel ons twee openbare Christelike vakansiedae ‘n baie belangrike rol. Tewens: vir ‘n groot persentasie swart gelowiges is Goeie Vrydag die Godsdienstige hoogtepunt van hul toewyding van die jaar. Om hulle die geleentheid  en gepaardgaande pelgrimstog te ontneem sal deur hulle ervaar word as ‘n kaal-gestroop-wees van hul belangrikste Godsdienstige handelinge, diens en toewyding aan God.

3.5.2. Ingevolge die Grondwet van die RSA:

Die grondwet van die Republiek van Suid-Afrika maak voorsiening vir die toepassing van die aktiewe plurale opsie in die toepassing van die fundamentele reg van godsdiensvryheid. Hierdie opsie is die teenoorgestelde van die aktiewe sekulêre opsie. Die aktiewe sekulêre opsie gaan uit van die algehele skeiding van kerk en staat wat beteken dat die beoefening van godsdiens op die openbare terrein nie toegelaat word nie. Waar hierdie opsie beoog om alle godsdienste uit die openbare terrein te verwyder, beoog die aktiewe plurale opsie om godsdienste in die openbare terrein te akkommodeer.

Daarvolgens moet die owerheid die wetlike ruimte en geleenthede vir die kerk skep om sy roeping as orgaan van die burgerlike samelewing ten volle te kan uitleef. ‘n Ontneming van die enigste twee godsdienstige openbare vakansiedae  in Suid-Afrika sal die kerk van ’n aansienlike deel van hierdie ruimte en geleenthede ontneem.

3.6. Gesinsdag (vroeër Paasmaandag) en Welwillendheidsdag (vroër 2de Kersdag):

Hierdie twee Openbare Vakansiedae herdenk geen Christelike heilsgebeure nie en is in wese geen godsdienstige vakansiedae nie. Dit kan dus ook nie by die twee ware Christelike openbare vakansiedae bygereken word om die Christene se “kwota” as oorvol aan te spreek nie.

Oor die handhawing van Gesinsdag en Welwillendheidsdag het ons dus geen versoek nie. Ons glo maar dat dit om praktiese en logistieke redes gehandhaaf word. Hierdie voorlegging spreek hom daarom ook nie uit oor die handhawing of afskaffing van daardie twee dae  nie.

4. ‘n Billike en gegronde versoek,  teenoor die onhaalbare.

Jahnabi Barooah skryf op 1 Januarie 2012 in die Huffington Post:

We live in a beautiful diverse world, and almost each day of the year is a sacred time for someone”.

Alleen uit die eerste voorlegging aan u Kommissie in Durban blyk dit dat as daar aan die verskillende pleidooie voldoen word,  Suid-Afrika ‘n ekstra 11 openbare vakansiedae sal hê. Dit is tog prakties en ekonomies omhaalbaar.

Daarteenoor is die blote versoek om die handhawing van net twee uit twaalf openbare vakansiedae wat

  • deur die oorgrote meerderheid van ons lidmate onderhou word;
  • deur Christene wêreldwyd en vanaf die vroegste eeue gevier is;
  • ‘n integrale deel van ons nasionale konsensus is;
  • in lyn lê met die opdrag van u Kommissie en die Wet wat u Kommissie daarstel;
  • dae is van die enigste godsdiensgroep wat meer as 1,5% van die bevolking verteenwoordig, en wel 79,8%;
  • te rym is met die Bybelse eis vir die taak van die  owerheid;
  • in pas is met die plurale  aard van die Grondwet van die RSA;
  • as alternatiewe het die skepping van ‘n totaal-onhaalbare scenario…….

‘n billike eis van die GKSA en ‘n positiewe inset tot die openbare verhore oor die openbare godsdienstige vakansiedae in Suid-Afrika.

 4. (sic) Formele versoek:

Dat die Kommissie vir die  Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele- Godsdienstige- en Taalgemeenskappe uit hoofde van sy bevoegdheid kragtens Wet 19 van 2002 by die Parlement van die RSA sal aanbeveel dat Goeie Vrydag en Kersfees as Openbare Vakansiedae op die Suid-Afrikaanse kalender behou word.

Namens die Deputate Owerheid, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Ds. Cassie Aucamp (Voorsitter)

B. FEESDAE (spesifiek van toepassing op kersfees), deur S. Le Cornu   

Daar is twee prinsipiële redes, een konfessionele-kerkordelike rede, twee historiese redes, en twee moreel-etiese redes waarom kersfees nie gevier behoort te word nie (Prof. JH van Wyk, Kerkblad, Desember 2005):

a. Prinsipieël

– Omdat Kersfees nêrens in die Nuwe Testament as feesdag voorgeskryf word nie.

– Omdat Christus Self nêrens opdrag gegee het dat sy geboortedag herdenk word nie (trouens, ons weet nie eers presies op watter dag Hy gebo­re is nie).

b. Konfessioneel-kerkordelik

– Omdat die Sinode van Dor­drecht (1574) dit (aanvanklik) afgewys het (‘n standpunt wat wel later verander is).

c. Histories

– Omdat die vroegste kerk nie so ‘n gebruik geken het nie (die dag is veel later herdenk).

– Omdat groot kerkmanne (Cal­vyn, Voetius, die Puriteine) nie ten gunste daarvan was nie.

d. Moreel-eties

– Omdat Kersfees sy oorsprong het in ‘n heidense fees.

– Kersfees is vandag só gekommersialiseer dat dit uiters moeilik is om deur al die blink liggies nog die blink Môrester en die Son van Geregtigheid raak te sien.

Daarteenoor blyk die enigste historiese rede te wees om wel kersfees te vier (teenoor die oorweldigende redes om dit nié te vier nie), ‘n praktiese rede te wees, nl. dat “gereformeer­de Christene dan ledig rondgeloop het.”

As ledigheid die rede is waarom ons kersfees (of enige ander feesdag) behoort te vier, dan moet ons eintlik elke dag van die jaar omtrent ‘n kersfees hou, want met vandag se baie vakansiedae (en veral Saterdae se rondlê), is daar baie ledigheid wat bestry moet word.

Vir elke ware gereformeerde gelowige behoort die feit dat God die feesdae deur Christus en die Apostels nié beveel het nie, genoegsaam te wees om dit nie te onderhou nie.

T. Hoekstra –self ten gunste van ‘n kerklike jaar- erken ten minste:

“Het kerklijke jaar is geen instelling van den Heere Christus of van de Apostelen, maar langzamerhand in de kerk ontstaan en het resultaat van een process. Reeds vroeg heeft de kerk des Heeren er behoefte aan gevoeld, ieder jaar op bepaalde dagen de centrale heilsfeiten te herdenken”. (Gereformeerde Homiletiek, 1973:255)

‘n Ander rede waarom baie kersfees wil vier , is omdat hul bloot ‘n ‘behoefte’ daaraan voel.  En alhoewel dit met goeie bedoelings is, kom die ‘bevel’ van die HERE nou teenoor die ‘behoefte’ van die sondige mens, en het laasgenoemde begin bepaal hoe die HERE aanbid moet word.

Is dit nie ook vandag baiemaal die geval nie ?

– Susters in die kerke het ‘n ‘behoefte’ om in die ampte te staan …

– Gemeentelede het ‘n ‘behoefte’ om uit die kelkies die wyn te ontvang …

– Gemeentelede het die ‘behoefte’ om gesange te sing …

– Gemeentelede het die ‘behoefte’ om feesdae te vier …

Sodoende is die Skrif se bevele deur Sy Gees nie meer genoegsaam nie, maar moet aangevul word met en vir ons ‘behoeftes’ van ons tyd.

Hoe bepaal ons wat goeie behoeftes en begeertes is ?

Kan ons begeertes en behoeftes bepaal hoe ons die Here moet dien ?

Kan ons begeertes die inhoud van ons aanbidding bepaal ?

Volgens ons gereformeerde belydenis, werk God se Gees egter nooit los van sy Woord met sy kerk nie (HK, v/a 31,54,123; DL 5:7), en daarom moet alle behoeftes en begeertes wat in ons harte opkom, getoets word of dit werklik van sy Gees afkom, en of dit iets is wat onself uitgedink het (Esg.13:2; 1 Joh.4:1).

En hoe bepaal ons of dit van Sy Gees afkom ?

Deur te ondersoek of die begeertes wat in ons hart opkom volgens God se Woord is (Hand.17:11). Dit bely ons dan ook in antwoord op vraag 91, wat ‘goeie werke’ is, ook vir ons erediens:

“Slegs die wat uit ’n ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word, en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.”

Erediens volgens ons belydenis

In ons belydenis, as dit oor die erediens gaan, bely ons in v/a 96 van die HK:

“Vraag: Wat eis God in die tweede gebod ? Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.”

Ons kry die bevel van die Here uit sy Woord deur die volgende samehangende aspekte te bestudeer: ‘n opdrag, historiese voorbeeld en goeie noodsaaklike afleiding uit die hele Skrif, alles volgens die grammaties-historiese en openbaringshistoriese bestudering van die Heilige Skrif.

Ursinus, opsteller van die HK, skryf in sy kommentaar by v/a 96:

“Daarom word alle godsdiens wat nie deur God self ingestel is nie, maar deur mense uitgedink is, deur hierdie grofste soort met name verbied, en word ons ook tewens ‘n reël gegee, dat ons ons heilig en eerbiedig moet hou binne die perke, wat ons deur God ingestel is, ja dat ons nie die minste moet af- of toedoen van en aan die diens wat deur God ingestel is nie”

As ons ons belydenis toepas op die geval van Kersfees, dan vind ons – dat Skriftuurlik en konfessioneel – geen begronding vir die onderhouding van Kersfees is nie.  Nêrens word Kersfees deur “Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel” nie (sien NGB artikel 32).

Dit is inderdaad eiewillige godsdiens, ongeag dat baie van ons lidmate goeie bedoelings daarmme het.

Eiewillige erediens

Ja, ons is vry, waarlik vry om God te dien en te vereer deur sy Gees volgens sy Woord. Ons is egter nie vry om ons eie(willige) erediens uit te dink om Hom daardeur te probeer vereer nie. Sien maar al die voorbeelde in die Skrif waar God – hoe goed dit ookal bedoel word deur mense – nie enige vorm van aanbidding aanvaar wat nie deur sy Woord beveel is nie, bv.:

– Nadab en Abihu se goedbedoelde maar eiewillige vreemde vuur  (Lev.10:1-3).

– Ussa se goedbedoelde maar eiewillige aanraking van die ark van God (2 Sam.6:1-7).

– Saul se goedbedoelde maar eiewillige ‘behoefte’-offer in Samuel se plek (1 Sam.13:8-13), asook sy ongehoorsaamheid om meer te wil doen as die bevele van God, wat beskryf word as “… wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens” (1 Sam.15:22-24)

– In die Nuwe Testament die Fariseërs wat die Here volgens hul eie goeie bedoelings probeer vereer het, en nie volgens God se bevele alleen nie (Matt.15:1-9).

Daarteenoor gee Christus die opdrag aan sy kerk:

“en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt.22:19).

Calvyn skryf dan ook met verwysing na sommige van hierdie verse:

“Ek weet hoe moeilik dit is om die wêreld te oortuig dat God alle maniere om Hom te vereer wat nie uitdruklik in sy Woord goedgekeur word nie, afkeur. Die teenoorgestelde oortuiging kleef hulle aan –asof dit in hulle murg en bene vassit – dat wat hulle ookal doen vanself aanvaarbaar is, solank dit maar ‘n soort ywer vir die eer van God vertoon. Maar aangesien God dit wat ons doen uit ywer om Hom te vereer, maar wat verskil van sy bevel, nie net as waardeloos beskou nie, maar dit eenvoudig verafsku … waarom dit dan doen?  Die woorde van God is duidelik en seker: ‘om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer’, en ‘tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is (1 Sam.15:22; Matt.15:9). Elke byvoeging tot Sy Woord, is ‘n leuen. Blote ‘eiesinnige godsdiens’  (ethelothreskeia) is nietigheid.’ “ – Calvyn (Tracts relating to the Reformation by John Calvin, translated by Henry Beveridge, volume I (Edinburgh: T&T Clark, p.118. Beklemtonings bygevoeg).

Dat ons die Here moet dien soos Hy beveel (Sondag 35, HK; NGB artikel 7, 32-35), en nie volgens menslike behoeftes en eie goeddunke nie (v/a 91, HK), word as volg verwoord deur prof. S Du Toit (‘n vorige proefessor van die Gereformeerde Kerke se Teologiese Skool in Potchefstroom):

  “… verder het (Zwingli) die predestinasieleer bely en in die erediens van dieselfde standpunt as Calvyn uitgegaan, naamlik dat alles verwyder moes word wat nie uitdruklik in die Heilige Skrif voorgeskrywe word nie (Algemene Kerkgeskiedenis, 1963: 76).

Geloftefees vs Kersfees ?

Wat Geloftefees betref, staan dit op ‘n heel ander vlak as Kersfees.  Geloftefees probeer nie ‘n kerklike fees wees nie, dit is nie deel van die sogenaamde ‘kerklike feesjaar’ nie en het nie ‘n heidense oorsprong nie. Dit is ‘n volksfees waarin die dank aan God gebring word vir sy leidende hand in ons geskiedenis.

Die Skriftuurlike begronding vir geloftes aflê en geloftefeeste word gevind in dae van danksegging en verootmoediging, asook om geloftes aan God te betaal (2 Kron.7:14; Est.9:22; Ps.50:14).  Die Orthodox Presbiterian Church, met wie ons sustersbande het, gebruik dan ook Est.9:22 as skrifbewys om dae van danksegging te bekragtig (Westminster Confession of Faith, 21:5), en nie kerklike feesdae nie.

Die gevaar van isolasie ?

Daar word verder beweer dat predikante, lidmate en gemeentes wat nie kersfees vier nie, hulleself sal isoleer.  Die praktyk van die kerke waarmee die GKSA in verband staan getuig egter van die teenoorgestelde.

Die Free Church of Scotland vier nie kersfees nie op grond van die tweede gebod en tog het die GKSA nog met hulle bande.

By die International Conference of Reformed Churches (ICRC) is daar verskeie ledekerke wat ook nie kersfees vier nie, maar tog nog lede van die ICRC is, saam met die GKSA kerke.

Verder is daar ook predikante en gemeentes in die OPC, met wie die GKSA onlangs sustersbande geknoop het wat nie kersfees vier nie, maar nie deur hul kerkverband verwerp of geïsoleer word nie.

Dit sal eerder die aanvaarding van eiewillige dienste wees, soos die vrou in die regeeramp, wat ons as die GKSA sal isoleer van die gereformeerde en presbiteriaanse kerke waarmee ons nou in korrespondensie is en waarmee ons lidmaatskap deel aan die ICRC.

Die reformasie van die kerkorde

Die kerkregtelike, H. Bouwman, gee drie redes waarom die reformatore van die 16de eeu nie ten gunste van Kersfees was nie (Gereformeerd Kerkrecht II, 1970: 486):

1. Die feesdae is nie deur God ingestel nie (dus ‘n oortreding van die eerste drie gebooie).

2. Dit doen te kort aan die belangrikheid van die Sondag (dus ‘n oortreding van die vierde gebod).

3. Dit gee aanleiding tot losbandigheid en ander heidense feeste (oortreding van die tweede tafel van die wet).

Aldrie hierdie redes is vandag nog netso (en selfs meer) geldig vir ons tye.

Verskillende kerkregtelikes soos o.a. Bouwman en Jansen, het ook daarop gewys dat die reformatoriese kerke van die 16de en 17de eeu en die Sinode van Dordt nie feesdae goedgekeur het nie, maar slegs toegelaat en verdra het ter wille van die volks- en staatskerkidee wat daardie tyd in swang was.

(Om by te voeg: as die GKSA dus afstand gedoen het van ‘n Christelike staatsidee deur sy omhelsing van ‘n menseregte staat – dan behoort dit geen probleem te wees om dan die godsdienstige feesdae soos Goeie Vrydag en Kersfees te groet nie.)

Bouwman skryf: “De kerken waren er principiëel wel tegen, maar de overheid was er voor …” (ibid., p.487).

Dr. W. van’t Spijker, emeritus-professor van ons susterskerke, die Christelijke Gereformeerde Kerke in Nederland, skryf in sy behandeling van Martin Bucer se standpunt teen die feesdae:

“Die feit is egter dat dit nie die kerk was nie, maar die owerheid wat aangedring het op kersfeesviering. So was dit in Straatsburg en ook in Nederland. … Die kerke het, soos op vele ander punte, ook hier die wil van die owerheid gevolg. Miskien het ook daardeur ’n stukkie heidendom in die kerk agtergebly, of is die roomse gedagte lewendig gehou, die gedagte van dat kersfeesviering – soms in die middernagtelike uur – veel meer bied as ‘n gewone preek op Sondag. Om die rede kan die reformasie van kersfees ook vandag nog nodig wees” (‘De Wekker’, 88ste jg., no.9. Beklemtonings bygevoeg).

Hier is dus dringende reformasie nodig om aan te pas by ons standpunt dat ons ‘n ware vrye gereformeerde kerk is: vry van staatsinmenging en vry van die Roomse erediens.

Semper reformanda

Die ware kerke van Christus kan daarom juis ‘ook vandag’ met vrymoedigheid voortgaan met verdere reformasie (semper reformanda), sonder om vervolging van staatsweë te vrees.  Sodoende kan hierdie oorblyfsels van ‘n Roomse erediens, hierdie ‘stukkie heidendom’ uit ons kerke geweer word.

Soos ons tevrede is met die Skrif, met die Psalms, met die beker, so is ons ook tevrede met die Nuwe Testament Sabbat, die eerste dag as rusdag, om God se heilsdade te vier saam in erediens … ons het nie Roomse eiewillige feesdae daarvoor nodig nie (NGB artikel 7).

Die saak oor die feesdae is eintlik eenvoudig:

1. Ons erken en bely almal dat die Heilige Skrif nêrens die feesdae voorskryf of as opdrag gee nie, dus nie noodsaaklik is nie.

2. In NGB art.32 bely ons saam: “Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mens sou wou invoer om God te dien, en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.”

3. En daarom behoort ons nie Kersfees of enige ander sodanige feesdag te vier nie (en om by te voeg: dit versoek of vereis van ‘n humanistiese onchristelike staat om dit te handhaaf nie) .

Laat ons eerder terugkeer en bly by die Sinode van Dordt in 1574 se besluit:

“Wat die feesdae bykomstig by die Sondag betref, is besluit om tevrede te wees met die Sondag alleen.”

Vir die beskerming van die Here se dag, kan daar gerus ‘n profetiese getuienis na die burgerlike owerheid uitgaan, daar is goeie bybelse grond daarvoor.

Informele versoek

Dat alle Christelike kerke die menslik uitgedinkte feesdae sal afskaf en hul sal beywer in die gesin, gemeentes en gemeenskap om die dag van die Here te heilig en te onderhou tot lof van Sy Naam en opbou van Sy gemeentes. En dat die burgerlike owerheid ook die rusdag van die Here sal eerbiedig in hul wetgewing.

 ___________________________

Prof. Bouke Spoelstra gee o.a. die volgende inligting in sy boek oor artikel 67 Kerkorde, in sy boek Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering, 1989:

“Die onderhouding van Christelike feesdae, Kersdag, Paasfees, Pinkster en Hemelvaartsdag word aan die vryheid van die kerk oorgelaat.” – Dordtse Kerkorde, artikel 67

Die Sondagviering is uitgangspunt
Eie aan die aard van die Kerkorde as ordereëling bepaal die kerke nie in Kerkorde wat God in die Skrif voorskryf (Hd 2; 6; Hb 10) en wat in die Belydenis as kerk-wees (Heid Kat S 38) eerbiedig word nie. Die samekoms van die gemeente op die eerste dag van die week sedert die dae van die apostels speel ‘n groot rol gedurende die Reformasie om die Roomse feesdae af te skaf.

Feesdae van sekulêr-heidense oorsprong
Die Roomse sending het gedurende die Middeleeue by kultureel-godsdienstige gebruike van die Germane aangesluit, maar daaraan ‘n Christelike inhoud probeer gee.

Vir die Christus- of Kersfees is by die Germaanse middelwinterfees ter ere van Wodan aangesluit. Goeie Vrydag en Paasfees moes die fees ter ere van Ostera (vgl Engelse “Easter”), die godin van die liefde, vervang, vandaar nog uitspattighede soos paaseiers en paashase as simbole van vrugbaarheid wat toe kwansuis die heelal en opstanding moes simboliseer (Pont 1981:250).

“Holiday” kom van “holy day”. Die Reformatore wou beelde uit die kerkgeboue verwyder en ook allerlei inbeeldinge weer deur godsdienstige feesdae af te skaf. Dié optrede is dikwels aan Calvyn verwyt, terwyl eintlik ander Hervormers (Farel, Viret, Bucer, Knox) hieroor sterk standpunt ingeneem het (Jansen 1922:290).”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: