BDV proefvertaling: Galasiërs 3
Deur/uit die geloof, of, op grond van die geloof ?
deur Slabbert Le Cornu en Cobus Rossouw
OAV (1933/53 vertaling) Galatians 3:7, 11 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. … En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.
BDV (Bybel: ‘n direkte vertaling): Gal.3:7,8,11: So moet julle besef: Die mense wat op geloof staatmaak, is kinders van Abraham. 8 En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof sou vryspreek, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” … 11 En dat niemand op grond van die wet voor God vrygespreek word nie,* is duidelik, want: “Wie vrygespreek is op grond van geloof, sal lewe.”
Die BDV vertaling is ‘n proefvertaling van die Bybelgenootskap van SA, die volledige vertaling van Galasiërs, spesifiek Galasiërs 3 kan daar gelees word.
(‘n Kopie van hierdie artikel is ook aan die Bybelgenootskap gestuur. Dit kan ook hier afgelaai word in PDF formaat: Uit/deur die geloof of op grond van die geloof?)
Met my eerste lees van Galasiërs 3 in die BDV, was my aanvoeling dat daar ‘n groot verskil is tussen hierdie vertaling en meeste ander vertalings, ook ander vertalings soos die KJV, NIV, ESV en ander ouer én moderner vertalings.
In Gal.3 wil Paulus die gemeente in Galate daarop wys dat hul nie uit/deur die werke van die wet geregverdig word nie, maar uit/deur die geloof in Jesus Christus, soos dit ook dan duidelik staan in v.26,
“Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus (OAV en BDV)
In Gal.3 wys Paulus dan ook daarop dat ook Abraham en die heidene (nie-Jode) ‘uit die geloof’ geregverdig is. Die wat dan uit/deur die geloof geregverdig is word dan baie duidelik ge-identifiseer as die kinders van God, as die ware kinders van Abraham. Soos Paulus ook sê in vers 7: “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” (sien ook v.29).
So vertaal die OAV dan ook hierdie frase op verskillende plekke, maar die BDV, in navolging van die NAV (?), besluit om die frase ‘uit die geloof’ telkens te vertaal as (bv.) ‘op geloof staatmaak’, of ‘op grond van geloof’.
Eerstens dan, lyk dit nie of die BDV ‘n brontaal-georiënteerde vertaling is nie. Juis die voetnotas by v.7 en v.11 noop tot so ‘n gevolgtreking, want in die voetnotas staan daar:
w3:7 Die mense … staatmaak: Die bronteks lui “die (mense) uit geloof”.
z3:11 Wie … sal lewe: Die bronteks lui “Die regverdige uit die geloof sal lewe”.
Nou is die vraag, as die BDV poog om ‘n brontaal vertaling te wees, hoekom die frase parafraseer en/of ‘n spesifieke verklaring in die Teks in vertaal, hoekom nie andersom nie? Dus: waarom nie eerder die voetnotas in die teks sit nie, en die teks in die voetnotas nie?
Dit gesê, tweedens, laat dit by my egter ook vrae of die ‘verklarende vertaling’ van BDV in elkgeval die regte verklaring is ?
Is dit so dat Gal.3 vir ons wil leer dat die regverdiges, die kinders van Abraham (wat dus die kinders van God is), dit is op grond van geloof, of omdat hulle staatmaak op geloof ?
As ek die OAV lees dan lyk dit vir my dat Paulus leer dat die geloof identifiseer of wys uit wie kind van God is. Verder wys die voorsetsel-frase ‘uit/deur die geloof’ ook op die instrument … dit wys op die instrument waardeur ons Christus ontvang, naamlik ‘deur/uit die geloof’ (sien: GJC Jordaan, Die Binnewerk van die Griekse Taal: Handleiding vir eksegete en ander studente van Grieks, Potchefstroom: Principia. 2004: bl.92). Dit wil nie wys dat die ‘grond’ van die kind van God wees my geloof of my ‘staatmaak’ handeling is nie. Laasgenoemde is die vrug van my kind-wees-van-God en die middel waardeur ek kind van God word (sien DL 1:8), nie die grond van my kind van God wees nie.
Die BDV kan myns insiens baie misverstand veroorsaak, juis omdat hulle, soos dit vir my lyk, afwyk van ‘n letterlike/brontaal georiënteerde vertaling. Hierdie verwarring bestaan daarin dat die teks die indruk mag skep dat die waarde van my geloof my red, of dat dit die feit op sig self is – my handeling van glo en/of ‘staatmaak’ – wat my red, en nie Christus alleen uit genade, deur die geloof nie … iets wat die eenvoudige oorsit van die Griekse teks in Afrikaans met ‘uit geloof/deur geloof’ nie kan doen nie.
‘n Paar jaar gelede, het ek reeds my besorgdheid uitgespreek oor die vertaling van ‘n sekere vers in die NAV, wat hierdie kwessie raak in die vertaling van Rom.1:17. Hier is wat ek daaroor destyds geskryf het:
“OAV: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”
NAV: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’ ”
NIV: “or in the gospel a righteousness from God is revealed, a righteousness that is by faith from first to last, {17 Or is from faith to faith} just as it is written: ‘The righteous will live by faith.’ ”
Grieks: ek pisteos eis pistin = (vanuit, van, deur) geloof (in, na, tot, toe, vir, tussen) geloof: dus geen ‘omdat’ hulle glo nie. In vers 17 word aangehaal uit Hab.2:4, waar die OAV lees: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe”; en die NAV: “maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” Met die voorsetsel ‘deur’ word gewys op die middel/manier waardeur ‘n mens geregverdig word en in die nuwe lewe bly. Met die voorsetsel ‘omdat’ word gewys die rede/begronding waarom iemand regverdig verklaar word.”
Ds. Cobus Rossouw skryf as volg oor die grammatiese aspekte van hierdie frases, soos dit verband hou veral met Rom.1:17 en Gal.3:11 (Paulus haal aan of verwys na Hab.2:4 in beide verse):
“Dis na my beskeie mening ‘n hartseer vertaling (BDV van Gal.3:7,11 – slc) wat baie maklik die weg kan open tot die dwaling van Arminianisme. Dis waar dat die frase εκ πίστεως as ‘op grond van geloof’ vertaal kan word (vgl. DB Wallace, Greek Grammar Beyond Basics, Zondervan, 1996, bl.371). Wat egter baie belangrik is, is dat Paulus in vers 11 met die baie belangrike Hab 2:4 werk – ο δίκαιος εκ πίστεως ζήσεται (“die regverdige sal uit die geloof lewe”). As gevolg van die naby konteks sou ek sê dat εκ πίστεως (uit die geloof) van 3:8 en 11 dieselfde betekenis moet hê – trouens dit sien ons ook in die vertaling.
Omdat ons in Galasiërs en Romeine met dieselfde outeur te doen het, en omdat daar tematiese ooreenkomste is, nl. die hele kwessie oor hoe ons regverdig voor God staan, kan ons daarom ook verwag dat εκ πίστεως (uit die geloof) in Rom 1:17 en Gal 3:8 en 11 dieselfde betekenis moet hê.
En verder: Omdat Rom.3:21-22 die tema van Rom.1:17 hervat, nadat Paulus in Rom 1:18-3:20 gefokus het op die totale verdorwenheid van die mens, moet δια πίστεως (deur geloof) van Rom.3:22 dieselfde betekenis hê as εκ πίστεως (uit die geloof) van Rom.1:17.
Wat nou belangrik is, is dat δια + genitief soos by δια πίστεως (deur die geloof) nooit kan verwys na gronde of rede nie (vgl. DB Wallace, Greek Grammar Beyond Basics, Zondervan, 1996, bl.368-369; Jordaan, Die Binnewerk van die Griekse taal, 2004, bl.91-92).
δια + genitief verwys na agent (deur); middel (deur); ruimtelik (deur); tydaanduidend (gedurende).
In Rom.3:22 het δια πίστεως (deur geloof) dan die betekenis van ‘deur middel van geloof’. Geloof is die middel waardeur God geregtigheid aan ons gee of toereken.
Omdat Rom.3:21-22 tematies en gedagte-struktureel koppel aan Rom 1:17, is dit logies onmoontlik dat Paulus in Rom 1:17 ons sal leer dat jy geregverdig word omdat jy glo en in Rom 3:22 dat jy geregverdig word deur middel van die geloof. Daar is tog ‘n reuse verskil!
Daarom, so meen ek, in nederigheid, het εκ + genitief in Rom.1:17 dieselfde betekenis as δια + genitief in Rom.3:22. Grammaties is dit ook moontlik (vgl. DB Wallace, Greek Grammar Beyond Basics, Zondervan, 1996, bl.371; Jordaan, Die Binnewerk van die Griekse taal, 2004, bl.92).
Omdat ons in Galasiërs en Romeine met dieselfde outeur te doen het, en omdat daar tematiese ooreenkomste is, nl die hele kwessie oor hoe ons regverdig voor God staan, beteken dit, vanuit ons beredenering uit bogenoemde, dat εκ πίστεως (uit die geloof) in Rom 1:17 en Gal 3:7,8 en 11 vertaal moet word met ‘deur middel van die geloof’.
Ek meen ook, in alle beskeidenheid, dat dit dogmaties suiwer is en ons volk nie verlei tot die dwaling van die Remonstrante wat leer dat geloof ‘n voorwaarde is, ‘n werk van die mens, op grond waarvan die HERE ons regverdig maak (bv VD 1:3; VD 2:4). Dit terwyl geloof:
- ‘n vasstaande kennis is (sien HK v/a 21) van my totale verdorwenheid en die feit dat ook my geloof nie kan red nie, maar dat Jesus my enigste Verlosser is en my geregtigheid.
- en vaste vertoue, wat doelbewus my van myself af, en alle ander dinge af laat wegdraai na Jesus toe, en my op my knieë laat neersak … my hande laat vou … my oë laat toe maak … my met ander woorde niks laat doen nie … maar laat smeek: “Jesus red my!” (vgl Reymond, A New Systematic Theology of the Christian Faith, 1998, bl. 728-729)”
Tot hier ds. Rossouw se verduideliking vanuit die oorspronklike taal.
Sien ook hierdie werkstuk van ds. Rossouw oor Hab.2:4,
Die betekenis van באמונתו binne die konteks van Habakuk 2:4
In aansluiting by ds. Rossouw, is die volgende verklaring van S. Greijdanus (De Brief van de Apostel Paulus aan de Gemeenten in Galatië, Van Bottenburg: Amsterdam, 1936: bl.174, 175) by Gal.2:16 (die in hakies gedeeltes is vertalings van die Grieks ingevoeg, asook die beklemtonings):
“Hij (Paulus – slc) leert hier niet, dat er een samengaan moet zijn van het geloof met wetswerken, om gerechtvaardigd te worden. Doch zijne bedoeling is: geen mench wordt uit wetswerken gerechtvaardigd. En zal eenig mench gerechtvaardigd worden, dan kan dat alleen en geschiedt het uit het geloof in Christus. Hij ontkent dus niet, dat eenig mench gerechtvaardigd wordt.
Maar hij zegt, dat dit niet is eks ergon nomou (uit die werke die wet), doch enkel dia pisteos Iesou Christou (deur die geloof in Jesus Christus). Niet eks ergon nomou (uit die werke die wet), als daar bij komt pistes Iesou (geloof in Christus), doch: in het geheel niet eks ergon nomou (uit die werke die wet); doch wordt eenig mensch gerechtvaardigd, dan geschiedt dit alleen en uitsluitend dia pisteos Iesou Christou (deur die geloof in Jesus Christus). Het dia pisteos (deur die geloof) wordt in ditzelfde vers afgewisseld met ek pisteos (uit die geloof), vgl. ook Rom.3:20; 5:1 e.a., en met pistei (deur die geloof) in Rom.3:28, en met epi tee pistei (deur die geloof) in Filp.3:9. Uit deze afwisseling van praepositie en naamval blijkt, dat pistis (geloof) bij deze rechtvaardiging niet voorkomt als grond, maar als instrument.
Paulus, noch eenig ander outeur van een boek van het Nieuwe Testament, zegt ooit: dia pistin (omrede/op grond van/vanweë die geloof), om, vanwege, het geloof. De tegenstelling met eks ergon nomou (uit die werke van die wet) kan daarbij ook doen weten, dat het geloof hierbij niet als grond in aanmerking komt. De materie of grond der rechtvaardiging ligt in Christus en Zijn verzoenings- en heilswerk, 3:13 en 14; Rom.3:24,25.”
In S. Greijdanus se Romeine verklaring (De Brief van den Apostel Paulus aan de Gemeenten te Rome, deel 1, hfst.1-8. Van Bottenburg: Amsterdam, 1933: bl.184), by Rom.3:22-26, vind ons die volgende verklaring wat aansluit by sy bogenoemde verklaring:
“… dikaiosunee de Theou (die geregtigheid van God) … ontvangen (zij) en (wordt) verkregen dia pisteos Iesou Cristou (deur die geloof in Jesus Christus). … dia. (deur) c.genitief, en niet c.accusatief, gelijk nergens in het NT dia pistin (omrede/op grond van/vanweë die geloof) gevonden wordt, want het geloof is middel, niet grondt.
Synoniem is pistei (deur die geloof), v.28, en ek pisteos (uit die geloof), v.30. pisteos (geloof) zonder lidwoord, om de gedagte geloof te meer op den voorgrond te stellen, in tegenstelling met het begrip van eigen verdienste en werk, vgl. vss. 21, 27, 28. dia pisteos (deur die geloof) spreekt niet van het doen of de openbaringswijze Gods, maar duidt aan, hoe de mench Gods gerechtigheid deelachtig worden, bezitten en genieten kan, nl. niet op den grondslag van eigen aanspraak uit wetsvolbrenging, maar alleen deur middel van geloof. … “
Greijdanus wys dus daarop dat beide ‘uit geloof’ en ‘deur geloof’ wil wys op die instrument/middel waardeur ons God se geregtigheid ontvang, en nie die ‘grond/oorsaak/rede/bron/fondament’ van waarom ons die Here se geregtigheid ontvang nie. Die enigste grond van ons redding is Christus en sy weldade, wat ons alleen deur die geloof ontvang.
Die NAV en BDV se vertalings van ‘omdat ek glo’, of ‘staatmaak op geloof’, of ‘op grond van geloof’, blyk in stryd te wees met Greijdanus se verklaring van die Skrif hier uit die oorspronklike Grieks, en is oop vir groot misverstand om te dink die gelowige se geloofshandeling is die ‘voorwaarde en oorsaak’ van ons redding/verlossing, waarom ons die geregtigheid van God ontvang.
Die ‘deur die geloof’ frase in ons belydenis
In aansluiting by bogenoemde eksegetiese oorwegings, is daar ook konfessionele probleme met frases soos ‘omdat hy glo’ en ‘op grond van geloof’ en ‘op geloof staatmaak’.
Dit klink nie na taal vanuit die gereformeerde belydenis nie, maar meer na arminiaanse taal.
Nêrens in die drie formulere van eenheid vind ons hierdie frases nie, en waar daar wel verwysings is, is dit in ‘n negatiewe afwysende konteks.
Die belydenis, veral in NGB artikel 22 beklemtoon dit baie sterk dat dit ‘deur die geloof’ is (as instrument/middel) wat ons Christus ontvang, en nie ‘omdat’ ons glo nie.
Sien die volgende verwysings hoe die frases ‘deur die geloof’ en die woorde ‘op grond van’ in ons belydenis gebruik word:
1. In NGB artikel 22 bely ons:
“Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom.3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind.”
2. NGB artikel 26 bely ons:
“Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof.”
3. In HK, v&a 21 word Rom.1:17 as Skrifbewys gegee vir die laaste sin wat as volg lei:
“ ’n Ware geloof is … ’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie maar ook aan my uit louter genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid, geskenk het.”
Dit is by hierdie ‘geskenk het’ wat Rom.1:17 as Skrifbewys dien. Nie ‘omdat’ ons glo nie, maar ‘deur’ die geloof ontvang ons al sy weldade (die ‘geskenk’, nl. die geregtigheid van God, 1:17a), en ‘uit’ die geloof in daardie geskenk lewe ons dan in dankbaarheid (sien Ef.2:8-10), daarom ‘uit geloof tot geloof’ (1:17c).
4. HK, Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?
“Antwoord:. Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie.”
Dus, op grond van Christus, en nie ‘op grond van’ my geloof of dat ek ‘staatmaak’ nie.
5. In HK v/a 60 bely ons hoe ons regverdig is voor God, en dan is dit nie omdat ons glo of op geloof staatmaak nie, maar om ‘deur ‘n ware geloof’ Christus uit genade te ontvang. Die geloof as middel en instrument word beklemtoon:
Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?
“Antwoord: Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus; so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is, God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem.”
6. En, net sodat daar nie enige misverstande is oor die aard en taak van die geloof nie, word dit opgevolg met v/a 61:
Vraag 61: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?
“Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie.”
7. Die Dordtse Leerreëls, hfst.1:9 bely ook dat geloof nie die grond is nie, maar die gevolg/vrug van ons redding is:
“Hierdie uitverkiesing het nie op grond van ‘n vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom asof dit as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis is nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ens. Daarom is die uitverkiesing die bron van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan vloei.”
6. Dordt skiet verder ook enige sprake van regverdiging/redding op grond van ons geloof (i.p.v. ‘deur middel van’ die geloof) in flarde, as daar staan (Hoofstuk 1, verwerping 5):
“Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: … Die geloof, geloofs-gehoorsaamheid, heiligheid, vroomheid en volharding is dus nie vrugte of gevolge van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie maar noodsaaklike voorwaardes daarvoor en oorsake daarvan. In die geval van uitverkorenes is dit vooraf vereis en vooruitgesien asof hulle dit reeds volbring het.”
Die Sinode leer: Dit is in stryd met die hele Skrif, wat hierdie en dergelike uitsprake telkens weer in ons ore en harte inskerp: Die uitverkiesing is nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep (Rom. 9:1). Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand. 13:48). Hy het ons uitverkies … om heilig … te wees (Ef. 1:4). Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies (Joh. 15:16). As dit deur genade is, is dit nie meer uit die werke nie (Rom. 11:6). Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het (1 Joh. 4:10)”
Met woordeskat soos ‘omdat ek glo’, of ‘staatmaak op geloof’, of ‘op grond van geloof’, is die misverstand oop om te dink die gelowige se geloofshandeling is die ‘voorwaarde en oorsaak’ van ons redding/verlossing.
7. En in hoofstuk 2 verwerping 4 van Dordt:
“Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God die Vader het ’n nuwe genadeverbond met die mense deur die tussenkoms van die dood van Christus gesluit. Hierdie verbond bestaan nie daarin dat ons deur ons geloof, vir sover dit die verdienste van Christus aanneem, voor God regverdig en salig gemaak word nie. Dit bestaan daarin dat God, nadat Hy die eis van die volmaakte gehoorsaamheid van die Wet afgeskaf het, nou die geloof self en die onvolmaakte geloofsgehoorsaamheid as volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet beskou en dit dan uit genade waardig ag om dit met die ewige lewe te beloon.
Die Sinode leer:
Hierdie mense weerspreek die Skrif: Hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof (Rom. 3:24–25). Met die goddelose Socinus voer hulle ’n nuwe en vreemde leer oor die regverdiging van die mens voor God in. Dit is in stryd met die eenstemmige belydenis van die hele kerk.”
Met die NAV en BDV woordeskat van ‘omdat ek glo’, of ‘staatmaak op geloof’, of ‘op grond van geloof’, is die erge misverstand oop om te dink die regverdige se geloof is nou self ‘waardig’ genoeg geag om met die ewige lewe beloon te word, wat ons terugbring by regverdiging deur die wet, nl. die mens se handeling of dade (deur te glo), is nou die nuwe grond/rede/oorsaak/voorwaarde en dus die ‘nuwe werksverbond’ vir ons redding en saligheid.
Om saam te vat uit die eksegetiese en konfessionele beredenering:
Met hierdie (nuwe) vertalings van die NAV en die BDV (‘omdat hulle glo’, ‘staatmaak op geloof’ en ‘op grond van geloof’) word die hartklop van die Reformasie in navolging van die Skrif in sy wese aangetas, nl.
dat ons gered word uit genade (van God)
deur die geloof (in Jesus Christus)
sonder enige werke van ons kant af.
Die fokus val op die mens en sy handelinge en dade, en lei weer terug na die regverdiging deur die wet/werke (waar die ‘geloofshandeling’ die nuwe voorwaarde vir die genadeverbond is), dit wat Paulus juis in Romeine en Galasiërs bestry.
Implikasie vir alle gereformeerde kerke
Beide die NAV en die BDV veroorsaak misverstand met hul vertalings, en sou laasgenoemde vertaling met hierdie vertalings (verklarings?) keuses so aanvaar word deur die kerke met die gereformeerde belydenis, dan moet die belydenis in hierdie frases ook vervang word om by die nuwe frases (en teologie?) aan te sluit, aangesien dit nog meer verwarring gaan veroorsaak as die Skrif en belydenis vergelyk word in sy woordeskat en betekenis.
In die ‘uit/deur die geloof’ frases soos ons dit vind in die OAV en meeste ander Bybels (o.a. Statevertaling, KJV, NKJV, ens.) val al die fokus op die inhoud (‘Objek’) van die geloof, WIE ons ontvang het, nl. Jesus Christus én al sy weldade (waarvan geloof as geskenk van God, deel is, sien DL 2.8).
In die woorde van NGB art.23:
“Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Die leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Psa 32:2 en Rom 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom 3:24).
Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen.
Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons – helaas! – verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” (Psa 143:2).”
Die ware geloof is Christus alleen, nie Christus plus die werke van die wet nie, ook nie Chrust plus my geloof/handelinge werke nie. In Christus is alles, ook die geskenk om te kan glo (Ef.2:8,9; Fil.1:29a) en uit daardie geloof te lewe, as benadigde regverdiges (Hab.2:4; Rom.1:17; Gal.3:11; Ef.2:10; Fil.1:29b).
Mag Christus alleen ook in ons vertalings eerbiedig word !
Sien die volgende artikel oor die belangrikheid van die leerstuk van regverdiging uit genade deur die geloof alleen, met verwysing na Calvyn se skrywes daaroor:
Die Reformatoriese leer oor die regverdiging deur die geloof alleen
“Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes … Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike Godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ’n halwe Verlosser is.” – NGB 22.
Sien ook: https://douglasdouma.wordpress.com/2018/10/18/ek-dia-en-and-kata/