Dag almal,
Die nuutste Kelkiewyn is weer beskikbaar:
Kelkiewyn – Wie sê julle is Jesus ?
Dit is ons bede dat die Kelkiewyn jou in jou geloofslewe sal toerus. Geniet elke eier hierin gelê en mag die roep van die Kelkiewyn in jou hart broeiplek kry en in jou lewe opvlieg!
Wie sê julle is Jesus?
Ons sou al die Kelkiewyn se uitgawes tot en met die wederkoms kon wy aan hierdie tema, maar ons gaan die vraag probeer beantwoord deur te kyk na die name van Jesus Christus. Ons gaan nie die name wat ons as mense self vir Hom uitgedink het of die troetelname waarmee ons Hom graag sou wou aanspreek bespreek nie, maar die name wat aan ons geopenbaar word in die Bybel.
Hierdie name van Jesus is belangrik omdat hulle, anders as ons name, presies sê wie en wat Hy is. Die name is deel van God se openbaring in Jesus Christus en daarom ‘n belangrike deel van die evangelieboodskap. Stap saam deur hierdie uitgawe om ons Verlosser werklik beter te leer ken.
Die tematiese artikels is almal geneem en verwerk uit die vertaling van ʼn Engelse boek van Ds. Ronald Hanko, ‘Doctrine according to Godliness’ wat by Leeslus bespreek word. Relevant kyk na ‘ ʼn Naam bo elke naam’, Ywer bespreek: ‘My Here en my God’ en in Mikpunt word bely: ‘Jesus is die Christus’. Die Kuikens kan uitsien na die vertelling van ‘Die goeie Herder’, Ds. Hannes bespreek in Leef: ‘Christus: Ons Verlosser, ons troos’ en Morne skryf aan die jonges in Verbonde dat Jesus Christus ʼn persoonlike God is.
Oudergewoonte dis Cynthia weer vir ons ʼn heerlike resep op in die rubriek Opgedis en hierdie keer skep sy Spinasie Quiche. Maatstok maak plek vir nog ʼn artikel wat by ons tema inpas: ‘Jesus as mens’ en dan oordink ons Simeon se profesie oor die Kindjie Jesus.
Dr. Erich bespreek Hepatitis onder Medisyne, Webvlug kyk na hulp om die internet generasie groot te maak en Wie is in beheer beloof om vrae te antwoord oor die Heilige Gees en ons verlossing.
Dit is ons bede dat die Kelkiewyn jou in jou geloofslewe sal toerus. Geniet elke eier hierin gelê en mag die roep van die Kelkiewyn in jou hart broeiplek kry en in jou lewe opvlieg!
Ds. Neil Prinsloo
Vir meer inligting oor die Kelkiewyn, asook vorige uitgawes:
Leave a Reply