Posted by: proregno | November 16, 2012

Hervormingsdag 2012 verklaring deur Kaapse Studiegroep

HERVORMINGSDAG 2012

deur Kaapse Studiegroep

In die gees van die Hervorming en in ooreenstemming met die onverskrokke waagmoed van die hervormers, voel ons, die ondergetekendes, ons gedwonge om die volgende teologiese en kerklike sake wat om hervorming roep, aan die orde te stel.

1. Misbruik van die reformatoriese “semper reformanda”

Ons verwerp die misbruik van die reformatoriese “semper reformanda” asof dit sou beteken dat enige verandering aan die kerk, evangelie of teologie ‘n reformatoriese beginsel is. Die slagspreek “Ecclesia reformata, semper reformanda” roep die kerk op om al hoe meer aan die Heilige Skrif gebonde te wees en na die beginsels van die Skrif te hervorm. Verandering wat nie hieraan voldoen nie, kan nie op die beginsel van “semper reformanda” aanspraak maak nie.

2.  Misbruik van die term “fundamentalisme”

Ons verwerp die misbruik van die term “fundamentalisme” wanneer dit op enige persoon van toepassing gemaak word wat ‘n teksvers as bewys aanhaal of na ‘n Skrifgedeelte verwys waaruit bepaalde afleidings gemaak word. Só ‘n benadering tot die Skrifgebruik ondermyn die gesag van die Skrif en maak dit onmoontlik om die Skrif in ons dag te laat spreek. Daarenteen vereenselwig ons ons met die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 5 en 7, wat verklaar dat die Skrif gesaghebbend en genoegsaam is en as sodanig gebruik mag en behoort te word. Wat die saligmakende geloof en godvrugtige lewenswandel betref, handhaaf ons saam met die reformatore: Sola Scriptura-net die Skrif alleen!

3.  Die unieke verlossing van Jesus Christus

Ons distansieer ons van die groeiende tendens onder predikante en kerkleiers om die unieke verlossing van Jesus Christus te ontken. Wie weier om openlik te sê dat Jesus die enigste verlosser is, relativeer Christus se lyding en sterwe. Ons herhaal dus met oortuiging die reformatoriese “Solus Christus”, Jesus alleen. Daarmee distansieer ons ons ook van die beskouing dat Jesus met sy sterwe alle mense op aarde gered het en dat alle mense kinders van God is. Dit is teenstrydig met die Skrif en met Vraag 20 van die Heidelbergse Kategismus.

4.  Geloof ‘n persoonlike en private aangeleentheid?

Ons betreur dit dat sommige teoloë wat gevra word om te sê wat hulle glo, daarteen eksepsie neem en weier om te antwoord omdat hulle dit as ‘n persoonlike en private aangeleentheid beskou. In die gees van die Hervorming behoort elke gelowige bereid en gereed te wees om te getuig van die geloof wat ons in ons ronddra (1 Petrus 3:15). Geloof was nog nooit ‘n private aangeleentheid nie, behalwe waar daar ‘n wesenlike gevaar van vervolging is. Maar selfs waar vervolging gedreig het, het die apostels en die reformatore nie oor hulle geloof geswyg nie. Uiteindelik is dit nie ons veiligheid of status of gewildheid wat saakmaak nie, maar slegs die getuienis oor die evangelie van Jesus Christus.

5.  Nie nodig om in Jesus Christus te glo nie

Ons verklaar ons ontsteltenis oor die ontluikende idee dat dit nie nodig is om in Jesus Christus te glo nie en dat mense dus nie begelei hoef te word om Christus as verlosser aan te neem nie. Met só ‘n benadering het die missionêre beginsel van verkondiging en die maak van Jesus se dissipels (Matt 28:19) verander na blote inter-geloofsdialoog. Hierdie idée wat sterk deur sekere voorstanders van die Ontluikende Kerk gepropageer word, is teenstrydig met die gees van die Hervorming wat die aandag weg wou neem van die Roomse verdienste en die fokus op geloof en genade wou terugplaas. Ons vereenselwig ons dus met die verduideliking van die belangrike noodsaaklikheid van die geloof in Jesus Christus, soos dit in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus uiteengesit word.

6.  Die beginsel van diversiteit

Ons distansieer ons van die beginsel van diversiteit wat onder postmoderne invloed so wyd loop dat belangrike Skrifbeginsels en gegewens daardeur in gedrang kom. Wanneer die Hervormingsbeginsels (die sogenaamde “solas” ) dan ook nog gerelativeer word, staan die kerk nie meer in die reformatoriese tradisie nie. Ons wys daarop dat die Algemene Sinode van 2011 eenparig besluit het dat die beginsel van diversiteit nie die gereformeerde leer of spiritualiteit in gedrang mag bring nie. Onbeperkte diversiteit relativeer die Skrif en lei tot die vernietiging van die betekenis van die Hervorming. Onbeperkte diversiteit erodeer ook die eenvormige gereformeerde identiteit van gereformeerde kerke en bemoeilik ware eenheid wat alleen op die waarheid kan berus.

7.  Evangelie verhorisontaliseer

Dit is direk teenstrydig met die evangelie van genade en die reformatoriese “sola gratia” om die boodskap van die Bybel só te verhorisontaliseer dat mense geleer word dat geloof in Jesus Christus nie meer nodig is nie en dat ons enigste verantwoordelikheid is om ons naaste met barmhartigheid te dien. So ‘n beskouing, wat sterk deur die sogenaamde “Emerging Church” gepropageer word en reeds binne verskeie kerke in Suid-Afrika geïnfiltreer het, is maar net ‘n herhaling van die “Social Gospel” van die jare sestig van die vorige eeu. Dit keer terug na die beginsel van verdienste en relativeer die noodsaak tot geloof. As sodanig is dit nie net ‘n ander aksent binne die Christelike geloof  nie maar inderdaad ‘n afwyking van die reformatoriese “Sola  gratia”.

Ons betreur enige poging om die belang en betekenis van die Hervorming te devalueer en die bydrae van die hervormers te verkleineer. Verskeie skrywers wat hulle met die gedagtes van die Ontluikende Kerk vereenselwig, het dié kritiek teen die Reformasie slaafs nagevolg. In hierdie openlike kritiek word die betekenis en bydrae van die Reformasie so gerelativeer dat een skrywer die Reformasie bestempel as net maar ‘n voortsetting van die kerklike tradisie (“business as usual)”, sonder dat dit betekenisvolle verandering teweeg gebring het. Die enorme bydrae van die Reformasie en die geloofsmoed van die reformatore verdien nie hierdie  moedswillige en onregverdige kritiek nie. Ook strook dit nie met die historiese gegewens nie.

Hoewel daar nog talle besorgdhede is, volstaan ons met bogenoemde. Hierdie gestelde sake van die geloof word deur ‘n groot getal van protestantse kerke en lidmate gedeel. Ons is oortuig dat daar ‘n ontstellende getal lidmate is wat oor die nuwe teologie en tendense in die kerk  diep ongelukkig is en doen ‘n beroep op kerkleiers om nie die gevoel van hierdie lidmate te ignoreer nie. Die viering van Hervormingsdag sonder lojaliteit aan die gees en waarde daarvan, maak die viering van die Hervorming ongeloofwaardig. Ecclesia reformata, semper reformanda!

Prof. Johan Janse van Rensburg

Medeondertekenaars: John Murray, Eben Louw, Danie Murray, Isak van der Vyver, Hendrik Jansen van Rensburg, Kobus Stapelberg, Johan Kriel, Pieter Pelser, Danie du Plessis, Ronnie Butler, Michael de Waal en Ronnie Neveling

Sien ook die volgende webblad: Bybelwaarheid.com


Responses

  1. Is daar ‘n Dopper by?

    • Weet nie, is ‘n iniasitief onder NG lidmate wat besorgd is.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: