Sodom én ons – 2 preke

Preek 1: Moenie talm nie, ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

Preek 2:  Die sonde én genade in Sodom, ds. Slabbert Le Cornu (GK Carletonville)

1. Moenie talm nie (Gen.19:16a)

ds. G. Opperman

Lees: Genesis 19

Teks: 19:16 (a) Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon.

Sing: Psalm 149:1,2; 149:4; 18:12,14; 99:1,3,5; 68:9,15

Tema: Moenie talm nie

Broers en Susters,

Mense het partykeer die manier

wanneer hulle van Johannesburg praat

om daarna te verwys as “Sodom en Gomorra” …

Sodom … simbool van goddeloosheid …

Sodom … daar het dinge darem maar erg gegaan ..

net so erg soos dit vandag in Johannesburg gaan …

Dan is dit miskien met ‘n mate van ongemaklikheid dat ons hierdie Skrifgedeelte lees,

want ons almal bewus van Sodom se goddeloosheid

net soos ons bewus is van Johannesburg se goddeloosheid.

Maar as ons moet dink aan Johannesburg se oordeel,

dat Johannesburg net so omgekeer kan word,

soos Sodom en Gomorra omgekeer is,

dan deins ons terug …

Daaraan wil ek liewer nie dink nie …

En dan is dit maklik om hier met die lees van die eerste hoofstukke van die Bybel

net te konsentreer op die genade …

God se genade aan Noag

God se genade aan Abraham Isak en Jakob …

Dan is dit miskien makliker om met die prediking van die boek Genesis

om so saggies rondom Sodom en Gomorra om te seil …

met die oë styf toegeknyp …

Dit liefs te vermy …

Laat ons tog nie die gemeente die skrik op die lyf jaag nie …

Ja, as dit kom by die toepassing van die Sodom gebeure op ons eie tyd,

dan talm ons …

soos Lot getalm het …

Mag dit so wees dat die Here vir ons,

ja, ook vir ons,

vandag by die hand gryp …

Vir geen ander rede

as dat Hy ons wil verskoon …

Een van die redes hoekom ons nie Sodom mag miskyk nie,

is omdat die Skrif sy oë nie vir Sodom sluit nie …

Die Skrif skryf die name Sodom en Gomorra met hoofletters …

van die eerste tot die laaste boek in Bybel:

Genesis, Deuteronomium, Jeremia, Esegiël,

Amos, Sefanja, Matteus, Markus, Lukas, Romeine,

2 Petrus, Judas en uiteindelik Openbaring …

Almal skryf … almal waarsku …

Keer op keer …

Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom!

Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!

skryf Jesaja (1:10)

Petrus skryf die Here het die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand,

en hulle ‘n voorbeeld gestel

vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees … (2 Pet 2:6).

Hoor Kaapstad … Hoor Durban … Hoor Pretoria!

Daar is nog ‘n rede waarom ons,

wanneer ons op reis deur die Bybel gaan,

waarom ons liewer nie die verbypad rondom Sodom moet ry nie …

Daar is nog ‘n rede

en dit is dat een van die gruwels van ons tyd ook die naam van Sodom dra …

Ons praat van die sonde van sodomie …

die sonde van homoseksualiteit

en lesbianisme …

Ons verwys na dit wat in ons tyd die media oorheers …

Ons verwys na die “gay beweging”

die sogenaamde “pink revolution” …

Een maal ‘n jaar word die strate van Johannesburg aan hulle oorgegee,

dan marsjeer daardeur in hulle duisendtalle

aangetrek in vroueklere …

en onderklere …

The “annual gay parade” …

met plakate wat sê

“Gay pride”!

Skaamteloos en uitdagend …

En soos hulle hier in Genesis 19 voor Lot se deur staan,

soos hulle sterk op die man Lot aandring

en nader kom

om die deur oop te breek …

so staan hulle vandag voor die kerk se deur …

skaamteloos en uitdagend …

“Maak oop hierdie deur

of ons breek dit af!

Ons wil binne …

Ons wil saam eet en drink aan die Nagmaaltafel.

Ons wil preek en profeteer vanaf hierdie preekstoel.

Kom, kom maak oop …

Ons wil die manne in hierdie huis beken …

Kom, kom maak oop …

Ons wil julle seuns hê …”

Ja, Geliefdes, ons kan miskien ons oë vir Sodom sluit,

maar Sodom se eie oë is met geweld en begeerte gerig

op die bruid van onse Here Jesus Christus …

Mag die HERE hulle met blindheid slaan …

Ons mag ook nie ons oë vir Lot sluit nie,

want in die figuur van Lot,

die talmende Lot …

Daar … daar lê so baie,

so baie van dit wat ons is, in sy figuur opgesluit …

Lot wat goed in Sodom geleef het …

maar wat uiteindelik in die spelonke van Soar se gebergtes ge-eindig het…

Neef Lot het saam met sy oom Abraham na die beloofde lande getrek.

Neef Lot en oom Abraham se veewagters het stry gekry oor die weiding,

so lees ons in Genesis 13.

Abraham sê toe vir Lot:

Skei jou tog van my af;

gaan jy links,

dan sal ek regs gaan,

Toe slaan Lot sy oë op

en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het;

voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het,

Dit was in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE,

soos Egipteland.

Abram het toe bly woon in die land Kanaän,

en Lot het sy tente tot by Sodom opgeslaan.

maar die manne van Sodom was sleg

die manne van Sodom was groot sondaars voor die HERE.

Sodom was mooi van vêr,

maar vêr van mooi …

Ja, van Bet-El se hoogte was Sodom mooi,

so mooi soos die tuin van die Here,

maar wanneer Lot daar land,

vind hy nie die paradys nie …

Hy vind die poorte van die hel …

In die Nuwe Testament, in die apostel Petrus se tweede brief,

lees ons van Lot se ervaringe in Sodom:

Lot het homself baie gekwel,

skryf Petrus,

Hy het homself gekwel oor die losbandige lewe van die sedelose mense;

Deur wat hy gesien en gehoor het,

het dié regverdige man,

wat onder hulle gewoon het,

dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke … (2 Pet 2:7).

Lot was diep ongelukkig in Sodom …

Hy self gaan nie met al hulle praktyke mee nie …

Hy sal nie sy gaste aan die manne van Sodom oorgee nie …

Nee, Lot kon homself nie met dié plek en dié mense versoen nie …

Hy kon homself nie met hulle manier van leef versoen nie …

Net soos ons vandag,

nê, broers en susters,

wanneer ons na die Goddelose Gautengers kyk,

die Sabbatskenders …

die geoorbelde getatoeeerde wit heidendom,

die “topless bars”

die “gay bars” …

die “stag nights” …

die “blue bull babes” op Loftus …

Dan sê ons:

“Ai, wat is tog besig om van hierdie wêreld te word?

Waar gaan alles tog heen?”

Soos Lot van ouds …

is ons siele gepynig …

Maar wat doen ons daaraan?

Maar wat doen Lot daaraan?

Niks.

Lot het getalm …

Want hy net soos ons, sal te veel …

te veel materieël moet inboet,

sal te veel moet prysgee …

as ons iets daaraan moes doen …

Sodom se weivelde bly maar die beste wat daar is …

Intussen skuur Sodom op Lot af …

Ons sien dit tog, want hy is wel bereid om sy eie dogters,

sy maagdelike dogters aan die Sodomiete oor gee …

Dis nie wat die Here van Lot verwag het nie …

Dit was eerder hoe die mense van Sodom self sou handel …

Ja, Sodom het tog op Lot afgeskuur …

Intussen het Sodom ook onder die vel van Lot se vrou ingekruip …

Intussen suig Sodom ook aan Lot se kinders vas  …

Lot se dogters vind die Sodom seuns aanvaarbaar …

Dis dan al troumateriaal wat daar is …

Sodom se seuns was gereed om met die dogters van die gelowige Lot te trou …

maar hierdie seuns vind die woorde van die HERE belaglik.

So het ons gelees.

Toe Lot se aanstaande skoonseuns gewaarsku word,

was hierdie woorde vir hulle ‘n gekskeerdery …

‘n groot grap …

En wanneer hierdie dogters van Lot ternouernood uit Sodom ontkom,

dan vind ons aan die einde van hierdie hoofstuk,

dat hulle nog steeds met Sodom besoedel is …

Hulle verwek vir hulself kinders

deur hulle vader dronk te maak …

deur hulle eie pa twee keer dronk te maak

en dan om die beurt bloedskande te pleeg …

Hulle was uit Sodom,

maar Sodom was nog nie uit hulle uit nie …

En Lot se vrou …

Jesus self het haar as voorbeeld en waarskuwing voorgehou …

toe Hy gewaarsku het oor sy wederkoms

Dit sal wees net soos in die dae van Lot,

het Hy volgens Lukas gesê:

Op die dag toe Lot van Sodom uitgaan,

het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.

Net so sal dit wees in die dag

wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.

In daardie dag moet hy wat op die dak sal wees,

terwyl sy huisraad in die huis is,

nie afkom om dit weg te neem nie;

en so ook moet hy wat op die land sal wees,

nie omdraai na wat agter is nie. (Luk 17:29 ev).

Dink aan die vrou van Lot!

Vlug vir julle lewens,

het die HERE vir Lot se gesin gesê,

Vlug na die berge !

Moenie êrens bly staan nie !

Moenie omkyk nie.

Die vrou van Lot het omgekyk

en sy het ‘n soutpilaar geword ….

Sy het omgekyk na dit wat vir haar so dierbaar was …

dierbare Sodom …

dierbare vierslaapkamer huis met die oopplankombuis,

dierbare instapaantrekkamer met die kas vol ontwerpersklere,

dierbare Josha Doore-sitkamerstel

en die tuisteater met die plasmaskerm en die surround sound

alles in die reën …

alles in die reën van swael en vuur …

Lot se vrou het omgekyk om die vuur en swael te sien …

Ag nee, liewe Vader,

nie die Kollonade winkelsentrum ook nie!

En kyk … kyk daar brand Menlyn!

En die rook het opgetrek

soos die rook van ‘n smeltoond

O dierbare Sodom …

Lot se vrou het omgekyk en gekyk

en sy het ‘n soutpilaar geword …

Lot het getalm, gehuiwer,

maar Lot se vrou het net te lank getalm,

en sy het ‘n monument geword,

‘n monument ter herinnering aan verspeelde kanse …

En God het die stede van die Jordaanstreek verwoes.

Hy het die stede omgekeer …

dit wat onder was,

was daarna bo

en dit wat bo was,

was daarna onder …

want God se oordeel oor Sodom kom,

Broers en Susters,

daarvan moet ons seker wees,

sy tydelike oordeel

en later sy ewige oordeel …

Ons sien God se tydelike oordeel

in die twee geboue van die World Trade Centre wat Hy op een dag laat val …

Ons sien dit in die tsunamigolwe wat in een dag ‘n kwartmiljoen mense kan uitwis …

Twee tsunami’s die aflope agt jaar …

Ons sien dit in orkaan Sandy se pad deur die Ooskus van Amerika…

Ons sien dit in die vulkane en die aardbewings wat gereeld stede omkeer en verwoes …

Maar God se eindoordeel sal baie meer omvattend wees …

daardie dag as die Een wat hulle “liewe Jesus” noem, weer kom.

Daardie dag as soveel mense ontdek,

dat Hy toe nie so sag en lief is

soos so baie Hom graag wou gehad het nie …

die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag,

skryf Petrus,

daardie dag sal die hemele met gedruis  verbygaan,

die elemente sal brand en vergaan,

en die aarde en die werke wat daarop is,

dit sal verbrand (2 Pet 3:10).

Abraham het gebid dat Sodom gespaar sou word ter wille van tien regverdiges …

Daar was nie eens tien nie …

Maar die HERE het Lot verskoon,

ter wille van Abraham het die HERE vir Lot verskoon …

Die engele het hom en sy gesin letterlik uit die stad geruk,

soos ‘n stuk brandhout uit die vuur geruk word …

Lot is gered,

maar soos ons later lees in Paulus se eerste brief aan die Korintiërs:

Hy is gered,

maar hy is gered soos deur vuur heen (1Kor 3:15).

Nou kan ons vra, Geliefdes

sal daar eendag … op die dag van God se oordeel,

God se tydelike of God se ewige oordeel …

Sal daar op daardie dag ook twee engele opdaag om ons en ons gesinne te kom red?

Sal daar op daardie dag ook twee manne opdaag om ons te kom waarsku?

Of moet ons onsself as gewaarsku beskou …

Ons het mos baie meer as die woorde van twee engele …

Ons het die woorde van die hele Bybel …

die woorde van die engele en die woorde van die heilige profete

en die woorde van die apostels

en …

en ons het die woorde van die opgestane Jesus Christus!

Ons is mos gewaarsku!

Nou hoekom sal ons talm soos Lot …?

Miskien moet ons weer ‘n slag ‘n bestekopname maak …

elkeen van ons …

die predikant inkluis …

oor hoeveel van Sodom reeds aan ons afgeskuur het …

oor hoeveel van Sodom reeds aan ons kinders vasgesuig het

oor hoeveel van Sodom reeds onder ons velle ingekruip het …

dierbare Sodom …

Kom ons maak hierdie bestekopname eenvoudig, Broers en Susters.

Kom ons gaan bepaal net … elkeen van ons

hoeveel tyd sport en televisie in ons huise in beslag neem

teenoor die tyd wat daar aan die HERE se Woord, aan huisgodsdiens afgestaan word?

Dit sal vir ons ‘n betroubare barometer wees …

Tyd afgestaan aan televisie en sport …

Tyd afgestaan aan die Here se Woord …

Tyd afgestaan aan Sewende Laan.

Tyd afgestaan aan huisgodsdiens.

Hoe weeg dit op?

En dit sal bepaal hoe lank ons sal talm op die dag van Christus se oordeel.

Ons mag miskien in Sodom bly,

maar ons mag nie soos Sodom word nie …

Genesis 19 is nie verniet in die Bybel opgeteken nie …

Laat ons nie eendag soos Lot talm nie!

Laat ons vandag talm om die huisaltaar weer herstel nie …

Laat ons teenoor die Sodomiete ‘n getuie wees van Jesus Christus,

maar laat ons terselfdertyd ons deure toe hou,

dig toe hou vir Sodom se goddeloosheid …

Laat ons onsself as gewaarsku beskou …

Amen.

2. Die sonde en genade in Sodom (Gen.19:16b)

ds. S Le Cornu

Lees: Gen.19:1-25

Sing: Psalm 97:1-3; 95:1,4; 117; 97:6,7

Teks: “Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon.” (19:16b)

In die oordeel en vernietiging van Sodom sien ons die mens,

die slangesaad (Gen.3:15), die goddelose in die toppunt van sy verlorenheid en verdorwenheid.

Tweedens, sien egter ook hoe gelowiges, omdat hul kompromeer met die wêreld,

slegte gevolge oor hul lewens en hul families bring.

En derdens en laastens, daarom is daar geen hoop vir gelowiges,

sonder die genade van God nie,

dat Hy aan ons dink in ons swakheid en nietigheid.

I. Sonde en oordeel

In hfst.18 het ons gesien hoe drie manne aan Abraham verskyn.

Hierdie drie manne was die Here en 2 engele, wat in menslike gestalte verskyn het.

Hulle bevestig die Here se belofte van ‘n kind aan Abraham en Sara,

maar openbaar ook aan Abraham die oordeel wat Sodom en ander stede gaan tref.

Abraham doen voorbidding vir Sodom,

en die Here belowe om Sodom nie te vernietig nie,

as daar 10 regverdiges in gevind word.

Die twee engele gaan voort na Sodom, om te ondersoek wat die Here sê in 18:20,21:

“Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar.  21 Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet.”

Dit bring ons by Gen.19, die twee engele kom aan in Sodom … in die nag.

Hierdie donker nag, gaan nog donkerder word met die gebeure wat gaan volg.

Lot ontvang hul in die poort, en soos Abraham (Gen.18:3ev),

getuig sy gasvryheid en ontferming oor die manne,

van sy geloof.

Hy bied hul ‘n slaapplek aan, kos, water en beskerming.

Die engele – onthou Lot het eers nie geweet nie – weier eers,

maar Lot dring daarop aan dat hy by hom oorbly en vinnig die volgende more vertrek.

Hoekom dring Lot so daarop aan ?

Want hy weet wat in Sodom aangaan,

van die sonde en ongeregtigheid

en die losbandige leefwyse van Sodom.

Toe die manne en Lot hulle wou gaan slaap,

kom al die manne, oud en jonk, van orals van die stad saam,

en eis die 2 gaste aan hulle oorgelewer te word,

om hulle te beken (Hebr.:jada plus konteks = met hul onnatuurlike homoseksuele geslagsgemeenskap te hê)

En, nog verder, dit gaan ook ‘n bende – verkragting wees, ‘n ‘gang rape’

Die stad en sy inwoners is blatant daaroor, roep dit uit v.5c,

“Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.” !

In hul wellus, gaan die manne van die stad agter vreemde vlees aan

in die woorde van Rom.1:27 lees:

“en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.”

En, volgens Paulus in Romeine,

is die oorgee van mense en ‘n stad en samelewing aan homoseksualisme ‘n teken van God se oordeel,

dat hul reeds ge-oordeel word of onder God se oordeel is.

Teenoor Abraham en Lot se gasvryheid,

sien ons die inwoners van Sodom,

die goddelose saad haat hul naaste,

en wil hul soos diere gebruik en misbruik,

deur homoseksuele verkragting.

Hoe verskriklik is die sonde nie, geliefdes,

boos en haatlik teenoor God maar ook ons naaste !

(sien HK v/a 5 en 8)

Daarom dat God die mens oordeel, daarom dat die Here,

soos v.13 dit stel, Sodom gaan verwoes.

II. Kompromie met die wêreld en die gevolge daarvan

Maar, as die goddelose totaal uitbreek in hul opstand,

tref die sonde ook die gelowige, as ons nie daarteen stry en daarvan afsonder nie.

In Lot se reaksie op die Sodomiete se optrede is baie om voor dankbaar te wees,

maar daar is ook strepe van kompromie, afvalligheid,

wat deur jare se lewe saam met die sodomie kultuur, hom beinvloed het:

a. hy noem wat hul wil doen ‘kwaad’, dit is wat dit is.

Die Here beskryf in Exodus en Levitikus homoseksualisme ‘n gruwel.

b. hy wil die engele ten alle koste as sy gaste beskerm,

c. maar, in daardie poging, is hy bereid sy dogters op te offer,

‘n daad wat natuurlik nie goedgepraat kan word nie,

en die Skrif nie leer nie.

Die Sodomiete is woedend, en sê Lot is ‘n vreemdeling,

hy het nie die reg om hulle te vermaan, te tug nie, wie dink hy is hy …

hulle is hul eie gode, hul eie base …

U sien geliefdes, ongeag Lot se kompromiee,

was hy ‘n regverdige van God,

en het wel as inwoner getuig teen Sodom se ongeregtigheid

Ons lees daarvan in 2 Pe.2:7,

” en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense”

U weet, toe ek dit lees, dink ek aan ons tye vandag,

hoor ons dit nie baie nie, van goddeloses, ongelowiges:

“wie is julle om ons te oordeel, weg met julle skynheiliges, ens …”

Laat my dink aan Casper de Vries se woorde die afgelope tyd

(in antwoord op mense wat hom gekritiseer het oor sy godslasterlike uitsprake

in sy ‘shows’),

wat my laat sidder as ek daaraan dink dat hy dit oor homself bring,

op facebook:

“Daar is nie ‘n God, ‘n Jesus of ‘n hel nie. Moenie my snert vertel soos elke knie sal buig of elke hol gaan rol of elke piep gaan swiep nie. Vir wat kruip julle so gat voor iets wat nie bestaan nie. Ek soek ook nie julle skynheilige christene by my shows nie.”

Mense wat al so verhard is in hul sondes en denke, dat hul God verwerp.

Toe die sodomiete ook vir Lot nou wil verkrag en doodmaak,

gryp die engele van God in, deur deure toe te sluit

en die sodomiete met blindheid te slaan

Gaan hulle nou bekeer ?

Nee ! 

Hul val verward rond, maar soek nog die ingang

wil nog steeds aangaan met hul bose dade !

Laat mens dink aan die woorde van Jes.1:5,

“Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan om af te wyk?”

Met hierdie gebeure het Lot sekerlik geweet hierdie manne by hom is besonders,

en hul openbaar dan ook God se oordeelsplan oor Sodom wat sou kom (v.13).

Lot waarsku sy skoonseuns, maar hulle lag hom uit …

soos Casper de Vries God se komende oordeel uitlag en bespot …

hulle maak ‘n grap van:

–  Lot se geloof,

– die werklikheid van God se haat oor sonde,

– die werklikheid dat God die lewende en dode oor al sy dade sal oordeel,

soos die res van die Skrif leer.

U weet geliefdes, toe ek hierdie vers lees,

toe dink verder ek ook aan al die mense wat soveel grappe maak

oor sonde, oor die huwelik, oor die geloof, oor die kerk,

en ek sidder

Nog meer as ek dink …

hoeveel keer lag ons nie maar saam nie

Daardie vuil grappe, daardie films wat grappe maak oor wat heilig is

Kinders, jongseuns, wat grappies maak oor maagdelikheid

oor om rond te slaap …

Want onthou, die Here oordeel nie net homoseksualisme nie,

maar enige ontrou, egbreek of hoerery,

d.w.s. seksuele gemeenskap buite die huwelik,

sien Hebr.13:4; 1 Kor.6:10,11.

Ook selfs in ons denke (Matt.5:27-30)

Hierdie skoonseuns, dalk ook sodomiete (of bi-seksueel?),

lag vir die waarskuwing om te vlug van die komende oordeel.

Maar,

wat doen ek en u as ons daagliks uit die Bybel

in die prediking hoor om te vlug van sonde

van boosheid en slegte vriende, en slegte programme

Dink ons ons ouers is te ‘ouderwets’,

lag ons hul uit, dink ons ons is verlig en beter

ons is ‘sterk’ Christene wat nie hoef te bid en waak teen versoekinge nie ?

wat orals kan gaan en saamdoen met die wêreld,

baiemaal onder die valse dekmantel van

“ons moet ons liggies orals laat skyn” ?

“moet nie te wetties wees nie” is die strydroep uit die hel !

Maar onthou, die oordeel van die Here is ‘n werklikheid,

vir Sodom, ook vir vandag en die toekoms:

Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” (2 Kor.5:10; sien ook Hand.17:30,31)

III.  Ons hoop is in God se genadige barmhartige werk in Christus alleen

Maar, kan ons uit onsself vlug geliefdes, weg van Sodom en sy sondes ?

Nee, ons – ek en u – is geneig om die wêreld en onsself

bo God en ons naaste lief te hê, ja, selfs as gelowiges (sien HK v/a 127).

Want, self hier sien ons dat Lot talm, huiwer, sy hart is verdeeld

Hy wil nog by Sodom bly, die rykdom geniet tot in die hel

Hy twyfel selfs oor die oordeel.

Hoe verskriklik geliefdes, is die sonde en slawerny tog nie.

Hoe gaan ons, ek en u bevry word van die komende oordeel ?

Die antwoord geliefdes, soos altyd:

alleen deur die soewereine genade, barmhartigheid en liefde van God in Christus !!!

Dit lees ons in v.16:

Genesis 19:16b

“Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.”

Dit is genade op genade, uitverkiesende genade,

op grond van Christus se volmaakte werk vir Lot,

nie Lot se vroomheid, of goeie dade nie,

maar ‘omdat’ die Here hom wou verskoon het.

Die Here is alles, ons is niks

dit is genade.

So vir elkeen van sy kinders.

Ons liefde, trou en diens is maar flou,

maar God se liefde en genade is trou,

Hy sal elkeen van sy kinders red, dank God !

Daarom die trooswoorde van Filp.1:6,

“omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (sien ook Filp.3:9, as die enigste grond van ons saligheid)

Maar ja, selfs toe Lot en sy gesin uit Sodom is,

redekawel hy nog, talm hy nog, veral sy vrou

Maar God is getrou, Hy red sy kinders, sy koppige ongehoorsame kinders.

“As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.  13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2 Tim.2:12,13)

Toe Lot uit is, die enigste regverdige, toe volg die verskriklike oordeel van God (v.24,25)

(Vanmiddag se diens, gaan ons let op v.26-38)

Vanoggend stop ons hier, met die samevattende woorde aan my en u:

1. God haat sonde, en sal dit oordeel, tydelik en ewig.

Laat daar geen twyfel by ons daaroor wees nie

Die wêreld met al sy geleerdes, selfs in kerke en teologiese skole kan dit aflag,

maar dit staan vas: God sal sonde en ongeregtheid straf en oordeel,

waarvan Sodom se verwoesting ‘n prent is van die ewige oordeel van vuur en swael wat sal plaasvind met die wederkoms van Christus.

2. Daarom geliefdes, vlug na die enigste berg, Jesus Christus

vir verlossing en beskerming van sy oordeel,

daar is geen ander redding of hoop nie (Joh.14:6)

As jy die Seun het, sal jy lewe, anders is jy dood … al is jy lewendig (Joh.3:36).

3. Word gewaarsku deur wat ons sien hier met die lewe van Lot.

Elke gelowige wat God aan dink en liefhet, sal nie verlore gaan nie.

Dit is die troos van Joh.10:28.

Maar, as ons nie volgens sy gebooie wil lewe nie,

dan gaan ons seer kry en baie hartseer oor onsself bring.

In vanmiddag se preek gaan ons dit sien,

maar wil dit hier net kortliks noem, ‘n paar praktiese sake:

Moenie met die wêreld kompromeer nie (1 Joh.2:17),

moenie die weg van sodom gaan nie,

moenie onnodig in sodom lewe nie,

fisies of via die internet of film- of vriende wêreld nie (Rom.13:13,14).

Daarom die waarskuwing wat Paulus gee vir die jonge Timoteus,

wat ook geld vir ons almal,

om te vlug van wat verkeerd is,

en na te jaag, omhels wat reg en goed is (2 Tim.2:22):

“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep.”

Waarheen ek vlug en wat ek najaag,

Sodom of Christus,

sal ten einde wys en openbaar,

is ek kind van God

of ‘n kind van Sodom

Wie se kind is u ?

Amen.

2 thoughts on “Sodom én ons – 2 preke

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: