Die ‘calvinistiese hemde’ sal dit uitroep !

” I’M BAD TO THE BONE ! “

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.” – Matt.23:37

Lanklaas ‘n hemp gesien wat die ‘verlore verdorwenheid van die mens’ so duidelik uitroep, wat baie predikers vandag bang is om te verkondig, dat ons eerstens moet weet hoe groot ons sonde en ellende is (HK v/a 2-4; hfst 3 en 4 van die Dordtse Leerreëls: “Die verdorwenheid van die mens …”), sodat ons na Christus vlug vir redding, en dan daarvoor dankbaar kan lewe.

Dit lyk my jongmense koop en dra hierdie hemp, bloot om ‘cool’ te wees, dalk so bietjie opstandig en uitdagend teenoor die vyfde gebod, teen ouers, onderwysers, kerke, en bo alles teen God. Die boodskap wat hul wil uitstuur, kundig of onkundig, so bietjie ligsinnig, is:

“EK is sleg, …. en wat gaan JY daaraan doen!?”

Wel, niks nie, ek of enige ander mens kan niks doen nie .

Jy (en ek en ons almal!) is van nature dood,

verlore in ons sondige boosheid,

… bad to the bone …

dit is die werklikheid,

dit is die slegte nuus:

JY en jou hemp is heeltemal reg wat dit betref:

  10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.

11 Daar is niemand wat verstandig is nie,

daar is niemand wat God soek nie.

12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard.

Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

13 Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog,

die gif van adders is onder hulle lippe.

14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.

15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.

16 Verwoesting en ellende is in hulle paaie,

17 en die weg van vrede ken hulle nie.

18 Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.

19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is,

sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees.” (Rom.3)

Die verlorenheid van die mens tot in sy diepste wese,

soos gesien in hierdie ‘bybelse calvinistiese hemp’

word soos volg verwoord deur die HK:

“… ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.” (antw 5)

” … ons is so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is …. ” (vraag 8)

In my wese haat ek God en my naaste,

hoe ‘beskaaf’ en ‘mooi’ ek ookal lyk na buite.

Ja, ons as mense is verdorwe in onsself,

ongeag al die leuens en toesmeerdery wat ons elke tweede dag in die koerante moet lees:

– “so en so is eintlik ‘n goeie seun met ‘n goeie hart ….. al het hy sy pa en ma met ‘n byl in stukkies opgekap …”

– “sussie so en so is eintlik baie liefdevol en onskuldig …. al slaap sy rond en hoereer van die oggend tot die aand ….”

– “boetie is eintlik ‘n goeie saggeaarde mens ….. al het hy 5 meisies verkrag en satanistiese rituele op hul uitgevoer voor hy hul met ‘n mes doodgesteek het ….”

Die gevolge om God en ons naaste te haat, is die dood:

Esg.6:5, “… en Ek sal die lyke van die kinders van Israel voor hulle drekgode werp en julle beendere rondom julle altare strooi.”

Ook die ewige dood:

“Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.” (Spr.8:36)

1 Kor.6:9-10, “9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?  10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”

“Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” – Op.21:8

God laat nie met Hom spot nie,

al dink baie hulle is ‘cute en funny’ met die hemp en uitdagings.

Besef egter – jy is lewendig dood,

jou beendere gaan verstrooi word in die ewige dood,

as jy jou nie bekeer nie.

En, die enigste weg om gered te word

om jou en my verrotte sondige beendere te red,

is om te vlug na Hom, wie se beendere nie gebreek is nie, terwille van ons:

Psalm 34:17-21, “Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede.  Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.  Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.  Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.  Die onheil maak die goddelose dood; en die wat die regverdige haat, moet daarvoor boet.”

Christus vervul hierdie profesie aan die kruis (Joh.19:36),

Hy betaal die prys vir ons sondes,

sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie

maar die ewige lewe sal be-erwe (Joh.3:16)

Daarom is die antwoord op vraag 8 van die HK as volg:

“Ja (ons is so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en ons is tot alle kwaad geneig), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word.”

Jesus leer dit vir ons in Joh.3,

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  … Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (3:3,36)

Wees daarom gewaarsku,

dit is ‘n saak van lewe en dood,

laat hierdie hemp dit uitroep,

ons herinner

elke dag as ek dit sien of aantrek:

… ek is verlore en sonder hoop,

ek het ‘n Verlosser nodig,

Een wat my kan red van my ellende en dood,

geen mens, sielkundige, positiewe denke, selfdissipline, sport(s) of drugs gaan my red nie.

Alleen Christus kan, sodat ek kan uitsing soos in Ps.35:10,

“Al my beendere sal sê:

HERE, wie is soos U?

U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy;

ja, die ellendige en behoeftige van sy berower!”

Dit is Christus alleen wat my red van,

– die wêreld en al sy begeerlikhede wat verbygaan (1 Joh.2:17),

– van die Satan (Matt.12:28,29), en

– bo alles van my grootste vyand … myself (Rom.7:22-26) !

En, as ek dan in Christus is, dan het ek die hoop, die hoop na gees én liggaam/beendere, dat ek eendag gaan opstaan, letterlik en werklik, in ‘n nuwe lewe, saam met Hom, vir ewig !

Waar al die verrotte bene en verdorwenheid vir altyd weg sal wees.

Dan kan ek nou reeds op die agterkant van my ‘BAD’ hemp die volgende woorde begin dra:

“BUT saved by the Grave with NO BONES” (Luk.24:5,6,39).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: