Posted by: proregno | December 5, 2012

Preek: Lewe jy in die lig van die wederkoms ? (Luk.17:26-30)

Lewe jy in die lig van die wederkoms ?

ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

Photo: My werkplek: Die Gereformeerde Kerk Matlabas

Lees: Lukas 17:20-37

Teks 17:26-30: En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.

Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.

Psalms: 66:1,2; 66:6,7; 4:2,3; 4:4; 145:9,10,11,12.

Broers en susters in die geloof,

Hoe sal dit wees in die laaste dae …?

Hoe sal dit wees in die dae voor die Here Jesus se wederkoms  ….

daardie dag van die Seun van die mens …?

(soos dit in die Bybel genoem word).

Hoe sal ons weet hoe

om daarvoor gereed te wees?

Wanneer sal die wederkoms plaasvind?

 

Dis vrae wat gelowiges al vir eeue lank besig hou.

Reeds in die Here Jesus se tyd,

toe Hy nog hier op aarde was,

was die belangstelling al daar …

 

Waar? Wanneer? Hoe?

 

In Lukas 17 gee die Heilige Gees vir ons ‘n aanduiding …

‘n aanduiding van die aard van die samelewing in die dae wat wederkoms voorafgaan …

Dis hoe die mense sal wees …

Die mensdom sal die volgende karaktertrekke vertoon …

 

Dit sal net so wees soos in die dae van Noag en Lot …

 

As ons kyk wat Jesus oor die dae van Noag en Lot sê,

dan wil dit vir ons lyk of daar nie veel gesê word nie:

Die mense het hulle gewone gang gegaan …

soos ons ook maar vandag …

Die etende, drinkende feesvierende mensdom het maar voortgegaan ….

al trouwende, al swoegende, al plantende,

al kopende en al verkopende …

 

Wanneer ons meer oor die dae van Noag en Lot in Genesis naslaan,

dan word daar baie meer gesê:

Voor die sondvloed word die wêreld deur geweld regeer,

so lees ons.

Toe het die HERE reeds gesien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was.

Toe het die HERE reeds gesien dat al die versinsels wat hy in sy hart bedink,

altyddeur net sleg was

Noag, die arkbouer was die prediker van geregtigheid,

(so lees ons in Petrus se tweede brief)

maar niemand het hulle aan Noag gesteur nie …

 

In Lot sy tyd was die verval nog groter.

Die Here Jesus noem dat die mense in Noag se tyd in die huwelik gegee is,

maar wanneer Hy by Lot kom,

dan sê die Here Jesus niks van die huwelik nie.

In Lot se tyd word die huwelik nie eens meer vermeld nie.

In Lot se stad, Sodom, was die huwelik glad nie geag nie.

God se huwelik was in die stad Sodom vertrap …

vertrap deur die saamvryers en saamblyers …

vertrap en vervang deur die mees skaamtelose teennatuurlike sonde van homoseksualiteit …

 

Hiervan sê die Here Jesus niks nie.

Hy verswyg net eenvoudig die huwelik wanneer Hy van Lot se dae praat …

 

Die Here Jesus verswyg baie dinge oor die dae van Noag en Lot:

die korrupsie, die dekadensie.,

Hy praat van eet en drink,

maar Hy sê niks van die vrate en die wynsuipers nie,

Van al die ander uitspattighede word niks gesê nie …

Nee, die mense eet en drink

Hulle trou.

Hulle koop en verkoop.

Hulle ploeg en hulle plant.

Hulle bou …

 

So was dit in die dae van Noag en Lot.

So sal dit wees in die dae voor die wederkoms …

 

Die Engelse sê:

Bussiness as usual

 

En as u miskien sou vra:

Nou wat is nou eintlik verkeerd daarmee,

dan kan ons sê:

Nee, daar’s niks verkeerd daarmee nie.

Dis hoe dit behoort te wees.

Dis hoe God dit nog altyd wou gehad het.

Bou, trou, ploeg en plant …

So natuurlik, so vanselfsprekend, so allerdaags …

 

En tog, en tog is dit die verskriklikste klag

wat teen die mensdom ingebring kan word.

Tog is dit dit die felste veroordeling denkbaar …

Nie soseer oor dit wat gesê word nie,

maar wel omdat dit al is,

wat daar van die mensdom in die tyd gesê kon word …

Die mens het geëet,

Die mens het gedrink.

Die mens het voortgeplant.

Punt.

Dis al.

 

Die Here Jesus hoef nie na die korrupsie en sedelike verval van Genesis te verwys nie.

Soos dit daar staan, is die klag teen die mensdom reeds erg genoeg.

 

Die mens het geëet,

Die mens het gedrink.

Die mens het voortgeplant.

Punt.

Dis al.

Dis die somtotaal van sy lewe.

 

Alles gaan om aardse goed …

 

Daar was wel vooruitgang.

Sedert Noag was daar wel vooruitgang.

Daar is mense wat die woord evolusie sal gebruik.

In Noag se tyd was daar net geëet, gedrink en getrou …

maar in die tyd van Lot het hulle al gevorder tot bou en plant,

koop en verkoop …

 

En as ons die tyd van Noag tot vandag sou neem,

dan was daar verstommende vooruitgang.

Die mens se prestasies het ongekende hoogtes bereik

in die ontwikkeling van tegnologie en kultuur.

Alles is gemotoriseer en vaartbelyn.

Megagrepe data beweeg deur die kuberruimte in breukdele van ‘n sekonde.

Die mens en sy masjien is letterlik besig om na die sterre self te reik …

 

Maar weereens moet ons sê:

Die mens bou en plant,

koop en verkoop,

maar die almagtige God is daarbuite …

Onse Here Jesus is nêrens in die prentjie nie.

 

Die laboratorium het die kerk vervang.

Die rook trek nie meer van God se altare op nie.

Vandag is daar net fabriekrook.

 

Ons bly in ‘n stad.

Selfs hier in die Bosveld bly ons in ’n stad,

’n stad sonder ‘n tempel.

 

Alles draai net om geld en goed

en hier waar ons bly … om grond …

 

Daar is tyd vir alles,

alles behalwe God …

 

Daar word in baie gevalle nie eens meer met God gespot nie,

Die skandes van die kerk se dominees moet van die grofste wees

om die voorblad van die koerant te haal  …

Die kerk het irrelevant geword.

Om Sondae by die kerk uit te kom,

trap ons letterlik oor die wrakstukke van die Sabbat …

Die teaters is oop …

Die restuarante doen besigheid …

 

Dit lyk inderdaad soos een filosoof dit gestel het:

God is dood,

het hy gesê.

God is tot ‘n nul gereduseer.

En niemand het ‘n saak daarmee nie …

 

Daar word geëet en gedrink,

gemaak en verkoop.

Daar is pret en plesier,

Daar is facebook en daar is ’n familiebraai …

Daar is tuisteaters met meer as 200 DSTV-kanale.

Daar is die Olimpiese Spele …

maar aan die Here word al minder gedink…

en van die Here word ook al minder gesê …

 

Hulle eet en drink net …

Hulle bou en plant net …

Dis alles net aardse goed.

 

Dis nou die hulle waarvan die Here Jesus praat …

hulle daar buite,

hulle wat vandag hulle motorbote sleep,

hulle wat vandag die sleepwaentjies vol wildsvleis hier verbytrek …

hulle wat vandag hulle fietswedrenne reel,

hulle wat vandag die biertjies in die steakhouses knak …

Dis nou hulle daar buite …

 

Maar wat van ons?

Wat van ons hier binne?

Ons wat nog na die Here se Woord kom luister,

spreek hierdie gedeelte nie ook tot ons nie?

Het ons nie in vers 22 gelees,

dat die Here die dinge juis vir sy dissipels gesê het nie?

 

Word ons nie deur die Here Jesus opgeroep om aan Lot se vrou te dink nie,

die dag toe Here vuur en swawel op Sodom laat neereën het?

Lot se vrou was nie heeltemal onverskillig teenoor God se waarskuwing nie.

Lot se skoonseuns het hulle nie aan die engele se waarskuwing gestuur nie,

maar Lot se vrou het gehoor gegee

en sy het gevlug …

 

En tog, tog het sy net met ‘n halwe hart geluister.

Vlug vir jou lewe!

het die Engel gesê,

Moenie omkyk nie!

 

Lot se vrou het omgekyk,

en sy het ‘n soutpilaar geword.

In daardie dag moet hy wat op die dak sal wees,

terwyl sy huisraad in die huis is,

liefs nie afkom om dit weg te neem nie;

en so ook moet hy wat op die land sal wees,

liefs nie omdraai na wat agter is nie.

 

As ons soos Lot se vrou op daardie dag al so vas gegroei het …

vas gegroei het aan ons aardse goed,

die meubels, die motor, die yskas en die TV …

As my hart verdeel is tussen my goed en my God …,

dan staan Lot se vrou daar vir my …

dan staan die soutpilaar daar vir my …

as waarskuwing …

 

as waarskuwing vir elke gelowige wat die woorde van die Here Jesus hoor:

Elkeen wat probeer om sy lewe te red,

Elkeen wat probeer om sy lewe van geld en goed te red,

sal dit verloor;

en elkeen wat dit verloor,

sal dit behou.

 

Soos Christus se koms skeiding gebring het,

so sal sy wederkoms skeiding bring …

Skeiding tussen die twee op dieselfde bed …

Skeiding tussen die twee vroue by die meule …

Skeiding tussen die twee op die landery …

 

Die Here Jesus praat van die bed, die meule en die landery.

Dit sluit aan by ons teksverse.

Die dag van Sy wederkoms sal ‘n gewone dag wees …

Die mense het hulle gewone gang gegaan …

die etende en drinkende mensdom,

al trouwende, al swoegende, al plantende,

al slapende, al malende,

al kopende en verkopende …

op ‘n gewone werksdag.

 

Niemand verwag iets besonders nie.

Bussiness as usual.

 

Daar is ook geen spanning nie …

 

En dis jammer, eintlik tragies,

want dit gaan hier oor die dag van die Seun van die mens

Christus se wederkoms,

die koms van die Bruidegom,

die Bruidegom wat kom om Sy bruid te kom haal …

 

’n Mens sou verwag dat die Here Jesus die dag as ‘n feesdag sou beskryf …

’n Mens sou verwag,

dat die kinders en die mense die strate sou belyn het met vlae en baniere …

‘n Koperblaas orkes sou vooraan ‘n prosessie geloop het …

die feessaal sal pragtige versier wees met blomme …

 

Maar nee, die wederkoms vind plaas op ‘n gewone werksdag …

 

Daar’s nie ‘n jubelende menigte wat die Here inwag nie,

net maar die malende vroue,

en die dreunende trekkers op die land.

Alles so gewoon …

 

Ons verwag hierdie normaliteit by die wêreld,

maar ons sien dit ook by die kerk …

Ons sien die bruid se kinders ook maar daar by die werkplek.

Die een wat aangeneem word,

sy is ook by die meule

en die ander een …

hy sit soos die ander op die trekker …

 

In die paralelle gedeelte in Matheus sê die Here Jesus,

dat die meeste …

die meeste se liefde teen die tyd al koud sal wees (Mat 24:12).

Die temperatuur van die liefde vir die Here en sy Woord het dan al heelwat afgekoel.

In die Evangelie van Lukas vra die Here Jesus weer,

of daar dan wel nog geloof op aarde gevind sal word (Luk 18:8)?

 

Wat ‘n verskriklike klag teen die kerk!

 

Dis goed en reg dat ons werk, Broers en Susters.

Die apostel Paulus vermaan ook daartoe:

Ons vermaan julle, broerders,

skryf hy aan die Thessalonicense (1 Tess 4:10,11),

om julle eie sake te behartig

Ons vermaan julle om met julle eie hande te werk

 

Maar dan sê hy ook in dieselfde brief:

Die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag (5:2).

Laat ons dan nie slaap soos die ander nie,

maar laat ons waak en nugter wees (5:6).

 

As ons liefde verkoel het,

sal ons nie meer olie in ons lampe hê nie,

dan sal ons soos die vyf onverstandige maagde verleë staan,

die dag as die Bruidegom weer kom …

 

Om in die meule of op die lande te wees is nie sonde nie …

Die sonde skuil daarin,

dat daar nie meer afwagting, spanning in ons geloofslewe is nie.

Die sonde skuil daarin,

dat die bruid nie meer die horison dophou vir die koms van die Bruidegom nie …

Die sonde skuil daarin,

dat daar van die geloofmens gesê word:

Hy eet.

Hy drink.

Hy werk.

Punt.

Dis al.

 

As die geloofsmens se grootste spanning daarin bestaan,

dat die amen van die preek so gou as moontlik moet kom,

as die geloofsmens Christus se wederkoms elke Sondag bely,

maar dit lankal nie meer verwag nie,

lankal nie meer daarna verlang nie …

dan is dit sonde.

 

Verlange en verwagting is harde werk.

Vra maar vir ‘n moeder wat vir meer as twee weke niks van haar kind gehoor het nie.

Haar hart is aan die brand …

van verlange en verwagting.

Vra maar vir die bruid wat haar troudag afwag …

Hier binne in haar tril dit …

 

Die groot feesdag, die bevrydigingsdag van die hele skepping kom nader,

die dag van waarin bruid en Bruidegom een sal wees

tot in ewigheid …

Dit lê vlak voor die deur …

maar niemand is bly nie!

Die heuwels en die berge mag huppel.

Die skepping sien daarna uit met reikhalsende verlange …

Die klippe sal dit uitroep,

maar die kinders van die koninkryk swyg in alle tale …

 

Die tekens van die tye is daar, Geliefdes

nie soseer in die oorloë en die gerugte van oorloë nie,

nie soseer in die aardbewings en die tsoenami’s nie,

maar wel in die allerdaagsheid …

in die allerdaagsheid van malende meule

en dreunende trekkers …

Amen.


Responses

  1. Interesant dat dieselfde Blog wat so hard op die aanbeeld van Sola Scriptura slaan die woord “wederkoms” gebruik. ‘n Woord wat nie in die Bybel te vinde is nie, teesny ‘n mens ‘n baie geïnterpreteerde vertaling gebruik.
    Selfs in hierdie Lukas teks sê dit: “geopenbaar word”.

    Is die seun van die mens vir u al geopenbaar?

    En dit bring ons weer by Barth!
    Ek slaan voor u lees Karl Barth weer. ‘n Calvinist onder Calviniste! 🙂

    • Andre, wat verstaan julle barthiaane onder ‘sola Scriptura’ ?

      Sien die volgende verse wat die woord ‘wederkoms’ bevat:

      1 Thess 2:19; 3:13; 4:15; 5:23; 2 Thess 2:1, 8; Jak 5:7f; 2 Pet 3:4; 1 Joh 2:28

      Natuurlik weet ons dat Barth is net so min Calvinisties as wat die Pous is. 😉

      • Ek is nie regtig ‘n Barthiaan nie :), ek het eers onlangs begin belangstel in Barth juis a.g.v. my onsekerheid wat die tema wederkoms betref. Dalk kan u my help.

        So die woord in Lukas 17:30 is
        ἀποκαλύπτεται – apokalyptetai (Lukas 17:30)

        en die woord in 1 Thess 2:19 is
        παρουσίας – parousias, en daar word dit met “wederkoms” vertaal.
        Die selfde woord is in Matt 24:3 maar word daar as “koms” vertaal en is iets wat defnetief in die verlede lê.
        Hierdie twee-vormige-vertaling krenk ‘n bietjie my trots op die Ou Afrikaanse vertaling wat ek as ‘n baie deeglike vertaling beskou (het). Hoekom het hulle die selfde woord op twee verskillende maniere vertaal?
        Hier is die King James vertaling meer konstant en vertaal parousia nooit as “return” nie, maar altyd as “coming”.

        Dit alles net terloops, my punt is eintlik dat ek nie meer in ‘n sogenaamde universiele “wederkoms” kan glo nie, maar eerder in ‘n “aankoms” of “openbaring” soos in die Lukas teks wat u aangehaal het.
        Wat word eintlik met wederkoms bedoel?
        “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels…” ??

        Wat bedoel mense uintlik met wederkoms? Wat is die verwagting?

  2. Andre, ek hoop ek verstaan jou problematiek reg, want mense praat so maklik bymekaar verby. So help maar reg as ek jou nie mooi hoor nie.

    Hier is ‘n paar gedagtes van my kant:

    Ek glo aan die tweede koms of ‘wederkoms’ (wat letterlik beteken ‘om weer te kom’, d.i. ‘n tweede keer) soos dit saamgevat word in NGB art.37,

    Artikel 37 – Die laaste oordeel, die opstanding en die ewige lewe

    Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het-die tyd is vir alle skepsels onbekend-en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, om Homself as Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn. Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met die liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg. Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

    Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dat sal hulle volle verlossing voltooi word en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Mat 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Mat 10:23) en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Rev 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat die hart van ‘n mens nooit sou kon bedink nie.

    Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

    Skrifgronde: Mat 13:23; Mat 25:13; 1Th 5:1-2; Mat 24:36; Rev 6:11; Act 1:11; 2Pe 3:10; Mat 24:30; Rev 21:11; Mat 25:31; Jud 1:15; 1Pe 4:5; 2Ti 4:1; 1Th 4:16; 1Co 15:51; Mat 11:22; Mar 12:18; Mat 23:23; Joh 5:29; Rom 2:5; Heb 6:2; Heb 9:27; Mat 12:36; 2Th 1:5; (Heb 10:27); 1Jo 4:17; Rev 14:7; Luk 14:14; 2Co 5:10; Rev 21:8; Rev 22:12; Dan 7; Mat 25:41; 2Pe 2:9; Isa 25:8; Mat 10:32; Rev 21:4; Isa 66:5; 1Co 2:9. ”

    Oor die spesifieke terme, dink ek die Skrif is duidelik in die gebruik van die twee terme ‘koms’ (parousia = teenwoordigheid, koms), en ‘openbaring’ (apokalipsis = om oop te maak, bekend te maak, sluier te lig), om te dui op Christus wat weer letterlik werklik kom om al die gebeure waarvan ons in die Skrifte lees uit te voer, opstanding, ewige oordeel, ens. (sien hierbo in NGB art.37).

    Ek het nie ‘n probleem om die term ‘wederkoms’ te gebruik nie, maar sal nie eis dat dit in die vertaling gebruik moet word nie. Die engelse vertalings gebruik bloot ‘coming’. Die woorde ‘koms’ en ‘openbaring’ elkeen in sy eie konteks is genoegsaam om te dui op al die komende historiese ‘eindgebeure’. Die engelse praat van ‘second coming’ en dit is soos die term ‘drie-enig’, die term is nie daar in die Skrif nie, maar die hele leer daaroor vind jy in die hele Skrif versprei met verskillende terme en beskrywings.

    Ek glo ook van harte die volgende Skrifdeel en belydenis, wat dit goed saamvat:

    “Hand. 1:10-11 10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, 11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, SAL NET SO KOM soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”

    HK,

    Vraag 46: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?

    Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten goede (b) totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het (c).

    (a) Act 1:9; Mar 16:19; Luk 24:51
    (b) Heb 9:24; Heb 4:14; Rom 8:34; Col 3:1.
    (c) Act 1:11; Mat 24:30.

    Vraag 52: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

    Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).

    (a) Phi 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1Th 4:16.
    (b) Mat 25:41; 2Th 1:6.
    (c) Mat 25:34; 2Th 1:7.

    Dit gaan alles letterlik feitlik plaasvind, alhoewel ons nie presies weet ‘hoe’ nie. So ook met die opstanding en die vereniging van ons fisiese liggame met ons siele, dit is ‘n misterie, maar ‘n ware werklike historiese misterie wat gaan plaasvind in tyd en plek, die presiese ‘hoe’ sal ons eendag beleef, soos die dissipels fisies histories werklik gesien het hoe Hy opvaar.

    Halleluja ! ?

  3. Ek probeer my gedagtes te verduidelik:

    Jesus Christ sê:
    “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

    Vir my is alles in Jesus Christus voltooi en volkome. Alle eskatologie is in Jesus Christus vervul. Hy self is die einde. Met my wedergeboorte (Johannes 3) het die ou dinge verbei gegaan, in Christus het die einde vir my gekom. En Hy sê: “Kyk ek maak alles nuut” en dit het Hy in my gedoen. Kyk die oue het in my verby gegaan en die nuwe het gekom. Daarom is Jesus Christus vir my die begin. Om te herhaal: “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here!” Die begin en einde is nie aan tyd vas gemaak nie, dit is aan Jesus Christus vasgemaak. Vele leef in tyd, ander leef in Christus.

    Verder is Jesus Christus nóú! vir my ‘n baie belangrike onderwerp, iets wat mynsinsiens verlore gaan in vele sistematiese teologie. Ek hoor oor die Jesus wat jare terug gebore is en die Jesus wat weer in die toekoms gaan terug kom. Ek hoor: “Hy was en hy sal wees” maar Hy self begin deur te sê: “… (ek) is!!…” In die selfde sin as wat die HERE vir Moses sê: “Ek is”.

    As ons in tyd dink sou dit vir Jesus sin gemaak het om te sê: “… wat was, wat is en wat kom…” maar Jesus sê ‘n ander volgorde: “… wat IS en wat was en wat kom” Dit is hierdie Jesus van nóú waarin ek belangstel.
    Hy wat sê: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar IS!! Ek in hul midde”.
    Hy wat IS Emmánuell: God met ons!
    Hy wat sê: “En kyk, Ek IS met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

    En as die voltooiing van die heerlikheid in Christus plaasvind. Dan vind die voltooing van die oordeel buitekant Jesus Christus ook plaas, nóú.
    “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, IS alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (Johannes 3)

    Verder oorweeg ek die gedagte dat dit wat in Hand. 1:11 deur die Engel gesê word dan in Hand 2:2 vervul word.
    Verder skryf die Apostel Paulus in Ef 2:6 dat ons reeds in die Hemele sit in Jesus Christus.

    Bogenoemde is basies ‘n inleiding in die rigting waarin ek dink.
    Eskatologie het vir my minder met tyd te doen maar meer met Jesus Christus te doen, daarom:
    “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”

    • Ja, ons glo aan die Christus van Hebr.13:8, Hy is ‘gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid’. Pasop dan net dat as sekeres Hom net in die verlede of toekoms wil vasvang, dat jy dit nie in die ‘nou’ alleen wil vasvang nie.

      Wat Hand.1:11 en 2:2 betref: by 2:2 is dit nie ‘n vervulling van 1:11 nie aangesien dit nie op dieselfde wyse plaasvind soos die engel beskryf het nie. Verder moet ons ook in ag neem dat die Here se ‘koms’ nie net een sort koms behels nie, maar verskillende soorte, bv. ‘koms in sy oordeel’, koms van die koninkryk, eerste koms van Christus, koms deur die uitstorting van die Gees, sy koms om finaal te oordeel, ens. Sy koms behels dus fisiese en geestelike aspekte, ons moet nie reduseer tot die een of die ander nie.

      Die feit dat Christus en die Vader by my kom woon deur die geloof (geestelik), vat nie weg die feit dat Hy nie ook aan die einde weer finaal gaan kom fisies-letterlik nie. Dit is nie of-of nie, maar en-en.

      Die feit dat vir God alles ‘nou’ is, beteken nie dit is ‘nou’ (in die geskiedenis) ook vir ons heeltyd net ‘nou’ nie. Nee, Hy is die ewige God wat ook geskiedenis/gebeue/tyd geskape het, waarin ons ‘nou’ lewe met ‘n verlede, hede, toekoms dimensie. So as duisende jare vir Hom soos ‘n dag is … is dit nie dieselfde vir ons nie, vir ons is ‘n 1000 jaar … ‘n 1000 jaar. Ons moet die Skepper – skepsel/skepping onderskeid handhaaf.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: