(Sien deel 1 vir die agtergrond van hierdie deel: Inleiding oor die Inspirasie van die Skrif)
1. DIE GETUIENIS VAN DIE SKRIF (Bron: Kommissierapport van die GES aangaande die Inspirasie van die Skrif, Handelinge van die 1958 sinode, bl.99-124. Nota: beklemtonings is bygevoeg)
a. II Timotheüs 3:13,16
“14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Met die oog op die sentrale en tradisionele plek wat II Timotheüs ingeneem het in die diskussies en die beroep wat in die jongste tyd hierop gedoen is, mag ons net sowel hiermee eerste begin. Ons aandag in hierdie verband spits hom natuurlikerwys toe op die karakterisering van die Skrif as theopneustos. Hoewel hierdie gedeelte wemel van baie interessante probleme, is dit tog nie nodig vir ons huidige doel om ‘n beslissing met betrekking tot hulle almal te bereik nie.
Of pasa graphe weergegee moet word met die “hele Skrif” of “elke Skrif (deel)” al dan nie, dit is in elk geval duidelik uit die onmiddellik voorafgaande verband dat Paulus die “Heilige Skrifte” op die oog het. Hoewel hierdie laasgenoemde benaming nie in die Bybel gevind word nie, is dit tog duidelik uit buite-Bybelse bronne dat dit, soos Dibelius sê, “die naam van die Heilige Skrifte van die Ou Testament onder die Griekssprekende Jode” was.
‘n Vraag van ietwat groter betekenis is of theopneustos verstaan moet word as- deel van die gesegde of as ‘n attributiewe gebruik saam met “skrif”. Die vraag is of Paulus sê dat die hele Skrif ingegee is deur die inspirasie van God en nuttig is tot onderwysing (A.V., cf. R.S.V.) of dat elke skriftuur geïnspireer deur God ook nuttig is tot lering (A.S.V.). Hoewel die eerste betekenis voorkeur verdien veral op grond van die feit dat dit die effek van ‘n antiklimaks soos in laasgenoemde geval vermy, is dit tog weer ‘n vraag wat nie van beslissende betekenis is vir die hoofprobleem van hierdie Rapport nie. As dit in attributiewe sin verstaan word, beteken dit dat Paulus of besig sou wees om geïnspireerde geskrifte van alle ander te onderskei of besig sou wees om ter wille van nadruk besondere aandag te vestig op die geïnspireerde aard van die Heilige Skrif.
Aan die ander kant, as die byvoeglike naamwoord as deel van die gesegde geneem word, dan sou Paulus besig wees om ten minste net so nadruklik op die voorgrond te plaas die geïnspireerde karakter van die Skrif as synde essensieel om die doel te verstaan wat die Skrif wil vervul. In die een geval net so uitdruklik as in die ander is hy besig om aan die Skrif toe te skrywe die eienskap wat uitgedruk word deur die woord theopneustos, en is hy daardeur besig om die heilige geskrifte van alle ander te onderskei.
Wat is egter presies die betekenis van theopneustos?
Hoewel daar sommige was wat dit voorgestaan het om die term in ‘n aktiewe betekenis te verstaan, naamlik as ‘ademende die Goddelike Gees’ eerder as ‘God-beademd’, tog vind hierdie interpretasie van ‘n aktiewe betekenis blykbaar geen steun onder die jongste opstellers van leksikons nie.[1]
Hierdie algemene gevolgtrekking is gegrond op die vorm van die Griekse uitdrukking, op die buite-Bybelse gebruik en op oorweginge ontleen aan die teksverband. Die betekenis van die teksverband word goed na vore gebring deur F.D. Gealy in die kommentaar in die Interpreters’ Bible (1957), waar hy in verband met sy kommentaar op vers 15 opmerk: “— die kennis van die waarheid is maklik en onmiskenbaar voorhande in heilige geskrifte, geskrifte wat God geskrywe het en wat deur enigeen gelees kan word”, en op vers 16, waar hy sê dat “die hoofsaak is dat die skrywer begaan is om die feit te beklemtoon dat die Christelike geloof gewaarborg is deur sy geïnspireerde skrif. Wanneer hulle eenmaal neergeskrywe is, word hulle vir alle tye die maatstaf vir lering, vir teregwysing…” [2]
Ons mag dus met volle vertroue handhaaf dat die Griekse woord theopneustos letterlik beteken: God-beademd; dat dit as sodanig betrekking het op die oorsprong van die Skrifte deur God se eie handeling en ook op die karakter wat hulle dra as gevolg van die goddelike skeppende werksaamheid. Dit is dus ver daarvandaan dat die woord uitdrukking sou gee aan die gedagte dat die Skrifte die vermoë sou het om te inspireer. Die verhouding van God tot die Skrifte is dus geensins dié van ‘n goddelike beslissing om ‘n bloot menslike boek as instrument of middel van genade te gebruik nie. Eerder word God duidelik gesien as die Originator of Bewerker en Skepper van die Skrif; Hy bring dit in aansyn deur sy soewereine daad, sodat dit daardeur tot die egte Woord van God word.
Dit is bowendien duidelik dat die theopneustia van die Skrif, volgens hierdie tekste, nie beperk is slegs tot die religieuse en sedelike gedagtes of tot wat beskou mag word as die kern en essensie van die Skriftuurlike lering nie. Inteendeel, dit het betrekking op geskrifte, op dit wat geskrywe staan, en daarom sluit dit die woorde in wat hierdie geskrifte uitmaak. Die tradisionele beskouing van die inspirasie as volledig en woordelik vind steun in hierdie gedeelte.
Om egter te stel dat Paulus se lering in II Timotheüs 3:15, 16 ons nie toelaat om die inspirasie tot sekere gedeeltes van die Skrif te beperk nie, beteken nie dat die Skrif nie geïnspireerd is met die oog op ‘n besondere doel nie en beteken ook nie dat dié besondere doel waar-voor die inspirasie gegee is, nie betekenisvolle betrekking sal hê op ons verstaan van die inspirasie nie. Algemeen gestel mag gesê word dat die inhoud van die Skrif te doen het met die ontvouing van die goddelike verlossingsplan en hierdie beskouing ontvang aansienlike steun in die Skrifgedeelte onder behandeling. Dit word veral duidelik as ‘n mens let op die betekenisvolle mate van parallelisme tussen verse 15 en 16. In vers 15 spreek Paulus van die heilige Skrifte, en in vers 16 het hy hierdie selfde Skrifte op die oog wanneer hy hul God-beademde karakter beklemtoon.
In vers 15 dink hy aan die doel van hierdie heilige Skrifte wanneer hy sê dat hulle jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof – in Christus Jesus”, en blykbaar is die hele verlossingswerk in sig ook in die laaste gedeelte van vers 16, waar hy sê dat hierdie selfde Skrif “nuttig is tot lering, tot wederlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Paulus lê dus opmerklike nadruk op die feit dat die geïnspireerde Skrifte gegee is met die oog op die reddende transformasie van die mens deur middel van die geloof in Christus. Paulus sê nie dat hierdie doel soos geformuleer in verse 15 en 17 die uitsluitlike en enigste doel van die Skrif is nie.
Nietemin, die feit dat hy die doel van die Skrif formuleer met so ‘n volheid van woorde en in die woorde wat hy wel gebruik, is voldoende bewys van die sentrale plek wat die verlossingsdoel van die openbaring en inspirasie inneem volgens die gedagtes van die Apostel. Hier ten minste ontvang mens geen aanmoediging om jou tot die Skrifte te wend soos tot ‘n soort stoorplek van wysheid oor elke saak onder die son, of selfs dat dit bedoel was om die nuuskierigheid te bevredig of om alle vrae te beantwoord wat mag opkom met betrekking tot sy inhoud nie. Die Skrif is hoofsaaklik bedoel om ons wys te maak tot verlossing.
Hoewel hierdie beskouing betreffende die verlossingsdoel van die openbaring en inspirasie verreikende gevolge sal hê vir ons vertolking van die Bybel, moet ons tog nie dink dat dit die omvang van die inspirasie beperk nie. As die doel van die Bybel soos dit deur God gegee is, betrekking het op die verlossing, dan moet sy hele inhoud — die hele Skrif of elke Skrif — in verband staan met die verstaan van daardie verlossing, Verlossing volgens die Bybel is nie maar net ‘n saak van ideë en ideale, dit is nie eenvoudig ‘n verborge verhouding tot God nie. Dit het eerder ‘n omvattende wêreldwye omvang insluitende die vernuwing van die hemele en die aarde sowel as die verlossing van indiwidue, en dit is onverstaanbaar en sonder betekenis wanneer dit losgemaak word van wat die Bybel leer aangaande God as die Skepper van die wêreld en die Here van die geskiedenis wat deur middel van verbondsgenade in Christus die verlossing van sy volk uitvoer in elke geslag, ja, tot aan die voleinding van die eeue.
b. II Petrus 1:21
“19 En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; 20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; 21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
Van II Timotheüs 3:16 mag mens heel gepas gaan na II Petrus 1:21, die ander Iocus classicus in verband met die inspirasie. Karl Barth beroep hom ook hierop om sy besondere opvatting van theopneustia te steun. Inderdaad, aan die een kant laat Barth toe dat die Heilige Gees “beskrywe word as die ware outeur van wat in die Skrif gesê of geskrywe is”. Aan die ander kant, egter, wanneer hy kommentaar lewer op die verwysing in hierdie gedeelte na “manne” as die auctores secundarii, hou hy vol dat daar geen sprake kan wees van die “negering of verkragting van hulle menslikheid” nie, en hy gaan verder om van hierdie stelling af te lei dat theopneustia beskrywe moet word as ‘n “besondere houding van eerbied in hulle wat uitverkies en geroep is tot hierdie klaarblyklik besondere diens”.
Hy sê verder dat hierdie gehoorsaamheid “slegs dié van opregte en regverdige manne is. In besonder het dit nie beteken -die vernietiging van hulle vryheid, hulle selfbeskikking nie” (Kerklike Dogmatiek, 1, 2 E.T., p. 505). Die vraag kom op of Barth in sy uiteensetting van wat hy beskou as die betekenis van Petrus se lering dat “manne gespreek het,” reg laat wedervaar aan wat die teks leer aangaande die verhouding van God tot die manne toe hulle die profetiese Skrifte voortgebring het. In die verse wat aan II Petrus 1:21 voorafgaan, was die skrywer besig om te handel oor beide die betekenis van die apostoliese getuienis en dié van die profetiese woord.
Aangesien hy besig is met die openbaring van die Ou Verbond, veral onder die gesigspunt van dié se getuienis aangaande Christus, is die bepaalde verwysing van die skrywer hier beperk tot Skriftuurlike profesie. Aangesien hierdie Skriftuur vir die skrywer in die vorm van die Ou Testament bestaan het, wil dit voorkom asof hy wesenlik op die oog het wat Paulus in II Timotheüs 3:15 gestel het aangaande die heilige Skrifte en hulle vermoë om wysheid te verleen ter verlossing. Hoe moet dié profetiese woord ontvang en beskou word?
Hulle moet, in heel eerste plaas, daarop ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in hulle harte. Bowendien, “geen profesie van die Skrif is ‘n saak van eie uitleg nie,” dit beteken: profesie gesien sy aard as profesie, moet nie benader word soos enige gewone geskrif nie. ‘n Mens mag dit nie uitlê op eie of indiwiduele manier wat na die wysheid van die mens is nie.
Dat dit nie op eie of indiwiduele manier uitgelê mag word nie, is nou, in vers 21, gebaseer op die beskouing van die wesenlike karakter van die profesie, waarin Petrus groot nadruk lê op die goddelike oorsprong en karakter daarvan. Dit mag nie verklaar word na die wil van die mens nie, want geen profesie het ooit tot stand gekom deur die wil van ‘n mens nie. Terwyl hulle gespreek het nie deur die wil van ‘n mens nie, maar deur die wil van God, mag diegene wat die profetiese woord van die Ou Testament verkondig het, gekarakteriseer word as hulle wat gespreek het, “uit God”. Hulle word dus beskrywe as ‘t ware as die mondstukke van God. Dit is wesenlik wat Paulus gesê het toe hy die Skrif gekarakteriseer het as God-beademd. Die nadruk op die heilige werksaamheid word kragtig na vore gebring deur die nadruk van die oorspronklike “deur die Heilige Gees gedrywe“.
Die beeld is klaarblyklik dié van ‘n skip wat aangedrywe word deur ‘n magtige wind. En so word die verhouding van God tot die manne wat die Skrifte geskrywe het, op generlei wyse tot volledige uitdrukking gebring nie, wanneer dit gekarakteriseer word bloot as ‘n verhouding van gehoorsaamheid van manne wat heeltemal vry en selfbeskikkend was toe hulle die Skrifte saamgestel het en so vatbaar was vir die foute wat saamhang met hulle menslikheid. As manne gespreek het nie volgens hulle eie wil nie maar as mondstukke van God en as hulle voortgedrywe is deur die Gees van God, dan het hulle klaarblyklik nie die vryheid gehad om feilbare menslike werk voort te bring nie. [3]
Die plek wat in hierdie gedeelte toegewys word aan die werksaamheid van manne in die samestelling van die Skrifte, is van betekenis. Dit is seer seker ‘n werksaamheid waarin hulle onderworpe is aan en beheer word deur die Gees van God op so ‘n wyse dat hulle ‘n woord van goddelike karakter voortbring. Hulle het egter gespreek en geskrywe as mense, en daarom is daar ‘n egte menslike instrumentaliteit en bemiddeling in die werksaamheid waar-deur die geïnspireerde Skrif gegee is.
In die Petrusteks word daar dus ‘n skerp kontras gestel tussen die goddelike en die menslike verhoudings tot die Skrif. Terwyl na die manne verwys word as diegene wat die profetiese woord gespreek het, val die nadruk op die feit dat nòg die oorsprong van die Skrif nòg sy uitlegging werklik verstaan word as ‘n saak van menslike inisiatief. Inteendeel, God het op die mens op so ‘n wyse ingewerk dat Hy werklik verantwoordelik is vir die totstandkoming van die Skrif, en daarom moet mense dit, by die uitlegging daarvan, beskou vir wat dit werklik is.
(deel 2b: Jesus en die Apostels se getuienis oor die Skrif)
[1] Vgl.Moulton en Milligan, Liddell en Scott (1940), Bauer (1952) en Arndt en Gingrich (1957). Nie alleen ouer kommentatore soos Ellicott, B. Weiss, H. J. Holtzmann nie maar ook lateres soos Bouma, Dibelius,; Jeremias, Simpson, Stieg en Geally onderskrywe hierdie beskouing.
[2] Die volgende verklaring van J. Jeremias is ook behartigenswaardig: “Jede Schriftstelle ist “durch das Wehen des Geistes Gottes entstanden” — es ist wirklich Gott der hier redet — und darum bleibt das Schriftwort des Alten Bundes auch für die Gemeinde des Neuen Bundes das göttliche Werkzeug zur Belenhrung über den Gotteswilln, zur Überführung der Sündigenden, zur Aufrichtung und Besserung der Reuigen, zur Erziehung in der rechten Lebensführung, wie Gott sie fordert.”
[3] In ooreenstemming met hierdie beskouing is die oordeel van Knopf, wat sê dat volgens hierdie Skrifgedeelte God “die Bewerker en die werklike Spreker is van die woorde wat deur die profete gespreek is” (“der Urheber und der eigentliche Sprecher der von den Propheten geredeten Worte”), en dat die goddelike oorsprong van die profesie so sterk moontlik na vore gebring word.