Posted by: proregno | February 4, 2013

Debat oor die mees betroubare Griekse NT teksfamilies: Alexandrynse versus die Bisantynse teksfamilie

GA-1816-Mark

Debat oor die mees betroubare Griekse NT teksfamilies: Alexandrynse versus die Bisantynse teksfamilie

Gert Krugera en Neels Malan.b

a. Chemie, Universiteit van Kwazulu-Natal, epos: kruger@ukzn.ac.za

b. Ouderling, Gereformeerde Kerk Kriel, epos: neelsmalan@gmail.com

Die 1983 Afrikaanse Bybel (AV-1983) en die beplande Afrikaanse nuwe vertaling vir 2016 (NAV-2016) maak gebruik van die Greek New Testament (UBS4 rev – vir 2016).  Dit kom hoofsaaklik van die Alexandrynse teks-familie.  Daarteenoor was die bronteks vir die 1933/53 Afrikaanse vertaling (ook vir die King James version) die Bisantynse manuskripte familie.

Die debat oor watter een van die twee manuskripte families nader aan die oorspronklike Woord van God is, word die afgelope paar dekades gevoer sedert die internasionale Bybelgenootskappe (United Bible Society – UBS) [1] in die 1960’s dmv ‘n stille revolusie daarin geslaag het om te besluit wat die kanon van God se Woord is en wat nie.  Hierdie ontwikkeling val saam met die feit dat konserwatiewe kerklike strukture vanaf die 1920’s tot die 1970’s hulle greep op voormalige konserwatiewe universiteitsbastionne verloor het,[2] alhoewel die idee dat die Tekskritiek die Woord van God kan help bepaal, al sedert Desiderius Erasmus se 1516 uitgawe van die Nuwe Testament, en veral sedert die ontdekking van die Codex Sinaiticus in 1859 en die gevolglike leerstellinge van Westcott en Hort (WH) in 1881 reeds bestaan.

Die boek van WH waarin hulle verduidelik waarom die Alexandrynse familie manuskripte nader aan die oorspronklike Bybel sou wees is elektronies en gratis beskikbaar [3] en mense wat belangstel in die onderwerp moet dit gerus lees.  Die UBS het die WH filosofie oorgeneem en die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap (as deel van UBS) gaan dan ook nou die NAV-2016 daarop baseer.[4]

‘n Belangrike studie wat die korrupsie uitwys van die onwetenskaplike, subjektiewe bevoordeling deur die Tekskritici sedert WH tot en met die UBS se NU-uitgawe van vandag, van die Alexandrynse tekste ten koste van die Bisantynse tekste, is onlangs deur Dennis Kenaga[5] gepubliseer:

“Skeptical Trends in New Testament Textual Criticism: Inside the Alexandrian Priority School and Why Bible Change Is Coming.”[6]

Ons insiens is hierdie studie uiters waardevol om die volgende drie redes:

(a) Dit gee ‘n gebalanseerde opinie wat op ‘n verstaanbare manier die korrupsie van die Alexandrynse skool van Tekskritiek ontmasker.

(b) Die skrywer kom nie uit die pro-Bisantynse kraal nie: “The reader might think that because this critique focused more on the Alexandrian arguments than the Byzantine ones, the article is pro-Byzantine. I considers both cases plausible, speculative, and unproven.”[7]

(c) Aan die einde van die studiestuk gee die skrywer sy eie opinie oor die vraagstuk waarin hy ‘n baie gematigde standpunt oor die Alexandrynse tekste weergee: “I consider the natural course of text history and the corruption rates to favor the Byzantine text slightly and the age to favor the Alexandrian text slightly.”[8]  En “In spite of the differences between the two text types, I admit that I am constantly impressed by their essential similarity in the great majority of the variants and am much more focused on the reliability and agreement than the few substantial differences.”[9] 

Dit gee ‘n aanduiding dat die skrywer nie op grond van emosie die ander kamp blindelings veroordeel nie, maar sy gevolgtrekkings op wetenskaplike oorwegings probeer baseer.

Die res van die skrywe word in drie dele verdeel.  Eerstens ‘n kort histories oorsig oor die onderwerp, met bekendstelling van verskillende relevante terme.  Tweedens ‘n aantal belangrike aspekte uit die artikel deur Dennis Kenaga en laastens, ‘n kort gevolgtrekking oor hierdie saak deur die outeurs (Kruger en Malan).

‘n Kort historiese oorsig oor die Bisantynse en Alexandrynse families van NT manuskripte.

Die NT het bewaar gebly in hoofsaaklik drie teks families: Die Bisantynse (Oosterse, Siriese, Textus Receptus, Meerderheidsteks), die Alexandriese (Codex Vaticanus, Codex Sinaiticus en papiri; WH noem dit ook die Egiptiese manuskripte) en die Westerse manuskripte.

Die Bisantynse familie bevat ongeveer 85% van alle bewaarde manuskripte (meer as 5000 geskrifte) en is merendeels gevind in die dele waar Paulus se sendingreise plaasgevind het.  Die oudste van hierdie manuskripte dateer uit die jaar 400 nC en strek dan oor die volgende 1200 jaar.  Dit is opvallend en word algemeen erken dat die onderlinge verskille tussen hierdie familie manuskripte baie minder is, as vir enige ander familie van manuskripte.  ‘n Groeiende getal geleerdes erken ook dat die Bisantynse familie baie ouer moet wees as wat die ontdekte geskrifte weergee.  Papirus fragmente van 200 en 300 nC is gevind wat duidelik aan die Bisantynse familie behoort.

Westcott en Hort [3] het verswyg dat die kerkvaders (voor 300 nC) Bisantynse aanhalings gebruik.  Artikels deur Scott Jones [10] en David L. Brown [11] bespreek hierdie bewyse breedvoerig.  Omdat die kerkvaders (voor 300 nC) Bisantynse aanhalings gebruik, kan logies afgelei word dat veel ouer afskrifte (as die bekende 400 nC geskrifte) van hierdie familie moes bestaan het.  Dit skakel die WH siening uit, naamlik dat die Bisantynse geskrifte vanuit die Alexandriese geskrifte deur byvoegings en teksversorging ontstaan het.  Laastens, selfs voorstanders van die Alexandriese manuskripte erken [12] dat die Bisantynse familie die standaard aanvaarde Griekse NT in die Christelike kerk sedert die 4e eeu geword.

Die Alexandrynse familie bevat die oudste manuskripte wat gevind is.  Dit is nie verbasend nie, omdat die klimaatstoestande in Sinai en Noord Afrika waar dit in gebruik was gunstiger is vir die bewaring van papirus geskrifte.  Daar is slegs ‘n paar geskrifte ontdek en die belangrikste daarvan is die Codex Vaticanus.  Erasmus het navraag gedoen oor hierdie manuskrip wat in ‘n Roomse biblioteek was tydens die opstel van sy Latynse en Griekse weergawes van die NT.  Die Codex Sinaiticus is ook een van die belangrike manuskripte wat in die 19e eeu in die Grieks-Ortodokse klooster, berg-Sinai, opgespoor is.  Hierdie manuskripte is nie net ouer as die Bisantynse manuskripte (wat gevind is) nie, maar oor die algemeen heelwat korter.  Westcott en Hort het daarom aangevoer dat hierdie manuskripte baie nader aan die oorspronklike Woord van God moes wees.[13]  Die familie verskil onderling baie van mekaar en die gehalte van oorkopieëring was baie swakker as by die Bisantynse familie.

Die Westerse familie het voorgekom onder die Roomse kerk (westelike Middelandse see area).  Die gehalte van oorkopieering was baie swak en die waarde hiervan gering.  Die Westerse manuskripte is ook volgens WH ouer as die Bisantynse geskrifte.

Omdat die Jode baie noukeurig die OT bewaar het, bestaan daar veel minder onsekerheid tov die OT as in vergelyking met die NT.

Belangrike aspekte uit die artikel [6] deur Dennis Kenaga

(Hiermee hoop ons om u aan te spoor om self die hele artikel te lees. Dit lees gemaklik en met die agtergrond van hierdie oorsig, behoort u die argumente met gemak te kan begryp en te beoordeel.  Ons wys slegs ‘n aantal belangrike aspekte uit.  Daar is veel meer vir die fynproewer.)

Die Alexandrynse prioriteitsteks van die 27ste Nestle-Aland Griekse NT (N) and die UBS (U) se vierde uitgawe (NU weergawe) domineer tans die Griekse NT studieveld in samewerking met die “Institute for New Testament Textual Research” in Munster, Duitsland en in navolging van die 1881 WH uitgawe.  Alle Alexandrynse skole van Tekskritiek maak gebruik van ‘n stelsel waar die beste manuskrip familie vasgestel word deur sekere reëls.  Die hoof verskil is die gewig van hierdie reëls.

Volgens Kenaga het die Engelse Bybelleser drie keuses:  (a) Die korter en ouer Alexandriese manuskripte is naaste aan die oorspronklike Bybel, (b) die meer noukeurige Bisantynse manuskripte is die naaste, of (c) beide is rekonstruksies van nie-oorspronklike vroeë Bybels, waarvan die oorspronklike Bybel nie volmaak met wetenskaplike metodes gerekonstrueer kan word nie.  Kenaga staan die derde opsie voor en stel dat sy siening waarskynlik deur beide Tekskritici en gewone gelowiges verwerp word.

Die stuk fokus op die wyse waarop die NU besluite oor die beste tekste gemaak is, met spesifieke verwysing na die uitsprake van Aland en Metzger, wat hierdie deurslaggewende en vaste reëls vir die vasstelling van die NU teks toegepas het.  Die NU maak gebruik van drie redigeringstappe om foute in afskrifte te bepaal.

Eerstens is daar die standaard redigering wat gebaseer is op universeel aanvaarde beginsels (normalisering en eliminasie van enkelvoudige lesings).  Tweedens, eksterne reëls (bewyse, kriteria, kanon, tekstipes) en laastens, interne of sekondere reëls (bewyse, kriteria, waarskynlikhede).

Hy gee ‘n paar voorbeelde waarin “standaard redigering” van ‘n Griekse manuskrip verduidelik word.  Hierdie reëls word deur alle wetenskaplikes aanvaar en herhaalbaar uitgevoer.  Kenaga gebruik dan die res van die artikel om aan te toon dat die tweede en derde stappe van die NU metode subjektief en spekulatief is en dat die reëls boonop ook selektief toegepas word.

Aangesien die oudste manuskripte wat gevind is (Alexandryns van oorsprong – 2e eeu nC) aan die grootste graad van ongesofistikeurdheid gekenmerk word (Kenaga gebruik die term “greater degree of wildness”), is dit statisties onmoontlik om van die klein versameling manuskripte wat so ‘n groot variansie tussen hulle het, enige betroubare afleiding te kan maak oor die verteenwoordigende karakter hiervan vir enige van die derde eeuse manuskripte.  Met hierdie stelling toon Kenaga dus aan dat die Axlexandrynse manuskripte as ‘n unieke tekstipe nie volgens die beste statistiese praktyke en beginsels, verantwoordbaar is nie.  Daarby bevat hierdie klein versameling manuskripte duisende oorskryf-foute.  Ten spyte hiervan, kry die NU Tekskritici dit reg om hierdie manuskripte as die kanon, dws die Woord van God voor te hou.

Die vraag is hoe kry hulle dit reg?

Nadat die NU komitee die standaard redigering gedoen het, word aan elke manuskrip ‘n puntetoekenning gemaak wat teoreties gebaseer is op die “twaalf basiese reëls vir Tekskritiek” soos voorgestel deur Kurt en Barbara Aland in hulle boek.[14]  Vyf van die reëls word universeel aanvaar en is objektief.  Die ander sewe reëls beheer die kritiese redigering van die NU proses en waarborg ‘n vooroordeel ten gunste van die Alexandrynse manuskripte.  Van hierdie sewe reels val vier onder die “Eksterne reëls” en die laaste drie onder die “Interne reëls” van die NU keuring-sisteem.

Die WH tradisie stel dat die “Eksterne reëls” voorrang geniet bo die “Interne reëls” omdat eersgenoemde die ouderdom van die manuskrip asook die tekstipe behels.  Kenaga wys lesers daarop dat die NU reëls voorgee dat die ouderdom van die manuskrip belangriker is as die Alexandrynse prioriteits tekstipe (of die gehalte daarvan), maar dat dit in praktyk deur hulle selektief toegepas word.  Die ouderdom van die manuskripte bepaal die gewig van die kategorie wat dit verkry.  Daar is vyf kategorieë:   Kategorie I (hoofsaaklik Alexandries, word ook die “A-list” genoem), kategorie II en III (mengsel tussen Alexandries, Westers en Bisantyns), kategorie IV (Westers, codex Bezae ea.) Kategorie V (Bisantyns).  Kategorie 1 tel die meeste punte en kategorie 5 tel nul.  Hierdie prioriteitsreël is “streng” gebaseer op die ouderdom van die manuskripte.

Hiervolgens sal die Bisantynse manuskripte nooit kwalifiseer as ‘n betroubare familie van manuskripte nie.  Die ironie is egter dat hierdie reël nie konsekwent toegepas word nie.  Die heel oudste Alexandriese manuskrip is die P46 papirus dokument.  Dit word nie as ‘n kategorie I manuskrip geklassifiseer nie, omdat dit duidelik is dat die gehalte daarvan baie swakker is.  As dieselfde reël konsekwent en wyer toegepas word, behoort die Bisantynse manuskripte hoër prioriteit as die Alexandriese kategorie I manuskripte te verdien omdat dit baie noukeuriger bewaar is (oorgeskryf is) oor ‘n baie langer tydperk.  Kenaga toon dan aan deur ‘n voorbeeld uit Korintiërs te neem dat die NU reëls automaties verseker dat die Alexandriese manuskripte 99.7% kans het om die prioriteitsmanuskrip te wees, waarvan 96% verdien word omdat die manuskrip op die “A-list” voorkom (kategorie I, sogenaamd die oudste!).

Kenaga maak dan die volgende gevolgtrekking: [15]

“The critical rules have a long, rich history going back at least to Bengel in 1730. Textual criticism is a vast, complex and daunting labyrinth with thousands of books, scholarly studies and vocabulary. Yet to sort it out, NU believers can simplify it to a two-clause creed: Vaticanus is by far the best manuscript to recover the original, and Sinaiticus is its distant and main backup. Every other thought about the subject is supporting or secondary. You have to see the forest. This formula works for lay and expert NU believers alike.”

Hy stel verder dat:

Although the workings of the A-list are obscured, the prominence of Vaticanus is evident, and people need reasons for its prominence. Why is this little group better than all its predecessors, contemporaries and successors? The reasons given are subjective and inconclusive, like quality and age, but the indispensable reason is text history. And that is imaginary.”[16]  

Hierdie teks geskiedenis berus op ‘n teorie en word selektief toegepas op die Alexandriese Tekskritici:

The idea that the few and widely divergent Alexandrian manuscripts represent a text type rests not on the few extant survivors themselves but on the assumption that there was probably a widespread set of similar manuscripts in the early days which stemmed from an ancestral prototype. The theory of text types is the necessary foundation for NU and any Alexandrian edition. The Byzantine majority methods do not depend on text types (aldus die WH tradisie).[17]

Waarom mag diegene wat die Bisantynse geskrifte voorstaan nie ook glo dat dit ‘n goeie afskrif (soos dit oor meer as ‘n duisend jaar bewys is – 400 nC tot  1600 nC) van ‘n goeie manuskrip is, wat baie ouer as die gevinde geskrifte is nie?  Daar is boonop ‘n goeie verduideliking vir die gebrek aan ouer papyrus manuskripte:  Die klimaat in die Bisantynse wêreld was nie bevorderlik vir die bewaring van papirus afskrifte nie.

Kenaga som die toepassing van die vier “Eksterne NU reëls” as volg op:

To summarize the external evidence, the heart of the Alexandrian method is the A-list. There are only two main external supports for the A-list: age and text history. We have seen that NU itself has abandoned the age advantage, and the text history is fictional.”[18]

Vervolgens bespreek Kenaga die laaste drie NU “Interne reëls:

(a) Die kortste teks geniet hoogste prioriteit (Lectio brevior),

(b) die teks wat die moeilikste lees word verkies en

(c) die teks wat die ander tekste verklaar in terme van oorskrywingsgebruike word verkies.

Let daarop dat die Bisantynse geskrifte langer is en makliker lees.  Die Alexandriese NU reëls sal dus weereens met gemak enige Bisantynse geskrifte diskwalifiseer.  Dieselfde dilemma (vir die Alexandrynse towenaars) as by die “Eksterne reëls” kom na vore.  Hoe meer ouer papirus manuskripte gevind word, hoe duideliker is dit dat hulle wel korter is, maar die kwaliteit van die geskrifte is baie swakker.  Die NU reëls van Aland maak dieselfde vlughandige toertjie en klassifiseer die ouer papirus geskrifte as “free” wat in praktyk “diskwalifiseer” beteken.  Kenagan wys weereens daarop: as die reëls konsekwent toegepas sou word, dan behoort die Bisantynse manuskripte hoër prioriteit as die Alexandriese manuskripte geniet, omdat dit minder oorskryffoute (oor ‘n baie langer tydperk) bevat!

Nog ‘n voorbeeld hoe die Alexandriese reëls seletief toegepas word:

A shorter reading is not inherent evidence for originality. Lectio brevior is not a self-evident axiom, because obviously editors can cut out words as easily as add. NU scholars have not produced empirical evidence to demonstrate that Koine (Byzantine) scribes had a habit of lengthening their exemplars. In fact, when the actual studies were done on the Alexandrian and papyri scribes, they supported the opposite conclusion.  The NU’s own decisions demonstrate that all the Alexandrian manuscripts engage in systematic shortening. Nevertheless, the scholars just assumed the rule: since Byzantine manuscripts were longer, they must have been lengthened.[19]

Hy wys dan ook met ‘n kontroleerbare voorbeeld dat die Bisantynse oorskrywers baie minder skuldig daaraan was om die teks of te verkort, of langer te maak.[20]

Kenaga voorspel dat die Tekskritici van beide kampe in die toekoms nader aan mekaar sal beweeg.  Belangstelling in die Bisantynse manuskripte sal toeneem omdat die ware stand van sake duideliker word met tyd.  Hy glo nie dat die een kamp substansieël ‘n baie sterker argument het as die ander nie:

“Whichever one scholars or non-scholars prefer, there is no substantial scholarly case to reject the other. In the last 120 years the Alexandrian case has been oversold academically, while the Byzantine case continues to be oversold popularly.”[21]

Gevolgtrekking oor die keuse tussen die Bisantynse en Alexandriese manuskrip families

Kenaga skryf op ‘n stadium dat in sy opinie is nog die Bisantynse, nog die Alexandriese familie van geskrifte verteenwoordigend van die oorspronklike Woord van God, maar beide is rekonstruksies van nie-oorspronklike vroeë Bybels, waarvan die oorspronklike Bybel nie presies met wetenskaplike metodes gerekonstrueer kan word nie.

In die lig van die NGB glo ons egter dat die NT Bybel wat God deur sy genadige beskikking en voorsienigheid vir ons bewaar het (in die Bisantynse geskrifte), ongetwyfeld die Woord van God is.  Gereformeerdes oor die eeue aanvaar en erken dat daar met die oorskryf van die Bybel klein foute ingesluip het, maar is dit eens dat dit hoegenaamd nie die essensie of die gesag van die Skrif aantas nie (NGB arts 3 – 7) .

Die stuk toon aan (ook uit die kraal van Westcott en Hort) dat beide kampe aanvaar dat die Bisantynse familie sedert ongeveer 400 nC deur die algemene Christelike kerk meer en meer as die kanon (Woord van God) aanvaar en geglo is.  In die tyd van die Reformasie is die Alexandriese familie geskrifte totaal deur die Bisantynse familie verdring.  Ons verskil met Kenaga dat hierdie besluit nie deur die kerk genotuleer is nie.  Dit is in die lig van bogenoemde feite uitdruklik en duidelik in die NGB genotuleer.  Die kanon wat deur die NGB aanvaar en bedoel is, verwys onteenseglik na die Bisantynse familie van manuskripte wat in die tyd algemeen en eksklusief in gebruik was.

Die Skrifuitspraak in Openbaring 22:19, waarop NGB 7 hom beroep vir sy Meerderheidsgeloof, diskwalifiseer enige aansprake (ook van prof Jorrie Jordaan)[22] dat die verkorte Alexandrynse rekonstruksie deur Guido de Bres in 1561 met die opstel van die NGB (arts 2 – 7) hoegenaamd in oorweging sou gewees het.

Ons leef sedert WH in 1881 in die ongelukkige situasie waar die algemene Christelike kerk weens gebrekkige kennis van die ‘gif’ van die Alexandrynse reduksies vir die suiwere Skrifgeloof, nog nie weer die Alexandrynse tekste uit en uit verwerp het nie, soos die vroeë kerk dit onder leiding van die Heilige Gees gedurende die 200’s tot 600’s nC gedoen het nie.

Die vraag is hoe ons die Alexandriese manuskripte moet beoordeel en hoe moet ons dit hanteer?

Ons insiens geld dieselfde beginsel as wat ons in die NGB oor die apokriewe boeke gebruik.  Die Alexandriese geskrifte kan slegs as die Woord van God aanvaar word in soverre dit met die Bisantynse weergawes ooreenstem.  Die beste Alexandrynse rekonstruksie het meer as 6000 weglatings in vergelyking met die beste Bisantynse geskrifte.  Die tekste wat bewaar gebly het kom grootliks ooreen met die Bisantynse geskrifte.

Hoe moet ons die gebruik van die Alexandrynse geskrifte vir die NAV-2016 hanteer?

Die vertalingspoging mag ons insiens onder geen omstandighede vermeng word met die Bisantynse Bybel nie (soos die NAV-2016 volgens getuienis van die Bybelgenootskap [23] en Prof Jorrie Jordaan van plan is om te doen).[24]  Dit sou daarop neerkom dat hulle besluit watter woorde uit God se Woord weggelaat mag word (tov Woord gebaseer op die Bisantynse geskrifte) en watter woorde teruggesit moet word in die verkorte Alexandriese geskrifte.  Nog die Bybelgenootskap en nog die moderne Pous (‘n groep onbekende Tekskritici wat heel waarskynlik twyfelagtige motiewe het) [25] mag die mandaat kaap om te besluit wat die Woord van God is en wat nie (vgl Openbaring 22:19).

Ons insiens gee die feit dat die Bisantynse familie van manuskripte oor ‘n tydperk van meer as duisend jaar gevind is (400 nC – 1600 nC) en waarvan dit duidelik is dat die akkuraatheid en gehalte van die teks grootliks bewaar is, aan ons die versekering volgens ons geloof in God wat deur sy genadige beskikking en voorsienigheid,[26] die suiwerste vorm van sy Woord vir ons bewaar het.  Dit is nie iets wat ons (afgesien van die feite in hierdie artikel genoem) kan bewys nie, maar wat ons glo.  Daar is logies gesien, geen rede waarom enige iemand kan beweer dat die tradisie van ‘n hoë standaard van reproduksie van die Bybel (400 – 1600 nC), nie ook in die vorige 300 jaar ( 100 – 400 nC) sou gegeld het nie.  Belangrik om weer eens uit te wys, dat selfs Westcott en Hort saamstem dat die Bisantynse manuskripte baie min van mekaar verskil, dws dat die noukeurige bewaring hiervan oor ‘n lang tydperk wetenskaplik aanvaar en erken word.

Daarteenoor is dit ook duidelik dat die gehalte van oorskryf onder die Alexandrynse geskrifte oor ‘n baie korter tydperk (200 – 500 nC vir die belangrikste manuskripte) van ‘n baie swakker standaard is, in vergelyking met die Bisantynse familie.  Ons stem heelhartig saam met Kenaga dat die variasies tussen die Alexandriese geskrifte so groot is dat statistiese geloofwaardigheid van ‘n tekstipe klassifikasie in die geval van die Alexandriese geskrifte nie wetenskaplik gemotiveer kan word nie.

Ons insiens is dit nodig dat die gelowiges hulle self opskerp met betrekking tot die situasie waar Bybelgenootskappe dmv ‘n stille revolusie (en boonop met die befondsing van die goed gelowige gelowiges) die monopolie verkry het tov wat die kanon is en aan wie behoort die Skrif (kopiereg). Ons insiens is dit nodig dat die gelowiges weer hulle regmatige plek inneem met betrekking tot die navorsing oor die beste rekonstruksie (vgl Robinson en Pierpont se “Greek NT”)[27] en die betroubare, gesagvolle vertaling van die NT.  Ook dat dit sonder beperkings (gratis ook in elektroniese formaat) aan die wereld soos ‘n Lig op ‘n hoë staander beskikbaar gestel sal word.

In die lig van die korrupte posisie (tov Skrifbeginsels) van die sogenaamde professore amp in die gereformeerde kerke wereldwyd,[28] is dit menslik gesproke onmoontlik dat eenvoudige gelowiges enige reformasie vanaf hierdie groep prinse (Psalm 146) moet verwag.  Hulle is verlei deur die wêreldse kalklig om deel te wees van die hoofstroom teologiese akademici wat lustig agter WH aanstap.[25]  Hierdie keuse bevorder hulle professionele loopbane veel beter; die ongewilde vasstaan by die Belydenis en die Gereformeerde dogma veroorsaak isolasie van sodanige teoloë/Bybelkundiges en verwerping deur hulle populistiese neo-liberale kollegas wêreldwyd.

Gelukkig weet ons dat God steeds regeer, en dat Hy soos in die verlede met die Bisantynse geskrifte, ook in die toekoms sal sorg dat sy Woord suiwer bewaar sal word.

Verwysings:

[2] Bray, G., 1996. Biblical Interpretation. Past & Present Downers Grove, Illinois: Intervarsity Press: 376-379.

[3] The New Testament in the original Greek: Introduction, appendix, sien http://archive.org/details/newtestamentino06unkngoog  

[5] Dennis Kenaga is a retired computer programmer and a member of Grace Orthodox Presbyterian Church, Lansing, Michigan.  The article states: “I am a Greek reader, not a textual critic. My tools also include Greek NT databases and math and programming skills.”

[7] Ibid, Bl 45.

[8] Ibid, Bl 47.

[9] Ibid, Bl 45.

[12] The New Testament in the original Greek: Introduction, appendix: Bl 141-2, sien http://archive.org/details/newtestamentino06unkngoog  

[13] Ibid, Bl 74-5, 127.

[14] Aland, K., Aland B., The Text of the New Testament. Translated by E.F. Rhodes. 1987, B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids: Bl 280.

[16] Ibid, Bl 21.

[17] Ibid, Bl 21.

[18] Ibid, Bl 23.

[19] Ibid, Bl 26.

[20] Ibid, Bl 35.

[21] Ibid, Bl 41.

[25] Die Bybelgenootskap wyer tans om die name van persone wat meewerk aan die projek bekend te maak.  Sien “Waarom die geheimsinnigheid oor die NAV?” by http://groups.yahoo.com/group/gksaforum/message/3936
HG Kruger het reeds aangetoon (sien http://gksa95stellings.wordpress.com/2012/10/03/die-amp-van-professor-in-die-gksa-wolwe-in-skaapsklere/) dat akademici aan sekulere universiteite onder enorme druk verkeer om meer wetenskaplike publikasies te produseer (vgl Deel 1 en 3 oor die weglating van Christus uit die Cloete “Psalms”). Hierdie toenemende druk deur akademiese instellings op akademici om hulle navorsingsuitsette te verhoog, veroorsaak dat die Gereformeerde metode van Skrifuitlegging toenemend deur akademiese teoloë verwerp word omdat dit as te eng en beperkend beskou word.  Die gevolg is dat hulle aan die een kant steeds vertroue by hulle onderskeie geloofsgemeenskappe moet inboesem deur hulle onderwerping aan die Christelike belydenis/dogma, terwyl hulle aan die ander kant ‘n skeptiese internasionale teologiese gemeenskap van hulle akademiese geloofwaardigheid moet oortuig, deur afstand te doen van enige vooroordele soos kerklike dogma of belydenis  (vgl Bray, bl 223 soos aangehaal in Deel 1 oor die weglating van Christus uit die Cloete “Psalms”). Hulle brood en botter (bevordering) hang grootliks daarvan af dat hulle nuwe opspraakwekkende teorieë soos ‘n worsmasjien die lig moet laat sien.  Dit lei ongelukkig tot dwalings en dat hulle behendige voetwerk gebruik om voor te gee dat hulle steeds by die Belydenis staan.

[26] Dws ons voorsienigheidsgeloof, ons geloof in die woorde van Christus: “Kyk Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld …” vgl Ps 12:7,8 … dws ook Skrifgeloof soos bely in NGB 5.


Responses

  1. My dierbare vriend Slabbert,
    Ek kan nie glo wat ek hier lees nie! “In die lig van die korrupte posisie (tov Skrifbeginsels) van die sogenaamde professore amp in die gereformeerde kerke wereldwyd,[28] is dit menslik gesproke onmoontlik dat eenvoudige gelowiges enige reformasie vanaf hierdie groep prinse (Psalm 146) moet verwag. Hulle is verlei deur die wêreldse kalklig om deel te wees van die hoofstroom teologiese akademici wat lustig agter WH aanstap.” Besef jy wat jy sê?
    Ek het reeds sowat 70 NT tekste op my blog hanteer. In nie een geval het ek die Aleksandrynse teks verkies net omdat dit uit daardie tekstipe kom nie. Gaan kyk daar en bewys vir my watter van daardie afleidings nie op grondige objektiewe beginsels staan nie, beide wat die eksterne, interne en intrinsieke kriteria betref! En ek is nie aan die Bybelgenootskap verbonde of eens ‘n kenner op die gebied nie. Maar ek daag jou om op grond van werklike feite my foute uit te wys. Moenie op emosionele manier Erasmus se verdraaiing selfs van die Bisantynse Teks aanhang nie – sien die feite voor oë.
    Jy maak die bewering: “Nog die Bybelgenootskap en nog die moderne Pous (‘n groep onbekende Tekskritici wat heel waarskynlik twyfelagtige motiewe het) [25] mag die mandaat kaap om te besluit wat die Woord van God is en wat nie (vgl Openbaring 22:19).” Maar dan ken jy hierdie reg toe aan Desiderius Erasmus wat duidelik “geldmaak” as motief gehad het! Keur jy dit goed? Sy totale gebrek aan gesag vir die Skrif waardeur hy tekste ingevoeg en verander het soos hy wou, aanvaar jy sondermeer as “God se Voorsienige bewaring van Sy Woord”?
    Laat ek liewer stil wees.
    Herman.

    • Herman, een van die redes waarom jy nie kan glo wat jy lees nie, is omdat jy nie werklik lees wat daar staan nie. Kyk bietjie mooi wie het die artikel geskrywe en rig die vrae aan hulle. Ekself het nie probleme met die artikel nie, en sou dalk hier en daar dinge op ‘n ander wyse wou stel, maar die feit dat jy nie eers kan raaksien wie die werklike outeurs is van die artikel nie, wys dat jy glad nie moeite gedoen het om die artikel deeglik te lees en te bestudeer nie. Nie ‘n baie wetenskaplike omgang met ‘n artikel nie, en ek vermoed jy het die artikel net so vinnig ‘gescan’ om ‘n foutjie te kry waarop jy nou jou hele tirade kan bou.

      Tweedens, die artikel gaan oor baie meer as ‘Herman se blog’ en jou ‘wetenskaplike objektiwiteit’ (lees: vooroordele), dit gaan oor groter en belangriker sake, wat jy blykbaar nie kan beantwoord nie, en daarom val jy tragies weer terug na jou ‘Erasmus bashing’. Ons is al daar verby, ons praat al oor die MT en ander sake, maar elke liewe epos wil jy maar net weer Erasmus bykom, wil jy die baba saam die badwater (die hele MT familie, OAV, KJV, Statevertaling) uitgooi. Hierdie snaar waarop jy heeltyd tokkel raak nou werklik vervelig en eintlik tragies, so dit blyk nie asof ons verder kom met gesprekke nie.

      Derdens, so ek stel voor, gaan lees die artikel bietjie rustig en ordentlik, skuif so bietjie die Metzger NA-UBS vooroordele eenkant toe, gaan met die wetenskaplike argumente in gesprek (jy ignoreer dit totaal blyk dit vir my uit jou reaksie), en wie weet, dalk kan jyself iets daaruit leer, soos bv.

      a) om nie van die NA/UBS vandag die Erasmus textus receptus van ons dag te maak nie, en

      b) nog minder om van jou tekskritiek kenners onfeilbare vastellers en bepalers van die Griekse NT te maak, wat daarop roem dat hul ‘objektief’ besig is, maar so verblind is deur hul eie modernisties-rasionalistiese voorveronderstellings, dat hul net so subjektief soos Erasmus en alle ander teksritici is ?

      ns. sien die miljoen vrae wat ek jou al in die verlede gevra het persoonlik en hier op my blog, wat jy nog nooit beantwoord het nie. En daarom moet jy nie verwag dat almal jou subjektiewe bevooroordeelde tekskritiek boodskappe en notas op jou blog gaan antwoord nie, as jy self weier om vrae te antwoord of net antwoord wat jou pas nie.

    • Beste Herman,

      Baie dankie vir jou skrywe. Jy doen presies in jou skrywe wat jy ons van beskuldig. Jy maak emosionele opmerkings, sonder om dit wetenskaplik te staaf. Uit jour reaksie op ons artikel, lyk dit regtig of jy nog ons artikel, nog die artikel van Kenaga deeglik deurgelees het. As jy konkrete argumente vir jou argumente gee, sal ek met groot liefde dit vir jou beantwoord.

      Ek besef deeglik wat ons geslryf het, en sal aan die einde weer daarop terugkom.

      Jy voer aan dat jy opjektiewe beginsels gebruik vir jou motivering waarom die Alexandriese tekstipe sg beter so wees. Ek het 3 daarvan bestudeer (die eerste 3):

      (a) http://bybelverskille.wordpress.com/2013/02/05/genade/

      Daarvolgens trap jy in dieselfde ouderdom slaggat, wat Kenaga deeglik in sy artikel weerle het.

      (b) http://bybelverskille.wordpress.com/2013/01/23/72-doding/#more-1044

      Jy toon nie in hiertoe stuk aan dat die Alexandriese (verteenwoordigende) Griekse woord beter is as die van die Bisantynse manuskripte te nie. Hierdie voorbeeld wat jy aanhaal het dus niks te make met die argument wat ons hier probeer voer nie.

      (c) http://bybelverskille.wordpress.com/2013/01/08/71-op178/#more-1036

      Jy gebruik hier ‘n strooipopargument, waarin jy ‘n wanindruk skep oor die ware toedraag van sake en dit dan gerieflikheidshalwe afschiet om jou verkeerde standpunt te probeer regverdig.
      Ons het nergens in ons skrywe (Kenaga ook nie in sy skrywe) na Erasmus verwys nie. Ons skryf baie deeglik oor ‘n familie van manuskripte (meer as 5000) wat baie min onderlinge verskille toon. Hierdie manuskripte is oor ‘n merkwaardige >1200 jaar (400 nC tot 1600 nC) merkwaardig akkuraat oorgeskryf, beter as enige ander familie geskrifte. Ons toon aan in ons skrywe dat dit ‘n (WH) mite is dat die manuskripte nie veel ouer is as wat aanvaar word (of as wat gevind is). Ons gee twee verwysings van deeglike studies wat aantoon dat die kerkvaders (100-300 nC) volop aanhalings uit die Bisantynse geskrifte gemaak het. Dit is onteenseglike bewys dat die Bisantynse manuskripte veel ouer is as wat jy skynbaar bereid is om te aanvaar.

      Ons gee toe dat ons dit nie kan bewys nie (ons glo dit), maar watter rede sal jy kan aanvoer wat kan bewys dat die Bisantynse geskrifte nie ook vanaf 100 – 300 nC pynlik akkuraat (deur God se Voorsienigheid) oorgeskryf is nie?

      Ten slotte maak jy weer ‘n strooipopargument oor Erasmus wat jy dan weerens afskiet. Ek herhaal weer: Sodanige “argument” verklap dat jy nie ons artikel, of die artikel van Kenaga deeglik gelees het nie.

      As jy die gesprek konstruktief vir voortsit, sal dit help as jy op die volgende konsentreer:

      (a) Aanvaar jy die gevolgtrekking van WH (ons gee ‘n verwysing daarna in die artikel) dat die Bisantynse geskrifte baie min van mekaar verskil en dat laasgenoemde toenemend deur gelowiges sedert 500 nC gebruik is?

      (b) Aanvaar jy dat die kerkvaders (100 – 300 nC) in oorvloed aanhaal uit die Bisantynse gekrifte (sien die verwysing in ons artikel)

      (d) Aanvaar jy dat die Guido de Bres in die NGB (eerste paar artikels) die Bisantynse familie van manuskripte in gedagte gehad het, of is jy van mening dat hy die Alexandriese manuskripte inklusief ingedagte gehad het, as die basis van die kanon?

      (e) Gee aan ons ‘n paar voorbeelde waarom jy die Griekse woorde van die Alexandriese geskrifte bo die van die Bisantynse aanvaarde woord verkies (met jou objektiewe redes).

      (g) Vergeet asb van die (Bybelgenootskap se) drogredenasie oor Erasmus. Dit is glad nie van toepassing op ons standpunt(e) nie.

      Ten slotte, wil ek jou vra of jy weet wat jy voorstaan? Jy staan ‘n “Bybel” voor wat meer as 6000 weglatings (meer as 10 bladsye) uit die kanon van die NGB geskeur het. Die Alexandriese manuskripte verteenwoordig nie die Woord van God nie. Ten spyte daarvan dat dit baie ooreenstem met die Woord van God, is die GIF van weglatings so ernstig dat ek dit ondenkbaar vind dat ‘n geroepe VDM hom daarmee sal bemoei. Dit is duidelik dat die oorskrywers van die Alexandriese manuskripte vanuit die Grieks-Romeinse skool onder Origen (185 – 254 A.D., in Alexandra het ‘n meer geestelike verstaan van die Skrif beoefen het. Die Gnostiek het ook hier ontstaan.) op ‘n ander manier opereer het as die uit die skool in Antiogieë (meer letterlijke verstaan van die Bybel). Eersgenoemde het oenskynlik ‘n skryende “standaard” van oorskryf toegepas aangesien die Alexandriese geskrifte so ver van mekaar verskil dat dit statisties gesproke, nie eers as ‘n familie geklassifiseer kan word nie. Dit lyk asof hulle die Skrif geminag het in hulle oorskrywe (of dalk nie besef het hulle werk met die Woord van God nie). WH erken dit dat die Alexandriese manuskripte baie van mekaar verskil, gaan lees maar self hulle boek.

      Ek sal ‘n nuwe vertaling van die Woord van God in moderne Afrikaans waardeer. Maar ‘n vertaling van die Woord van God, nie ‘n afskrif waarin die Woord van God versnipper is nie.

      U broeder in Christus, wat nie agter ‘n klomp valse professors aanhardloop nie, maar die onvervalste Woord van God liefhet.
      Gert Kruger

  2. Verskoning!
    Slabbert, ek is so verlig dat ek verkeerd verstaan het. Gewoonlik skryf jy iets soos “artikel deur XY”. Maar dis my fout, ek moes beter gelees het.
    Ek rig my kritiek direk aan die twee opstellers van die artikel.
    Oor punt a): Die NA/UBS kan nooit ‘n “textus receptus” word nie omdat hulle al die variasies aan die vertaler/ondersoeker van die Griekse teks bied sodat hy self ‘n keuse en besluit kan neem.
    Oor punt b): “modernisties-rasionalistiese voorveronderstellings”? Deur al die feite op die tafel te lê maak hulle juis nie soos Erasmus ‘n subjektiewe besluit nie.
    My “subjektiewe bevooroordeelde tekskritiek boodskappe en notas”? Dit is juis wat ek vra – wys my daarop, asb.
    Terloops, jy skuld my ook ‘n paar antwoorde, maar ek wil regtig nie van jou blog ‘n debat tussen my en jou maak nie.
    Seën,
    Herman.

  3. […] sogenaamde ‘objektiewe wetenskaplikheid’ van die Alexandrynse tekste aangespreek word (Debat oor die mees betroubare Griekse NT teksfamilies: Alexandrynse versus die Bisantynse teksfami…), verduidelik die problematiek aangaande die brontekste van die Nuwe Testament soos […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: