Die HERE gee ons en ons samelewing oor aan ons dwalinge

(Onder leiding van dr. Frits Gaum, vra 26 NG lidmate opnuut dat homoseksualisme amptelik goedgekeur word in die NG Kerk)

24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer  25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.  26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;  27 en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang28 En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:  29 hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;  30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;  31 onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,  32 mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen. – Romeine 1 (beklemtonings bygevoeg)

(Moet asb. nie die Skrifgedeelte hierbo ‘skip’ en dadelik my artikel lees nie, lees die verse hierbo, en begin dan die artikel lees)

‘n Paar tragiese gebeure het ons land geskud die laaste paar weke, en dit is moeilik om dit alles te verwerk, om die Here se wil deur dit alles raak te sien, en ook te vra wat ons reaksie moet wees, veral as gelowiges.

Daar is spesifiek drie gebeure wat ek wil uitlig, en dan wil ek verder daarop wys dat die gebeure nie los van mekaar staan nie. Hopelik is ons nie al so blind en verhard in ons sonde en opstand teen God en sy gebod, dat ons dit nie raaksien nie …. of dalk nie wil raaksien nie.

Laat ek dit daarom reguit stel van die begin af, dat daar nie misverstand is nie, bekering en hoop vir ons kerke en land begin by elkeen van ons, om in die lig van hierdie drie tragiese gruwel gebeure, opnuut te vra:

Here, waar moet ek my bekeer in my lewe, ek en my gesin, ek en my gemeente ? 

Hier is die drie gebeure, drie tragiese gruweldade wat plaasgevind het, met die derde gebeurtenis die heel ergste:

1. Die grusame bose verkragting van Anene Booysen, deur ‘n klomp dieragtige wellustige ‘manne’ in Bredasdorp, tussen 03h00 en 04h00 in die oggendure.  Lees meer daaroor hier:

Verkragting skok dogter

“Grusame besonderhede van hoe ’n verkragtingslagoffer se liggaam oopgekloof en haar ingewande uitgeruk is, het gister aan die lig gekom.”

2de man vas na gru-verkragting

2. Die tragiese skietongeluk/moontlike moord tussen twee ‘lovers’, Oscar Pistorius en Reeva Steenkamp:

Alles oor Oscar

3. Die hernude poging van sommiges in die NG Kerk om homoseksualisme goed te keur:

Versoek dat NGK gays sal aanvaar

“Die NG Kerk se algemene sinode gaan gevra word om die groen lig vir permanente gay verhoudings en vir gay predikante te gee.”

Gaygesprek weer op NG Kerk se agenda

Wat is die ooreenkoms in al drie hierdie gevalle ?

Dit wat plaasgevind het – of besig is om plaas te vind – is alles die tragiese gevolge waar die waarheid van God vir die leuen van die mens verruil word (v.25).

Die waarheid van God is sy Woord, die Bybel wat ons leer oor die Here en sy werke, die sin van die lewe, die oorsprong van alles, hoe ons gered word in Christus, maar dan baie belangrik, ook hoe ons moet lewe, wat reg en verkeerd is, wat seksueel aanvaarbaar is en wat nie (2 Tim.3:15-17).

Wat veral laasgenoemde betref, die HK vat dit as volg saam in v/a 108 (Sondag 41):

Vraag: Wat leer die sewende gebod ons ?

Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (Lev.18:28), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (Jud.23). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (1 Thess.4:3-5) sowel binne as buite die huwelik (Hebr.13:4; 1 Kor.7:7).

Maar, ons as mense dink dat ons sondige harte, denke en begeertes van beter weet (v. 24,26,28), ons dink ons kan God se goeie wette en verordeninge vir die mens, binne en buite die huwelik verwerp en daar sal geen gevolge wees nie. Die lewe sal bloot aangaan soos altyd.

Maar, bogenoemde drie gebeure roep dit uit: Dit sal nie ! Kyk ! Let op ! Bekeer julle ! Die tyd loop uit !

Want, God laat nie met Hom spot nie (dit is die God van die Bybel, nie die liberalis, New Age, Nuwe Hervorming se ‘jesus’ nie), as mense en samelewings Hom aanhou verwerp dan gee Hy hul oor aan hul dwalinge wat hul oor hulself gebring het, en die gevolge sien ons in ons samelewing.

Dit is net bloed, haat, dood en hartseer waar jy kyk …. en, dit kan nog erger raak (ek het reeds in ‘n vorige skrywe gewys op die aborsie-moord slagting wat besig is om plaas te vind in ons land).

Die mens dink hy is nou vry en het ‘menseregte’ om enigiets te kyk en te geniet via die media, ongeag hoe pervers en in stryd dit met God se eise vir kuisheid en reinheid is – die gevolg: manne word met boosheid gevoer, brand in hul wellustigheid en gaan dan oor tot gruweldade soos die verkragting wat ons hierbo genoem het.

En, laat jou nie mislei nie, die feit dat baie blootgestel word aan perversie en moord en doodslag via die internet en bloeddorstige ‘tv/video games’ en losbandige immorele ‘soapies’ wat die huwelik verag en bespot – en hul dan nie oorgaan tot daardie dade nie – is nié ‘n teken dat God dit nie haat en nie sal vergeld nie. Ons moet nie God se lankmoedigheid misbruik nie, dit is nog genade tyd om te bekeer, maar die tyd loop uit.

In die Bybel het die Here baie gruweldade opgeteken en sy oordele daaroor vir ons ge-openbaar, juis sodat ons daaruit kan leer en bekeer (sien bv. 1 Kor.10:1-13), sodat ons sal bekeer om die oordele vry te spring. Ons moenie in ‘n valse slaap gesus word om te dink dat omdat God nie elke sonde onmiddelik straf nie, daarom straf Hy glad nie meer nie, of gaan nie eendag straf nie, en daarom kan ons nou lewe soos ons wil nie.

Nee, Hy sal vergeld, of dit in hierdie of die ewige lewe is (Matt.25; Hand.17:30,31; 2 Kor.10:5; Op.21,22).   Gaan ons die waarskuwings aanneem ?

Ons samelewing se verharding word verder daarin gesien dat ons nie God se regverdige strawwe toepas in ons samelewing teen moord, verkragting en egbreek nie – en die gevolge is ‘n samelewing wat goddeloosheid beskerm en mense toelaat en eintlik aanmoedig om te leef uit haat, moord en geweld sonder enige vrees vir die doodstraf of gevolge van hul dade.

Ons is oorgelewer aan die tirannie van liberale mense se wrede wetgewing wat die goddelose beskerm, en die regverdige vervolg.

En, selfs daar waar ons dalk nog in ons gesinne en gemeentes ‘n invloed het, gaan dit nie veel beter nie:

Ons laat ons jongdogters en seuns maar ‘romanties’ saamwoon buite die eg, die gevolge is hartseer tragedies wat hom afspeel soos met die Oscar geval.

Baie soek oplossings wat dalk bogenoemde tragedies kon gekeer het:

– hoekom was so jongmeisie so laat (vroeg die oggend) by so ‘n plek gewees ?

Natuurlik regverdig dit nie die gruwelike verkragting nie, maar dit is ‘n vraag om te vra.

Hoekom het iemand nie vroeër gewerk aan Oscar se woedebuie nie, of hoekom het die sekuriteitswagte nie vroeër opgetree toe hul hoor van die rusie in Oscar se huis nie, dalk kon die moord dan gekeer gewees het ?

Maar niemand of min vra: wat soek twee ongetroude mense saam in ‘n bed ? (sien vers 31; Hebr.13:4), veral as een van hulle beweer hy is ‘n toegewyde Christen ?

Sy moes glad nie daar gewees het nie, in die eerste plek.

Ja, dit is verkeerd en ‘n gruwel as iemand vermoor word, koelbloedig geskiet word (sou dit blyk die geval wees), maar so ook is ons samelewing, en veral ons kerke wat losbandigheid, hoerery, buite-egtelike verhoudings, immoraliteit in die media of verdra of op subtiele wyses goedkeur, dit wat Paulus juis teen skryf deur die Gees van God in Romeine 1:

 28 En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:  29 hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;  30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;  31 onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,  32 mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

Dit is nie genoeg om bloot koelbloedige moord en ‘n gruwelike verkragting af te keur nie, ons moet ook die oorsaak daarvan aanspreek:

ons sondige harte en gedagtes wat dalk nie hierdie verskriklike dinge self sal ‘doen’ nie, maar ons het geen probleem om dit op die kassie te kyk en in die binnekamer daarin te verlustig nie.

Hoeveel ouers is daar, hoeveel ampsdraers is daar wat toelaat dat hul jongdogters se kleredag nie behoorlik is nie, wat nie omgee waar hul dogters rondloop laat in die aande nie ?

Hoeveel ouers laat toe dat hul dogters of seuns buite die eg saamwoon, alleen saamverkeer laat in die aande en hul onnodig in versoeking plaas?

Hoeveel onwettige egskeidings en hertroues word bloot maar aanvaar en goedgepraat deur kerke ?

Hoeveel ouers laat toe dat hul dogters saam jong seuns op vakansies alleen gaan ?

Hoeveel van ons ouers laat hul kinders vrye toegang hê op selfone en op die internet, om te kyk wat hul wil ongeag die seksuele inhoud en al die verleidings wat daarmee saamgaan ?

Kyk wat sê antwoord 109 wat 108 hierbo opvolg van die HK:

Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?

Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, ‘n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (Ef.5:3,4; 1 Kor.6:18,19), gedagtes, luste (Matt.5:27,28) en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei (Ef.5:18; 1 Kor.15:33).

Ek wonder as ons as gelowiges hierdie woorde regtig ernstig opneem, hoeveel films ons nog sal kan kyk, hoeveel webblaaie ons dan sal moet vermy ?

Maar, omdat ons dink ons weet van beter, ons wil nie sogenaamd ‘wetties’ wees nie, ons is nou kamstig ‘vry’ in Jesus, ons is nou ‘super Christene’, ons hoef nie meer presies te hou by sy gebooie nie, daarom gee die Here ons en ons samelewing en veral kerke oor aan ons dwalinge.

Ons verwerp in die praktyk die Bybelse wysheid van Gen.39:9,10; Spr.5:8; Matt.5:27-30; Rom.13:13,14; Ef.5:3-5; 1 Thess.4:3-8; ens. … en die gevolge sien ons orals om ons, ook in ons eie lewens.

En daarom is die heel ergste gebeurtenis die laaste tyd, nie die tragedies om die Booysen, Steenkamp en Pistorius families nie, maar die goddelose optrede van wat besig is om in die NG Kerk te gebeur, dat daar ‘n groep is wat weer druk om dit wat God ‘n gruwel noem, goed te keur as ‘n aanvaarbare lewenstyl.

Christus was genadig aan prostitute en tollenaars en mense wat hul sondes ken, dit bely en laat staan het (Joh.8:1-11), maar Hy het die valse profete ten sterkste verwerp en aangespreek (Matt.23), hulle wat God se Woord verdraai om sonde goed te praat en ander so te leer.

Ek het reeds verskeie kere oor die gay agenda geskryf en gaan nie weer alles herhaal nie, belangstellendes kan daaroor hier lees om te weet wat my standpunt is:

Homosekualisme

Hier wil ek net noem dat van hierdie 3 gebeure, die gay drukgroep in die NG Kerk se optrede die grootste gruwel in God se oë is, omdat hul, soos Rom.1:32 dit duidelik stel hierbo, nie net mense liefdeloos toelaat om in ‘n lewenswyse te volhard wat tot die ewige dood lei nie, maar dat hul dit selfs probeer goedkeur deur God se Woord te verdraai.

As sondaars kan ons almal struikel en val, kan ons soos Dawid ook val, maar dit is een ding om te val, selfs baiemaal te val maar aanhou jou sondes te bely en daarteen te stry jou hele lewe lank deur die genade in Christus (Psalm 51); dit is ‘n totaal ander bose goddelose gruwelike ding om die sondes waarmee jy worstel goed te praat en te maak asof dit nie sonde is nie, en dan die heel ergste, om dan ander te leer, te mislei: dit is reg om te sondig en daarin te volhard.

Christus vergewe die owerspelige vrou en sê dan vir haar en vir ons genadiglik: gaan heen en sondig nie meer nie (Joh.8:11).  In die woorde van die HK antw.127:

En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.” (sien ook antw.114)

Die gay valse profete (asook die losbandige immorele profete wat onkuisheid goedpraat) sê: jy hoef nie eers vergewe te word nie, jy het niks verkeerd gedoen nie, volhard in jou sonde, dit is goed so, die Here seën dit …. tot in die hel (contra die Evangelie en die Woord, sien 1 Kor.6:9-11).

Behalwe Paulus wat sulke liefdelose valse profete verwerp hierbo in v.32, het Jesaja ook reeds daarteen gewaarsku:

20 Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”

En hierdie sleg goed noem en goed sleg, het nie met die gay debat begin nie, dit het al begin:

– wanneer jong seuns begin eksperimenteer met die seksuele, dan noem ons dit ‘ag, seuns bly nou maar seuns, ons is net eenmaal jonk’, in plaas van dat ons dit noem wat dit is ‘onreinheid’

– wanneer jong meisies uitlokkend begin aantrek, dan noem ons dit ‘sexy of oulik’, nie wat dit is nie, naamlik ‘onkuisheid’

– wanneer twee jongmense begin saamwoon buite die eg, dan noem ons dit ‘romanties en finansieël voordelig’, en nie wat dit is, ‘hoerery’ nie.

– wanneer ons na soapies en films kyk wat van die huwelik en egbreek grappies maak, en ‘Friends’ wat oor en weer bymekaar slaap, en ons noem dit ‘onskuldige vermaak’, terwyl dit eintlik losbandigheid en onreinheid en onsedelikheid is wat God straf.

– wanneer ‘n man sy vrou verlaat vir ‘n ander vrou, dan noem ons dit ‘hulle pas nie meer bymekaar nie, of is nie meer lief vir mekaar nie, of het onoorbrugbare verskille’, maar God noem dit egbreek wat Hy haat (Mal.2:14-16).

Dus, die huidige poging en misleiding om iets wat God ‘n gruwel noem, naamlik ‘n man wat by ‘n man slaap, ‘goed’ te noem, het reeds lankal begin deurdat alles wat God onkuis verklaar het, vandag as ‘kuis’ verklaar word (sien bv. Lev.18).

Jesus verwerp daarom sulke valse profete ten sterkste, wat ander leer om sy gebooie te breek en te dink hulle doen dit onder die seënende hand van die Here:

“9 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.” – Matt.5:19

Ons enigste hoop teen die totale aanslag op ons siele deur die immorele verval van ons tye, is die Evangelie van ons Here Jesus Christus, dat ons ons weer sal beklee met ons Here Jesus Christus, sodat ons weer soos Hy alle onkuisheid sal haat, binne én buite die huwelik, en dan geen voorsorg vir ons sondige begeertes sal tref nie (Rom.13:13,14).

Dit is alleen die Evangelie wat ons kan bevry van ons eie sondige harte en welluste en begeertes, sodat ons sal ophou om onsself en die skepsele te dien en te vertrou, en ons genadiglik sal terugkeer om ons Verlosser en Koning te dien, ons “Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.” (Rom.1:25)

Ons moet terugkeer na die waarheid van God se Woord, die Bybel wat aan ons geskenk is, nie net om te weet hoe ons gered word in Christus nie, maar ook hoe ons moet lewe, kuis binne en buite die huwelik, die Woord wat ‘n lig op ons pad is, vir ons hele lewe na gees én liggaam (1 Kor.6:9-20; 2 Tim.2 en 3).

Mag die Here ons genadig wees om weer die waarheid te ontdek van Tit.2:11-14,

11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn  12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,  13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,  14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

Gebed: Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer, vernuwe ons dae soos in die voortyd, of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot ? (Klaagl.5:22).

3 thoughts on “Die HERE gee ons en ons samelewing oor aan ons dwalinge

Add yours

  1. ‘n Christen ouer maak die volgende uitspraak oor die boeke wat voorgeskryf word vir Suid-Afrikaanse leerlinge deur die Dept. van Onderwys : “Dan wonder ons oor tienerswangerskappe, verkragtings en dies meer. Om kinders, reeds belaai met hormone, aan sulke blatante, sensuele skryfwerk bloot te stel onder die naam van “moderne skryfkuns” is vir my as Christen-ouer absoluut onaanvaarbaar.” Kerke is egter tjoepstil oor hierdie dinge.

  2. Aan alle bloggers, let wel: ek plaas nie anonieme boodskappe hier nie, so as u epos of blognaam nie u naam en van bevat nie, plaas dan asb u naam en van aan die einde van u boodskap, dan plaas ek u skrywe graag. Groete, Slabbert

  3. Beste Slabbert
    ‘n Skitterende preek deur Dr. R.C. Sproul juis oor hierdie deel van Romeine kan afgelaai word by http://www.ligonier.org/learn/sermons/gods-wrath-unrighteousness/. Jy is dalk bewus daarvan, maar ek noem dit maar hier as ander ook daarna wil luister. Dit vorm deel van Dr. Sproul se reeks preke oor Romeine. Dit sal natuurlik help om ook die voorafgaande preke te luister. Dit het by my ‘n besondere indruk gelaat.
    Vriendelike groete en dankie vir ‘n tydige herinnering aan hierdie baie belangrike deel uit Romeine.
    Johann Strauss

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: