GK Matlabas (2013 06 23)
Prediker: ds. Gustav Opperman
Lees: Hosea 11
Teks: 11:9 Ek is God en nie ‘n mens nie, die Heilige in jou midde
Tema: God is regverdig en barmhartig.
Psalms: 105:1,2; 105:3,4; 97:1,4; 97:6,7; 103:6,7,11.
Broeders en Susters in die verbond,
Menslik gesproke kan ons nie anders nie.
Ons moet erken:
die gordyn is besig om te sak oor ons kerk in Suid-Afrika.
Dis amptelik.
Die statistieke sê dit.
Dis ‘n kwessie van tyd,
dan maak ons die deure toe.
Daar’s ‘n gebrek aan belangstelling in die kinderseën,
so ons ontvang nie die seën van kinders nie.
Daar’s ‘n gebrek aan belangstelling in die sending en evangelisasie,
so daar is ook nie veel uitbreiding na die kant toe nie.
Daar’s ‘n gebrek aan ywer vir Christelike onderwys.
Daarom is daar afval … grootskaalse afval.
Van elke 4 kinders wat elke jaar belydenis van geloof aflê
sal daar oor waarskynlik oor 5 jaar minder as die helfte nog in die kerk wees.
En dit geld nie net vir ons kerkverband nie.
Dit geld vir al die kerke van gereformeerde belydenis in die land.
Dis die feite van die saak.
Harde feite.
Maar dan moet ons terselfdertyd ook herhaal wat ons aan die begin gesê het:
“menslik gesproke …”
… gesien uit die hoek van ‘n mens,
met die insig en die verstand tot ons beskikking.
Die profeet Hosea kom vanoggend na ons toe
om vir ons ‘n ander gesigshoek te gee.
Dis die gesigshoek van God,
want dis Sy kerk … nie ons kerk nie.
En Hy …
Hy is God en nie ‘n mens nie.
Hy is die Heilige in ons midde.
As ons die Heilige in ons midde het,
het ons egter steeds ‘n probleem …
‘n groot probleem.
Dan het ons net so ‘n groot probleem soos Israel gehad het,
want daar waar die Heilige is,
daar sal die sonde nie geduld word nie.
Die sonde, die afgodery, het voor die Heilige geen kans op oorlewing nie.
So min kans as wat ‘n Sondagkoerant in ‘n hoogoond het … geen kans.
En die sondelys van Israel is lank …
ontstellend lank.
As ons net na Hosea se sondelys kyk
(dan praat ons nog nie van die profeet Amos of die Koningsboeke se sondelyste nie),
as ons net na Hosea se sondelys kyk,
dan voel dit vir jou of jy besig is om te verdrink.
Dis te veel.
En op elke hoek en draai,
elke vers en paragraaf sien jy jouself,
sien jy jou volk en jou mense,
sien jy jou kinders,
besig om te hoereer.
As hulle drinkery verby is,
dan hoereer hulle nog meer (4:18).
In Samaria pleeg hulle bedrog,
Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel;
hulle breek in,
sodat bloedbad aan bloedbad raak,
profeteer Hosea.
Dis hoe dit in hierdie land gaan, Broeders en Susters.
Hierdie land wat sogenaamd 70 persent Christene bevat.
Jaarliks word daar ‘n kwartmiljoen kinders in die baarmoeder vermoor.
In alle opsigte ‘n bloedbad …
Terselfdertyd sit ons met die hoogste moordsyfer in die wêreld …
die aborsies uitgesluit.
En so is die een bloedbad besig om aan die ander bloedbad te raak.
Daarom treur die land,
en alles wat daarop woon, kwyn weg,
soos die VIGS-slagoffers in hierdie land wegkwyn.
My volk gaan ten gronde wees ‘n gebrek aan kennis (4:6), skryf Hosea.
Hoekom?
Want die priesters doen nie hulle werk nie.
Inteendeel, die priesters swyg oor die egbreek en die owerspel.
Die priesters praat dit goed:
ook die saamblyery en die homoseksualiteit.
Die priesters doen nie hulle werk nie,
want ons mense weet nie meer dat hulle die Heilige God dien nie.
Hy is drie maal heilig: Heilig, Heilig, Heilig!
En daarom kan en mag sy kinders nie anders as heilig lewe nie.
My volk gaan ten gronde wees ‘n gebrek aan kennis.
Maar die ergste klag vind ons in ons hier in Hoofstuk 11, ons Skrifgedeelte,
waar die Vader vir sy kind sê:
Ek het jou leer loop, my kind,
Ek het jou in my arms geneem.
Jy het in my arms aan die slaap geraak.
Ek het jou gedra.
Waar ons hemelse Vader vir sy kerk sê:
Toe jy ‘n kind was,
het ek jou liefgehad.
Met koorde van liefde het ek jou getrek.
Ek het jou uit Egipte gaan haal.
Ek het die juk van jou afgehaal.
Ek het My na jou neergebuig.
Ek het vir jou kos gegee.
Maar
jy het nie herken dat Ek jou genees het nie.
Dis die ergste klag.
Maar
jy het nie herken dat Ek jou verlos het nie.
Dis ook die ergste klag teen die geloofsgemeenskap vandag.
Ons praat só, ons leef só …
so asof ons verlossing in Jesus Christus,
so asof ons verlossing van die dood en die hel,
die mees vanselfsprekende saak is.
Intussen roep die profete,
só, soos hulle altyd geroep het.
Intussen roep die Here deur sy profete,
want ons het met ‘n God te doen wat roep,
roep en weer roep.
Maar as die profete die volk na bo roep,
dan rig die volk hom glad nie op nie.
Hoe meer die profete hulle geroep het,
des te meer het hulle van húlle af weggeloop.
En soos ‘n Vader sy kind tugtig,
het die Here sy volk getugtig …
met droogtes … met die vyand … met kinderloosheid …
Tevergeefs,
my volk dwing om van My afvallig te word.
Nou staar ons ballingskap in die gesig.
Die Assiriërs … hulle sal nou ons koning wees.
As jy nie die mag van God wil ken nie,
sal jy die mag van die duisternis leer ken.
As jy nie die genesing van die Vader wil herken nie,
sal jy die siektes van hierdie wêreld ervaar …
en ballingskap.
Die volk se kinders, sê Hosea in hoofstuk 9,
die volk se kinders sal rondswerwe onder die nasies.
Ons sien dit in ons tyd:
in Kanada, in Londen, in Australië, in Amerika, in Nieu Seeland.
En die swaard sal geswaai word in die stede van Israel
en onder die gelowiges in Suid-Afrika
en die grendels van die kerkdeure sal vernietig en verteer word.
Nou mag ons wel vra:
Wat staan tussen die volk en algehele vernietiging?
In Deuteronomium 21 word daar bepaal
hoe daar met ‘n ongehoorsame seun gehandel moet word.
Volgens die wet van die Here soos Hy dit aan Moses oorgedra het,
moet die ongehoorsame seun onder die volk met die dood gestraf word.
Dis die wet van die Here.
Geen ander uitweg nie,
uit en gedaan!
In vers 8 van ons Skrifgedeelte kom daar ‘n wending,
‘n verrassende wending.
Alhoewel die logiese uiteinde van hierdie volk algehele vernietiging is,
alhoewel die wetlike uiteinde van die ongehoorsame seun die doodstraf is,
alhoewel Israel alle reg op voortbestaan verloor het,
ja, volgens elke regsbeginsel het hulle die oordeel op hulle gehaal
en behoort hulle soos die stede van Adma en Seboim vernietig te word.
Hierdie twee stede is saam met Sodom en Gomorra omgekeer
volgens Deuternomium 29,
met vuur en swael en aardbewing omgekeer.
Tog gebeur dit nie!
Nee, die Here sê skielik:
Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim,
Hoe kan Ek jou prysgee, o Israel?
Ons sou verwag dat die Here sou gesê het:
Laat hierdie volk omgekeer word.
Laat hulle omgekeer word soos Adma en Seboim.
Maar nou sê die Here:
My hart is omgekeer in My.
Ek sal dit nie doen nie.
Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim ?
Nou het ons ‘n spanning,
want as die God ‘n regverdige God is,
‘n God wat die sonde nie ongestraf laat bly nie …
wat Sy Heilige wet handhaaf,
dan behoort Hy ons mos om te keer,
heeltemal te vernietig.
Maar Hy sê:
“Nee, Ek gaan dit nie doen nie.”
As Hy getrou is aan sy Woord en sy verbond,
as Hy die Heilige in ons midde is,
dan sal Hy mos die aarde van al die sonde skoon maak,
maar Hy sê:
“Nee, Ek gaan dit nie doen nie.”
Hy sê: “Nee,
want Ek is God en nie ‘n mens nie,
Ek gaan dit nie doen nie …
juis omdat Ek die Heilige in jou midde is.
Juis omdat My heiligheid nie net in My regverdigheid lê nie,
maar ook in My liefde lê,
gaan Ek dit nie doen nie …
Ek is God en nie ‘n mens nie.
“Ek is die Gans Andere
Jy kan My met niks of niemand vergelyk nie.
My optrede gaan die menslike verstand te bowe.”
Met verloop van tyd het hierdie Vader weer ‘n Seun geroep …
‘n Seun uit Egipte geroep,
soos ons in Mat 2 lees …
Waar Israel, die eerste seun, toe hy uit Egipte geroep was,
sy roeping versaak het,
het die Vader opnuut weer Sy Seun uit Egipte geroep.
Hy was ‘n Israelitiese man.
Hy het gekom uit Nasaret
om gehoorsaam te wees,
om getrou te wees.
So soos die volk Israel nooit kon wees nie.
Hierdie Seun het die straf gedra …
die volle straf gedra.
In die plek van die ongehoorsame seun wat die dood verdien het,
in die plek van die volk wat die Vader moes omgekeer het,
het Hy Sy eie Seun omgekeer.
Hy is God
, Broeders en Susters,
Hy is God en nie ‘n mens nie …
want so lief het God die wêreld gehad,
dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,
sodat elkeen wat in Hom glo,
nie verlore mag gaan nie,
maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16).
Onverstaanbaar, onbegryplik!
Maar daar word die twee aspekte van God versoen …
daar op Golgota.
Daar word God se regverdige oordeel versoen,
versoen met God se liefde, God se genade.
Twee onversoenbares, menslik gesproke,
word versoen,
want Hy is God en nie ‘n mens nie.
Hy is die Heilige.
Hy sal getrou bly aan Sy wet.
Hy sal getrou bly aan Sy liefde.
Kyk daar hang die Seun aan die kruis.
Dit is volbring ..
God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het
toe ons nog sondaars was,
skryf Paulus aan die Romeine.
Veel meer dan sal ons,
nou dat ons geregverdig is in sy bloed,
deur Hom gered word van die toorn (Rom 5:8 ev).
Dis God se werk in die geskiedenis,
Geliefdes.
Die Heilige in ons midde, Hy het dit gedoen.
Ons het begin met die kerkvolk in ons tyd
en by hulle moet ons afsluit.
Wat sê die gedeelte vir ons rondom die kerk van ons tyd?
Hier in ons land, vandag?
God se kerk staan onder Sy oordeel.
Daarby gaan ons nie verbykom nie.
Waar daar afval is,
sal die Here ons tugtig,
sal die Here ons getalle minder maak,
soos Hy nog altyd deur die wêreldgeskiedenis gedoen het.
In Israel se tyd was dit net 7,000 wat oorgebly het.
Ballingskap en swaard is die afvallige kerk se voorland.
Maar nou, wanneer ons verder lees in ons Skrifgedeelte,
is dit nie meer die profete wat roep nie.
Nou lees ons in vers 10,
is dit ‘n Leeu wat brul.
Hoekom is dit hier ‘n leeu wat brul?
Die verklaarders is onseker.
Ek dink persoonlik, dis die Leeu uit die stam van Juda.
Hy roep sy volk bymekaar.
van die seekant af …uit Egipte …uit die land van Assiriërs.
Hulle sal agter die Here aan trek …
Dis nou anders as vantevore.
Ons lees die kinders sal sidderende aankom.
Hulle sal sidderende aankom.
In Esra 10:3 lees ons van die kinders wat uit ballingskap teruggekom het,
die volk van die Here,
en hulle het geween met ‘n groot geween
en hulle het gebeef vir die gebod van onse God.
Hulle kon nie anders nie.
Daar was ‘n groot omkeer in die hart van Here,
soos daar later ‘n groot omkeer op Golgota was.
Daarom kan dit nie anders nie …
ook in hulle hart moes ‘n groot omkeer plaasvind.
Hulle staan voor die Here.
Hulle sidder, hulle bewe,
want kyk, Sy wet is nou geskryf
op die vleestafels van die hart.
Sommige in die kerk van vandag lei nog aan geheueverlies.
Hulle sukkel om die verlossing uit Egipte te onthou.
Hulle sukkel om te herken
dat die Here hulle genees het.
Ander het miskien reeds die stem van die Leeu gehoor
en hulle sidder en hulle bewe … en hulle kom.
Hy is God, Broers en Susters,
Hy is nie ‘n mens nie.
Hy is die Heilige in ons midde.
Amen.
Baie belangrike tema – dankie!