Vandag, presies 80 jaar gelede is die eerste volledige Bybel in Afrikaans amptelik in gebruik geneem met feesgeleenthede in Bloemfontein.
U kan meer oor die agtergrond en geskiedenis van die Bybel in Afrikaans hier lees:
In nagedagtenis van hierdie gebeurtenis, plaas ek vandag die volgende artikel, deur Totius (een van die vertalers van die Bybel in Afrikaans 80 jaar gelede):
Die Gesag van die Heilige Skrif, prof. dr. JD Du Toit
As ons bewyse moet lewer vir die Christelike waarheid, word die Skrif aangehaal. Dit is dan die einde van alle teëspreking. Waarom? Wel omdat die gelowige die Skrif erken as die Woord van God en bygevolg as die absolute gesagsbron.
Nou kan egter die verdere vraag gestel word:
“Waaraan ontleen die heilige Skrif sy aansien en gesag?” (vgl. die opskrif van die Belydenis by art 5).
M.a.w. op watter grond steun die onfeilbare gesag van die Skrif?
Ons Belydenis spreek eers van die kanonieke boeke van die bybel. Daaronder word verstaan die boeke “waar niks teen gesê kan word nie” (art. 4). En dan word in art. 5 die vraag beantwoord: Waaraan ontleen die heilige Skrif sy aansien en gesag? Dit is die onderwerp waaroor nou gehandel moet word.
Ons begin met die gronde waarop die gesag van die Skrif prinsipieel nie kan rus nie.
(1) Die Oorlewering
Die oorlewering of tradisie aangaande die Skrif, wat uit die oudste kerk afkomstig is, kan as laaste grond vir die Skrifgesag nie aanvaar word nie.
Ten eerste is die oorlewering nie onfeilbaar nie. Allerlei dwaling in verband daarmee kon in die loop van tyd ingesluip het. Die oorlewering self moet, sover dit nog moontlik is, aan ‘n strenge keur onderwerp word.
Ten tweede is die ouderdom van ‘n boek, gestel dat dit bewys kon word, op sigself nog geen maatstaf om dit in die kanon of bybelgeheel in te lyf nie (vgl. art. 7 van ons Belydenis).
Ten derde sou ons, feilbare mense, moet bepaal hoe lank die oudste tyd moes geduur het.
En ten vierde (dit is die hoofbeswaar), met dit alles gaan ons die feilbare mens aanstel om uit te maak wat die Woord van God is en wat nie, m.a.w. ons plaas die mens bo die Skrif!
Nee, die verdienste van die oorlewering lê in iets anders. Dit was die middel waardeur die Bybel van geslag tot geslag oorgedra is, en die kerk het van eeu tot eeu die bybelboeke ontvang met die mededeling dat dit die geïnspireerde boeke is. Daarom word die tradisie dan ook hoog geag. Maar as kengrond vir die Skrifgesag kan die oorlewering nie in aanmerking kom nie.
(2) Die Apostolisiteit
Die ander grond kan ook nie geld nie, naamlik dat ‘n boek kanonies is, of tot die bybelboeke behoort, omdat dit apostolies is. (Hierdie kenmerk het natuurlik alleen betrekking op die Nuwe Testament.) Al weer dieselfde beswaar; ons feilbare ondersoek na apostolisiteit kan nie die werk van God aangaande die Skrif beoordeel nie. Daarby kom dat van sommige boeke van die Nuwe Testament die apostoliese herkoms nie bewysbaar is nie. Byvoorbeeld, van die Hebreërbrief weet ons nie wie die skrywer was nie.
(3) Historiese Argumente
Ons moet by die hoofvraag aangaande die Skrifgesag ook alle historiese, aan die geskiedenis ontleende argumente afwys. Nogmaals dieselfde beswaar: die werk van God kan van ons feilbare historiese ondersoek nie afhanklik gestel word nie. Bowendien: vir die bewering dat bv. die ontstaan van die Nuwe Testament geskiedkundig bewys kan word, is die gronde nie voorhande nie.
Ons weet ook van geen enkele kerkvergadering wat hom met die afsluiting van die kanon, d.w.s. van die bybelgeheel, as vraagstuk besiggehou het nie. Die sinodes van Hippo Regius 393 en Carthago 397, die eerstes waarop ‘n boekelys van die Skrif saamgestel is, hou hulle nie met die kwessie van gesagsgronde besig nie, maar registreer net die name van die boeke wat alreeds as bybelboeke erkenning erlang het. Die sinodes bewys nie, hulle bely en bewaar net.
(4) Die Outoriteit van die Kerk
Calvyn het al gesê: Dat die heilige Skrif die Woord van God is, staan nie vas deur die kerk nie, maar het vasgestaan voor die kerk se besluit; want die kerk is gegrond op die fondament van die apostels en profete (vgl. dr. H. Bavinck, Dogmatiek deel 1, bl. 626). Ons kan ons dus vir die vasstelling van die Skrifgesag nie op die outoriteit van die kerk beroep nie.
Natuurlik bly dit teenoor ongeloof en twyfel, wat menigvuldig in die wêreld is, ‘n hartsterkende gedagte dat die kerk van alle eeue die Goddelikheid van die Skrif bely het.
Ook in hierdie opsig is daar ‘n “wolk van getuies” wat ons omring om ons te versterk.
Ons staan nie alleen met ons Skrifgeloof nie.
Maar in laaste instansie kan ons belydenis aangaande die Skrifgesag nie steun op die kerk nie, omdat die kerk self gedra word deur die outoriteit van die Skrif.
Hierdie en dergelike bewysvoeringe en argumente het wel hul waarde, wat ons nie wil verkleineer nie. Maar hulle is alleen van waarde vir die gelowiges, d.w.s. vir diegene wat alreeds glo dat die Bybel die Woord van God is. Hulle kom nie om ons tot die geloof te beweeg nie (dit kán hulle nie), maar om ons in die alreeds voorhande geloof te versterk.
Kom die teëstander met sy bewyse, ons het ons teëbewyse. Ons kan hom op gelyke platform ontmoet en met sukses weerstaan. Maar ons moet nie dink dat dáármee die teëstander oortuig en tot die geloof beweeg sal word nie. Ja, die gelowige self kom nie dáárdeur tot sy Skrifgeloof nie. Alles wat van die kant aangevoer kan word, is vir ons getuienisse vir die waarheid van ons geloof, maar geen bewyse nie.
Die posisie teenoor die teëstander word in hierdie woorde deur prof. Greydanus duidelik gestel:
“Ons kan aantoon waarvoor die heilige Skrif hom uitgee, wat hy van homself pretendeer (nl. dat hy die Woord van God is) … . Ons kan ook allerlei bybring wat die waarheid van hierdie selfgetuienis kan steun. Maar wetenskaplik bewys dat hierdie selfgetuienis (van die Skrif) waar is, sodat elkeen met logiese noodwendigheid gedwing word om dit aan te neem, dit vermag ons nie . . . .”
“Maar,” so gaan prof. Greydanus voort,
“nog minder kan iemand wetenskaplik bewys dat die selfgetuienis van die heilige Skrif onwaar is. Ook die verwerping van die selfgetuienis van die heilige Skrif …. is ‘n saak van geloof, nie van wetenskaplike bewys nie” (Schriftgeloof en Canoniek, bl. 11).
Dit is dus duidelik dat ook die teëstander hom in laaste instansie nie laat lei deur sy bewysvoeringe nie, maar deur sy geloof, d.w.s. sy onwilligheid om die duidelike getuienis van die heilige Skrif, van Genesis tot Openbaring, aan te neem dat die bybel die Woord van God is.
Die Getuienis van die Heilige Gees
Hoe kom die gelowiges tot aanvaarding van die getuienis? Ons belydende vaders het in hul Belydenis (art. 5) die antwoord in enkele woorde neergeskrywe. Die Skrif is vir ons die Woord van God, sê hulle, “omdat die Heilige Gees in ons harte getuig dat hulle (die bybelboeke) van God is.”
Laat ons nou hierdie gekursiveerde woorde in hoofpunte oorweeg. Op die regte verstand daarvan kom dit nou aan.
(1) Die eintlike getuienis vir die Goddelikheid van die Skrif is die getuienis wat die Skrif self gee, naamlik dat dit die Woord van God is. Dit is en bly die Woord van God al sou geen mens die getuienis aanneem nie. ‘n Diamant is weens sy inwendige samestelling ‘n diamant, en dit bly ‘n diamant al lê dit ook duisende jare in die aarde verborge.
(2) Van nature kan die mens die koninkryk van God nie sien nie (Joh. 3:3): hy kan die heilsfeite en heilswaarhede nie waarneem nie. Daarom verwerp hy die bybel as die Woord van God.
(3) In die wedergeboorte word in die gelowige die geestelike vermoens herstel en deur die Heilige Gees aktief gemaak. Dan is dit dat die Gees met ons gees getuig dat ons kinders van God is (Rom. 8:16).
(4) Hierdie getuienis betref nie net die Goddelikheid van die Skrif nie. Dit sê ons dat ons kinders van God is en dus deel het aan alles wat God aan sy kinders kenbaar gemaak het, soos bv. dat God drieënig is, dat Christus as die Verlosser gekom het, dat die Heilige Gees uitgestort is in die gemeente, ens.
(5) Die eintlike grond vir ons geloof aan die Skrifgesag is dus die selfgetuienis van die Skrif (vgl. punt 1), maar die getuienis van die Heilige Gees is die middel om ons tot die geloof te beweeg.
(6) Hierdie getuienis is geen aparte stem wat tot ons kom buitekant die Woord om nie, maar dit kom uit en deur die Woord. Die Heilige Gees open ons oor sodat ons dadelik as God spreek sy stem herken. Watter kind is daar wat nie die stem van sy vader ken nie?
(7) Hierdie getuienis gee onmiddellike sekerheid en gaan nie langs die omweg van bewysvoering nie. Daarom het ons al die argumente en redeneringe, wat in die begin van hierdie artikel opgesom is, nie nodig nie as dit op die laaste grond van ons Skrifgeloof aankom.
Die Goeie Reg van ons Uitgangspunt
Die teëstander sal aan ons sê dat ons uitgaan van ‘n beginsel, nl. dat die Bybel die Woord van God is en ‘dat die Heilige Gees daarvan in die harte van die gelowiges getuienis gee; maar, sal die teëstander daarvan toevoeg: julle moet ons éérs die deugdelikheid van die beginsel bewys wat julle as uitgangspunt gekies het.
Ons antwoord is: Nee.
Elke wetenskap gaan uit van beginsels waaragter ‘n mens nie kan teruggryp nie, wat nie bewys kan word nie. Sonder sulke beginsels, as punte van begin, is geen wetenskap moontlik nie. Waarom moet dan net vir die Godskennis ‘n uitsondering gemaak word?
As die teëstander ons bevooroordeeld noem vanweë ons uitgangspunt, dan sê ons dat dit net so bevooroordeeld is om die Bybel aan te sien as ‘n boek wat gelykstaan met ander boeke, terwyl dit tog self sê dat dit die Woord van God is. Dit is hier nie ‘n saak van wetenskap en geloof nie, maar van geloof en ongeloof wat teenoor mekaar staan.
Die outoriteit van die Skrif rus dan ook, soos alle beginsels, in sigself en is vir geen bewys vatbaar nie. Die Skrif moet geglo word om sigself.
Dit is nie onwetenskaplik nie,
“Die band van die siel aan die Skrif as die Woord van God lê agter die bewussyn en onder die bewyse; dit is mistiek van aard net soos die geloof aan die principia (beginsels) in die verskillende wetenskappe” (Bavinck, Dogmatiek, deel 1, bl.634).
As iemand die lig sien, soek hy daarvoor geen bewys nie. Hy sal u sê: Ek weet dat daar lig is, want ek sien dit. Hoe weet ‘n lammetjie, al van die eerste dag af, dat sy ma sy ma is? Wel, omdat dit sy ma is!
So ook weet die gelowige dat die Bybel die Woord van God is, want hy hoor daarin die stem van God.
Die verskillende wetenskappe het wel, volgens hul verskillende aard, verskillende soorte beginpunte en verskillende metodes waarvolgens gewerk word, maar in die grond van die saak is dit, soos prof. Bavinck sê: die geloof aan die grondbeginsels is altyd mistiek van aard.
Die Getuienis van Christus
Die aanspraak wat die Skrif maak dat dit die Woord van God is, word ten volle deur die outoriteit van Christus gedek. Glo ons in Christus as ons hoogste Profeet, dan moet ons ook sonder twyfeling sy woord aangaande die Skrif aanneem.
Van die Ou Testament het Hy gesê:
“Dit is die (die Skrifte) wat van My getuig” (Joh.5:39). “Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle (die Emmausgangers) uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Luk. 24:27).
Die Ou Testament is die onfeilbare Woord van God aangaande die verlossing wat aan kom was, en daarom moes dit in Christus vervul word.
Ook die Nuwe Testamentiese Skrifte het Hy gewaarmerk deur aan sy apostels te sê:
“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8). “Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, Hy sal julle in die hele waarheid lei” (Joh. 16:13).
Waaroor gaan die Gesag van die Skrif?
Die gesag gaan oor alles.
Die punt is deur die skrywer van hierdie stuk breër uitgewerk in sy brosjure “Die Bybel is die Woord van God” (No. 1 van die Verkennersreeks). Daarheen word die belangstellende leser verwys.
Ons sal hier alleen oorskrywe die woorde van ds. J. Verkuyl wat daar uit sy brosjure “Evangelisatie onder hoogere standen” (bl. 30, 31) aangehaal is. Hy sê dat die verkondiging van die Evangelie totalitêr moet wees, d.w.s. Jesus Christus roep ons in die bybel op tot geloofsgehoorsaamheid op alle fronte van die lewe.
En dan bestry hy ‘n dwaling wat ook onder ons sy triomfe gevier het, wat in algemeen met die naam “metodisme” aangedui kan word. Hy sê:
“Een van die bedenklikste verskynsels in die situasie van die hedendaagse Christendom is dat daar soveel ‘Christene’ is wat die konsekwensies van hul geloof nie sien vir hul hele lewensopenbaring op alle gebiede waarin God hulle plaas nie.
“So ‘n Christendom moet op ‘n vergissing berus. Die vergissing skyn my hierin te lê dat die Evangelie aan sulke mense alleen as ‘n gemoedsaak gebring is en nie duidelik genoeg aangedring is op bekering oor die hele linie van die lewe nie. Die enigste moontlikheid om die gevaar te besweer, is ‘n egte Calvinistiese, d.w.s. totalitêre (allesomvattende) verkondiging van die Woord van God, waarin opgeroep en saamgestry word om die erkenning van Christus as die Here in alle situasies en funksies van die lewe.” (Die kursiveringe is van ons afkomstig.)
Dit is mooi gesê.
Maar om Christus as Here oral en altyd te erken, moet ons buig onder die gesag van die Skrif wat oor ons hele lewe en oor alles gaan.
Helaas, baie van die ellende wat ons in ons volksbestaan belewe het, kom daaruit voort dat die Evangelie onder ons “alleen as ‘n gemoedsaak” verkondig is. Dit het tot gevolg gehad dat die Bybel, die gesagdraer, van die publieke lewensterreine òf geheel òf gedeeltelik uitgesluit is. Dit is inderdaad ‘n droewe toestand, gesien dat ons op die kwalifikasie “Calvinisties” graag ons aanspraak laat gelde.
Mag dit nou eenmaal en eindelik onder ons anders word !
As die mens tog net tot insigte kom dat wel die Woord van God is,dit sal sien as sy resepteboek deur sy lewe wat hy mildelik uit die hand GOD ontvang het.Die mens word nie gemaak nie maar wel geskape soos wat dit in DIE WOORD opgeteken staan.Maar nou hoeveel van te nuwe vertalings het die metodistiese invloed laat geld,om dit so te skryf dat dit die mens na die oorspreek instede om die WOORD daar te stel en onveilbaar te maak.