Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens
Hoofstuk 16. Samuel deur sy moeder van God afgebid
“En by die wisseling van die jaar het Hanna wat swanger was, ‘n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die Here gebid” (1 Sam. 1:20).
Vrouenood by veelwywery.
Dit gaan hier om Hanna se huweliksnood en vreugde.
Haar man Elkana was vir beide verantwoordelik – haar verdriet en haar vreugde.
Hy het haar liefgehad – dit was haar vreugde.
Maar hy het ook ‘n tweede vrou gehad, Peninna – en dit was beide Hanna en Peninna se verdriet.
Peninna het smarte beleef omdat sy Elkana se tweede keuse was.
Hy het Hanna meer liefgehad as vir haar. Hoe kon dit ook anders? God het ons so geskape: man en vrou – één man en één vrou.
Ongelukkig het daar al baie water in die see geloop sedert die wreedaard en wellusteling, Lameg, vir hom twee vroue geneem het.
Veelwywery was in die tyd van Elkana ‘n algemene gebruik. Die Here het dit selfs nie verbied nie. Uit die gevolge daarvan kon die volk egter sien dat dit ‘n euwel was. Dit hoort nie so nie. Alreeds in vader Jakob se huis was daar verdriet en jaloesie tussen die susters Lea en Ragel.
Vrouewraak.
Ongelukkig wreek die vroue hulle in hulle jaloesie op mekaar. En hulle kon nie van mekaar af wegkom nie – hulle was albei aan dieselfde man gebonde.
Peninna is in een opsig meer bevoorreg as die meer geliefde Hanna. Sy het vir Elkana kinders gegee en Hanna was kinderloos. En dit is steeds vir enige vrou nie maklik om kinderloos te wees nie. Destyds was dit nog veel erger. Dit is selfs as ‘n straf van die Here beskou, wanneer Hy die moederskoot sluit.
Hierdie wapen gebruik Peninna teen Hanna. Sy steek haar triomf met ‘n kindjie op haar skoot, of omring deur haar kindertjies,
nie onder stoele en tafels weg nie. Sy pynig Hanna selfs met neerhalende spot en sinspeel daarop dat God die voortrekkery van Hanna deur Elkana op haar wreek. Sy het Hanna bitterlik geterg om haar te vertoorn, omdat die Here haar moederskoot toegesluit het.
Elkana het sy bes gedoen om Hanna te troos. Hy bewys aan haar besondere gunsies – selfs voor Peninna. By die jaarlikse offermaaltyd in Silo gee hy aan Hanna ‘n dubbele porsie van die offervleis. Peninna het haar selfs so geterg dat sy van verdriet huil en weier om te eet.
Elkana probeer troos:
“Hanna, waarom ween jy? Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie” (1 Sam. 1:8).
Dit sou normaalweg so wees, indien Hanna sy enigste vrou was. Kinderlose huwelike kan ook gelukkige huwelike wees. ‘n Man en vrou
kan mekaar gelukkig maak in hulle liefde vir mekaar – ook sonder dat daar kinders is.
Sy bid en ween bitterlik.
Hier was Elkana se liefde egter nie genoeg nie. Op die agtergrond was altyd die ander vrou, met haar neerhalende spot.
Hanna kon dit nie meer verduur nie.
Sy staan vinnig op van die offermaaltyd en vlug.
Gelukkig vlug sy na die Here toe. Sy gaan na die tabernakel en stort haar verdriet uit voor Hom wat weet en sien en kan help.
“En bitter bedroef het sy tot die Here gebid en bitterlik geween; en sy het ‘n gelofte gedoen en gesê: Here van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en aan my ‘n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die Here gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie” (1 Sam. 1:11).
Die seuntjie sou dus soos Simson ‘n “nasireër van God” wees – van sy geboorte af.
Gelukkig is die moeders wat ook sulke geloftes doen of voornemens in hulle harte dra, wanneer hulle kindertjies verwag.
“Ek sal hom of haar aan die Here gee. Ek sal hom vir die Here grootmaak.”
Eintlik doen ons almal die gelofte wanneer ons ons kleintjies laat doop. Dan lê ons immers die “doopsbelofte” af, wat juis dit inhou.
Die Here verhoor.
Ou Eli, die hoëpriester, het die vrou sien binnekom. Hy het haar stilweg sit en dophou. Hy sien haar op die grond lê en prewel en huil. Eindelik kon hy die skouspel nie meer verdra nie. Hy sê vir haar:
“Hoe lank wil jy jou soos ‘n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg” (1 Sam. 1:14).
En Hanna vertel:
“Nee my heer, ek is ‘n vrou beswaard in my gemoed: Wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die Here uitgestort” (1 Sam. 1:15).
Eli se priesterhart is geraak:
“Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het” (1 Sam. 1:17).
En sy het gegaan en die Here het aan haar gedink.
By die wisseling van die jaar is vir haar ‘n seuntjie gebore. En sy het hom Samuel genoem:
“Want, het sy gesê, ek het hom van die Here gebid.”
Dit is die verhaal van Hanna se verdriet en vreugde.
Of sy dit nog kom belewe hoe die Here Samuel gebruik as profeet en rigter van Israel, word nie aan ons vertel nie.
Een ding is seker: Samuel het ‘n moeder gehad wat kon bid en haar gelofte aan die Here betaal het.
Samuel staan daar as ‘n toonbeeld van God se genade en ‘n baken in die Openbaringsgeskiedenis.
Sy moeder se gebede en geloof is nie beskaam nie.
Salig is die vrou wat haar kinders van die Here afbid en aan die Here teruggee, soos Hanna gedoen het.
Hoofstuk 17. Eli, die swak vader met tuglose kinders
“want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie” (1 Sam. 3:13).
Ikabod!
Eli, die hoëpriester, en sy twee seuns, Hofni en Pinehas, het op een dag gesterf. . .
Op die dag is Israel deur die Filistyne verslaan en die ark van die Here deur hulle weggevoer.
Op die dag het Eli se skoondogter ook geboorte gegee aan ‘n seun en sterwende die seuntjie “Ikabod” genoem want:
“Weggevoer is die eer uit Israel!” (1 Sam. 4:21).
En die oorsaak van al die ellende het daar begin: by die sonde van die priesters Hofni en Pinehas en by hulle vader wat hulle nie behoorlik bestraf het nie.
Dit het God se toorn oor die hele Israel gebring.
Die hoëpriester sondig nie goedkoop nie. Geen mens sondig goedkoop nie, veral nie ‘n leier van die volk, in watter hoedanigheid ook al nie. . .
Waak oor eie huis.
Die hoëpriester het ‘n groot verantwoordelikheid: hy moet waak oor die heiligdom en die heilige erfdeel van die Here, sy volk. Maar hy moet ook waak oor sy eie huis.
Hy en sy huis moes ‘n voorbeeld wees vir die hele volk.
Vanselfsprekend geld dit van elke ampsdraer van sy volk, maar ook van die ampsdraer in die kerk van die Here:
” ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” (1 Tim. 3:2,4,5).
Eli se seuns was priesters in die heiligdom van God.
“Maar die seuns van Eli was deugniete; hulle het die Here nie erken nie . . . En die sonde van die jong manne was baie groot voor die aangesig van die Here, want die mense het die offer aan die Here verag” (1 Sam. 2: 12, 17).
Deur die verkeerde voorbeeld van die priesters is die volk verlei om die offer aan die Here te verag.
Dit kan immers nie anders nie. Die priesters het ‘n verkeerde voorbeeld gestel. En die volk het hulle daarin nagevolg. So is die offer verag en die Here self verag deur sy volk – as gevolg van die voorbeeld van die priesters.
Wanneer dit so gaan met ‘n volk of kerk, dan kom daar altyd verval. God verlaat sulke mense. Hy vertoorn Hom oor hulle.
Sonde se bose vrugte
Eli het wel gepraat met sy seuns, maar hy het hulle nie streng bestraf nie.
Daar kom selfs ‘n onbekende profeet by Eli en kondig die oordeel van die Here oor hom en sy nageslag aan. Die Here sou die priesterskap van hulle wegneem – vir altyd:
“En dit sal vir jou die teken wees wat oor jou twee seuns, oor Hofni en oor Pinehas, sal kom: Op een dag sal altwee sterwe” (1 Sam. 2:34).
Selfs die jong Samuel, vir wie Eli baie lief was, het ‘n profetiese woord ontvang dat die Here Eli en sy huis sal tref met sy oordeel. En Eli se reaksie was maar net:
“Hy is die Here; laat Hom doen wat goed is in sy oë” (1 Sam. 3:18).
En dan kom die oordeel . . .
Israel word in ‘n veldslag verslaan deur die Filistyne.
En die oudstes van Israel gee bevel dat die verbondsark na die slagveld gebring moes word.
En Hofni en Pinehas bring die ark.
So meen Israel en sy priesters om die lewende God te dwing om hulle te beskerm.
Wat ‘n vreeslike misverstand. Eintlik maak hulle van die ark van die Here ‘n afgod. Hulle meen dat hulle God “self” die laer indra. Asof ‘n mens God op so ‘n wyse kan forseer om saam te speel! Die ark is bloot ‘n teken dat God in die midde van sy volk woon. Dit is nie God self nie en Hy is ook nie gebonde aan die ark nie. Net soos ‘n mens by die nagmaal vir jouself tot ‘n oordeel die brood en wyn kan eet en drink, so het hierdie mense die ark vir hulleself tot ‘n oordeel na die slagveld gebring.
Die uiteinde is dat Israel verslaan en die ark weggevoer is na die land van die Filistyne.
Die twee seuns van Eli sterf albei in die veldslag.
‘n Boodskapper kom in Silo aan. Hy vertel van die veldslag en van die dood van Eli se twee seuns. Eli sit in sy ouderdom op ‘n stoel aan die kant van die pad. Hy hoor alles:
“Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het” (1 Sam. 4:18).
Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was vér heen in haar swangerskap. Toe sy die tyding hoor van die volk wat verslaan is, haar man en sy broer se dood en die ark wat weggevoer is, begin haar barensweë.
Sy gee geboorte aan ‘n seuntjie en kon hom nog in haar eie sterwensnood “Ikabod” noem en sê:
“Weggevoer is die eer uit Israel . . .”
‘n Vader wat die roede spaar, het sy kind nie lief nie.
Eli se swakheid het dit ten gevolge dat God sy volk oorgee aan die Filistyne . . .
En die ark van die Here is in die vreemde heidense land – inderdaad ‘n teken van die werklikheid dat God sy volk verlaat het.
Dit moet elke volk- en kerkleier onthou.
Kan hy sy eie huis nie regeer nie, hoe kan hy dan oor kerk of volk regeer?
Maar Eli is ook die tragiese voorbeeld van elke vader wat nalaat om sy kinders te tug.
Die Bybel leer ons dat die sogenaamde “permissiwiteit” ‘n gevaarlike lewenshouding is.
‘n Ouer en ‘n leier het ‘n groot verantwoordelikheid.
‘n Sagte heelmeester maak stinkende wonde.
Leave a Reply