Lees: Romeine 14
Prediker: ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)
Inleiding
Geliefdes, in Rom 14:1-5 en ook in die res van Rom 14-15 is Paulus besig met ‘n baie belangrike saak.
Bewys[1]
Want Paulus skryf hier oor die eenheid van die kerk.
Hy skryf oor die eenheid van gelowiges in Christus.
En dis nodig dat hy daaroor skryf.
Want by gelowiges in Christus is daar baie maal verskille.
En dit kan onenigheid veroorsaak, die kerk uit mekaar laat skeur.
Verduidelik[2]
So was dit in die kerk in Rome.
Daar was die “wat swak is in die geloof” vertel vers 1.
Vers 2 sê hulle eet net groente.
Rom 15:1 vertel van die sterkes.
Hulle “glo dat ‘n mens alles mag eet” vertel Rom 14:2.
Opmerking
En toe ons verlede maand inleidend na Rom 14-15 gekyk het,
kon ons meer leer oor die waarom van hierdie verskille.
En net-nou sal ons weer daarop ingaan.
So, ons gaan nie nou meer daaroor sê nie.
Wat ons wel nou moet raaksien is dat hierdie verskille spanning bring.
Vers 3-4 vertel van veragting, verkleinering en veroordeling van mekaar.
Alles dinge wat die eenheid bedreig.
**************
Toepassing[3]
En weet u: By ons is daar ook maar sulke probleme.
Ons het laas keer die voorbeelde genoem:
– van party van ons wat glo dat ons net Psalms moet sing,
ander glo weer dat ons meer moet sing.
– party van ons glo nie jy hoef Kersfees of Goeie-Vrydag te vier nie,
vir ander is dit dalk weer ‘n moet.
En ek dink ons sal die lysie langer kan maak.
So ja, ook by ons is daar verskille.
*******************
Maar nou los Christus ons nie hierin nie.
Nee, deur sy apostel gee Christus in Rom 14-15 die manier waarop ons verskille moet hanteer,
sodat alles nie in onenigheid uitmekaar bars nie.
En dit gaan ook ons tema wees vandag, en ook in die res van ons preke uit Rom14-15:
Die belangrikheid van eenheid en ons hantering van verskille. |
***************
Terugblik
Nou, laas maand het ons begin om hieroor te leer.
Ons het toe inleidend gekyk wat Paulus leer in Rom 14-15.
Opmerking
En kom ons verfris net baie vinnig ons gedagtes hieroor.
A. Ons kon meer leer oor die plek van Rom 14-15 in Romeine,
en sien dat die hele saak van eenheid en die hantering van verskille tussen gelowiges in Christus
alles te maak het met ons nuwe lewe in Christus,
waaroor Paulus ons so deeglik onderrig in Rom 1-11.[4]
Verduidelik[5]
Ja, Paulus leer ons in Rom 1-11 dat ons deur die geloof in Christus ingelyf word,
sodat ons in Christus radikaal nuut kan lewe vir God.
Daarom dat ons verskille op ‘n radikaal nuwe manier moet hanteer.
Heel anders as toe ons nog slawe van die sonde was.
En presies hieroor leer Paulus in Rom 14-15.
B.[6] Ons kon ook leer dat die hantering van ons verskille begin by ons wat mekaar moet aanneem.
Rom 14:1 en Rom 15:7 sê dit.
C.[7] Ons kon ook meer leer oor die grense van aanneem.
Want dit het ons ook raak gesien:
Die kerk is nie ‘n plek waar alles en almal nou maar aanvaarbaar is nie.
****************
Maar goed: Dit was alles regtig inleidend.
Vandag wil ons met ‘n fyner oor begin luister in vers 1-2 en vers 5
na wat Christus ons deur sy apostel leer oor
Die belangrikheid van eenheid en ons hantering van verskille. |
En dan gaan ons by die verklaring en toepassing van vers 1-2 en vers 5 stil staan by
- Neem mekaar aan – die begin punt by die hantering van verskille
- Die situasie waar binne die Romeinse kerk dit moes doen
- Die uitsondering op die reël.
- En die toepassings vir ons.
****************
1. So, ons begin by: waar alles moet begin.
By: Neem mekaar aan waarvan vers 1 vertel.
Opmerking
Verlede keer het ons ook by vers 1 stil gestaan het.
En nou gaan ons weer.
Maar ek dink tog dis belangrik.
Want as ons in meer detail wil luister na wat Paulus vir ons sê oor die hantering van verskille
dan is dit belangrik dat ons die begin van die hantering van verskille goed verstaan.
So, kom ons kyk weer mooi na vers 1 wat sê:
“En neem hom aan wat swak is in die geloof …”
Verduidelik[8]
So begin die hantering van ons verskille by ‘n Bybelstudie?
Of: by ‘n preek-reeks?
Of: by die swakke in die geloof wat huisbesoek ontvang?
Wel al hierdie dinge is belangrik.
Maar dit is nie waar ons moet begin nie.
Nee! Paulus sê: “neem hom aan wat swak is in die geloof …”
Opmerking
En ons sal net-nou meer leer oor die swakke in’ie geloof.
*************
Maar vir nou is dit belangrik om raak te sien dat ons hantering van verskille begin by “neem hom aan …”
In Rom 15:7 sê Paulus: “Neem … mekaar aan …”
So dit is waar dit begin. Op geen ander plek nie.
Verduidelik[9]
En aanneem beteken ons aanvaar ons mekaar.
Ons laat mekaar welkom voel.
Ons skuif mekaar nie uit nie.
Ons staan mekaar by en vat mekaar saam.
En ons hou daar mee aan.[10]
En by dit alles gryp dit ons aan as Paulus in Rom 15:7 sê:
“Neem … mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het …”
Verduidelik[11]
So Christus moet ons Voorbeeld wees.
Ja, ons nuwe lewe wanneer ons verskille hanteer moet die lewe van Christus wees.
Ons moet Christus na mekaar toe leef.
En dan moet ons mekaar aanneem “soos Christus ons ook aangeneem het.”
Skrif met Skrif
En hoe het Christus ons nie net aangeneem nie!
Hy het ons kom aanneem
Ons wat so skrikwekkend anders was as Hy.
Hy was heilig. Hy was totaal sondeloos.[12]
En ons? Ons was so anders.
“ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Vertel Tit 3:3.
En Christus? Wel, Hy het ons aangeneem.
Luk 15:2 vertel dat Christus “sondaars ontvang (het) en saam met hulle (geëet het).”
*************
Toepassing
Nou as Christus ons wat so skrikwekkend-sondig-anders as Hy was
aangeneem het, sal ons dan nie mekaar aanneem nie?
Ja, ons moet ! Dis hoe ons nuwe lewe in Christus lyk.
Ek neem ‘n ander gelowige wat van my verskil aan.
Want as ek in Christus is, word Christus-se-aanneem al meer ‘n werklikheid in my.
**************
Ja, die hantering van ons verskille begin by:
“Neem mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het” soos Rom 15:7 vertel.
En by: “neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie” soos Rom 14:1 vertel.
En dan’s hierdie laaste woorde van Rom 14:1 net so belangrik.
Ja, ons moet nie mekaar aanneem net om dan maar weer oor (mekaar se) gevoelens te oordeel nie.
Verduidelik
En wat Paulus hier sê beteken dat ons mekaar nie moet aanneem en dan met mekaar begin stry oor ons verskillende standpunte nie.[13]
Nee! Los dit eers. Want wat gaan gebeur is dat ons net al hoe vaster gaan raak in ons standpunte.[14]
Maar wanneer ons mekaar aanneem soos Christus ons aangeneem het dan kom daar rustigheid.
Daar kom vrede.
En dan?
Wel, dan kan Christus deur sy Gees en Woord begin onderrig in die erediens, in Bybelstudies
“totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God …”
Soos Paulus daaroor praat in Efes 4:13.
*****************
2. So, dis waar die hantering van verkille begin.
Dit begin by: neem mekaar aan. Rom14:1 leer dit.
Maar gaan ons nou van vers 1 na vers 2 en vers 5
kom ons by ons tweede punt waaroor dit gaan:
Die situasie waarin die Romeinse kerk mekaar moes aanneem.
Opmerking
En dis belangrik om hierdie situasie goed te verstaan.
Want dit help ons wanneer ons verder in Rom 14-15 leer oor:
Die belangrikheid van eenheid en ons hantering van verskille.
So, ons begin by vers 2 wat sê:
“Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente.”
Verduidelik
Nou, die wat glo dat ‘n mens alles mag eet
is die sterkes in die geloof.[15]
Teenoor[16] hulle staan die swakkes in die geloof.
Hulle eet net groente.
So, dit is die situasie in die Romeinse kerk.
Hier is hierdie twee groepe met verskillende standpunte.
***************
Maar kom ons leer meer oor hierdie twee groepe.
Want dan gaan ons hierdie situasie ook beter verstaan.
A. En ons fokus eerste op die sterkes.
Hulle “glo dat ‘n mens alles mag eet …” sê vers 2.
En nou is dit baie belangrik dat die sterkes glo dat jy alles kan eet.
Want in die Romeine-boek is geloof baie belangrik.
En dis altyd geloof in Jesus Christus.[17]
Verduidelik
- Dis altyd geloof wat besef dat ons totaal verdorwe en verlore is.[18]
- Dis altyd geloof wat besef dat Christus ons enigste Verlosser is.[19]
- Dis altyd geloof wat besef dat ek regverdig kan staan voor God net as ek uit genade alleen deur die geloof in Christus ingelyf is.[20]
- Dis altyd geloof wat besef dat ek alleen in Christus ‘n nuwe lewe vir God kan leef.[21]
- Dis ook hierdie geloof wat in Christus groei in geloofskennis en geloofsoortuiging.[22]
Ook in die geloofskennis-en-oortuiging waarvan Paulus praat as hy in Rom 14:14 sê:
“Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks (ook geen kos) op sigself onrein is nie …”
Verduidelik
So die sterkes in die geloof wat alles eet het dieselfde geloofskennis-en-oortuiging van Paulus as hy in Rom 14:14 sê:
“Ek … is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie …”
En hierdie geloofskennis-en-oortuiging kom bv uit Kol 2:16-17 waar Paulus leer dat Lev 11 waar God wette gee oor rein-en-onrein kos vir sy OT-kerk,
“’n skaduwee (of heenwysing[23]) is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
Of ons kan ook sê: die vervulling van daardie heenwysende-wette is Christus.[24]
So hulle het die geloofskennis gehad dat Christus se verlossingswerk daardie heenwysende OT-wette van rein-en-onrein kos vervul het.[25]
En dat ons nie meer nodig het om dit te onderhou nie.
Ja, hulle het die geloofskennis gehad dat Christus nou in die NT vir ons vryheid gee om alles te eet.[26]
En dan het hulle ook met geloofsoortuiging hierdie vryheid uit geleef.
Daarom dat vers 2 sê dat hulle “glo dat ‘n mens alles mag eet …”
*************
B. So was dit ook met al die OT-feesdae en spesiale Sabbat-dae.
Die sterkes in die geloof het die geloofskennis-en-oortuiging gehad dat dit alles in Christus vervul is.
Oortuiging
Paulus leer dit bv ook in Kol 2:16-17 en Gal 4:8-11.
Ja, hulle het geweet dat al dae wat ons nou moet onderhou
die ses dae werk en een dag rus is wat God by sy skeppingsorde ingestel het.
En in sy 10 gebooie verorden het.[27]
Bewys
Daarom dat vers 5 sê dat hulle “al die dae gelyk ag.”
****************
Gevolgtrekking
So sien u?
Die sterkes in die geloof in die kerk in Rome het die geloofskennis gehad
dat Christus vir ons al die rein-en-onrein-wette en al die spesiale-feesdae-wette vervul het.
Want al daardie wette het heengewys na Christus en is vervul in Christus.
Hulle het dus die geloofskennis gehad dat ons nou vry is om te eet wat ons wil.
En bevry is van die onderhouding van al die spesiale OT-feesdae.
En in geloofsoortuiging het hulle hierdie vryheid uitgeleef.
****************
C. Maar nou was dit nie al wat in die kerk in Rome aan die gang was nie.
Nee, daar was ook die wat swak was in die geloof.
En vanuit hulle swak-wees-in-die-geloof het hulle geleef.
En daarom heel anders as die sterkes in die geloof.
So daar was ‘n verskil in die manier van dink en doen tussen die sterkes en die swakkes.
Vers 2 sê “hy wat swak is, eet groente.”
En vers 5 sê dat hulle “die een dag bo die ander ag …”
Verduidelik[28]
En nou tree die swakkes in die geloof so op nie omdat hulle ongelowig is nie.
Nee! As vers 1 sê dat hulle “swak is in die geloof”
dan beteken dit beslis nie dat hulle ongelowig is nie.
Nee! Hulle is gelowig.
En net soos die sterkes in Christus deur die geloof.
Maar wat hulle swak-wees-in-die-geloof dan wel beteken
is dat hulle nog nie die geloofskennis-en-oortuiging gehad het
dat Christus nou vryheid gebring het oor wat jy kan eet.
En dat Christus ons vry gemaak het van die onderhouding van al die OT-feesdae.
Daarom sê vers 2 dat hulle net groente eet.
Opmerking[29]
Heel waarskynlik omdat hulle Joodse Christene was wat bang was dat daar in ‘n heiden stad
soos Rome nie rein vleis te kry was nie.
En daarom sê vers 5
dat hulle nog verskillende dae belangriker geag het as die ander.
Dis omdat hulle nog nie die geloofskennis-en-oortuiging gehad het
om die vryheid wat Christus gebring het te beleef en uit te leef nie.
Dis wat swak in die geloof beteken.
****************
So, sien u die situasie?
Hier’s hierdie twee groepe.
Hulle is almal werklik gelowig, maar daar is tog verskille.
En hoekom?
Wel, omdat die swakkes nog nie die geloofskennis-en-oortuiging het dat:
- Christus ons vryheid gee oor wat ons mag eet.
- En dat Christus ons bevry het van onderhouding van die OT-feesdae.
Oorgang
En hierdie verskil was ernstig.
Dit gaan tog oor die vryheid wat Christus kom gee het.
En hierdie verskil het spanning veroorsaak.
Dit het die eenheid bedreig.
En waar begin die oplossing?
Wel, Paulus sê in Rom 15:7 dit begin by:
“Neem … mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het …”
En in Rom 14:1 sê hy: “neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie.”
****************
Maar nou is hier tog ook ‘n uitsondering.
Hier word moet tog ook grense getrek word.
In die kerk kan alles nie maar net aanvaar word nie.
En die apostel Paulus self leer dit.
Opmerking
En verlede maand toe ons inleidend na Rom 14-15 gekyk het het ons dit ook raak gesien.
Maar kom ons gaan nou in meer detail hierop in.
3. En met dit gesê kom ons by ons derde punt
wat daaroor gaan dat terwyl die sterkes in die geloof in die kerk in Rome
die swakkes in die geloof moet aanneem daar tog ook uitsonderings op hierdie reël is.[30]
Opmerking
En oor hieroor leer ons as ons vers 2 en vers 5 vergelyk met ander plekke in Paulus se briewe
wat ook oor die sake van vers 2 en vers 5 se kos en dae gaan.
****************
A. Nou vers 2 sê dat die swakkes in’ie geloof net groente eet.
Vers 1 sê dat die sterkes hulle moet aanneem.
Maar nou’s daar ‘n uitsondering.
Bewys
Want as die swakkes net groente wil eet
omdat hulle soos Paulus daaroor praat in 1Tim 4:1-3
“van die geloof afvallig (geword het) en verleidende geeste en leringe van duiwels (aanhang) … wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het …”
maw dat jy jou rug moet draai op God se goeie skeppingsorde,[31]
dan mag ons hierdie veragting van God se goeie skeppingsorde glad nie aanvaar nie.
Dit mag nie geduld word nie.
In liefde moet die dwaling uitgewys word.
Paulus leer so in 1Tim 4:6.[32]
****************
B. En as die swakkes net groente eet??
Soos vers 2 vertel omdat hulle soos sommiges in die kerk in Kolosse is
van wie Paulus in Kol 2:20-23 vertel wat leef asof hulle “nog in die wêreld lewe,
onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? …
volgens die gebooie en leringe van mense, wat … in eiesinnige godsdiens … geen waarde het nie …” ??
Wel, dan kan ons dit nie aanvaar nie.
Verduidelik[33]
Want hierdie dwaling in Kolosse was die dwaling dat jy alleen kan vorder op die pad van heiligmaking as jy besig is met al hierdie selfuitgedinkte wette oor wat jy mag eet en wat nie.
Dit terwyl Christus ons in Joh 15:5 leer en sê: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug (van heiligmaking); want sonder My kan julle niks doen nie.”
Ja, wat ons nodig het vir ‘n lewe van heiligmaking is nie ons eie uitgedinkte eiewillige Godsdiens nie.
Nee! Ons het Christus nodig. En Hom alleen! Want sonder Hom kan ons niks doen nie.
***************
Saamvat
So sien u:
Wanneer iemand daar in die kerk van Rome net groente eet, omdat:
- Hy sy rug op God se goeie skeppingsorde draai;
- Of omdat hy daarmee sê
dat ons vir ons lewe van heiligmaking nie net vir Christus nodig het nie
maar ook ons eie eiewillige uitgedinkte wette;
dan kan ons dit nie aanvaar nie.
En iemand wat hierin volhard kan ons nie aanneem nie.
****************
C. En as die swakkes in die geloof sekere spesiale feesdae hou??
Soos vers 5 vertel omdat hulle besig is met dieselfde dwaling
van sommiges in die kerk in Galasië sodat Paulus in Gal 4:9-11 vir hulle moet sê:
“hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?
Julle neem dae en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.” ??
Wel, dan kan dit nie maar net aanvaar word nie.
Verduidelik[34]
Want hierdie dwaling het geleer dat jy nie uit genade alleen deur die geloof in Christus alleen gered word nie.
Nee! Daarby moet jy ook allerhande OT-wette onderhou soos bv spesiale feesdae.
****************
So, sien u:
Paulus leer die kerk in Rome in vers 1 dat die oplossing van hulle verskille begin by:
“neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie.”
Maar dan is daar uitsonderings. Of: Daar is grense.
- ‘n Veragting van God se skeppingsorde mag nie aanvaar word nie.
- ‘n Leer wat sê dat Christus nie genoeg is vir ons lewe van heiligmaking nie mag nie aanvaar word nie.
- En ‘n leer wat sê dat Christus nie genoeg is vir ons verlossing nie mag nie aanvaar word nie.
***************
Maar hiermee was die swakkes in die geloof in Rome nie besig nie.
Want, Paulus praat nie hieroor in Rom 14 nie.
Nee, hulle probleem was dat hulle nog nie die geloofskennis-en-oortuiging gehad het dat Christus hulle vryheid gegee het om alles te kan eet nie.
En dat Christus hulle vrygemaak het van die OT-feesdae nie.
Maar beslis het hulle nie God se skeppingsorde verag nie.
En ook nie Christus alleen vir hulle verlossing en heiligmaking nie.
En dan?
Wel dan maak die vryheid wat Christus gee en wat die sterkes in die geloof verstaan het
juis dat hulle hul swak broeder en susters kon aanneem.[35]
Opmerking
En hieroor sal ons nog meer leer soos ons vorder deur Rom 14-15.
*****************
4. Maar wat sê dit wat ons nou sover geleer het vir ons in ons hier-en-nou situasie?
Ja, wat is die toepassings vir ons.
En hiermee gaan ons afsluit.
Wel geliefdes, ek dink daar’s drie toepassings.
A. Die eerste is dat die oplossing van ons verskille begin by Rom 14:1 en Rom 15:7 se:
“neem … mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het.”
En by niks anders nie.
Selfondersoek
En nou is die vraag vanoggend vir my en vir u geliefde:
Het Christus al vir my en vir u aangeneem?
Het Hy geliefdes?
Het Jesus ons al na Hom toe getrek met sy roepstem van:
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” [36]
En het ons toe gegaan en ook vir Jesus aangeneem?
Verduidelik
Want dis hoe ons sekerheid kry dat Jesus ons aangeneem het.
Want Jesus het eenmaal in Joh 6:37 gesê:[37]
“Al(mal) wat die Vader My gee (in die uitverkiesing[38]), sal na My toe kom (wanneer Ek hulle roep[39]);
en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”
Maar altyd aanneem!
Maar dan sal ons ook begin om mekaar aan te neem.
Want as Christus se aannemingswerk ‘n werklikheid is in my lewe
dan word ek ‘n nuwe mens wat ander begin aanneem, soos Christus my aangeneem het.
Ja, dis ‘n merkteken van elkeen vir wie Christus aangeneem het.
****************
B. Maar daar’s ook ‘n tweede toepassing.
Want om mekaar aan te neem beteken om mekaar regtig te aanvaar.
Dit beteken om mekaar regtig tuis te laat voel en nie sommer te veroordeel nie.
En weet u: Deel daarvan is dan om in rustigheid terwyl ons mekaar aanneem
mekaar se standpunte beter te leer ken en te verstaan.
Nie noodwendig begin om daarmee saam te stem nie, maar te verstaan.[40]
Verduidelik
Ek begin bv uitvind waarom party net Psalms wil sing.
Of waarom party meer as net Psalms wil sing.
Ek probeer om met ‘n gesindheid van aanneem agter te kom wat daar agter sit.
Ek probeer agterkom waarom party gelowiges glo dat dit nie nodig is om bv Kersfees te vier nie.
Ek hoor ook met ‘n oor wat wil aanneem waarom ander glo dis goed.
En ‘n baie belangrike hulpmiddel hier is die kerkgeskiedenis.
Want baie maal het standpunte waaroor gelowiges verskil ‘n geskiedenis.
En hoe beter ons mekaar se geskiedenis leer ken hoe beter verstaan ons mekaar.
En dan doen ons moeite hiermee.
Want ons neem mekaar aan soos Christus ons aangeneem het.
En gaan lees maar vanmiddag deur bv Markus dan sien u die ontsaglike moeite
wat Christus gedoen het om ons aan te neem.
****************
C. Maar daar is ook ‘n derde toepassing.
En dit is dat ons nie maar net voor die voet alles en almal kan aanvaar en aanneem nie.
Ons moet ook onthou van die uitsonderings of die grense van aanneem.
I Die veragting van God se skeppingsorde kan ons nie aanvaar nie.
Voorbeelde
Toe Paulus in 1Tim 4:1-3 vir Timoteus geskryf het,
het mens hierdie veragting van God se skeppingsorde gesien in sommiges wat
“van die geloof afvallig (geword het) en verleidende geeste en leringe van duiwels aan(ge)hang (het) …
wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het …”
In ons tyd sien ons dit bv by mense wat homoseksualisme goedpraat.
Of saambly-sonder-om-te-trou-verhoudings goedpraat.
**************
II En as iemand allerhande selfuitgedinkte wette of gebruike of tradisies het??
En dan sê: ‘dit is nou eintlik hoe ‘n lewe van heiligmaking behoort te lyk en
alleen die wat hierdie dinge doen word salig’
Wel, dan kan ons dit nie aanvaar nie en ook nie aanneem nie.
Want Christus en Christus se wil is al wat ons nodig het vir ons verlossing en vir ons heiligmaking.
**************
Slot
Maar geliefdes, wanneer ons nie hierdie grense oorgaan nie laat ons mekaar dan aanneem,
soos Christus ons ook aangeneem het.
Want dit is die beginpunt van die oplossing van ons verskille.
En as die HERE wil leer ons volgende week verder in Rom 14 hieroor.
Amen.
[1] Vgl Reformation study Bible bl 1637; Moo se Rom komm bl 826, 833; Jonker se Rom komm bl 178-179
[2] Vgl Rom 14,1&15,7.docx
[3] Vgl Rom 14,1&15,7.docx
[4] Vgl Rom 14,1&15,7.docx
[5] Vgl Rom 14,1&15,7.docx
[6] Vgl Rom 14,1&15,7.docx
[7] Vgl Rom 14,1&15,7.docx
[8] Vgl Reformation study Bible bl 1637; Ridderbos se Rom komm bl 303.
[9] Vgl NIDNTT vol 3 bl 751; TDNT vol 4 bl 15; Moo se Rom komm bl 835; Jonker se Rom komm bl 180
[10] προσλαμβανεσθε = praes imperat med/pas van προσλαμβάνω. Dit lyk my asof ek hier te doen het met die medium betekenis (Baljon bl 836). Wat belangrik is van die medium ww is dat die klem val op die subjek. Dus, die julle, die res van die kerk wat nie swak is nie … staan hier beklemtoon. Paulus praat nie maar net oor ‘n opdrag nie. Nee, hy fokus spesifiek op die doeners van die opdrag … Ek moet aangespraak voel en doen. Ek … ja ek moet aanneem … en dan na myself toe … Ja, die fokus is op my (Greek grammer beyond basics bl 414-415,419,421). Die praes sê dat hierdie opdrag voortdurend uitgevoer moet word (Binnerwerk bl 35).
[11] καθως lei hier ‘n sin in wat my wys op die wyse waarop ons mekaar moet aanneem. Of: dit lei ‘n sin in wat my wys waarmee ons aanneem-handeling moet ooreenstem (Greek grammer beyond basics bl 675; Binnewerk bl 63; Greijdanus se Rom komm vol 2 bl 623; Moo se Rom komm bl 875; Haldane se Rom komm bl 613).
=> Ja, die norm, die manier van my aanneem-handeling word hier gegee. Ek kan dus nie maar self eiewillig gaan bedink hoe ek moet aanneem nie. Nee!! Hier word uitgestippel hoe ek dit moet doen.
=> Christus en sy werk word die nuwe paradigma waarvolgens ek my optrede moet inrig! (vgl Ridderbos se Rom komm bl 323). O’Brien se Efes komm verduidelik bg verder op bl 351-352. Hy wys my dat καθως και deel is van die NT konformering-paradigma. Dit hou in dat die NT-kerk haar etiek moet laat bepaal deur wat Christus aan ons gedoen het. In ons etiek moet ons navolgers wees van dit wat Christus aan ons kom doen het … Dit moet ek aan ander doen.
[12] So vertel bv Heb 4:15 en 1Pet 2:22-23.
[13] Die gen διακρισεις διαλογισμων = subjektiewe gen (Greek grammer beyons basics bl 113). εις + akk het hier, so meen ek, die funksie van doel-aanduiding (Greek grammer beyond basics bl 369; Moo se Rom komm bl 836). Die frase μη εις διακρισεις διαλογισμων kan ek dan as volg parafraseer: ‘nie met die doel om oor opinies te stry nie’. Ek het dus hier die doel van die προσλαμβανεσθε handeling. Dit moet juis ten doel hê om ‘n gestry oor opinies stop te sit. So sal die aanvaarding in die geloofsgemeenskap ook ten volle word (Baljon bl 219, 219-220; NIDNTT vol 3 bl 821; NIDNTT vol 1 bl 504).
[14] Vgl Wilson se Rom komm bl 219; Moo se Rom komm bl 846; Haldane se Rom komm bl 594
[15] So noem Paulus hulle in Rom 15:1 (Vgl Jonker se Rom komm bl 180).
[16] 2a-b – die μεν … δε konstruksie stel hier twee sake/persone teenoor mekaar – ‘enersyds … andersyds’ (Binnewerk bl 58). Ek is dus nou hier in die midde van die groeperinge wat vorm in die kerk in Rome.
[17] Vgl Greijdanus se Rom komm vol 2 bl 587; Ridderbos se Rom komm bl 304
[18] Rom 1:18-3:20; Sondag 2-4; Sondag 7; Sondag 23
[19] Sondag 7; Sondag 23
[20] Rom 3:21-8:39
[21] Rom 6-8; vgl ook Greek grammer beyond basics bl 217-218; Greijdanus se Romm komm vol 2 bl 585; Moo se Rom komm bl 836; Jonker se Rom komm bl 179; TDNT vol 6 bl 217
[22] Vers 23: ο δε διακρινομενος εαν φαγη κατακεκριται οτι ουκ εκ πιστεως παν δε ο ουκ εκ πιστεως αμαρτια εστιν – ο διακρινομενος het die betekenis van ‘die wat met homself in stryd is’ of ‘die wat twyfel’ (Baljon bl 218). Dit gebeur wanneer ek iets doen nie vanuit die geloof nie. Hierdie geloof is die geloof wat my aan Christus bind. Hierdie geloof word ook die kanaal/ bron waarlangs my nuwe lewe in Christus ‘n werklikheid word (vgl Gal 5:6), en waarin ek nuut leef. Hierdie geloof maak dat ek ten volle oortuig is, en nie twyfel nie, dat wat ek doen in lyn is met my verbintenis aan Christus en sy wil as my Koning soos Hy dit openbaar in sy Woord (Greijdanus se Rom komm vol 2 bl 615; Ridderbos se Rom komm bl 318; Jonker se Rom komm bl 186; Haldane se Rom bl 608; Calvyn se Rom komm bl 513).
[23]Vgl Bybelmet verklarende aantekeninge, vol 3 bl 577
[24] Vgl Bybelmet verklarende aantekeninge, vol 3 bl 577
[25] NGB art 25
[26] Vgl Van Eck se Kol komm bl 157
[27] Vgl Reformation Study Bible bl 1637; Beale, A NT Biblical theology bl 792
[28] Vgl Rom 14,1&15,7.docx
[29] Vgl NIDNTT vol 2 bl 211; TDNT vol 4 bl 67; Moo se Rom komm bl 837
[30] Vgl Reformation study Bible bl 1637.
[31] Vgl Knight se 1Tim komm bl 190; Robertson, The Christ of the Covenants, bl 114-115; Williamson, Sealed with an oath, bl 67
[32] Vgl Bybel met verklarende aantekeninge vol 3 bl 612
[33] Vgl d’Assonville, Oorsig oor die NT bl 52; Carson, Moo, Morris, An Introduction to the NT bl 335-337
[34] Vgl Carson, Douglas, Moo, An Intro to the NT, bl 295
[35] Vgl Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, boek 3 hfxt 19, par 10-12.
[36] Mat 11:28
[37] Vgl Greijdanus se Rom komm vol 2 bl 623
[38] DL 1:7
[39] Sondag 21 v/a 54
Leave a Reply