Opmerkings oor “Die NT en Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 4: ds. Willem Rabie se beoordeling van die BDV)

 

Product Details

Vorige opmerkings:

Deel 1: Die Messiaanse Psalms

Deel 2: Brontekste

Deel 3: VIDA

_____________________________

“Die NT en Psalms: ‘n Direkte vertaling” (afkorting: BDV = Die Bybel: Direkte Vertaling) is beskikbaar by Amazon om afgelaai te word.Dit is ‘n proefvertaling en nog nie die finale vertaling nie.

Hierdie proefvertaling bestaan uit:

1. Die Voorwoord

2. Nuwe Testament

3. Die Psalms

4. Woordelys

Ek plaas hier ‘n skrywe wat ek van ds. Danie Haasbroek ontvang het, vir u aandag.  Sien ook veral die deeglike bespreking van ds Willem Rabie oor die BDV waarna ds. Haasbroek verwys in sy skrywe:

Geagte vriende,

Soos u bewus is, gaan daar naas die kleinletter-uitgawe van die nuwe Bybel, ook ʼn hoofletter-uitgawe verskyn waarin die Name van Christus in die Messiaanse profesieë in die Ou Testament met hoofletters geskryf sal wees. Daar is sover vyf kerke wat die hoofletter-uitgawe gaan gebruik, naamlik die AGS, VEK en PPK (al drie Pinsterkerke), asook die APK en Afrikaanse Baptiste Kerk. ʼn Sesde kerk, die EG Kerk, ondersteun wel hoofletters, maar hulle het besluit om met die 1953-Vertaling te volstaan omdat dit die Textus Receptus as grondteks het.

Hierdie vyf kerke het ʼn komitee gevorm wat moet besluit watter woorde in die vertaling met hoofletters geskryf moet word, in teenstelling met die kleinletters in die ander uitgawe. Op 9 April het prof Combrink, die leier van die Bybelvertalingsprojek, aan my genoem dat hierdie komitee reeds ʼn paar keer onder sy voorsitterskap vergader het en dat dit in Julie vanjaar waarskynlik sy finale sitting sal hê.

Dit bring die noodsaaklikheid na vore dat ons in hierdie laaste drie maande, tot Julie, ons stem duidelik moet laat hoor ten gunste van hoofletters.

Graag bring ek onder u aandag dat die Here my gelei het om oor ʼn tydperk van jare my op hierdie onderwerp in te studeer en daaroor te skryf. Hierdie skryfwerk verskyn in ʼn reeks dokumente wat geplaas is op die webwerf: www.2016vertaling.co.za. In een van hierdie dokumente, getitel: Verse Voorgestel, verskyn byvoorbeeld ʼn lys Name van Christus, in die Ou Testament, wat met kleinletters geskryf is in ons 1953-Vertaling, maar met hoofletters geskryf is in sommige Engelse Bybelvertalings.

Aangeheg aan hierdie brief is ʼn dokument, opgestel deur Willem Rabie, ʼn uitgetrede predikant van die NG Kerk (sien hier onder). Dit bevat nuttige stof oor hierdie onderwerp. Elke vertaler en alle belangstellendes behoort dit te lees.

Nou ʼn dringende versoek:  Sal u asseblief hierdie brief stuur aan ander belangstellendes.

Baie dankie vir u vriendelike aandag hieraan.

Beste groete

Ds Danie Haasbroek

Sel: 076 689 3079

Ontleding en kommentaar op uitsprake van die vertalers van die bybelvertaling wat in 2016 of later gaan verskyn, deur ds. Willem Rabie

Inhoud:

1. ‘n Verwagting

2. Die vertalers se ywer vir ʼn saak wat geen evangelie is nie

3. Ongevraagde inmenging vanaf die kantlyn

4. Die redenasie van die vertalers: Die Hebreeus gebruik nie hoofletters nie

5. Wie is die Messias in die Drie-eenheid?

6. Wie is die Engel van die Here in die Ou Testament?

7. Die vertalers se Skrifbeskouing

8. Die terminologie van die vertalers – Christus wel in gedrang!

9. Die vertalers se onnodige worsteling met ʼn selfopgelegde probleem

10. Hosea 11:1

11. Voetnote by Messiaanse gedeeltes is geen onskuldige saak nie

12. Direkte vertaling

13. Die standpunt:  Vertaal soos wat die bronteks vir die eerste lesers bedoel was, maar ook soos wat hulle die bedoeling waarskynlik sou verstaan het

14. Fyn semantiek

15. Die eerste belofte

16. Afrikaanse vertalings

Bylaag 1: Personaal-, inter-testamentêre (globale)-, grammatikale vertaling

Bylaag 2: Skrifinspirasie

Ek plaas hoofstuk 7 en 16 van ds. Rabie se werk hier:

Hoofstuk 7: Die vertalers se Skrifbeskouing

“Die verstaan van die eenheidsverhouding tussen die twee testamente is in ʼn vertalingsproses van uiterste belang. Soos wat ons weet, is daar in die Bybel vanaf Genesis 1:1 tot aan die einde van Openbaring ontwikkeling in die openbaring wat openbaringshistoriese voortgang genoem word.In die begin egter, was die Woord reeds daar (Johannes 1). Hy is dus van ewigheid af die openbaringsmiddelpunt en die Middelaar tussen God en die mense. Dit is Hy wat die openbaring van God in die geskiedenis soos ʼn blom ontvou.

Toe die Ou Testament in wording was, was daar vanselfsprekend nog nie ʼn Nuwe Testament nie. Nou is sommige teoloë soos die vertalers van mening dat die Ou Testament geheel op sy eie geneem moet word en in elke stadium van sy ontwikkeling volledig vanuit homself direk verklaar moet word (direkte vertaling op ʼn verkeerde manier aangewend!)  Die standpunt lei daartoe dat bv. Genesis 1 – 11 as ʼn afsonderlike eenheid geneem word en vanuit die gedeelte self as mitologie (stories van mense en nie die Woord nie) verklaar moet word. Uiteindelik moet die hele Ou Testament dan as on-Nuwe-Testamenties verstaan, verklaar en vertaal word – op so ʼn manier asof daar geen Nuwe Testament bestaan wat die voortgaande vervulling van die Ou Testament is nie. Dit is Judaïsme en nie Bybelse Christendom nie. Vir ons is die hele Bybel die Christelike Bybel.  [Dit erken die Bybelvertalers “in beginsel” wel.]

Die Messias kom nie eers in die Nuwe Testament na vore nie. Die vertalers redeneer seker ook soos in Die Bybel in Praktyk dat die Messias vanuit Nuwe Testamentiese inligting in die Ou Testament ingelees moet word – so asof Hy nie vanself daar is nie. Dit veronderstel ook dat die Heilige Gees wat in die profete gewerk het, nog nie in die Ou Testament van die Messias geweet het nie. Het Hy ook maar gedink dat die Gesalfde (wat Hy van ewigheid af tot Verlosser gesalf het) een of ander koning, dalk Israel self of een of ander seun van ʼn koning was? Selfs die ware gelowiges in die Ou-Testamentiese tyd het uit die geskrifte van die profete geweet wat die Messias in die toekoms gaan doen – al het hulle nie al die besonderhede geken nie. Met die inligting wat óns nou oor Hom het, kan ons Hom selfs uit Genesis 1:1 uitlees en nie daar inlees nie.

Die Gesalfde is van ewigheid af gesalf en was van ewigheid af die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-eenheid. Die Raad van God wat van ewigheid af bestaan, is nie in los eenhede van twee testamente opdeelbaar nie. Die Nuwe Testament is nie ʼn nuwe begin met ʼn nuwe inhoud wat nog nooit in die Raad van God bekend was nie. Beide testamente is één Godsopenbaring soos wat Sy Raad in die geskiedenis deur die Drie-enige God gaandeweg ontvou. Die Woord van God is van altyd af ʼn eenheid. Dit wat Hy van ewigheid af tot in alle ewigheid bedoel het, is Sy één Woord wat vóóraf in sy geheel sonder menslike taal bestaan het. In die begin was die Woord – en die woorde wat gehoor sal word.

Met die verloop van tyd het God Sy bedoeling in gebrekkige mensetaal ooreenkomstig menslike bevatlikheid in ʼn bepaalde tyd weergegee en in die geskiedenis soos ʼn roosknop laat ontvou. God het immers nie eers in die tyd van Josef en Maria besluit dat daar Iemand soos Jesus Christus moet wees nie. Die Bybel leer duidelik dat Hy reeds in God se ewige Raad was.  Daarom tree die Messias in die Ou Testament as die Here op – of eerder, ís Hy die Here. Christus (die Woord) was by die skepping betrokke. Paulus skryf dat God deur Hom al die sienlike en onsienlike dinge geskep het. Dwarsdeur die geskiedenis van die skepping en daarná, tree Hy op.

 Die beste metode om Sy bedoeling in die Bybel te vind, is om die ganse Skrif soos sonlig deur ʼn brandglas te stuur en telkens elke vers of gedagte op sy beurt afsonderlik in die branding te skuif om sodoende die lig van die ganse geopenbaarde spreke van God op daardie enkelheid te laat val. So sal die Messias reeds in Genesis 1:1 in die meervoudsnaam Elohim te sien wees – daar waar Hy nog altyd was as die Woord deur Wie alles geskep is.”

 Hoofstuk 16: Afrikaanse vertalings

“Mense soos o.a. doktore JD du Toit (Totius), JD Kestell en HCM Fourie wat vir die 1933/53-Vertaling verantwoordelik was, was bekende figure en is deur die Afrikaanse kerkvolk vertrou. Die vertalers van die 1983-Vertaling is minder algemeen bekend. Dit het seker ook maar daarmee te doen dat iets groots in die volkslewe net een keer die verbeelding aangryp. Die vertaling het verdeeldheid veroorsaak.

Die gebruik van voetnote op groot skaal in die te wagte 2016-Vertaling kan maak dat mense die “nuutjie” interessant sal vind en dat die vertaling aanvanklik goed sal verkoop. Hoofletters in die moontlike alternatiewe uitgawe sal ook nie kan regstel wat deur ʼn foutiewe vertaling verbrou is nie. As die Messias ʼn “koning” of ʼn “verhewe wese” genoem word, gaan hierdie twee afgewaterde begrippe met hoofletters geskryf word? Die afgewaterde kool is die hoofletter-sous nie werd nie. Daarom moet daar net één korrekte vertaling wees.

Wat ons nodig het, is vertalers wat vertrou kan word. Hulle sal vertrou word as hulle nie allerlei ongegronde argumente teen hoofletters vir die Godheid uitstrooi nie en kinderlik begerig sou wees om die eer van Jesus Christus in die Ou Testament te erken en weer te gee. Dit gaan om Hom in Wie al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind is (Kolossense 2:3).

Die Christendom in Suid-Afrika is seker nie op so ʼn lae vlak dat dit die “nuwe teologie” wat in die 2016-Vertaling uitslaan, sal wil verduur nie. Die inleidende kommentaar vooraan Genesis en dus die hele Bybel, naamlik dat Genesis 1–11 ʼn poging van die mense van Bybelse tye is om die ontstaan van die mensdom te verklaar, getuig van die gees waarin die vertaling aangebied word. ʼn Mens hoef nie te raai of hierdie vertaling nog groter verdeeldheid onder Afrikaanssprekende Bybellesers en in die Kerk gaan veroorsaak nie.

Dit gaan!

Dit kan en moet vermy word, anders sal daar gou weer die begeerte na ʼn ware vertaling wees, maar wie sal daarmee vertrou word as die vertroue al twee keer geskend is?

Na alles is dit vreemd dat die vertalers so erg beswaar maak teen beskuldigings wat húlle en die vertaling verdag sou maak. Wanneer die vertalers hulself en die vertaling met ooglopend ongegronde redenasies en wegvertaling van die Messias benadeel, kan hulle die beskuldigers verkwalik?

Dit is nie aangenaam om hierdie dinge te skryf en die vertalers direk te konfronteer nie, maar die saak op die spel is duisende male groter as die wil en strewe van vertalers.

Daar moet ʼn beroep op meewerkende kerke gedoen word om fyn op die semantiek van die Bybelgenootskap en die vertalers te let. Hulle het op grond van twyfelagtige en onlogiese redenasies die gebruik van voetnote in die plek van hoofletters baie goed laat klink.

Dank moet ook uitgespreek word teenoor vertalers wat moontlik onder moeilike omstandighede tog hulle bes doen en voortreflike werk lewer. Van hulle het baie agtergrondstudie gedoen wat in vertaling van die Bybel handig te pas kan kom.

Ander moet hulself afvra:  Waarmee is ons besig?”


Ander dele in die reeks van vertaling opmerkings oor die DV is hier beskikbaar: Direkte vertaling opmerkings

3 thoughts on “Opmerkings oor “Die NT en Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 4: ds. Willem Rabie se beoordeling van die BDV)

Add yours

  1. Ek het al baie in die verlede uit wat mense s^e die indruk gekry dat hulle siening is dat Christus sommer maar so iewers in die tyd na die Aarde gekom het om vir mense te kom sterf en dat daar voor sy koms niks daarvan geweet of ges^e is nie. Dit is nie noodwendig akademiese teolo”e wat sulke uitsprake maak maar soms of “gewone” mense maar ook soms predikers op die radio. N^erens in sodanige gesprekke of preke is daar sprake van God se ewige raad nie. Wat hierbo ges^e is bevestig vir my dat daar by mense, wetend of onwetend, sulke sienings is.

    Een van die probleme van hedendaagse vertaling, so dink ek, is die feit dat dit deur ‘n liggaam of organisasie soos die Bybelgenootskap gedoen word. Die Bybelgenootskap is nie die kerk nie. Is dit nie onvermydelik dat ons een of ander tyd weer sal moet teruggaan dat die vertaling deur die kerk gedoen word sodat dit nie net op ‘n sg. “wetenskaplike” metode alleen gedoen word nie maar ook met ‘n geloofsoog en geloofshart.

  2. Ek sien dat die Direkte Vertaling die hel met “Gehenna” vertaal. Dit is waarskynlik om die vertaling in lyn met die NG Kerk se sinode besluit van 2011 in lyn te bring, nl dat die hel nie noodwendig hoef te bestaan nie. Ek sien geen ander uitweg dat hierdie vertaling as ‘n stuk kettery verklaar moet word nie.

    1. Wonder hoeveel van die GKSA teolo”e nie maar daarmee saamstem nie. Elke nou en dan blyk dit dat daar heelwat predikante & professore is wat eintlik maar met hulle kollegas in die NGK saamstem oor baie sake.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: