By my !
By pa en ma wat met voorbeeld moet lei by die huis.
Dit begin met die daaglikse huisgodsdiens saam in die Woord van die Here, waar gebid, Psalms gesing en Bybel gelees word.
Dit is by die huisgodsdiens waar die kinders begin leer om ‘stil te sit in die kerk’.
Dit begin met ons as ouers wat – hoe gebroke en onvolmaak ookal – hoe langer hoe meer self daadwerlik leef uit die geloof in Jesus Christus.
Wat vir ons kinders sê: volg my, want ek volg Christus, ek gryp na Christus, gryp saam my (Filp.3:12-14) !
Liewe ouers, pa en ma, of dalk eerder, ma én pa, dit help nie ons dink omdat ons Sondag almal bloot kerk toe gaan,
of dat ek as ouer bloot sorg dat my kinders in ‘n christelike skool of tuisskool is,
of dat ek bloot sorg dat hulle getrou katkisasie klasse toe gaan,
maar by die huis elke dag volg ons Hom nie,
my kinders outomaties Christus gaan volg nie,
hulle gaan begin ‘stilsit’ in hul lewens nie.
As ek is nie self getrou is in die erediensbywoning nie,
as my eie hart nie passievol vir Christus is nie,
as ek en my vrou nie voorloop in die navolging van Christus in my huwelik en gesinslewe nie,
gaan hul nie wil volg nie, gaan hul nie wil stilsit wanneer dit nodig is nie.
Ons moet ophou skuil agter die slegte verskoning van “ag, julle is maar nou net gelukkig om ‘gehoorsame’ kinders te hê wat ‘stilsit’, maar arme ons het nou maar ‘ongehoorsame’ kinders ge-erf, ons kan niks daaraan doen nie, daarom bly ons weg uit die eredienste en meelewing in die gemeente.”
Ons as ouers moet opnuut diepe selfondersoek doen, en ja, daar is wel gevalle van ouers wat alles doen en gedoen het om hul kinders in leer en lewe na Christus te lei, en tog rebelleer daardie kinders nog, weier hul nou nog as volwassenes om ‘stil te sit’ in die lewe … hartseer maar waar.
Maar, in die oorweldigende meerderheid gevalle is dit dat ons as ouers nie voor wil loop nie, nie self met ‘n passie Christus volg nie, maar verwag ons kinders moet dit doen,
en dan is ons skielik verbaas as ons kinders opstandig en rebels raak, die geloof begin verloën, hipokriete word …… soos ons ?
Ek kan nie met my kind iets deel as ek dit nie self van harte besit nie.
Ek kan nie Christus deel as Hy nie eerstens in my eie hart is nie.
Deut.6:4-9 4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. 5 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. 6 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; 7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. 8 Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. 9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.
Al die kinders inskerp wat reg is, met hulle spreek (raas ?), al die lê en opstaan (besig wees!), al die gesinslewe en gemeenskap lewe, skole ondersteun, kerk toe gaan, besig-besig wees …. baat ons niks, as die liefde van God in Christus nie in my eie hart met ‘n passie brand nie.
Om Sondag na Sondag na die huis van die Here op te trek,
om my gesin saam met my te laat optrek,
begin by myself, ek en my vrou, vader en moeder,
wat dag na dag optrek na die Here se genadetroon,
in die binnekamer …. om die etenstafel …. saam voor die Here.
Vaders en moeders, hoekom wil ons kinders dalk nie stilsit in die kerk nie ?
Ongehoorsame kinders ? ja, dalk ….
maar dalk nog meer, ongehoorsame ouers wat self nog nie waarlik stilsit en stil geraak het voor die Here, met ons hele lewens nie.
Nog nie self werklik voor Jesus Christus gebuig het en stil geraak het voor die Here nie?
Hou op die leuen en verskonings glo dat daar te min tyd is !
Daar is altyd genoeg tyd, ons hemelse Vader het ons genoeg tyd gegee,
dit is ons wat die tyd verkeerd aanwend.
Hou op weghardloop, Adam en Eva.
Daarom my gebed vir my, vir ons almal as ouers, kom ons raak opnuut stil voor die Here, nie net Sondae nie, maar elke dag met huisgodsdiens, met my eie stiltetyd.
Skakel af al die geraas, hou op hardloop na nietige dinge, maak tyd vir wat werklik saakmaak, vir Christus en mekaar.
Vir Christus wat nie ‘te besig’ was om sy hele lewe vir ons te gee nie.
Wat in alles ons Voorloper is (Hebr.12:1-3).
Maak tyd vir jou dierbare kinders wat soekend is,
wat Christus nodig het,
wat jou tyd nodig het,
wat jou nodig het,
en nie jou geld nie.
Deel met jou kinders ook jou eie gebrokenheid en soeke na Christus,
dat ons saam op weg is na die volmaakte ewigheid,
dat ons saam die goeie stryd vir sy eer moet stry,
dat ons saam sy Koninkryk en geregtigheid (Christus) sal soek (Matt.6:33) !
dat ons saam na die wil van Christus soek vir ons lewens, Rom.12:1-2.
Laat ons soos Maria die “goeie deel”, Jesus Christus uitkies wat nie van ons en ons kinders weggeneem kan word nie, laat ons elke dag, saam as gesin, “aan die voete van Jesus sit en na sy woord luister”,
en dan word die Sondag erediens ‘n groot hoogtepunt om na uit te sien, om te gaan stilsit en luister, en te antwoord met ‘n gejubel tot eer van die Here:
Psalm 122:1,2 Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan … om die Naam van die HERE te loof!
Lees en besin saam as ouers die volgende Skrifoordenking van ds. MJ Booyens, oor die moeders wat hul kinders na Jesus gebring het, ‘n belangrike les wat ons as vaders ook moet leer:
Aan moedershand na Jesus
“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie . ..” (Mark. 10: 14).
Moeders met kindertjies
Die ernstige gesprek oor die huwelik en egskeidings, en die kinderellende wat dikwels daaruit volg, is pas afgehandel.
Dan beskik die Here dit so dat daar iets sonnigs plaasvind wat die ander kant van die huwelik belig.
Onder Jesus se volgelinge is ook moeders met kindertjies. Die moeders het die Here lief.
En hulle het ook hulle kindertjies lief.
Hulle het waarskynlik onder mekaar daaroor gepraat en besluit om saam hulle kindertjies na die Here toe te bring, sodat Hy hulle kon aanraak.
Hierby is beslis meer betrokke as blote moedertrots wat aan die Here die trots van hulle harte, hulle dierbare en oulike kindertjies, wil wys.
Nee, hulle wil hulle kleintjies laat deel in die gawes van die Here. Hoe dit bewerkstellig sou kon word, weet hulle nie mooi nie.
Spontaan en impulsief kom hulle egter met die kindertjies op die arms en aan die handjies na die Here toe.
Dit is asof hulle verleë by Hom staan met hulle kindertjies. Wat verwag hulle eintlik van Hom?
Hy kan tog nie vir hulle preek nie – dit sou die kleintjies nie begryp nie.
Dan vra hulle maar dat Hy hulle moet aanraak, waarom sou hulle moontlik nie kon sê nie.
Wat begryp kindertjies tog?
Jesus se dissipels kan ten minste hierdie vrouelogika nie verstaan nie. Wat verstaan die kindertjies tog?
En waarom moet die Here hulle juis aanraak. Hy is geen towenaar nie?
Boonop is Hy besig met ernstige grootmenssake, waarvan die kinders niks begryp nie. Hulle pla die Here onnodig deur die klein kindertjies aan Hom op te dring.
Ons hoor hulle driftige teregwysing:
Wat maak julle hier met die kinders? Vat hulle weg – julle val die Here net lastig!
Laat die kindertjies na My toe kom
En die Here Jesus?
Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en Hy het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.”
Gelukkig is die kindertjies welkom by die Here.
Daarom is hulle ook welkom in die kerk, by die erediens.
Ek het my jare gelede al voorgeneem om dit nie vir moeders met kindertjies in die kerk moeilik te maak nie.
Ek wens altyd dat kerkgangers hulle nie so gou deur lastige kindertjies laat steur nie. Hulle hoort in die kerk en ons moet hulle verdra.
‘n Mens moet jou maar inspan om te luister – al is daar ‘n woelige kindjie in jou omgewing.
Hy lê sy hand op hulle
Vanselfsprekend moet ouers hulle kindertjies leer om stil te sit. Dit leer hulle baie gou, indien ouers gereeld huisgodsdiens hou.
Hulle vind gou uit dat ‘n mens eerbied moet hê vir die Bybel en die Here, en dit is klaar die fondament van die godsdiens.
Bring die kinders na die Here toe, al verstaan hulle nog nie.
Die Here doen wel iets aan hulle, al weet of begryp hulle dit nie.
“Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.”
Soos altyd met die Here, ontvang die moeders veel meer as wat hulle verwag het.
Jesus raak hulle nie alleen aan nie, maar druk hulle aan sy hart. Daarmee sê Hy duidelik aan moeders en kindertjies:
“Hulle behoort aan My . . . Ek het hulle lief! Ek ken hierdie kleintjies by die naam.”
En dan lê Hy sy hande op hulle en seën hulle.
Geseënde kindertjies!
Op julle koppies het die hande van Jesus gelê!
Julle is gedoop in sy Naam omdat Hy julle liefhet!
Moeders en vaders, bring tog julle kindertjies na Jesus toe!
Bron: Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens
Kyk hier vir hulp met huisgodsdiens: Huisgodsdiens
Leave a Reply