Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. – 1 Joh.4:1
Lees die volgende artikel van Wynand Louw oor waarom hy nie opgewonde is dat die NGK weer deel word van die Wêreldraad van Kerke (WRK) nie:
NG Kerk word weer deel van die Wêreldraad van Kerke. Waarom is ek nie opgewonde nie?
Ek het destyds ook my besorgdheid uitgespreek oor die GKSA wat eenheidsbande met die CRCNA gesluit het, aangesien laasgenoemde ook deel is van die WRK … en met die vorige GKSA sinode (2012) was daar reeds sprake van nouer bande sluit met die NGK wat ongelukkig al meer afvallig raak en dwalinge akkomodeer in lyn met die CRCNA en WRK se dwalinge.
‘n Aanhaling uit genoemde artikel:
“Ongeag dat die CRCNA:
– ‘n skrifkritiese skrifbeskouing handhaaf en akkomodeer,
– teïstiese evolusie aanvaar wat die historisiteit van Adam en die sondeval in gedrang bring,
– vroue in al die besondere ampte bevestig,
– homoseksualisme nie veroordeel nie maar akkomodeer,
– die Roomse Mis akkomodeer in hul verandering van HK v/a 80,
– lid is van die vrysinnige WRK, ens.
… beoordeel die GKSA dat die CRCNA vashou aan die Skrif, Belydenisskrifte en Gereformeerde kerkregering.
RP Swieringa in sy artikel waarna hierbo verwys is, skryf in sy slotparagraaf (beklemtoning bygevoeg):
“The changes in the CRCNA follow by about twenty years–one generation–those in the mother denomination in the Netherlands, the GKN, and in its sister church in North America, the RCA. The same forces of democratization and modernity are pressing Reformed bodies everywhere, and only the isolationist mentality that prevailed in the CRCNA until the post-World War II years retarded the pace of change by a generation. That mind of safety has disappeared and daughter is rapidly “catching up” with its mother and sister.”
In 1976 het die GKSA se Sinode besluit om met die GKN sustersbande te verbreek, juis oor sake soos Skrifgesag (Kuitert se verwerping van die historisiteit van die eerste hoofstukke in Genesis), leerstellige dwalinge (Wiersinga se algemene versoeningsleer), vroue in die besondere ampte, homoseksualisme, samewerking met vrysinnige bewegings soos die WRK, ens (sien die Sinode-Handelinge van 1970/73/76).
En, almal of heelwat van hierdie sake word huidiglik deur die WCRC/WRK en die CRCNA goedgekeur of met liefde en sorg geakkomodeer.
Dieselfde tendens sien ons oor die jare ook by die GKSA, “the daughter is rapidly ‘catching up’ with it’s mother and sister(s)’. Al hoe meer artikels in kerklike tydskrifte, hier en daar ‘n teoloog wat uit die kas begin klim teen die historiese betroubaarheid van Gen.1-3, evolusie wat al meer geakkomodeer word, vroue diakonesse wat toegelaat word, die soeke na lidmaatskap met die WRK-lid, die SARK (net-net afgestem tydens die 2009 Sinode).
Prof. GPL van der Linde was een van die afgevaardiges van die GKSA om in ‘teregwysing en vermaning’ te gaan getuig voor die Sinode van die GKN, op 26 Maart 1974, in Lunteren. Hy het hierdie profetiese woorde gespreek, wat nog net so en nog meer aktueel is vir vandag:
“Daarom het die GKSA hierdie diepe kommer: U (GKN) verklaar met die mond wel dat u by die geopenbaarde waarheid hou, maar metterdaad het u die mens met sy wetenskap oor die openbaring as wagter aangestel. Is ‘n valse eenheid onder mense vir u nie meer werd as die waarheid van God nie ? … Prof. Kuitert en dr. Wiersinga is – ten spyte van uitvlugte en onderskeidinge wat bedink is om die werklikheid beter te laat voorkom as wat dit is – besig om ‘n ander Evangelie te verkondig. En die bevel van Christus is duidelik in so ‘n geval uit 1 Tim.6:3-5: ‘Ontrek jou aan sulke mense.’ Daar is egter nie met hulle gehandel ooreenkomstig die bevel van Christus soos ook vervat in art.79 DKO (116 HKO) nie. Getuig so ‘n optrede van die wat as wagters oor die huis van die Here gestel is van waaragtige roepingserns in die handhawing van die leer ? Veeleer word alles gedoen om diegene wat afwyk van die belydenis, ‘n wettige plek in die kerk te gee en te laat behou. …
Kan u nie sien nie, broeders, dat u ontrou is aan u amp as opsieners wat die wolwe uit die kudde moet weer nie? Kan u nie sien hoe onbarmhartig u optrede teenoor dr. Kuitert en sy volgelinge sowel as die kerk is as u nie die leertug toepas nie? U handhaaf nie die leer nie, maar het prakties leervryheid geproklameer. … Hoe smartelik dit ook al is om so met huisgenote van die geloof te spreek, roepingstrou eis dat u vermaan word om die waarheid weer in u optrede bo ‘n valse eenheid te stel. U moet weer die gesag van die Heilige Skrif en die belydenisskrifte onvoorwaardelik bely en onverswak sonder aansien van die persoon handhaaf deur die leertug op die wat in hul dwalinge volhard, toe te pas.”
Ja, “Veeleer word alles gedoen om diegene wat afwyk van die belydenis, ‘n wettige plek in die kerk te gee en te laat behou. …”, en so word al meer teenstrydige sieninge van die Skrif, ampte, erediens, Psalms, ens. geakkomodeer en toegelaat, en die plaaslike kerke en kerkverband skeur uitmekaar, lank nog voor daar ‘n ‘amptelike’ skeuringsdatum is.
Die vorige geslag het die sake wat nou op die WCRC en die CRCNA se tafel is as ‘n ‘ander evangelie’ beskryf, as in stryd met die Skrif, belydenis en kerkregering.
Die huidige geslag beveel aan dat ongeag hierdie sake, die CRCNA (en die NGK?) vashou aan die Skrif, belydenis en kerkregering.
“Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! —terwyl daar geen vrede is nie.” – Jer.6:13,14
Een van hierdie geslagte verkondig ‘n valse eenheid, valse liefde en ‘n valse vrede.
“En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.” (Rig.2:10; sien ook Ps.78:9-11, ens.)
Sien ook die volgende studie van oudl. Francois van Deventer oor die afvalligheid van die SARK/WRK: