Posted by: proregno | April 27, 2015

Gesprek oor die Gereformeerde erediens – 6. Voorlesing van die Wet

DIE GEREFORMEERDE EREDIENS

6. Voorlesing van die wet 

Ek plaas hier, opeenvolgend in ‘n paar aflewerings, Totius se verduideliking van waaroor die gereformeerde erediens gaan, ons onmoeting met die lewende God elke rusdag, asook ander sake.

Hierdie paar artikels van Totius het in die Kerkblad verskyn en kom uit die 1960 Dagbreek boekhandel uitgawe van Totius se ‘Versamelde Werke’,deel 7, afdeling 2 (die volledige 1960 stel kan hier by dr. Attie Bogaards se blog afgelaai word onder die ‘Leer’ afdeling)

Inhoud:

Die modelgemeente: 

1. Die sang (a)

2. Die sang (b)

3. Die sang (c)

4. Votum en seënspreuk

5. Voorlesing van die Skrif

6. Voorlesing van die wet

7. Skuldbelydenis en skuldvergiffenis

8. Die gebed

9. Die preek

10. Die kollekte

11. Die doopsbediening

12. Die ‘sneldoop’

13. Antwoord: Ja

14. Doopgetuies

15. Wat staan hoër: die kerkraad of sinode ?

16. Die konsistoriegebed

(Vorige en ander nommers in die reeks kan hier gelees word: Die Gereformeerde Erediens, Totius)

DIE KERK – Liturgies 

6. Voorlesing van die wet 

Lidmaat: Kan u my sê, geagte Dominee, waarom die wet dan elke Sondag in die vergadering van die gelowiges voorgelees word. Die betekenis daarvan kan ek nie verstaan nie.

Leraar: U dink seker, geagte Broeder, dat daardie voorlesing onnodig en tydrowend is, omdat u reeds van jongs af die wet van buite af geleer het?

Lidmaat: Ja, dit is so. En juis omdat ek die Tien Gebooie uit my hoof ken, sit ek onder die lesing daarvan elke oomblik in ‘n ander rigting en dink.

Leraar: Dit is nie goed nie. Elke handeling en verrigting in ons erediens moet ‘n betekenis hê. Ons het ‘n „redelike godsdiens”. En elke lidmaat behoort ten volle bewus te wees van die betekenis.

Lidmaat: Ek neem u vermaning aan en weet dat ek (saam met baie ander) in hierdie opsig aan onkunde skuldig is. Maar verklaar nou vir my volgens my vraag die betekenis van die wetlesing.

Leraar: Ons moet hier twee vrae probeer beantwoord: 1. Waarom word die Wet van die Gebooie voorgelees? en 2. Wanneer moet die lesing geskied?

Lidmaat: Voor u verder gaan: ek het iets vergeet. Kan u my sê hoe oud hierdie gebruik is en of dit deur ‘n bepaalde voorskrif in die Bybel gebied is.

Leraar: Kyk, daar is nie ‘n bepaalde voorskrif nie, maar ek meen stellig (soos dit later vanself vir u duidelik sal word) dat hierdie gebruik op ‘n bepaalde Skriftuurlike grondslag rus. ‘n Bepaalde plek in die erediens het die wetlesing eers gekry sedert die Hervorming en dit bepaald by die Gereformeerde Kerke. Die vaderskap van hierdie instellingword algemeen aan Calvyn toegeskryf.

Lidmaat: Dit is vir my voorlopig genoeg. As u my meer van die geskiedenis vertel, sal ek dit weer vergeet.

Leraar: En nou punt een, wat reeds genoem is, nl. waarom word die wet gelees?  Hieromtrent bestaan daar ‘n verskil van opvatting. Sommige meen dat dit gebeur om skuldbesef by die gemeente op te wek. Ander daarenteen dat die bedoeling is: om die wet as reël van die dankbaarheid aan die gelowiges voor te hou. Veral die laaste opvatting het sterk voorstanders, o.a. dr. A. Kuyper.

Lidmaat: En wat is u opinie?

Leraar: Wel, ek beskou dit so dat hierdie voorlesing altwee dinge moet doen.

Lidmaat: Maar dit kan tog nie. Al is ek ongeleerd, voel ek tog dat opwek tot skuldgevoel en opwek tot dankbaarheid twee verskillende sake is.

Leraar: Ja, hulle is onderskeie maar nie geskeie nie. Raadpleeg u eie ondervinding. Is dit nie juis u gevoel van u sonde wat u tot dankbaarheid noop nie? Is hierdie twee nie altyd in die sielelewe verbonde nie?

Lidmaat: Ek moet wel toestem dat u reg het. Maar kan ek hierdie eie ondervinding in hierdie opsig wel vertrou?

Leraar: Neem dan iets anders. In die Heidelbergse Kategismus word in Sondag 2 die wet aan ons voorgehou om die grootheid van ons ellende te ontdek, en in die derde deel van hierdie Kategismus om ons tot ware dankbaarheid te noop.

Lidmaat: Heeltemal reg, maar daar word hierdie twee sake goed uitmekaar gehou. Daar is ‘n groot sprong tussen Sondag 2 en 32.

Leraar: Ek sê ook nie dat die gevoel van sonde en die gevoel van dankbaarheid presies gelyktydig en ewe sterk moet wees nie. Ek beweer net dat hulle aan mekaar verbonde is en dat ‘n mens deur kennis, van sy ellende tot ‘n lewe van toegewydheid aan God moet geraak.

Lidmaat: In die Kategismus gaan dit egter nie so gou as wat dit by die wetlesing moet plaasvind nie.

Leraar: Natuurlik nie. In daardie Leerboek moes alles haarfyn uitgelê word. Daarom dat so ‘n lang pad afgeloop word. Maar by die voorlesing van die Gebooie kan hierdie gewaarwordinge mekaar vinniger opvolg en selfs beurtelings afwissel.

Lidmaat: Wat u laaste gesê het, verstaan ek nog nie goed nie, Dominee.

Leraar: Nou ja, neem ‘n voorbeeld uit die geskiedenis. Calvyn het die wet deur die gemeente van Straatsburg laat sing en het dit dan wel as ‘n reel van die dankbaarheid beskou, omdat die sing op die skuldbelydenis gevolg het, want elke vers is beëindig met ‘n Kyrie Eleeison, d.w.s. Here ontferm U! Daarop het dan weer ‘n bede om heiligmaking gevolg.

Lidmaat: Maar nou stuit ek op ‘n ander moeilikheid. As die wet as ‘n spieël van ons ellende beskou word, is dit ‘n tugmeester om tot Christus te kom; maar dit hoort nie by ‘n vergadering van gelowiges nie, omdat hulle alreeds tot Christus gekom het. Hulle het die wet nie meer as tugmeester nodig nie.

Leraar: Ek moet se, broeder, dat ek bly is dat u so diepsinnig kan redeneer. Maar wat u so-ewe daar gesê het, hou nie steek nie. Een vraag: Toe Jesus aan Petrus gesê het: „as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Luk. 22:32), was Petrus nie toe reeds bekeer nie? Het hy nie toe reeds na Jesus gekom en Hom gevolg nie? Het hy nie toe die ware belydenis afgelê, wat nie deur vlees en bloed aan hom geopenbaar is nie, nl. dat Jesus nie Christus is nie? By Petrus se eerste bekering moes ‘n gedurige en daaglikse bekering gevoeg word. En so moet by gevoel van skuld ‘n gedurige besef van ons ellende gevoeg word, en daartoe dien die gedurige lesing van die wet.

Lidmaat: Moet die gevoel van skuld gedurende die voorlesing van die Gebooie net so sterk wees as die gevoel van dankbaarheid?

Leraar: Ek gaan so ver om te sê dat die skuldgevoel hierin die sterkste moet spreek. A Lasco, een van die groot manne van die Hervorming, het die gewoonte gehad om nadat die wet deur die gemeente aangehoor was, hieraan ‘n kort aanspraak vas te knoop, waarin hy die gemeente wys op hulle sonde en hulle opwek om God om skuldvergiffenis aan te roep. Hierdie opwekking het dan die weg gebaan tot ‘n ernstige en aangrypende boetgebed.

Lidmaat: Meen u nou dat die wetlesing voor die skuldbelydenis moet kom, dus andersom as by Calvyn?

Leraar: Ja, ek dink dat ons teenswoordige gebruik goed is en ook in ‘n mate ooreenstem met die van A Lasco. Maar dan moet (volgens ons Liturgie agter in die Psalmboek) die gebed voor die preek ook weer as ,,’n algemene belydenis van sondes” beskou word.

Lidmaat: Wat moet die eintlike orde dan wees?

Leraar: Eers die wetlesing, veral om skuldgevoel op te wek; dan die gebed voor die preek as „belydenis van die sondes” (vgl. ons Liturgie) en eindelik die preek, waarvan die inhoud die vergiffenis in die bloed van Jesus is.

Lidmaat: Maar, Dominee, is dit nie vir u jammer dat die gemeente by dit alles moet swyg en dat u alleen spreek nie. Ek wil nie graag hê heelwat lewendiger sou word as die gemeente meer aan die verrigtinge sou deelneem.

Leraar: Hierin stem ek volkome met u saam. Ons erediens is te eentonig en te doods. Daarom sou ek, wat die onderhawige punt betref, voorstel dat die gemeente nadat die wet gelees is, sal opstaan en uit eie beweging die laaste vers van die berymde Tien Gebooie sal sing:

Ons het, o HEER, u wet weerstrewe,

genade is al waar ons op pleit:

Gee ons in Christus nuwe lewe,

om dit te doen uit dankbaarheid.

Dan kon dadelik daarop, terwyl die gemeente nog staan, die gebed voor die preek gevolg het, d.i. die belydenis van die sondes.

Lidmaat: Wat u voorstel, Dominee, is eenvoudig pragtig. Dan kry die gemeente ook ‘n kans om skuldgevoel en dankbaarheid, ja, altwee, met daardie aangehaalde vers te betuig. Dan sal ek nie meer anderpad sit en dink as die Tien Gebooie gelees word nie.

Het Kerkblad,nr. 193, 1 Februarie 1907. (Vertaal.)


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: