Preek: Jak.2:14-26 Geloof alleen red maar die geloof wat red is nie alleen nie (deel 1)

Lees: Romeine 3:21 – 4:5; Efesiërs 2:8-10; Jakobus 2:12-26

Teksgedeelte: Jak.2:14-17

Tema: Geloof alleen red, maar die geloof wat red is nie alleen nie

Prediker: S. Le Cornu

Die preek (asook voriges in die Jakobus-reeks, en ander preke) kan hier geluister/afgelaai word:

Jak.2:14-26 (2015-05-03 – deel 1)

Die notas van die preek:

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus, 

Word ons gered, geregverdig deur die geloof in Christus alleen,

of word ons gered deur geloof in Christus én ons eie werke (goed of sleg) wat saamwerk?

Dit is een van die wesentlike vrae – dalk die mees wesentlike een – waaruit die kerkreformasie van die 16de eeu gebore is,

met o.a. Maarten Luther en Johannes Calvyn as leidende kerkreformasie figure.

Die wese van die Reformasie word opgesom deur die 5 Sola slagspreuke.

Sola wat beteken ‘alleen’, en daardie 5 slagspreuke is:

  1. Sola Scriptura = die Skrif alleen
  2. Sola Gratia = die Genade alleen
  3. Sola Fide = deur die Geloof alleen
  4. Solus Christus = deur Christus alleen

En dan die doel van al die solas,

  1. Soli Deo Gloria = aan God alleen die eer

Luther het deur die ondersoek van die Skrifte, veral Romeine en Galasiërs,

tot die herontdekking gekom van die Evangelie van ons Jesus Christus,

dat ’n mens gered word deur die geloof in Christus alleen,

sonder enige werke van die mens, sonder enige werke van die wet deur die mens.

Dit is Christus se volkome lewe en werke alleen, in ons plek, wat die enigste grond

van ons redding, ons regverdigverklaring voor ons hemelse Vader is.

Dit wat ons gelees het daar in Rom.3:28,

Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet …

En in Romeine 4, oor Abraham lees ons daar in vers 1-5 dat Abraham,

nie uit sy werke geregverdig is nie, maar deur die geloof geregverdig is.

In Gal.2:16 stel Paulus dit so duidelik,

… terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie

(Nog een plek, Filp.3:8,9, Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof)

Daarom die slagspreuk van die Reformasie,

sola fide, deur die geloof alleen word ons gered.

waaruit die ander solas ook gegroei het:

Ons leer uit die Skrif alleen (sola Scriptura)

dat uit God se genadige vrye welbehae alleen (sola Gratia)

ons gered word deur die geloof alleen (sola fide) 

in  Christus alleen (solus Christus),

alles tot eer en die roem van God alleen (soli Deo Gloria).

 

Maar geliefdes, nou lees ons vandag in ons teksgedeelte,

die volgende woorde, wat ook die Woord van God is, wat ook die Skrif is, Jak.2:

– vers 14: Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?

– vers 22: Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?

en dan veral vers 24,

Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?

So, Paulus leer ons word geregverdig/gered deur die geloof in Christus alleen,

en Jakobus – so lyk dit op die oog af – leer ons word nie gered deur geloof alleen nie,

maar deur geloof en werke wat saamwerk om ons te red?

Wat maak ons nou hiermee geliefdes ?

Natuurlik is dit niks nuuts nie, die kerk deur die eeue, veral vanaf die 16de eeu,

het met hierdie saak geworstel.

(Augustinus en Thomas Aquinas het gemeen Paulus verwys na werke voor die bekering, en Jakobus na werke na bekering plaasgevind het.  Luther het nie baie gunstig oor die brief Jakobus geoordeel nie, juis vanweë hierdie gedeelte wat in ‘konflik’ is met Paulus.  Calvyn in sy verklaring wys egter op die regte weg om te volg, nl. daar is duidelike onderskeid tussen Paulus en Jakobus:

– Paulus wys op die weg waarlangs ons voor die Here aleen regverdig gereken word,

naamlik deur die geloof alleen, sonder die werke van die wet.

– terwyl Jakobus skryf oor werke as die vrug, bewys dat jy nou die ware geloof het.

sien L. Floor, Jakobus, CNT, 1998: 112)

 

En daarom, gaan ons tema ook wees,

Geloof sonder werke is dood,

dit is dan geen ware geloof nie

(of, soos die Reformatore dit sou stel:

Geloof alleen red, maar die geloof wat red is nie alleen nie)

 Nou geliefdes, terwyl ons met die Skrif besig is, leer ons nie net oor die inhoud en boodskap nie, maar ook hoe om met die Skrif om te gaan, reg te verstaan: beginsels van Skrifverklaring wat self uit die Skrif gevind en afgelei word.

En daar is spesifiek 3 beginsels van Skrifverklaring wat ons ook by die prediking uit hierdie teksgedeelte wil in ag neem.

Daardie drie beginsels is:

  1. Die Skrif weerspreek hom nie, en daarom moet ons Skrif-met Skrif vergelyk. Paulus en Jakobus, albei geinspireer deur die Gees van God weerspreek mekaar nie, daarom moet ons biddend soek na die harmonie tussen hierdie 2 Skrifgedeeltes.
  2. Ons moet let daarop hoe skrywers dieselfde woorde, hier spesifiek ‘geloof, werke en regverdiging’ verskillend gebruik (dink bv. aan die woord ‘red’, hoe Paulus dieselfde woord heel verskillend gebruik bv. in 1 Tim.1:15 [ewige saligheid] en 1 Tim.2:15 [tydelike redding]).
  3. Daar moet versigtig gelet word op watter spesifieke saak elke skrywer deur sy brief fokus, dus wat is die spesifieke doel van Paulus of Jakobus se briewe.

(Hierdie beginsels van Skrifverklaring is belangrik om enige Skrifgedeelte te bestudeer, en ons gaan daarna verwys in die verklaring en toepassing van die Skrif uit ons teksgedeelte).

Nou, as u teen hierdie tyd al vra, hoekom nou hierdie lang inleiding, en ons het nog nie by ons Teks gekom nie, dan is die belangrike rede reeds gegee daarvoor in wat ons gelees het in ons Skrifgedeeltes:

Eerstens, die eer van God (soli Deo Gloria!) is op die spel, as ons die verhouding tussen geloof en werke nie reg verstaan nie.

Sien Rom.3:26-28,

om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. Waar is dan die roem (eer)? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.  Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. 

Sien Rom.4:1,2,

2 Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. 

Sien Ef.2:8-10,

8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 

As ons gered word – ons ewige saligheid bepaal word – deur ons dade, enige werke van ons kant wat moet saamwerk met Christus se volkome werke, dan kan ons in onsself roem, dan kom die eer ten minste gedeeltelik aan ons toe, dan is soli Deo Gloria nie waar nie, dan is enige van die solas nie waar nie!

So, ons hemelse Vader se eer is op die spel.

Tweedens, ons eie sieleheil is op die spel, want die regte verstaan van Jak.2:14-26 dwing ons om gesonde bybelse selfondersoek te doen, om te sien of ons werke getuig/toon/bewys dat ons kinders van God is, wat waarlik glo.

En dit gaan ons uit ons teks leer, want Jakobus stel dit baie sterk, dat geloof wat nie werke produseer nie, dood is, geen ware geloof nie.

En dit is ’n saak van lewe en dood.

Dit bring ons dan by ons teksgedeelte in Jak.2:14-26,

Ons gaan na drie sake kyk, vandag die eerste saak,

en volgende week die laaste twee sake:

  1. watter soort geloof word veroordeel deur Jakobus, v.14-17
  2. die regte verhouding tussen geloof en werke, v.18, 19
  3. die getuienis van die Skrif oor geloof en werke (Abraham en Ragab), v.20-26

1. Watter soort geloof die Skrif veroordeel, v.14-17

Jakobus begin hierdie gedeelte, met twee retoriese vrae,

die doel daarvan is dat ons sal antwoord met ’n duidelike ‘Nee!’

Dit baat niemand nie, geen mens, as hy “sê”, as hy net bely dat hy ‘glo’ … maar het nie werke nie, dus sy werke wys, getuig eintlik dat hy waarlik glo nie.

En Jakobus gebruik ’n voorbeeld om dit te illustreer, daar in vers 15 en 16,

’n Broer of suster van die persoon van v.14,  nie meer ’n vreemdeling soos met v.2,3 nie,

is naak en het nie voedsel nie, verkeer in nood, het dus nie eers die basiese behoeftes nie.

En dan ‘sê’ daardie iemand van v.14 vir daardie broer en suster,

Gaan heen …. maar GEE nie wat nodig is nie.

Dit is bloot ‘n goeie wens, maar dit bring geen verandering aan die gebroke situasie nie.

Dus ‘baat’ (v.14,17) dit nie die arme broer of suster nie, dit is nie vir hulle ten goede nie.

Dit is dus geen ware ‘diens van barmhartigheid’ uit ‘n ware geloof nie (v.14).

Maar dit ‘baat’ ook nie die man van v.14 wat net ‘sê’ nie, want met die oordeelsdag, sal sy gebrek aan dade (barmhartigheidswerke spesifiek), teen hom getuig, sal sy gebrek van werke getuig dat hy nooit werklik geglo het, in die ware geloof van Rom 3 en 4 was nie (soos Jak.2:20-26 ook bevestig).

So die kontras wat Jakobus op wys, is nie geloof vs werke nie,

maar ware geloof wat werke tot gevolg het, as vrug het vs ‘n valse geloof wat geen werke as vrug het nie.

In hfst.1:22 het Jakobus met hierdie tema begin, kyk daar:

– “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie”

Ja, geloof dra vrug, dit doen ook, ‘sê’ nie net nie.

– geloof ontferm en gee dan.

In 1:27 lees dat die ware godsdiens is om wees en weduwee te besoek, dus te doen.

En vorige keer het ons gesien uit 2:1-13, dat ons geloof in Christus

geopenbaar moet word in onpartydigheid, om mense regverdig

volgens die wet van vryheid, God se gebooie te behandel.

Kyk wat staan daar in 2:12, julle moet so spreek (sê) en so doen

soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel gaan word.

Ware geloof sê en doen dan.

Hier leer ons van die 2de beginsel van Skrifverklaring wat ons hierbo genoem het,

nl. ons sien dat Jakobus die woord ‘geloof’ anders gebruik as wat Paulus dit doen.

– Paulus in ’n positiewe sin, die geloof in Christus, as gawe van God (Ef.2:8), waardeur ons geregverdig word, dus as instrument (NGB art.22)

– Jakobus  in ’n negatiewe sin, dat die ‘geloof’ van die persoon van v.14-17 geen ware geloof is nie.

Hy spreek ’n geloof aan wat sonder werke is, ’n geloof wat eintlik, v.17 sigself dood is, geen geloof nie.

Want as dit ware geloof was, sou dit vrug gedra het, geopenbaar word in werk, dade.

(so is dit ook met gebruik van die woorde ‘werke’, Paulus veroordeel die werke, enige werke van die mens wat gesien word as deel van ons regverdiging, saam met Christus se werke as die grond van ons redding, regverdiging, dus in ‘n ‘negatiewe sin’. Jakobus gebruik die woord ‘werke’ in ‘n positiewe sin, as noodwendige gevolg/vrug/bewys van die ware geloof.)

Die sleutel woorde in hierdie teksgedeelte, is die woordjie ‘sê’,

– ‘iemand ’, v.14   – vir hulle ’, v.15

Daar staan nie in v.14 “as iemand wat die geloof het” … maar daar staan,

“as iemand dat hy die geloof het” …

Dit is hulle wat bloot uiterlik die geloof aanhang, deel is van die kerktradisie,

maar nie waarlik, van harte glo nie, nie die ware geloof deel waarvan Rom.3 en 4 spreek nie (soos ons volgende week, DV, sal sien).

En daarom bevestig, wys, openbaar hul dade dat hul nie waarlik glo nie.

Kyk hoe waarsku Christus ook daarteen in Matt.7:21,

21Nie elkeen wat vir My : Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. … 24Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man …. 26En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man …

Die verstandige man is die man van Rom.3 en 4, wie se dade wys dat hy in Christus glo.

Die dwase man, is die man van Jak.2:14-17, wie se (gebrek) aan dade wys dat hy nie waarlik in die ‘geloof in ons Here Jesus Christus’ is nie (2:1).

En in Op.3:9 Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg

Dus, Jakobus se saak wat hy aanspreek, sy besorgdheid is op ’n ander saak gemik (Skrifbeginsel 2 hierbo), hy weerspreek nie Paulus nie (Skrifbeginsel 1 hierbo).  Hy wil fokus daarop dat v.14c “dié geloof” die soort geloof wat sê maar nie doen nie (v.15,16), wat vals is, ‘sigself dood’ is (v.17), dus geen ware geloof in Christus nie. 

Volgende keer gaan ons dan verder kyk na,

  1. die verhouding tussen geloof en werke, v.18, 19
  2. die getuienis van die Skrif oor geloof en werke, v.20-26

Amen.

3 thoughts on “Preek: Jak.2:14-26 Geloof alleen red maar die geloof wat red is nie alleen nie (deel 1)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: