Skrifoordenking: Die Lam en die 144 000 (Op.14:1-15)
deur ds. MJ Booyens
Die Lam en die 144 000
Lees: Openb. 14:1-5
“En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderdvier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.” (Openb. 14:1)
In die vorige hoofstukke (11-13) het ons die heftige stryd van die wêreld en hel teen die Here en sy gemeente gesien. Dit bereik sy hoogtepunt en eindpunt in die antichristelike wêreldryk. Tot troos en bemoediging van sy gemeente toon die Here nou die onsigbare kant van die werklikheid. Hoe gaan dit in die bitter swaar tye met sy gemeente? Kry Satan en sy instrumente die oorhand en hou die kerk op om te bestaan?
Hier sien u nou die keersy van die Sataniese woede. Vroeër in hoofstuk 7 het ons al gelees van die 144 000 verseëldes van die Here. Toe het Johannes gehoor hoe hulle verseël moes word, voordat die storms oor hulle losbars. Nou sien ons hulle nadat hulle deur die smeltkroes van die groot verdrukking van die duiwel heengegaan het. En nie één van hulle word gemis nie. Daar staan hulle almal by die Lam op die berg Sion in die heerlikheid. Die wat Hy gekoop en met sy merkteken op die voorhoof verseël het, het Hy ook deurgehelp en bewaar en in die heerlikheid gebring.
Ons sou selfs kon begryp dat Johannes, wat die vorige dinge gesien het, angstig en bekommerd sou wees. Ons as lesers kan ook nie anders as om met angs en onrus die dinge te lees nie – veral as ons ook rondom ons in die wêreld kyk en nou alreeds soveel voortekens sien van wat vir die kerk op aarde wag. Daarom is hierdie gesig byna vanselfsprekend ‘n antwoord uit die hemel op die onrustige vrae in ons harte. Die Here skuiwe die gordyn weg om aan ons die oorwinnaars ná die aardse stryd te toon.
Johannes sien die Lam – die Lam wat geslag is, maar oorwin het. Hy is die geheim van ons verlossing en ons oorwinning. Hy het nie sy volk losgekoop met sy bloed om hulle weer prys te gee aan die Satan en die Antichris nie. Hy staan op die berg Sion. Sion is die plek waar die tempel van God op aarde gestaan het, en daarom hier die simbool van sy woonplek in die ewigheid. Die Lam staan derhalwe by of in die woning van God in die ewige heerlikheid. Met die Lam as die middelpunt staan die 144 000 gesaligdes rondom Hom, soos die skape rondom hulle Herder. Hulle is almal daar – nie één ontbreek nie.
Waarom ontbreek nie ‘n enkele skaap van Jesus op die berg Sion in die heerlikheid, na die aardse stryd, nie? Omdat hulle gemerk is met die merkteken van God op hulle voorhoofde. Die Naam van die Lam en die Naam van sy Vader is op hulle voorhoofde geskrywe. Hulle is gemerk as die eiendom van God en Hy laat hulle nie los nie. “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” (Jes. 43:1, 2.) Daar sien u die bevestiging van die soort uitsprake in die Bybel. God is getrou en Hy is die Almagtige, daarom kan en sal Hy sy volk bewaar.
Die boodskap van die gesig wat Johannes hier sien, is: Verlos en nie verlore nie!
Deur die geskiedenis heen en veral aan die eindtyd, sal dit lyk asof vlees en bloed nie bestand is teen die vreeslike aanslae van die Bose nie. Hier sien ons hoe lyk die mense wat in die smeltkroes van lyding en vervolging was. Hulle staan rondom die Lam – hulle Here – in die ewige heerlikheid op die berg Sion. “Halleluja! loof die HERE, o my siel!” (Ps. 146:1.)
Maagdelike reinheid
Lees: Hos. 2:11-22
“Dit is hulle wat hulselfmet vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge van die Lam.” (Openb. 14:4)
Uit hierdie uitspraak lei verklaarders soms af dat ons hier ‘n uitsonderlike groep Christene het. Dit lyk só asof hulle ‘n keurbende is – die voortreflikstes uit al die volgelinge van die Lam van God. Sommige lei selfs hieruit af dat hulle nooit getrou het nie. Vir die Roomse kerk is dit dan ook ‘n baie sterk argument vir die sogenaamde selibaat van hulle priesters – hulle mag nooit trou nie.
Dit sou gewis die “heilige huwelik” sterk in gedrang bring. Dan sou die apostel Petrus, wat getroud was, vér agterstaan by Paulus wat nooit getrou het nie. Nee, só ‘n onderskeiding ken die Bybel nie. Die Bybel veroordeel nie geslagsomgang binne die huwelik nie – nêrens nie. Ons kan hoogstens hieruit, in die letterlike sin van die woord, aflei dat hulle hulself nie besoedel het met ontugtige vroue nie. Hulle het hulle nie skuldig gemaak aan hoerery nie.
Maar volgens die profetiese aard van die boek Openbaring, wat met simboliek werk, moet ons die verklaring van die uitspraak nie in die letterlike betekenis van die begrip soek nie. Ons kan maar net onthou dat die Here sy volk Israel beskuldig van owerspel, wanneer hulle die afgode dien. Dan verbreek hulle die heilige huwelik met die Here, hulle wettige Man, en besoedel hulleself met ander vroue, die afgode. Dan beteken dit dat hierdie mense – mans sowel as vroue – aan hulle Here getrou gebly het en nie die Antichris aanbid het, soos die ander mense nie. Hulle het nie van die Here afgehoereer nie. Dit geld van elke gelowige wat volhard in die geloof.
Dit versinnebeeld die kerk wat getrou bly onder die vreeslikste verdrukkinge en versoekinge op aarde. Hulle weier om toe te gee aan die fluistering van die dier uit die aarde met sy listige slangestem. Die verleiding van die vroulike skoonheid wat gerig is op die sterk sinlike begeertes van die man, is ‘n baie gepaste beeld om die sluwe verleidinge mee aan te dui – verleidinge waarmee elke kind van die Here dag vir dag gekonfronteer word. En dan geld dit nie alleen hierdie bepaalde soort verleidinge nie – dit geld vir alles in die wêreld. Dink byvoorbeeld aan die greep van geld en besittings. Elkeen wat homself waarlik ken, weet van al hierdie dinge, waarteen ons elke dag in ‘n bloedige stryd staan.
Só volg ons die Lam, oral waar Hy heengaan. Ons is bereid om, soos Hy, druk en nood en laster te verduur, om sy Naam ontwil. Ons bly getrou aan Hom, al sink die aarde onder ons voete weg en al donder die onweer oor ons hoofde en verblind die weerlig ons oë.
En dit is nie omdat ons ‘n uitsonderlike getroue keurbende in die koninkryk van God is nie. Nee, “dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam”. Die eerstelinge van die oes en die eerste lammers wat vir ‘n skaapooi gebore is, was vir die Here bedoel. Dit was sy eiendom en geen Israeliet mog dit vir homself hou nie. Selfs sy eersgebore seun moes hy loskoop met ‘n offergawe, want alles wat die moederskoot open, behoort aan die Here. Duidelik? Die eerstelinge vir God en die Lam, is sy kinders – almal wat Hy losgekoop het met die bloed van die Lam. Eerstelinge is verteenwoordigend van die hele oes.
Onthou dit altyd, kind van die Here! Die Here bewaak en behou sy eiendom tot in ewigheid.
Geen bedrog en sonder gebrek
Lees: Rom. 3:21-31
“En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.” (Openb. 14:5)
Ook hierdie uitspraak maak dit vir mense soms moeilik. Mense met ‘n oppervlakkige sondebesef en ‘n eiegeregtige inbors, kan nogal praat van volmaaktes op aarde. Hulle beskuldig selfs die Calvinistiese kerke van ‘n gruwelike dwaling omdat ons bely: “ook die allerheiligste het maar ‘n klein beginsel van hierdie gehoorsaamheid, solank as hulle in hierdie lewe is.” (Heidelbergse Kategismus, Sondag 44.) Ons staan egter baie gewis op die grondslag van die Bybel. “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.” (1 Joh. 1:8.) Dink ook aan die uitspraak van Paulus: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, doen ek.” (Rom. 7:19.)
Ons hoef egter nie te aanvaar dat die mense, in wie se mond geen bedrog gevind is nie, geheel geen sonde gehad het nie. Dit beteken egter wél dat hulle in die verhouding tot God en in sy heilige verbond altyd getrou gebly het. “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” (Rom. 5:1.) Die mense het in die geloofsverhouding met God in Christus standvastig gebly. Dink aan die waarskuwing van die Here aan Simon Petrus: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie.” (Luk. 22:31, 32.) Simon Petrus sou val, en hy het geval, maar hy het nie verval nie, omdat hy die geloof behou het. En hy het die geloof behou, nie omdat hy só ‘n sterk man was nie, maar omdat die Here vir Hom gebid het. En die Here bid vir elkeen van die 144 000 verseëldes. Hy sou juis in besonder bid vir hulle, wanneer die Antichris op die toppunt van sy mag is, en geen mens in eie krag kan volhard nie.
En omdat hulle in die geloof gebly het, is daar geen bedrog in hulle mond gevind nie. Hulle is eenvoudige en opregte strydende gelowiges. Hulle val wél, maar bly nie in die sonde lê nie. Soos Simon Petrus, ween hulle dikwels bitterlik oor hul eie swakhede, maar hulle hou aan die genade van die Here vas. Hulle kan van Hom nie loskom nie – die duiwel kan hulle nie uit die hand van hulle Meester ruk nie.
Daarom staan hulle nou sonder gebrek voor die troon van God. Niks – ook nie hulle eie sonde en struikeling – kon dit verhinder dat hulle in die ewige heerlikheid aankom nie. Die Here bring hulle daar – al sy uitverkorenes – die volle 144 000. Nie die geringste onder hulle ontbreek nie. Ons weet immers dat hierdie getal 144 000 ‘n volkome getal is, van alle kante besien. Die volmaakte getalle: 12 x 12 en 3 x 4 is hierby inbegrepe.
En hulle sing hulle nuwe lied. Hulle roem nie in eie krag nie en wys nie op eie werke nie, maar hulle sing alleen uit volle bors hulle hallelujas in die hemel tot eer van hulle hemelse Vader en die Lam. Wat hulle is en gebly het, ondanks die verskriklike storms wat hulle moes verduur, het hulle alleen aan sy genade en trou te danke.
Só kan ons ook ons stamelende loflied aanhef. Ons leef nog hier – met ons gebreke en ons struikelinge. Ons is tereg bang vir onsself, wanneer ons dink dat ook ons die vuur van vervolging sal kan binnegaan. Ons weet egter: onse Here is en bly dieselfde van ewigheid tot ewigheid. En hierdie gesig van die 144 000 op die berg Sion, voor die troon van God, is ook aan ons getoon om ons geloof te versterk.
Bron: Kom Here Jesus – Die Openbaring aan Johannes – toegelig en toegepas in die vorm van ‘n Bybelse Dagboek
Leave a Reply