VAN DIE VIDA PLAN NA DIE HIDA PLAN
Die afgelope paar weke gons dit oor homoseksuele huwelike wat in die VSA goedgekeur is, en veral hier in SA waar NG teoloë (o.a proff. Nelus Niemandt en Adrio König) hoop en bid dat hul sinode in Oktober dieselfde pad as die wêreld sal volg, ongeag die waarskuwing van Jakobus 4:4.
Ek het al heelwat geskryf oor die onderwerp, asook wat die antwoord daarop moet wees (ons eie bekering van alle vorme van morele sondes, pastorale bediening en bystand aan almal wat bekeer ongeag watter seksuele sondes, ens.), wat hier gelees kan word, daarom wil ek nie veel herhaal nie: Homoseksualisme
My eie kerkverband (GKSA) het nog ‘n standpunt teen homoseksualisme waarvoor mens dankbaar is, en die redakteur van die Kerkblad vermeld wel dat Niemandt se pro-homoseksuele uitsprake spanning plaas op die GKSA-NGKSA verhoudings, maar die vraag bly:
Vir hoe lank gaan die GKSA gespaar bly van die HIDA debat, aangesien die voorloper tot die HIDA debat (homoseksuele in die amp* – sien nota hier onder wat die afkorting verduidelik) reeds begin met die VIDA debat (vrou in die amp). Is daar enige ‘gereformeerde’ kerkverbande wat toegegee het aan VIDA, en toe nie uiteindelik ook met die HIDA debat later begin het nie ? Dink maar aan die GKN (Nederland), Church of Scotland, CRC (VSA), PCUSA en nou die NGK?
Hoeveel voorbeelde van die Here se oordele oor kerke en kerkverbande wat hul ‘oorgee aan skandelike hartstogte’ (Rom.1:26 ev), wil ons nou eers sien ….. voordat ons gaan begin luister en ons bekeer van ons sondes en verkeerde leringe ?
Onthou, die oorgawe aan die HIDA agenda is ‘n bewys dat die Here reeds so samelewing of kerkverband oorgegee het aan hulself en sy oordele, nie dat Hy dit nog gaan of dalk gaan doen nie, lees weer Rom.1:18-32, veral verse 24 en verder.
Natuurlik lê die twee sake nie op presies dieselfde vlak nie, VIDA is ongehoorsaamheid aan die skeppingsordening van God (Gen.1,2; 1 Tim.2:11-15) aangaande die man en vrou se onderskeie rolle en take, maar HIDA is ‘n opstandige rebelse vernietiging van die skeppingsordening self (Gen.1,2; Rom.1:25-32), ‘n duidelike gruwel voor God.
Maar onderliggend aan beide sake, is ‘n afvallige Skrifbeskouing om die skeppingsordening van die Here in Genesis 1 en 2 op verskillende wyses af te breek. Dit word daarin gesien dat die tekste wat VIDA verbied, en tekste wat HIDA verbied, met ‘n ‘sosio-historiese skrifbenadering’ weggeredeneer word, m.a.w. die Skrif word verdraai om by ons sondige begeerlikhede, ons tydsgees aan te pas (2 Pe.3:16b). König se onlangse artikel in die Beeld is ‘n goeie voorbeeld daarvan, as hy die ‘sleutel van die teks’ soek in die ‘openbare baddens (waar getroude mans en vrouens) homoseks gaan beoefen’ het destyds, en nie in die Teks self nie (sien my verklarende notas hier onder van Rom.1:26 ev).
Maar sien ook die volgende voorbeeld, aangaande VIDA, waar die sleutel om te Teks te verstaan die ‘sosio-historiese’ omstandighede is en nie meer die Teks self nie (beklemtonings bygevoeg):
“Baie van die beperkende opdragte wat Paulus aan die gelowige vroue gee, moet teen hierdie (sosio-historiese – slc) agtergrond verstaan word. Christene verskil vandag oor wat die implikasie van hierdie opdragte van Paulus is in ’n samelewing waar dit heeltemaal aanvaarbaar is dat vroue dieselfde rolle as mans kan vervul. Paulus sou waarskynlik nie hierdie beperkings op vroue gelê het as die samelewingsposisie van vroue nie destyds so van dié van mans verskil het nie.” – Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling)(1 Ti 2:9). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. (nota: prof. Fika van Rensburg van die teologiese skool van die GKSA het hierdie kommentaar geskryf)
Lees gerus die volgende twee artikels, wat wys dat onderliggend aan die HIDA agenda reeds die aantasting van die huwelik is deur die VIDA agenda, en dan belangrik, die tweede artikel wat wys hoe slinks daar te werk gegaan word deur die Satan om eers VIDA aanvaarbaar te maak (“verdra te word deur hulle wat ook ‘teen’ dit is”), en daarna volg HIDA dieselfde strategie:
Male and Female: What’s the Difference ?
“All of this is to say that it won’t do simply for the church today to affirm what God’s word teaches about the sin of homosexuality. But the church must also affirm what God’s word says about what it means to be male and female. The church must know, confess, and put into practice what the Bible teaches about the roles of husbands and wives in marriage and in the family. While we are testifying that it is wrong for men to marry men or women to marry women, are we ready also to testify that it is sinful for a man to refuse to rule over his wife? Are we ready to testify that it is sinful for a woman to rule her husband? Are we ready to say something about the place of mothers in the home? We condemn homosexuality. But do we really know the difference between men and women?”
The Plan for CRC’s acceptance of Homosexuality
“This plan is actually quite clever if the goal is to keep people in the CRC even though they have different beliefs (De Moor’s specious idea of unity). By its experience with the women-in-office issue, in which it allows local congregations to choose whether or not to ordain women, the CRC has learned that a “local option” plan effectively placates those who are on both sides of the issue. Many who are opposed to women’s ordination have stayed in the denomination for two decades (the CRC approved women’s ordination in 1995) and in many cases have even willingly served with women “officebearers” from other congregations at classical and synodical assemblies. If the CRC decides to allow each council to determine whether homosexual practice is sinful, which will undoubtedly lead to some councils approving of homosexual practice, some members will likely leave the denomination. But it is possible many who believe homosexual practice is sinful will stay as long as their own council’s do not approve of it.”
Is dit die pad wat die GKSA gaan loop met VIDA, is dit die pad wat die NGK gaan loop met HIDA ?
In antwoord op Prof. König se ‘verklaring’ van Romeine 1:26-32 (wie se verklaring ek nog nêrens gelees het … behalwe vanaf die 20ste eeu met die opkoms van die feministies-homoseksuele agenda nie), die volgende opmerkings:
26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; 27 en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. – Rom.1
Die Griekse woorde wat Paulus hier gebruik vir ‘vrou’ en ‘man’ is onderskeidelik thēlus en arsēn, en nie die meer gebruiklike gunē en anēr nie. Moo (1996) en Malick (1993) wys daarop dat die gebruik van eersgenoemde antonieme woorde in kombinasie is (thēlusen arsēn), wat beteken:
1. die seksuele onderskeid tussen die geslagte word beklemtoon (en daarom moet vers 26 en 27 verstaan word as ‘want die vroulike geslag … die manlike geslag’),
2. dit verwys terug na God se skeppingsordening in Gen.1:26,27 (“man en vrou het Hy hulle geskape”),
3. die Hebreeuse woorde vir man (zākār) en vrou (neqebah) in Gen.1:27, word deur die Griekse OT, die Septuaginta, ook vertaal as thēlus (vrou) en arsēn (man), en
4. Jesus Christus in Matt.19:4 – waar Hy wys op die onverbreekbaarheid van die huwelik, teenoor die Fariseërs se losbandige siening van die huwelik en gevolglike egskeiding (bloot net ‘vaste verhoudings’ vir ‘n sekere tyd?) – Gen.1:27 aanhaal (“En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie“), wat wys op God se skeppingsordelike plek vir die seksuele gemeenskap tussen ‘n man en ‘n vrou, wat lei tot die konklusie dat,
5. homoseksuele verhoudings buite God se skeppingsordelike wil vir die huwelik tussen een man en vrou val.
By hierdie stellings voeg ek nog ‘n paar opmerkings:
Die swakste argument van die homoseksuele apologete (soos Niemandt en König) is die volgende:
“Die Bybel het nie ‘n vaste seksuele verhouding tussen twee persone van dieselfde geslag geken nie, en daarom word dit nie veroordeel deur bv. Gen.19, Lev.18:22; 20:13; Rom.1:26,27; 1 Tim.1:10,11 ens. nie.”
Die probleem met hierdie argument is, is dat jy later enige seksuele verhouding kan regverdig wat ‘n mens in sy sondige boosheid kan uitdink “wat nie in die Bybel genoem word nie” … selfs ‘n ‘vaste verhouding’ tussen ‘n mens en ‘n dier, of tussen ‘n volwassene en kind !
Moenie dink ek ruk dinge nou uit verband nie (die homoseksuele apologete doen dit in elk geval reeds met hul omgang met die Skrif), want sodra jy die skeppingsordening van God verlaat, sodra jy die oorsprong en doel van alle dinge verlaat (hetsy ‘n openlike ateïstiese verwerping van God en Gen.1-3, of ‘n verdraaiing daarvan om die skeppingsgeskiedenis bloot ‘n sage of mite te maak, of König se verdraaiing van Gen.1 in hierdie saak), dan kan later enige soort verhouding (en ‘doel’ van die mens na sy eie behoeftes) regverdig word (soos blyk uit Niemandt en König se skrywes. Sien die volgende resensie van ‘n paar van König se boeke hier, waarin ek ook wys dat die ‘Evangelie is op die Spel’ in König se afvallige teologie).
[Nota: die ‘mens-dier vaste verhouding’ skep ‘n etiese dilemma vir homoseksuele apologete, aangesien hul hulle nou nie kan beroep op Lev.18:23 nie … want Lev.18:22 geld mos nie meer vandag nie … ? Vir die gelowige geld beide verse wel, ook gelees in die konteks van die res van die Skrif, dus Skrif met Skrif vergelyking, sien NGB art.25.]
Wat is dan die verskil tussen bogenoemde redenasie van die homo apologeet en die volgende redenasie:
“Nêrens verbied die Bybel ‘spesifiek’ ‘n wedersydse liefdevolle seksuele ‘vaste’ verhouding tussen ‘n man en ‘n seun nie, daarom is dit wel toelaatbaar vandag …”
Moenie dwaal nie (1 Kor.6:10a), hoe meer ons Gen.1-3, die skeppingsordening van God verlaat,
– in die woorde van Paulus in Rom.1:18-32, ons die ‘… waarheid in ongeregtigheid onderdruk … God nie meer verheerlik of dank nie … die waarheid van God verruil vir die leuen en die skepsel vereer en dien”,
– hoe meer ons “man en vrou het Hy hul geskape’ (Gen.1:27) loslaat,
– hoe meer ons “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Gen.2:24) verlaat,
– hoe meer ons God se skeppingsordening van die huwelik tussen man en vrou lewenslank (Matt.19:4-6) verlaat deur wesentlike dwalings soos “geslagtelikheid maak nie saak in God se koninkryk nie“,
– hoe meer sal die Here ons oorgee aan ons eiewillige dwalinge en die sondige begeerlikhede van ons harte, om ons ‘liggame onder mekaar te onteer’, hoe meer sal Hy die mens oorgee aan hul ‘skandelike hartstogte’ (Rom.1:24-31) … om soos diere te word van die veld, die ewolusionistiese kring sal voltooi word: sonder God en sy gebod (Ps.2), met die hel as eindbestemming.
As ons dus die vraag vra na watter verhoudings verbied die Here, moet ons begin met die belangriker vraag:
Wat gebied die Here in sy Woord deur sy Gees, binne watter verhoudings mag daar seksuele gemeenskap plaasvind, en daarmee is al die ander vindingryke ‘seksuele verhoudings’ wat die mens uitdink uitgesluit. En kan ek hier byvoeg, in antwoord op König: ongeag of ons vrugbaar is of nie, seksuele gemeenskap is en bly beperk tot tussen ‘n man en vrou, dus tot die huwelik tussen na en vrou alleen.
Was en is die doel van die voorbehoedingspil en aborsie nie juis om dit wat God saamgevoeg het – die huwelik, die wonder van seks én die moontlikheid van kinders kry – te skei van mekaar nie, sodat ons in ons wellus kan ontbrand in stryd teen God se skeppingsordening en wil, deur net die seksuele te wil omhels nie ?
Net tragies dat die kerk ook slagoffer geword het van hierdie agendas die laaste eeu.
Met die huwelik as skeppingsordening (Gen.1 en 2) word die antwoord gegee op al die misleidings:
1. dit moet tussen ‘n man en vrou wees (1:26,27; 2:22-24)
2. nie tussen kinders nie (want die man moet sy ouers kan verlaat om kinders te kry en vir sy vrou te sorg, Gen.2:22-24; 1 Tim.5:8)
3. ‘n lewenslange verhouding (en nie net ‘n ‘vaste verhouding’ vir ‘n sekere tyd nie), soos Jesus dit ook bevestig in Matt.19, “4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, 5 en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; 6 sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”
4. en die huwelik in diens van sy skeppingsopdragte (Gen.1:28-30; 2:15), tot eer van Sy Naam.
In God se wet (Ex.20:14 in die algemeen, maar dan ook meer in detail in Lev.18) word die huwelik beskerm, ook deur die strafreg (Lev.20).
In die NT word die heiligheid van die huwelik bevestig (Matt.5:27-32; Ef.5:21-32; 1 Thess.4:1-8; Hebr.13:4), en, baie belangrik, wys Jesus daarop dat ons die huwelik en ons seksuele verhoudings moet sien en nastrewe soos dit oorspronklik bedoel was volgens God se skeppingsordening, Matt.19:4-6, en nié volgens ons eie sondige gebroke verdraaiings van die huwelik deur die eeue of wat ons dink ‘prakties moontlik’ is nie.
Dus, ons model en norm is nie die verlede of huidige onbybelse ‘verhoudingsmodelle’ via die wêreld of sosio-historiese en sielkundige handboeke nie, maar God se skeppingsordening van Gen.1 en 2, soos later gehandhaaf en bevestig deur die res van die Skrif.
Dit is veral by laasgenoemde (die willekeurige verbreking van die huweliksverbond, contra Mal.2:14-16), soos ek in ander skrywes reeds genoem het, waar ons in ons huwelike en verhoudings reeds begin afwyk het van God se skeppingsorde en die wil vir die huwelik (en die homoseksuele geslag die verdere gevolg is), naamlik die groeiende verdraagsaamheid en selfs goedkeuring (sien Rom.1:32) van seksuele sondes soos:
– egbreek (en die gevolglike egskeidings)
– hoerery
– onreinheid
– ontrou
– wellus
– slegte begeertes
– tweedrag en partyskappe in ons huwelike
– liefdeloosheid binne die huwelik
– mans en vrouens wat nie hule skeppingsordelike roepinge wil omhels nie
– onwettige hertroues, ens (sien Rom.1:28-31; 1 Kor.6:10; Gal.5:19,20; Kol.3:5)
alles dinge wat, soos homoseksualisme, volgens Kol.3:5-7, ‘afgodediens’ is, waardeur die toorn van God oor die kinders van ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het’, wat Paulus reeds ook beskryf het in Rom.1:18-32.
So, enige seksuele beoefening buite die plek wat God daarvoor bepaal het, nl. die huwelik tussen een man en vrou, is afgodediens in God se oë waaroor sy toorn uitgestort word (Lees ook HK Sondag 41 aangaande die sewende gebod).
En kyk nou weer na Romeine 1, spesifiek die verse wat 1:26-27 voor af gaan (die verse wat spesifiek handel oor homoseksualisme):
Die bron van die kwaad van alle seksuele sondes, is afgodery, dat ons die Here verruil het vir onsself en enige iets wat ons ‘n afgod van maak hier op aarde, onsself of iets in die skepping:
22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword
23 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer
25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.
Wat is die antwoord ?
Wat is die antwoord op die afgodery en die gevolglike hoerery, van watter aard ookal, in ons almal se harte ?
Dit het ek reeds al beskryf in vorige skrywes in hierdie verband, met veral die klem op Rom.1:16 en 1 Kor.6:11, wat volg op 6:9,10, nl. die Evangelie van ons Here Jesus Christus wat ons red en bevry van ons sondes, sodat ons daarteen kan stry ons lewe lank tot sy eer.
Sien die artikels hier en hier.
Ook Kol.3 gaan verder, nadat dit in verse 5-7 duidelik die verskillende sondes veroordeel het, en sê, wat ons biddend moet lees en oordink vir ons eie lewens (sien die oorgang van persoonlike bekering en reformasie, na gesinsreformasie na samelewingsreformasie), mag ons hemelse Vader ons daarmee help:
8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.
9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,
11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.
12 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14 En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
15 En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
17 En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
18 Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.
19 Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.
20 Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik. 21 Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.
22 Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees.
23 En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
24 omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.
25 Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie.
Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook ‘n Here in die hemele het.
* nota: ek gebruik die afkorting ‘HIDA’ nie om homoseksualisme te beperk tot net of dit in die ampte beoefen word of nie, maar dit verwys na alle vorme van homoseksualisme, hetsy identiteit/oriëntasie of die dade. Netsoos dit verkeerd is om egbreek in ons harte/gedagtes en in daad te pleeg, so is dit verkeerd om homoseksuele gedagtes te koester en te beoefen, sien Matt.5:28-30 wat beide aspekte as sondig veroordeel. Ek gebruik dus die term HIDA omdat dit rym met VIDA !
Bronne
– David E. Malick, The Condemnation of Homosexuality in Romans 1:26-27, Bibliotheca Sacra 150: 599 (1993): 327-340.
– Douglas J. Moo, The Epistle to the Romans, NICNT (Cambridge, UK: Eerdmans, 1996).
Spesifieke bronne oor die HIDA agenda
– The Bible and Homosexual Practice: Texts and Hermeneutics, Rob Gagnon (die skrywer se webblad – http://www.robgagnon.net (hy is seker een van die bekendste en beste apologete teen die HIDA agenda, stem wel nie saam met sy VIDA standpunt nie.). Sien ook: http://www.theologymatters.com/NovDec01.PDF
– What does the Bible really teach about Homosexuality?, Kevin deYoung
– The Secret Thoughts of an Unlikely Convert, Rosarie Butterfield
– Christian Action for Reformation and Revival (spesifiek vir die SA situasie oor verskillende sake)
– Enige werke van dr. Peter Jones om die seksuele rewolusie vanaf die 20ste eeu tot vandag te verstaan: https://truthxchange.com/
– Homosexuality – a Biblical View, Greg L. Bahnsen
Baie goeie en nuttige stuk. Dit is baie belangrik in hierdie debat (soos met soveel ander) vir die gelowige-Christen om te besef dat die modernistiese/verligtings konsep van ‘vryheid’ eintlik gelyk aan slawerny is. As die mens geskei word van sy verhouding as skepsel tot sy Skepper, dan word ‘n valse mensbeeld verkondig en gevolglik ook ‘n valse idee van menslike vryheid. HIDA is, vanuit nugter en suiwer perspektief gesien, eerder slawerny aan sonde as wat dit “vryheid” van sg. “patriargale bindinge” is. Christus leer ons immers dat dit sy Wet is wat ons vry maak (Joh. 8:31-32).