Preek: Jakobus 3:10-18 Ware godsdiens behels om my tong in toom te hou (deel 2)

WARE GODSDIENS BEHELS

OM MY TONG IN TOOM TE HOU (deel 2)

Lees: Johannes 15:1-5 en Jakobus 3:1-18

Teksgedeelte: Jakobus 3:10-18

Hierdie preek (asook die voriges in die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 3:10-18 (2015-07-19)

(Deel een: Jakobus 3:1-10)

Preeknotas:

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Reine onbesmette ware godsdiens behels dat ek my tong in toom hou.

Vorige keer het ons geleer van die:

– groot verantwoordelikheid van die tong,

– die groot mag en krag van die tong, en

– die sondige verdorwenheid van die tong.

Die tong het ons gesien, v.6 kan die hele liggaam, dus die hele lewe besmet met kwaad en sonde en onreg, dit het ons veral in v.6-10 gesien, met die hoogtepunt dat dieselfde tong wat God loof, die medemens vloek.

Nou, hoe hou ons dan ons tonge in toom ?

Wat is die antwoord op die sondige verdorwenheid van die tong ?

Die antwoord geliefdes, is:

Ons het wysheid van Bo nodig om ons tonge in toom te hou

Ons het wysheid van die Here, van Christus nodig,

en nie aardse wysheid uit onsself, om die tong in toom te hou.

Dit behels hoofsaaklik dan om in al my gesprekke, my woorde hierdie twee sake altyd in ag te hou as ek my tong gebruik:

  1. Die tong word nie in toom gehou deur aardse wysheid nie, v.10-12,14-16 
  2. Die tong word in toom gehou deur wysheid wat van Bo is, v.13,17,18

1. Die tong word nie in toom gehou deur aardse wysheid nie, v.10-12,14-16

Die begin van die goeie nuus, dit het ons die vorige keer  begin noem, begin met die woorde van vers 10b,

Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.

Om te besef, te erken, deeglik bewus te wees van my sonde en ellende, soos dit ook tot openbaring kom, getoon word in my woorde, gesprekke, tong.

Die ‘dit’ is wat alles in vers 6-10a genoem is:

– Gelowiges wat nog hul tonge gebruik as ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid, wat hul hele lewe met sonde besmet en uit die hel is

– Gelowiges wie se tonge nog nie getem word nie, maar ‘n onbedwingbare kwaad is, vol dodelike gif.

– Gelowiges wat God loof en prys, maar hul naaste, medegelowiges nog vloek.

En om die totale verwrongheid die afkeur van sulke gesplete tonge, sulke woorde, by gelowiges uit te wys, verwys Jakobus na 2 verdere beelde uit die natuur, in v.11,12

– v.11, Uit ‘n fontein kan nie beide vars (soet) en bitter watter opborrel nie, dus lof aan God en vloek van die mens nie.

– v.12, Vyebome dra nie olywe nie, maar vye; wingerdstokke dra druiwe, nie vye nie, dus, gelowiges se tonge moet goeie vrugte dra, nie slegte vrugte nie.

Die laaste sin in vers 12 wys ook dat die vars water maak nie op die vir brak (bitter, slegte) water nie.

Dink ook aan Jesus se woorde in Matt.7, 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 17So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 18‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. 

Maar geliefdes, nie net moet ons deeglik bewus wees van die geneigdheid van die sonde en ellende deur ons tonge nie, ons moet ook weet waar dit vandaan kom, waar kom die ongeregtigheid, gif, smet, vloek, ens. vandaan ?

Die antwoord sien ons in v.14-16:

Dit kom van aardse wysheid, vanuit die mens self.

– v.14a van die bittere afguns en selfsug in ons harte !

Hierdie woorde sluit aan by wat ons daar gelees het in vers 6-8, dit wys op ‘n passievolle ywer gebore uit bitterheid, en SELFsug, wedywering vir die eie saak en agenda, twisgierigheid, dus waar die mens en sy eie eer en behoeftes en wil sentraal staan.

En as dit nog met ‘n godsdienstige kleed bedek word, lyk dit nog erger, sien weer v.6-10.

Hierdie ‘wysheid’ is eintlik onverstandigheid, dwaasheid, dit is van onder, ‘aardse wysheid’,

soos vers 15 dit beskryf:

aards, dit gaan oor die hier en nou, my lewe maar ook my woordeskat en tong word bepaal deur wat op die aarde aangaan,

natuurlik staan teenoor bonatuurlik, dit kan ook duideliker vertaal word as ongeestelik, dit is ‘n wysheid van die wêreld gelei deur die sondige gees, tydsgees, onreine gees van die mens.

duiwels, het sy oorsprong by die Satan se leuentaal, soos reeds genoem is in vers 6.

En, wat is die gevolg van die sonde en ellende van die tong wat uit die selfsugtige hart kom ?

Vers 16, wanorde en allerlei gemene dade, dit kom tot uiting in die oortreding van die Here se gebooie, sy geregtigheid.

Onthou vers 6, dit besmet die hele liggaam wat dan ook in dade begin sondig.

Die wanorde wys op gebrek aan vrede, dit lei tot opstandigheid en rebellie, onrus, en selfs later tot fisiese geweld.

Jesus se woorde: So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

En geliefdes, eers as ons, as ek dan besef die groot gevaar en verdorwenheid van MY TONG, as ‘broeder’ … as ‘geliefde’ (v.1 en v.10b) …. dan kan ek, dan moet ek om hulp roep !.

Eers as ek sien en besef hoeveel skade my woorde al reeds of kan veroorsaak, dan kan ek roep om hulp !

Eers as ek besef maar ekself, met my eie selfsug, eie ek, kan nie my tong tem nie, v.7,8, dan roep ek om hulp !

En wat is daardie hulp geliefdes ?

Ons kan alleen gered word van ons sondige tonge, ons kan alleen ons tonge in toom hou, deur die Wysheid wat van Bo is, deur Christus en sy Gees alleen !

Dit sien ons in die tweede plek:

2. Die tong word in toom gehou deur wysheid wat van Bo is, v.13,17,18

In verse 13,17 en 18 hoor ons die antwoord op die sondige vedorwenheid van die tong: ons benodig Wysheid van Bo !

Vers 13 roep ons op om uit ons goeie lewenswandel ons goeie werke, v.14-26, te wys (toon, sien 2:18) in sagmoedige wysheid, en in die konteks dan, spesifiek ook my woorde, my tong.

(Die KJV vertaal ‘goeie lewenswandel’ as ‘good conversation’)

En waar begin alles ?

Om deur die geloof in Christus gewortel te wees, die Woord !

Vers 11, as die oog van die fontein nie vars/soet is nie, kan dit nie vars water bring nie.

Vers 12, as die vyeboom nie waarlik ’n vyeboom is kan dit nie vye voortbring nie.

Vers 12 se beeld van die wingerdstok, en met verwysing na Jesus se woorde in Joh.15 wat ons gelees het:

Ek moet in Christus ingeplant wees om goeie vrug te kan dra, wysheid te kan toon.

Ons kan nie goeie gesprekke hê, ons tonge met wysheid gebruik, as ons nie in die Wysheid, in Christus deur die geloof ingeplant is nie !

Joh.15:5, sonder Christus kan ons niks doen nie, ook nie reg praat nie, nie met wysheid spreek nie !

Onthou, Christus het gees en liggaam kom red, dus ook die tong:

Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. – 1 Kor.6:20

So alles begin, waar Jakobus begin het in 1:1,

Is ek waarlik dienskneg en diensmaagd van Jesus Christus,

En wys my tong, my woorde, my gesprekke dat ek sy kind is,

wys my gesprekke dat ek sagmoedige wysheid beskik ?

Dat ek Hom en my naaste dien met woorde ?

Want, as ek in Christus, die Wysheid geplant is, dan – soos antw 64 van die HK dit stel – kan ek nie anders as ‘vrugte van dankbaarheid’ voort te bring nie, ook in my woordeskat !

Gewortel in Christus, die Wysheid van Bo, word die ware wysheid gesien in vers 17, dit is:

– rein, dit is heilig, dit kom van die Heilige Gees af, dit is suiwer teenoor die bitter

– vredeliewend, teenoor die onvrede

– vriendelik, teenoor die selfsug

– geseglik, neem ander in ag, is oortuigbaar

– vol barmhartigheid, dien en bedien die ander

– dra goeie vrugte, hfst.2:14-26

– onpartydig en ongeveins, dit is eg en eerlik en opreg tot my naaste.

En wat is die vrug van Wysheid wat van bo is, vir sy kinders en kerk ?

Vers 18, die teenoorgestelde van vers 16 se wanorde, ongeregtigheid, nl.

geregtigheid, waarheid word gedien, en daar kom vrede, vir die wat vrede maak en najaag !

Hier is dan ’n baie belangrike saak om te besef geliefdes, dit is nie of die waarheid of die liefde nie, maar waarheid wat in liefde bedien word.

En ja, dit kan ’n woord van bemoediging wees, en/of woord van vermaning !

Maar die waarheid moet in liefde bedien word, Ef.4:15

Hier word ons ook vermaan, kyk die woorde van 14b:

“Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie.”

Ons moet vir geen oomblik dink ons dien die waarheid, Christus, sy wysheid

as ons met bitterheid en afguns en selfsug en selfs haat ‘MY SAAK’ beveg,

want dit is mos die waarheid nie !

Kyk ook na die volgende woorde weer uit Jak.1:19,20:

So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. 20 Want die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie. 21 Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.

So geliefdes, die sleutel om my tong in toom te hou, is dat ek buig voor Christus, as my Wysheid, Hy wat my verlos het van ’n sondige tong, sodat ek ook met my tong die vrug van die Gees sal dra (Gal.5:22,23).

Laastens dan, sekere konkrete praktiese riglyne vanuit die Skrif om my te help om my tong in toom te hou, gebaseer daarop dat ek in Christus gewortel is:

1. Gebed vir die beheersing van my tong, Jak.1:5,

“En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”

– Vir elke dag se gesprekke, veral by die werk, by die gemeente, met ’n ander gelowige, bid daaroor vir wysheid en vir wyse woorde om te spreek, of dit bemoedigend en/of vermanende woorde moet wees.

2. Selfondersoek, Ps.139:23,24,

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”

Ja, Here ondersoek my hart om te sien of daar nog selfsug en bitterheid is teenoor U en my naaste, wat veroorsaak dat my tong verkeerd spreek !

3. Bêre die Woord van die Here in jou hart, Ps.119:10,11

10 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. 11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

Memoriseer Skrifgedeeltes om te help wanneer jy in versoeking kom om te vinnig … of te stadig te wil spreek.

4. Vermy onnodige gesprekke wat lei tot versoekinge om te sondig met die lippe, 1 Kor.15:33, 33

“Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”

Ons kan nie noodsaaklike gesprekke in my gesin, gemeente en werk vermy nie, maar is baie van die sosiale media gesprekke werklik opbouend of lei dit tot meer sonde van die tong ? (onnodige facebook, epos, twitter, whatsapp, ens gesprekke ?)

5. Toets en weeg jou woorde, wanneer om te spreek, wanneer om stil te bly, sien die hele Spreuke boek (bv. 12:18; 15:2), Kol.4:5,6

“Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit. Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.”

Laat ons albei uiterstes vermy, te veel te wil praat (1 Tim.5:13) maar ook glad nie te wil praat nie (Mark.8:38; 1 Pe.3:15), dit gaan oor wat ons sê én hoe ons dit sê.

Geliefdes, die tong het ‘n groot verantwoordelikheid, dit is baie magtig en het groot invloed, deur die sonde verdorwe, maar in Christus word dit gered en geheilig om God te loof, en ons naaste te dien.

Maar alleen deur die Wysheid wat van Bo is (Joh.15:5).

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: