Preek: Bid vir Jerusalem ! (Jesaja 62:6)

BID VIR JERUSALEM !

Teks 62:6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes–moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!

Tema: Bid vir Jerusalem!

Psalms:122:1; 122:2; 130:1,2; 84:3,4; 84:5,6.

Prediker: ds Gustav Opperman (GK Matlabas)

 

Openingsgebed (getranskribeer na die erediens):

Drie maal Heilige God,

God wat deur die hemelwesens toegeroep word:

Heilig! Heilig! Heilig!

Wie sou een enkele stonde voor U kon bestaan,

as dit nie was vir die genade van onse Here Jesus Christus nie …

As dit nie was, dat Hy ons in ons sondetoestand raakgesien het

en ons innig jammer gekry het nie.

Ons dank U vir die genade om vanoggend weer in Sy Naam

voor die Hemelse Vader te mag verskyn …

En dat ons in Sy Naam die kragtige werking van die Heilige Gees

ook in hierdie erediens kan afbid …

Die een ding wat U vir ons nie sal weier as ons dit van U vra nie, Hemelse Vader,

en wat onse Here Jesus Christus ons belowe het,

wat altyd met ons sal wees …

is die werking van die Heilige Gees.

En daarom mag ons dit vra …

al is ons nie die mees voorbeeldige kinders in U huis ooit nie.

Trouens, ons staan voor U in ons diepe sondetoestand.

Ons staan voor U as diegene wat onverskillig staan teenoor U Wet,

as diegene wat telkens maar uit hulleself uit

elkeen van U gebooie oortree.

Daar is nie ‘n gebod wat ons nie oortree nie,

en as ons dit nie sou erken nie, sou ons ‘n leuen vertel.

Ons bid dat U vir ons in ons sondetoestand sal aansien

ook vandag en dat U Woord kragtig tot ons spreek;

dat die Heilige Gees ons harte sal oortuig dat hierdie Woord waar is

en dat dit nie net waar is nie, maar dat dit ook toepaslik is op ons lewens …

Ons bid dat ons verander sal word …

En dat ons sal groei in ons dankbaarheid en liefde

vir die werk wat onse Here Jesus Christus vir ons gedoen het;

dat ons dankbaarheid en liefde sal groei, elke dag, al hoe meer.

Ons bid in Sy heilige Naam dat hierdie Woord ook kragtig sal spreek

dwarsoor die wêreld waar dit vandag gepredik word.

U weet wat die aanslag op hierdie Woord is vanuit alle oorde.

En daarom bid ons dat U predikers vaardig sal maak

om hierdie Woord te spreek in waarheid

en in die krag van U Gees.

Ons bid dit in die Naam van onse Here Jesus Christus, ons Verlosser.

Amen.

 

Broers en Susters, huisgenote in die geloof,

Huwelik en die gesin …

Daar is min dinge wat ons só bekommerd behoort te maak

as huwelik en gesin.

Nie net oor dit wat aangaan in die wêreld daar buite nie,

maar oor dit wat aangaan hier,

hier binne …

hier in die huis van God.

In elke gereformeerde kerk in hierdie land en die wêreldoor.

Mans en vrouens wat hulle eie beloftes vertrap.

Mans en vrouens wat hulle ereplek in die huis van God verruil het,

verruil het ‘n sitplek op die seksuele mallemeule daarbuite,

verruil het vir ‘n plesierrit op pad na nêrens.

Mans en vroue vertrap hulle eie beloftes.

Mans wat hulle verantwoordelikheid tot geestelike leierskap afgee,

vrouens wat hulle heilige plig tot moederskap versaak.

Kerkleiers wat openlik vra

dat die kerke nou maar soos die res van die wêreld homoseksualisme moet erken …

dit aanvaar en daarmee saamleef.

Dis baie hartseer.

En die kinders hier in die huis van God …

God se Verbondskinders, wat wegloop uit Sy huis …

Hulle lê Belydenis van geloof af,

en hulle beloftes is nog nie koud nie …

of hulle vat die pad.

Ons aanvaar dit nou al as normaal.

Dis hoe dit is.

Dis hoe dit gaan.

Wat kan ons doen?

Ons kan iets doen, Broeders en Susters, en ons moet iets doen!

Die profeet Jesaja gee ons daardie opdrag vanoggend.

 

O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit,

wagte wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie.

O Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes–moenie rus nie

en laat Hom nie met rus nie,

totdat Hy Jerusalem bevestig

en maak tot ‘n lof op aarde!

 

In Jesaja se tyd het die Jerusalem-gedagte tot iets besonders gegroei.

Jerusalem was nie net meer Dawid se stad nie

en Sion was nie net nog ‘n berg nie.

Nee, in Jesaja se tyd was die tempel in die koningstad op die berg iets wonderlik,

iets wat woorde skaars kon beskryf.

Dis daar waar die Here woon.

Dis die plek waar waar ek Hom mag ken.

Dis daar waar versoening vir my wag.

Dis daar waar my gebede optrek in die lug,

daar by God se vriendelike aangesig.

Ons het dit vanoggend weer gesing:

Kom laat ons optrek hiervandaan

Om na die Heer se huis te gaan

O Heilige stad, gelukkige oord,

Ons voete staan nou in jou poort

Jerusalem, die huis van God!

Die tempelgemeenskap …

die bruid van die Here.

Die apostel Paulus het dit baie mooi raakgesien

toe hy Jerusalem in sy brief aan die Galasiërs beskryf het.

Daar noem hy Jerusalem:

Die moeder van ons almal (Gal 4:26).

En nou as ons na ons huwelike en gesinne kyk …

ons ons na ons eie lewens kyk;

as ons na die leë kerke die wêreldoor kyk,

kan ons nie anders nie

as om Jerusalem raak te sien nie …

nie Jerusalem in haar glorie nie …

nie Jerusalem wat glinster in die son se vlamme nie,

maar Jerusalem soos Jesaja haar beskryf aan die begin van sy professie:

En die dogter van Sion het oorgebly …

oorgebly soos ‘n skermpie in ‘n wingerd,

soos ‘n slaapplekkie in ‘n komkommertuin,

soos ‘n beleërde stad.

As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie …

soos Sodom sou ons geword het,

ons sou net soos Gomorra gewees het (Jes 1:8).

 

O die hartseer!

Jerusalem die moeder van ons almal,

dogter van Sion, bruid van Christus,

verwerp deur haar Man;

verwerp deur die Here self,

want sy, Jerusalem self het gekies,

en toe weer gekies,

keer op keer gekies

om ‘n hoer te wees.

 

Daardie woord val effe kras op die oor,

is dit nie so, Broeders en Susters?

Hierdie Bybel het nie ‘n ander woord vir die afvallige kerk nie.

Hoer.

 

Daarom, o hoer, hoor die woord van die HERE,

(staan dit in die professie van Esegiël (16:35ev)).

Ek sal jou oordeel volgens die verordeninge van vroue wat owerspel bedrywe

Ek sal jou klere uittrek.

Ek sal jou versiersels wegneem.

Ek sal jou naak en bloot laat staan.

Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand

Ek sal ‘n einde aan jou hoerery maak.

Die Here het iets vir ons te sê,

geliefde Gemeente,

Bruid van Christus …

oor ons buite egtelikheid;

oor die saamblyery in die geloofsgemeenskap;

oor die egskeidings;

oor die homoseksualitiet en lesbianisme in ons midde;

oor ons dogters wat hulle liggame flits en adverteer.

Die HERE het iets vir my en elke ander man te sê

wat sy oë uitleen vir die vreemde vlees …

of dit nou die pornografie op die internet is

en of dit nou hier in die kerk my suster in die geloof is.

U het dit al vir my gesê, O Here,

maar ek moet dit weer hoor,

weer en weer hoor,

want hierdie saak tas die wese van ons met ons verhouding met ons God aan,

van ons as gemeente se verhouding met U aan.

Ten diepste … is dit teenoor U

teenoor U Seun, Jesus Christus …

dat ons vuil en besoedel staan.

 

Ek is jaloers oor julle

(skryf Paulus aan die Korintiërs (2 Kor 11:2)).

Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid,

want ek het julle aan een man verbind,

om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.

Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie

en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie.

 

Want, u weet, die Babiloniërs het destyds gekom.

Hulle het die heilige stad beleër.

Hulle het die mure omgegooi.

Hulle het die huis van die Here geplunder.

Hulle het die hele stad met die tempel verbrand.

Daar het net ‘n rommelhoop agtergebly.

Dit het gelyk …

net soos dit by Sodom gelyk het

Dit het gelyk …

net soos by Jerigo …

ná die mure ingeval het.

Daarom begin Jeremia sy Klaagliedere met die woorde:

Ag hoe verlate sit die stad wat vol mense was!

Sy het soos ‘n weduwee geword,

Sy wat magtig was onder die nasies.

Die Here het haar droefheid aangedoen

vanweë die menigte van haar oortredinge.

Jerusalem … die verlatene!

Jerusalem … die wildernis!

 

Al jou minnaars het jou vergeet,

hulle vra nie na jou nie;

Dit is Sion, sê hulle,

niemand vra na haar nie (Jer 30:14,17).

 

Dis groot droefheid vir die kerk,

vir die huis van die Here.

‘n Groot hartseer …

maar nog ‘n groter hartseer vir haar Man,

vir die Een wat haar lief het,

vir die Here …

Om die bruid van jou jeug in die bordeel te sien,

een in ‘n ry van goedkoop vroue.

Om die moeder van jou kinders op die straat te sien bedel,

vuil en verslons met verslete klere …

en haar kinders verdwaal en verhonger.

Dis die kerk van vandag, Broers en Susters,

dis die kerk van vandag!

Staan op! (skryf Jeremia)

Skreeu in die nag by die begin van die nagwake.

Stort jou hart uit soos water voor die aangesig van die HERE.

Hef jou hande op na Hom,

ter wille van die lewe van jou kinders …

jou kinders wat by die hoek van al die strate versmag van honger (Klaagliedere 2:19).

 

Enkelouerkinders,

bediende grootgemaakte kinders,

die kinders van Baäl se TV-kassie.

Hulle ken net een ding:

Jy moet jou oog op die bal hou!

Jy moet die bal beheer …

Slaan die bal! Skop die bal! Vang die bal!

Balbesit!

O, dis so belangrik … balbesit …

 

Maar besit ons kinders nog die Koninkryk?

Is hulle die nog die erfgename van die ewige lewe?

Of is hulle maar net besig om bal te skop

tussen die puinhope van Jerusalem?

Hulle leer van die Evolusie.

Hulle word voorstel aan al die godsdienste.

Hulle word ingelyf in die kultuur van menseregte.

Stort jou hart uit soos water voor die aangesig van die HERE!

Gereformeerde ouer:

Kyk, die kinders is honger,

honger op die hoek van die strate,

honger vir die Brood van die lewe!

Wat het oorgebly?

Wat is daar nog om aan vas te hou?

 

In Jesaja 54 praat die Here weer met sy bruid,

sy bruid in ballingskap,

die moeder van Sy kinders

op Babilon se strate.

Na baie jare se skande en vernedering …

hoor ons weer die stem van die bruidegom:

Jou Maker is jou Man, (sê Hy).

Die Een wat jou geskape het,

Hy is jou man.

Here van die leërskare is sy Naam

Die Here roep die verlate vrou

Vir ‘n klein oomblik het ek jou verlaat,

maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.

 

Kan dit waar wees?

Na al die geskreeu in die nag by die begin van die nagwake

hoor ons weer die stem van die bruidegom!

En dis geen wonder nie, Geliefdes,

dat hierdie boek Jesaja beskryf word as die vyfde Evangelie.

Vier Evangelies in die Nuwe Testament …

‘n vyfde Evangelie in die Ou Testament

“Euangelion” … die goeie nuus.

 

Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring,

wat goeie tyding bring,

wat verlossing uitroep;

wat aan Sion sê:

“Jou God is Koning!

Hoor! Jou wagte!

Hulle verhef die stem,

hulle jubel almal saam;

want hulle sien vlak voor hulle oë

hoe die HERE terugkeer na Sion.

Breek uit, jubel almal saam,

puinhope van Jerusalem!

want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos!

 

Jesaja het dit gesien …

Hy het die herstel van Jerusalem gesien.

Die profeet Sagaria het dit ook gesien:

Verheug jou grootliks, o dogter van Sion!

Juig, o dogter van Jerusalem!

Kyk, jou Koning kom na jou;

regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy

nederig en Hy ry op ‘n esel …

op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin (Sag 9:9).

 

Die Bruidegom het nie sy bruid vergeet nie.

Manne, julle moet jul eie vroue liefhê,

(skryf Paulus aan die Efesiërs).

Hoe moet hulle hul vroue liefhê?

Soos Christus ook die gemeente liefgehad

en Homself daarvoor oorgegee het

om dit te heilig,

sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik,

sonder vlek of rimpel of iets dergeliks;

maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.

 

Die dogter van Sion is bestem vir ‘n hemelse bruilof.

Haar kinders is verseker van ‘n hemelse huis …

met ‘n getroue hemelse Vader.

Sy beloftes staan vas.

Hy sal hulle nakom.

Hy het hulle nog altyd nagekom.

 

Daarom dat die apostel Johannes met soveel sekerheid in Openbaring 19 kan skryf:

Laat ons bly wees en ons verheug!

Laat ons aan Hom die heerlikheid gee,

want die bruilof van die Lam sal kom

en sy vrou sal haar gereed maak.

En aan haar is gegee

om bekleed te wees met rein en blink fyn linne (Op 19:7ev).

 

Laat ons nie ophou

om die Here hiervoor te bid nie, Geliefdes!

In Lukas 18 staan die woorde van die Bruidegom vir ons opgeteken:

Daar vertel die Here Jesus die gelykenis van die onregverdige regter …

vir ons vertel met die oog daarop

dat ons gedurig moet bid …

gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.

 

Bid vir ons huwelike!

Bid vir ons gesinne!

Bid vir die kinders in die Verbond!

Bid vir die herstel van Jerusalem se mure!

Laat ons vashou aan die Here se beloftes!

Laat ons soos Jakob die nagtelike worsteling aanknoop

en vashou …

en nogmaals vashou

todat Hy ons seën!

Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes nie

sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie?

 

Die Here het nie ons gebede nodig nie, Broeders en Susters.

Die Here is nie vergeetagtig nie.

Hy het nie nodig

dat Hy aanmekaar herinner te word nie.

Die Bewaarder van Israel sluimer nie.

Die Bewaarder van Israel slaap nie.

Hy weet wat ons nodig het

voordat ons Hom vra.

 

Maar ons weet ook …

Die Here reageer op gebed.

Die gebed van die regverdige het groot krag.

Op Sy tyd

en op sy manier …

sal Hy verhoor.

 

O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit

Laat ons gedurigdeur …

die hele dag en die hele nag nie swyg nie.

O Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes …

moenie rus nie

en laat die Here nie met rus nie,

todat …

totdat Hy Jerusalem bevestig

en maak tot ‘n lof op aarde!

Amen. 

 

Slotgebed (getranskribeer na die erediens):

Genadige God en Hemelse Vader,

Ons bid vir geloofstryders …

Geloofstryders in hierdie gemeente

en in elke huisgesin …

Ons bid vir diegene wat niks anders meer kan doen

as om hulle hande bymekaar te bring en tot U hulle harte uit te stort nie.

Ons bid dat U deur die Heilige Gees

die erns van hierdie saak op ons gewetens en op ons harte sal afdruk.

Ons bid dat ons as gemeente en as geloofsgemeenskap die wêreld oor

hierdie gebed vir U kerk tot U sal rig,

want selfs dit, selfs dit kan ons nie doen as die Heilige Gees ons nie daartoe lei nie.

Ons kan onsself nie bekeer, tensy U ons bekeer nie.

En daarom kom ons na U toe in die genade wat ons het in onse Here Jesus Christus

en ons bid in Sy Heilige Naam

dat U ons gebedslewe sal aanwakker.

Ons vra dit nie ter wille van onsself nie,

maar ons vra dit ter wille van die Naam van onse Here Jesus Christus

en U Heilige Naam wat so belaster en vertrap word die wêreld oor.

Ons vra dit ter wille van die bruid van onse Here Jesus Christus,

wat tans soos ‘n slegte vrou …

wat tans soos ‘n verlate moeder …

op die wêreld se strate rondlê.

Ons vra dit in die Naam van onse Here Jesus Christus.

Amen.

2 thoughts on “Preek: Bid vir Jerusalem ! (Jesaja 62:6)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: