TWEE GETUIENISSE TEEN DIE NGK SINODE 2015 SE PRO-SONDE BESLUIT

TWEE GETUIENISSE TEEN DIE

NGK SINODE 2015 SE PRO-SONDE BESLUIT

[Nota: sien hier – by die ‘comments’ afdeling, die verskillende kerke se verwerping van die NGK se besluit]

KLASSIS MOOT VAN DIE GKSA SE MOSIE VAN LEEDWESE, SKOK EN AFKEUR TEEN DIE NGK SE BESLUIT AANGAANDE HOMOSEKSUALITEIT

Die Gereformeerde Kerke in Klassis Moot (BetEl, Daspoort, Meijntjieskop, Elofsdal, Innesdal, Kandelaar, OosMoot, Bronkhorstpruit, Pretoria(d), Wonderboom Suid, Totiusdal, Andeon, Bergsig) het die volgende Mosies eenparig aanvaar by vanaand se vergadering:

Die Gereformeerde kerke in klassis Pretoria-Moot neem met leedwese, skok en afkeur kennis van die onlangse besluite van die Sinode van die NG Kerk, wat homoseksualiteit aanvaar en goedkeur in so mate dat mense wat ‘n openlike homoseksuele leefwyse beoefen, selfs as predikante toegelaat word en dat verbintenisse tussen sulke mense kerklik bevestig mag word.

Die Bybel wys homoseksualisme onvoorwaardelik af, soos duidelik onder meer uit Romeine 1: 26 en 27. Die besluit  van die NG Kerk word diep betreur en noodsaak herbesinning van die ooreenkoms met die NG Kerk soos goedgekeur op die laaste algemene sinode van Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Ons as Gereformeerde Kerke se ekumeniese verhouding met die NG Kerk het verlede week ‘n praktiese werklikheid in ons lewens geword met die NG Kerk Sinode se pro-homoseksualisme besluit.

Na aanleiding van hierdie besluit van die NG Kerk spreek hierdie vergadering van Gereformeerde Kerke in Pretoria-Moot sy kommer uit oor ons ekumeniese verhouding met die NG Kerk, asook ons hartseer oor genoemde besluit se liefdelose veragting van die HERE, sy Woord, en ons naaste.

Dit doen ons terwyl ons harte uitgaan na ons broeders en susters in die NG Kerk wat die geestelike aanslag en dwingelandy van afvallige Kerk-strukture baie erg beleef.

Hierdie vergadering se bede is dat die HERE al sy ware gelowige kinders in die NG Kerk en ook in die Gereformeerde Kerke deur sy Gees sal vul en lei (Efes 5:19; Rom 8:13-14; Gal 5:16) om hulself te verloën en sy Naam en waarheid teenoor die NG Kerk se pro-homoseksualisme besluit  te bely, en haar oor haar euwels te bestraf (Mark 8:34-38; HK Sondag 12 v/a 32).


NG OTJIWARONGO BREEK ALLE BANDE MET  DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK IN SA

Woord-skatte gemyn op Tsumeb het die besluit as volg:

BESLUIT

DIE KERKRAAD VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK OTJIWARONGO HET OP ‘N BUITENGEWONE VERGADERING GEHOU OP DIE 13DE OKTOBER 2015 DIE VOLGENDE BESLUIT GENEEM:

                                                                                                                

ONS STANDPUNT TEENOOR DIT WAT DIE PAS-AFGELOPE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERKVERBAND BESLUIT HET OOR SELFDE-GESLAG-VERHOUDINGS(Bewoording met vergunning aan die NG Kerk Moreletapark).

  1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg.  Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
  2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
  3. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
  4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder)  in ons gemeente  dien nie.
  5. Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.

                                                                                                                

WAT ONS NOU PRAKTIES TE DOEN STAAN

  1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verbreek onmiddelik alle bande met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.
  1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo behou voorlopig kerkverbandelike verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië. Die eersvolgende sinode van die Nederduitse Gereformeede kerkverband in Namibië sal bepaal of die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo haar verbintenis met die NG Kerkverband in Namibië sal handhaaf al dan nie.

(Nota: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo betreur die feit dat die afgevaardigdes van die NG Kerkverband in Namibië die landswette van Namibië moes voorhou as rede waarom nie akkoord gegaan kan word met die besluite van die Algemene Sinode nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo sou verkies dat enkel en alleen op suiwer Bybelse beginsels gestaan sou word wanneer die NG Kerkverband in Namibië se betrokkendheid by die AS se besluit, oorweeg word.)

  1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo staak met onmiddelike effek alle finansiële bydraes aan die Algemene Sinode. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo gaan wel huidiglik voort met sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië met die duidelike en pertinente voorwaarde dat geen deel van hierdie bydra aan die Algemene Sinodale Verband oorbetaal mag word nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo vra dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië via sy sinodale kantoor asseblief aan ons die versekering sal gee dat geen so ‘n oorbetaling aan die Algemene Sinode gedoen sal word nie. Indien die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië dit nie moontlik vind om aan die NG Kerk Otjiwarongo se versoek te voldoen nie, sal die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verplig wees om voorlopig sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië te staak tot tyd en wyl die NG Kerkverband in Namibië se standpunt betreffende selfde-geslag-verhoudings bekend is. In so ‘n geval sal die NG Kerk Otjiwarongo die betrokke betalings in ‘n aparte rekening deponeer, en indien die NG Kerkverband in Namibië dan wel uiteindelik aandui dat sy die weg van God se Woord gaan volg betreffende selfde-geslag-verhoudings, sal die teruggehoude gelde dan volledig aan die NG Kerkverband in Namibië oorbetaal word (So ‘n besluit deur die NG Kerkverband in Namibië sal vanselfsprekend beteken dat die NG Kerkverband in Namibië haarself losmaak van die Algemene Sinodale verband in SA). Indien die NG Kerkverband in Namibië egter sou besluit om in die spore van die Algemene Sinode te volg, is dit vanselfsprekend dat die NG Kerk Otjiwarongo ook sy bande met die NG Kerkverband in Namibië sal verbreek.

Nota: Daar moet baie sorgvuldig in gedagte gehou word dat volgens die basiese beginsels van die Skrif en die gereformeerde kerkreg is die plaaslike kerk (gemeente) volwaardige kerk. Christus is die enigste Hoof en Hy regeer sy kerk deur sy Woord, Gees en die ampte. Die kerkverband kom voort wanneer twee of meer plaaslike kerke op ‘n bepaalde beginsel-grondslag met mekaar in verband tree. Daardie beginsel-grondslag word in die kerkorde omskryf. Die kerkverband hanteer dan ook alleenlik daardie sake wat van gemeenskaplike belang is en wat nie sinvol deur die plaaslike kerk alleen gehanteer kan word nie. Dit is verder ook belangrik om altyd in gedagte te hou dat daar binne die gereformeerde kerkreg en verstaan van kerkwees geen sprake is van hierargie nie. Die ring is nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad nie, en die sinode is ook nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad en die ring nie. Die ring is wel ‘n meerdere vergadering as die kerkraad, en die sinode is ‘n meerdere vergadering as die kerkraad en die ring. Dit beteken dat op ‘n ringvergadering is daar meerdere ervaring en kennis van die Skrif teenwoordig as op ‘n kerkraad en eweneens so op die sinode as op ‘n kerkraad en ‘n ringsvergadering. Wanneer ‘n ring en/of ‘n sinode egter kennelik en duidelik wegbeweeg van die Skrif af (soos wat nou gebeur het met die Algemene Sinode) dan verloor daardie vergadering onmiddelik en logies sy status as meerdere vergadering, en het die kerkraad (plaaslike Kerk) die reg om sy posisie betreffende die betrokke meerdere vergadering in heroorweging te neem. Ons is immers daartoe verbind om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Hand. 4: 19 en Hand. 5: 29).

3 thoughts on “TWEE GETUIENISSE TEEN DIE NGK SINODE 2015 SE PRO-SONDE BESLUIT

Add yours

  1. Ek voel vandag soos Jeremia wanneer hy in Klaagliedere 1:22 se : — want my versugtinge is baie, en my hart is krank.
    Ek ween oor die kerk waar ek die Here my lewe lank gedien en aanbid het, waarheen nou Here ?

  2. Ons bid en vertrou dat alle klassise van die GKSA hierdie verklaring van Klassis Moot sal navolg en Christus se Koningskap in ons kerk bevestig.

  3. Ons N G Kerk Sinode-besluit is ‘n Twyfel Manifes. Die hele redenasie oor homoseksualisme saai twyfel in baie opreg gelowiges se harte oor die onfeilbaarheid van God se Woord. Besef die geleerde here wat hulle voor God doen? Hulle probeer God verklaar en die Woord word die MENS se openbaring oor God. Wat ‘n dwaling. Wie kan ooit vir God verklaar? Die Woord praat oor homself as “betroubaar en werd om ten volle aangeneem te word” (I Tim 4:9, o a). Daar word neerhalend verwys na ons wat God se Woord heelhartig glo en in ons hart bewaar, as fundamentalisties, sodat God se kinders aan Sy geopenbaarde wil moet twyfel. Die OT word bygesleep in teologiese redenasies waar dit na Jesus se Opstanding glad nie meer van toepassing is nie. Ek kry die idee dat die homoseksualisme verdedig word met ‘n Babelse verwarring van woorde en betekenisse sodat God se kinders MOET TWYFEL wat die Waarheid is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: