Preek: Jakobus 5:13-16a Volhard in gebed en aanbidding

VOLHARD IN GEBED EN AANBIDDING

Skriflesing: Jak.5:1-16

Preekteks: Jakobus 5:13-16a

Hierdie preek (asook die voriges in die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 5:13-16a (gaan na: 2015-10-18)

Preeknotas:

In Sondag 10 van die HK, v/a 28, hoor ons die volgende baie troosvolle woorde:

28. Vr. Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskape het en nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antw. Dat ons in alle teëspoed geduldig, in voorspoed dankbaar moet wees en in alles wat nog oor ons kan kom, ‘n vaste vertroue moet stel op ons getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

Veral die woorde, dat ons in alle teëspoed geduldig, en in voorspoed dankbaar moet wees.

Dit is waaroor die lewe gaan,

  • goeie tye … slegte tye …
  • siekte en gesondheid,
  • droogte en reëns,
  • lydingstye en blydskaptye.

(sien die belydenis in v/a 27)

Dit is ook in wese wat ons besig is om te leer hier uit Jakobus, die hele brief, maar spesifiek die 5de hoofstuk.

In ons teksverse, stel Jakobus dit vir ons – die Here se diensknegte wat oppad is na die wederkoms – soos volg, v.13

13 ¶ Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing. 

In tye van lyding, teëspoed moet ons geduldig wag en bid.

In tye van opgeruimdheid, blydskap en voorspoed, moet ons psalmsing.

Ons moet dus volhardend bid en aanbid … aanbid en bid,

want,

  • v.8, die wederkoms van die Here is naby, ons lewe geduldig volhardend in die lig van hierdie troos (v.7) !, en
  • v.11, ons aanbid en bid tot ‘n Here wat vol medelye en ontferming van ewigheid tot ewigheid is, dus ook vandag en nou midde ons lyding en swaarkry!

Ons tema is daarom,

‘n Lewe van volharding in gebed en aanbidding

tot en met die wederkoms van Christus 

Ons let op twee sake,
1. Volhardende aanbidding van ons Here, en ‘n

2. Volhardende gebed vir mekaar

1 Volhardende aanbidding van ons Here

Geliefdes, daardie 2 sake in v.13, is daarom kenmerkend van ons lewe, ook veral as gelowiges.

Ons beleef, nie almal op die dieselfde manier nie, lyding en opgeruimheid in ons lewe.

Vir watter redes ookal, of dit geestelik of fisies is, lyding is deel van die lewe.

Dit is ‘n gegewe, so die vraag is nie of ek ly of gaan ly nie, maar,

Wat maak ek daarmee ?

Wat maak ek met die lyding, en dan verwys Jakobus natuurlik, hier spesifiek,

na dit wat hy alles oor skryf in sy brief, maar dan in die besonder, v.1-12.

– ellendes wat oor ons kom deur rykes of magtiges wat jou misbruik, misdaad,

onreg, ens., wat, v.6 die regverdiges vermoor …. ook veral in die nuwe SA,

– tye van sondige sugtinge teenoor mekaar, v.9

– v. 10,11 waar ek vervolg word oor my geloof, die waarheid, in die lyn van die profete ‘wat in die Naam van die Here gespreek het’

– as daar van my kwaad gespreek word, hfst.3, 4:11

– as ek ly oor gevolge van my eie sondes, 4:4

En die antwoord is eenvoudig, maar so belangrik:

Ek bid tot die Here, ek verklaar my totale afhanklikheid van Hom

Ek raak nie verbitterd, haatlik en doen alles wat verkeerd is nie … vlug van Hom weg nie !

Ek vergeld nie kwaad met kwaad nie, as die wêreld in onreg verval, loop ek nie daarmee saam nie (Rom.12:21).

Onthou, v.11 die lydsaamheid van Job, ons wag in gebed op die Here, vir uitkoms, maar selfs as Hy nie fisiese uitkoms gee nie, die krag om midde onreg en lyding en swaarkry getrou te bly !

Ek volhard in my aanroeping en aanbidding van die Here.

Sien v.4, die belofte en troos dat die Here ons (angs)roepe hoor.

Hy sal optree teen die onreg, dat Hy sal uitkoms gee, nie altyd in hierdie lewe in ‘n lydingsituasi nie, maar altyd in die ewigheid.

En as ek bid, dan is dit ‘n afhanklikheidverklaring dat Hy is, en alles onderhou en regeer,

dat Hy ‘n God van ontferming en medelye is wat my deur alles dra !

Hy is my hulp, my redding in voorspoed en teëspoed !

Maar, belangrik, ook as dit goed gaan, ek voorspoed het, opgeruimd is.

Die gevaar bestaan dat as dit goed gaan, ek dink dit is ekself, ek het gesorg,

dit is my gehoorsaamheid wat dit alles verdien.

Dit waarvan die rykes en magtiges aan skuldig was, die self-roem, 4:13-5:3

Dat ek dink dit is ek wat so goed is.

En dan vergeet ek so maklik die woorde van 4:15,

As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen

Nee, in voorspoed is ek dankbaar, en sing tot lof van die Here!

Die woorde van psalmsing, kan wys na die Psalmboek, na ‘sing met snaarinstrumente’, maar die wese hier is dat dit gaan oor die manier hoe ek aanbid, my gesindheid, dit moet met loflied wees, in oorgawe en dankbaarheid.

Ek bely in dankbaarheid, dat alles uit sy goeie Vaderhand kom, die woorde van antw.28!

Maar geliefdes, my aanbidding van die Here in alle tye,

of dit lydingstyd of opgeruimde tye is,

my gebede tot Hom, lei dan ook tot gebed vir my medegelowiges, vir sy kerk, vir mekaar !

Dit kan moes nie anders nie, dit is tog een van die sentrale boodskappe van Jakobus, soos ons al velemale gesien het: bv. 1:27-2:13 e.a. (sien ook 1 Joh.4).

Lof aan God, aanbidding van God. sien 3:9

raak ook hoe ons met ander/mekaar omgaan en nie moet omgaan nie!

En daarom, moet ons in hierdie lewe, ook volhardend, geduldig, aanhoudend vir mekaar bid.

Dit sien ons in die tweede plek, vanaf vers 14-16a

2 Volhardende gebed vir mekaar

Ja, gebed is gerig op God om sy hulp in te roep, Hom te dank, maar ook om vir mekaar in te tree !

Om vir mekaar, saam mekaar, oor mekaar te bid.

Om mekaar op te dra aan ons hemelse Vader.

En in v.14,15 kry ons ‘n spesifieke geval van oproep tot gebed vir mekaar:

  • wat deur die ouderlinge moet plaasvind, en
  • v.16, insluiting by v.13, die oproep vir almal oor die algemeen om vir mekaar te bid.

Hierdie paar verse, veral v.14 is natuurlik ook verse waaroor gelowiges deur die eeue verskil het, wat dit presies beteken, en veral of dit presies nog so geld vir vandag, spesifiek die salwing deur olie.

Kom ons kyk daarna,

Die opdrag daar in v.14 is baie duidelik, as iemand siek is, moet hy die ouderlinge inroep om vir hom te bid, nadat hul hom met olie gesalf het in die Naam van die Here.

Die feit dat die ouderlinge na hom moet gaan, en dat daar oor hom gebid word, wys daarop dat dit heel waarskynlik verwys na ‘n ernstige langdurige siekbed wat baie lyding veroorsaak, nie dat ek die ouderlinge elke keer inroep as ek my groot toon stamp, of ‘n klein hoesie ontwikkel nie !

Let wel, wat daar staan, vir almal wat meen dat ons almal vandag ‘n ‘gebedsgenesings-bediening’ moet hê: daar staan nie dat sommer elkeen moet dit doen nie, dit is spesifiek die ouderlinge wat hierdie spesifike opdrag uitvoer, ‘die ouderlinge van die gemeente’, v.14.

Laasgenoemde het sommige verklaarders laat konkludeer, ook omdat die brief van Jakobus die vroegste NT geskrif is wat ons volgens oorlewering het, en dat Jakobus die leiding geneem het in die eerste gemeente in Jerusalem waarby die apostels betrokke was, dat hier in v.14 verwys word na die ‘buitengewone gawe van genesing’, deur die apostels, of ten minste die eerste eeuse kerk (Hand.14:3; 2 Kor.12:12).

Hierdie gawe se doel was die vestiging van die kerk, die fondamente is gelê, en die buitengewone gawe van gebedsgenesing, wat deur die salwing deur olie as teken aangedui is,  bestaan nie vandag meer nie.

En, daarom geld die oproep tot gebed wel vir alle eeue, maar die unieke aanduiding, deur salwing nie.

Hierdie verklaring is moontlik en klink goed, maar die probleem is, hier word verwys na ‘ouderlinge’ oor die algemeen nie, nie net die ‘apostels’ (2 Kor.12:12) nie.

Wat wel hier ten gunste van hierdie verklaring geld, is dat met olie gesalf, het die OT agtergrond van priesters en konings en profete wat gesalf is met olie, om hul besondere taak aan te dui, afgesonder met ‘n besonderse roeping, wat dan wel hier geld vir die eerste eeuse kerk wat hierdie besondere gawe gehad het, totdat die tyd van apostels verbygegaan het.

Ons moet onthou, olie is ook as ‘n geneesmiddel, ‘medisyne’ gebruik (bv.Luk.10:34), en kon dit hier in v.14 wel dit ook aanwys, om ons te leer dat die gebedsgenesing nie sonder die natuurlike middele (medisyne) geskied nie, die Here werk deur albei.

Verder moet dan ook gesien word dat die salwing deur olie, gesien word as simbool of teken van die genesing wat deur die Here plaasvind, daarom ‘in die Naam van die Here’, v.14

Dit, is die wese van die saak, gebed dat die Here sal genees, die kranke sal oprig (v.15), is baie duidelik, die verwysing na die ‘gebed van die gelowige’ in vers 15a, wys ons ook daarop, dat die Geneser is die Here, nie die olie, of die ouderlinge self nie, daarom ook die woorde … en die Here sal hom oprig.

Daarom dat ons Hom (aan)bid in lyding, ook in en deur die siekbed, en dat ons Hom aanbid deur Psalmsing as Hy uitkoms gee van die siekbed.

Die woord oprig, v.15, op te wek, kan verwys na die laaste dag, maar is ook ‘n woord wat gebruik word, om letterlik op te wek van die siek bed, wat hier die betekenis is, maar nie geestelike opwekking en bekering uit sluit nie, en dit bring ons by die volgende vraag:

Verwys hierdie gebedsgenesing wat plaasvind na fisiese genesing van ‘n siekte alleen, of ook na geestelike genesing ?

Die antwoord is, dit kan albei wees !

Vers 14 is duidelik, asook v.16, dit gaan oor fisiese siekte en genesing, maar belangrik, soos vers 15b dit stel, daar kan ook sonde betrokke wees.

Hierdie siekbed, is ‘n geleentheid waarin ook goeie selfondersoek plaasvind,  waar die gelowiges met sy ouderling(e) ook ‘n goeie gesprek kan voer, waar in die lig van die erns van die saak en toestand (ernstige siekbed), gevra word:

WAAR STAAN EK MET DIE HERE, IS V.13 WAAR IN MY LEWE?

EN OOK HOE STAAN EK MET MY NAASTE, MY MEDEGELOWIGES, V.16

WAT IS MY ANTWOORD OP JESUS SE WOORDE EN VRAAG IN JOHANNES 11:25,26 ?

Laat ons die volgende duidelik stel geliefdes,

In die sin van die sondeval en die gevolge daarvan, is alle siekte die gevolg van die sonde.

Maar elke siekte is nie noodwendig die gevolg van my persoonlike sonde nie

Die Here bepaal bloot dat ‘n siekbed vir my ten goede sal wees,

of Hy het ‘n spesifieke doel daarmee (sien bv. Joh.9:1-3)

Hy bepaal dat die lyding en swaarkry my sal bring by gebed, aanbidding, by die ouderlinge om my sondes te bely, ook v.16 teenoor en vir mekaar !

Sien hoe die boek Jakobus begin het, v.2-6 en verder !

In Joh.9 hoor ons ook hoe die Here siektes of gebreke toelaat,

nie oor iemand persoonlik gesondig het en gestraf word nie,

maar dat God verheerlik word,

Sodat ons,v.13, sal Psalmsing tot sy lof !

Dat Hy ‘n God van ontferming en medelye is !

Ja, die Woord leer dit ook, hoe belydenis van sonde, om my saak reg te maak met my Skepper, en my naaste, hoe dit ook my liggaam herstel, my gemoed lig

Kyk na die woorde wat ons daar gesing het, in Ps.32 berymd, die teks self sê

3 Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag;
4 want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. 

Maar, toe Dawid sy sondes bely, is daar vrolikheid en blydskap, wat die hele menswees raak:

5 My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. … U omring my met vrolike gesange van bevryding. … 11 Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!

Toepassing

Hoe voer ons die opdragte uit van ons teksverse?

Eerstens, oor die algemeen geld die oproep tot bid en aanbidding tot God vir ons almal, so ook om vir mekaar te bid, sien verse 13 en 16.

Tweedens, in ‘n sekere sin doen ons ook wat v.14 in beginsel vra, as predikante en/of ouderlingedeur huisbesoeke en veral siekbesoeke gaan bid vir die krankers onder ons. Dalk kan ons meer daarvan maak dat meer as een ouderling gaan ?

Derdens, laat ons nooit vergeet dat die Skrif homself nooit kan weerspreek nie.  Verse 14-16 beteken nie dat daar altyd genesing gaan wees nie, of dat jy van die siekbed opgerig gaan word nie, want dit kan ook God se wil wees dat jy of jou geliefde moet sterwe, en dan antwoord ons daarop met v.13a.

So 5:14-16 weerspreek nie 4:15 nie, dit veronderstel dit.

Laastens, moet ons altyd eers wag dat ons ly, of goed gaan voordat ons bid en aanbid ?

Nee geliefdes, in watter omstandighede ookal, moet ons die Here nader in gebed en aanbidding.

Dit is ook waarin Christus ons ook voorgegaan het, sodat ons daarin sal volg.

Hy het nie net die ewige straf as lyding op Hom in ons plek deurgegaan nie,

Hy het ook vir ons die voorbeeld gestel om deur die geloof na te volg:

In sy lyding en worsteling, het Hy gebid tot sy hemelse Vader, Jak.3:13a – Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid:

42My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.

Met die oog op die heerlikheid wat wag in die koninkryk, kon hulle lofliedere sing (heel waarskynlik die Hallel Psalms, 113-118), Jak.3:13b – Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.

29Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. 30En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

Laat ons daarom in dankbaarheid tot die Here
bid en Hom met blydskap aanbid, en so ook vir mekaar bid, volhardend, geduldig, afwagtend, met die wete,

Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag (v.16b)

Daarby staan ons stil ‘n volgende keer, DV.

Amen. 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: