Preek: Jakobus 5:16b-20 Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag

DIE VURIGE GEBED VAN ’N REGVERDIGE

HET GROOT KRAG

Skriflesing: Spreuke 15:6-10,26-33; 28:1-10; 1Kor.6:9-11; Jak.5:13-20

Preekteks: Jakobus 5:16b-20, “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (v.16b)

Hierdie preek (asook die voriges in die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 5:16b-20 (gaan na: 2015-10-25)

Preeknotas:

Geliefdes in Christus,

Die Woord van die Here roep ons op tot ’n lewe van aanbidding en gebed tot en met die wederkoms van ons Here Jesus Christus, waarop ons geduldig wag deur die geloof.

In v.13-16 hoor ons daardie oproep:

– as ons ly, moet ons bid

– as ons opgeruimd is, moet ons psalmsing

– is ons op ‘n ernstige siekbed, moet ons die ouderlinge inroep om te bid

– ons moet ook heeltyd vir mekaar bid.

So die lewe van die Here se kinders.

Sy kerk word gekenmerk aan ’n volhardende lewe van gebed en aanbidding midde al die geestelike en fisiese aanslae in hierdie lewe.

Nadat Jakobus dan, al hierdie opdragte gegee het tot gebed, eindig hy sy skrywe hier aan die einde van sy brief, met ’n belofte of troos aangaande die uitkoms van ons gebede, wat dan ook die tema van ons prediking vandag, en dit is v.16b,

DIE VURIGE GEBED VAN ’N REGVERDIGE HET GROOT KRAG  

Ons let op 2 punte,

  1. Die Here werk groot krag deur regverdiges se gebede
  1. Die regverdiges se vurige gebede het groot krag

1. Die Here werk groot krag deur regverdiges se gebede

Ons leef in ’n tyd waar daar beweer word, dat die Here werk deur alle gebede, dat alle mense se gebede vir die Here aangenaam is.

Dit, ongeag of hul in Hom glo, ongeag of hul regverdig of onregverdig is, ongeag of hul die Woord verwerp, ongeag dat hul volhard in ’n lewenswyse, ’n weg van ongeregtigheid ….

Maar kyk wat leer die Skrif,

– Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel. – Spr.28:9

8 Die offer van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig. … 9 Die wandel van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.
… 29 Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy. – Spr.15

In die NT lees ons, om net een plek te noem, ‘n teks vir ons tyd, 1 Kor.6:9-11:

9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 

Die onregverdiges is dus hulle wat God se Woord volhardend verwerp, sommige verwerp sy bestaan ook, wat Christus as die volkome Regverdige verwerp, wat openlik volhard in 1 Kor.6:9,10 sondes en hul nie bekeer nie.

Die onregverdiges is ook hulle wat Christus op sy Naam noem, maar weier om afstand te doen van hul sondes, weier om daarteen te stry in Christus (sien ook Matt.7:21-29; 2 Tim.2:19).

Die onregverdiges is soos die Fariseërs en Sadduseërs wat gedink het hul is nie sondaars nie, hoef nie te bekeer nie, het Christus nie nodig nie.

Voorbeeld vandag: die gay aktiviste en teoloë wat volhard in sonde en dit ook vir ander leer.  Wat hul ongeregtigheid, en hul volharding daarin, as geregtigheid sien, en ander ook so leer en laat struikel (Jes.5:20; Jer.6:13-19; Matt.5:19; Rom.1:32; 2 Tim.4:3,4).

Die Woord sê, hulle gebede word nie gehoor nie, dit is ‘n gruwel in sy oë (Spr.28:9).

Wie is dan die regverdiges wie se gebede aanhoor word en deur wie die Here werk?

Is ons in onsself beter as die onregverdiges ?

Nee, ons was ook eens goddeloos en onregverdig, maar toe kom die verandering, die wedergeboorte:

1 Kor.6:11, wat op vers 9 en 10 volg, gee die antwoord,

11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

Dit is dus elkeen wat hulle sondes ken, wat hul goddeloosheid bely, en na Christus vlug om hul te laat afwas, wat geheilig is en geregverdig is in Christus deur die Gees van God.

Dit is elkeen wat nié roem in sy eie (on)regverdigheid nie, maar dat hy in Christus die Regverdige is, deur die geloof alleen, genade alleen.

Hulle roem in Hom, die Regverdige (1 Pe.3:18)), wie se gebede volmaak heilig en regverdig was, in die besonder sy gebede vir ons aan die kruis:

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” – Luk.24:34

“Dit is volbring!” – Joh.19:30

En nou belangrik, veral in die konteks van die hele Jakobus brief se boodskap: die regverdiges – en dit is waaroor Jakobus se brief tog aan – is hulle wie se lewenswyse openbaar, wys, aantoon dat hy wel ’n regverdiges, kinders van God, gelowiges is !

Onthou die boodskap van hfst.2:14-26, ware geloof, die regverdige, toon/wys deur sy werke/dade dat hy waarlik glo, waarlik geregverdig is !

En wat ons gebedslewe betref, moet ons dit ook in daardie konteks, vers 16b sien, die regverdige se gebed het groot krag, nie die goddelose nie.

Ons gebede het nie groot krag as ons openlik onbeskaamd goddeloos volhard in sondes en onreg nie !

In Op.12:11,17 lees ons ’n pragtige beskrywing van wie die Here se kinders is,

wie die regverdiges is, wie se gebede aangenaam is vir die Here in Christus: 11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. … 17En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.

Die regverdiges is dus hulle wat geregverdig is in Jesus se bloed, en nou hoe langer hoe meer ’n lewe van geregtigheid najaag deur sy Woord en Gees.

Hulle gebede word gehoor, omdat dit gewas en geheilig is deur Christus se bloed, nie uit hulself nie, onthou die belangrike woorde van 5:14, ons bid “in die Naam van die Here”.

Dit bring ons by die tweede punt.

2 Die regverdiges se vurige gebede het groot krag

In verse 17-20 wys Jakobus daarop dat die vurige gebede van regverdiges groot krag het, in Christus, wat natuurlik die krag skenk,

a, deur ’n OT voorbeeld aan ons voor te hou, die profeet Elia, v.17,18 (sien 1 Konings 17-19), en

b, te wys op die groot rol wat gebede ook speel in die bekering van sondaars, v.19,20; sonder dat hy gebed eksplisiet daar noem. Die konteks wys egter duidelik daarop, v.14-16a

Die woorde ‘groot krag’ saam met ‘vurige gebed’ wys daarop dat dit veel kan vermag, dat die Here daarin en daardeur groot krag en mag geplaas het.

Vir die gelowige in tye van swaarkry, lyding en vervolging, moet dit bemoedigend wees dat ons gebede nie nutteloos en doelloos is nie.

Ons bid nie ‘teen die dak vas’ nie, ons hemelse Vader hoor ons, dink weer aan Jak.5:4, die Here hoor sy kinders!

Die klem val nie op die passievolle en oorgawe waarmee die bidder bid nie, maar op die belofte van Hom vir wie gebid word, wat die krag skenk in Christus en deur Christus.

En Jakobus wil hier uitwys dat elke kind van die Here, watter taak of rol jy ook in sy koninkryk het, se gebed groot krag het.

DUS, nie net die ouderlinge, v.14, nie, nie net die predikant vandag nie, maar ook u, elke gelowige op sy knieë voor Hom !

Daarom die woorde daar aan die begin van vers 17, dat Elia ’n mens net soos ons is, letterlik van dieselfde menslike natuur.

Hy het ernstig gebid as regverdige van die Here en dit het groot krag gehad, want dit het 3 jaar en 6 maande nie gereën nie, en toe het hy weer gebid, het dit weer gereën.

Jakobus stel ons nie gelyk aan Elia se besondere ampstaak as unieke profeet nie, of dat ons elkeen dieselfde gawes as hy het nie, dit was uniek vir sy profete en later sy apostels, die buitengewone ampte het verbygegaan.

Maar as mens soos Elia, as medegelowige het ons almal toegang tot gebed, wat groot krag het, wat gevolge het, alles natuurlik, DV, Jak.4:15 !

Elia se gebedslewe, midde vervolging en swaarkry, is vir ons tot voorbeeld om na te volg !

Let wel, ons vertroue is nie op Elia nie, maar op Hom wat hy ook aanbid het, toe hy oorwin het op Karmel tussen die Baalprofete, toe hy opgeruimd was, 4:13b !

Maar ook teneergedruk geraak het, alleen by die spruit, by die weduwee toe haar seun gesterf het, toe hy vir Isebel moes vlug … toe het hy gebid, 4:13a.

Die feit dat al Elia se versugtiginge en gebed nie verhoor is in dade nie, soos hy dit dalk wou hê nie, bevestig opnuut dat ons v.16b reg sal verstaan.

Dit leer ons dat die Here deur sy kinders se gebede groot dinge werk, dinge wat ons baiemaal nie vandag kan sien en beleef nie, daarom die bemoedigende voorbeeld van Elia.

Maar daardie sin beteken nie, dat alhoewel die Here al sy kinders se gebede hoor, en verhoor, dat alles gaan plaasvind waarvoor ons bid nie.

Die uiteinde daarvan is in sy goeie hande, Hy sal dit gebruik na wat Hy weet goed en reg is, Jak.4:15.

En dit is die troos wat elke regverdige het, soos ons ook lees daar in Rom.8:26-28,

26En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. 27En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. 28En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. 

Maar dan ook, die krag van ons gebede word gesien, waar ons dan, v.19,20,

bid om iemand op die regte pad weer help, te bid vir iemand se bekering.

Iemand wat van die waarheid afdwaal, op ‘n dwaalweg gaan, moet voortdurende voor gebid word, maar dan ook die daad wat daaruit vloei (2:14-26),om so iemand aan te spreek in liefde en vermaning,

En, die uiteinde is dat so iemand, as die Here wil, –sonder dat ons dit dalk besef en weet – se siel gered word (kom eerste keer tot geloof, of draai om van ‘n verkeerde weg, en so word ‘n menigte sondes bedek in en deur Christus se bloed (Ps.32).

Dink ook aan die trooswoorde van 1 Joh.2:1,2

1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2 En Hy is ‘n versoening (slc- bedekking van) vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Vir ons tye, eie kerkverband en ander, is hierdie so belangrike woorde.

Om te vermaan, te waarsku, te tug is ware liefde en gehoorsaamheid aan die Here, is liefde vir die naaste !

In hierdie 2 verse hoor ons, daar is ‘n waarheid, daar is ‘n regte weg, en dan is daar ‘n dwaalweg, ‘n sondige verkeerde weg in die lewe wat kan lei tot die hel, en as ons mense nie waarsku nie, gaan hul verlore gaan, ja in hul eie skuld, maar ons het ook ‘n verantwoordelikheid om te waarsku.

DINK WEER AAN DAARDIE WOORDE VAN 1 KOR.6:9-11 !

Die verkeerde weg is die weg van die onregverdiges wat daartoe lei dat jy nie die koninkryk sal be-erwe nie (1 Kor.6:9,10)

Maar, daar is redding en uitkoms van die dwaalweg …. die helweg, en dit is in Jesus Christus, die Regverdige, wat ons red en heilig (1 Kor.6:11).

‘Waarheid’ in die Skrif behels, ‘n Persoon, Jesus (Joh.14:6),

dit behels sy geskrewe Woord (Joh.17:7),

maar wys ook op ‘n lewe van geregtigheid, om volgens die Here se gebooie te lewe, ja, nooit volmaak in hierdie lewe nie, maar hoe langer hoe meer, juis omdat ons in Christus, die Regverdige is.

V.19, 20 geld ook as samevattende oproep van die hele brief, om ‘n lewe te lei wat in lyn is met die feit dat ek gered is deur Jesus, die volkome Regverdige, dat ek sy dienskneg is midde die lewe van verstrooiing tot en met die wederkoms van Christus (Jak.1:1,2), en sy gebooie najaag in dankbaarheid.

Belangrik teenoor die HERE (in gebed en aanbidding, v.13) maar ook dan teenoor my naaste (v.19,20), ons bid vir mekaar, ons help en vermaan mekaar op die regte weg!

Die implikasie van verse 19,20 is dat ons vir mekaar omgee, dat dit valse liefde is om iemand op ‘n dwaalweg in leer of lewe te los, onthou wat ons gesing het daar in Ps.1, veral die laaste vers (beryming).

In die konteks van hele brief, moet ons dus vir mekaar bid en vermaan om,

– te volhard in die geloof in tye van lyding en vervolging, hfst.1

– die woord van die waarheid vas te hou, – teen eie sondes te stry, hfst.1

– in liefde tot ons naaste te lewe, – ons tonge in toom te hou, hfst.2 en 3

– die wysheid van die wereld te verwerp en wysheid van God na te jaag,, hfst.4

– vriend van God te wees, vyande van die sondige wereld, hfst.4

– ons hele lewe te sien, in die konteks van as die Here wil, hfst.4

– te volhard midde swaarkry en lyding, geduldit, hfst.5

– nie valslik of ligtelik te sweer nie, hfst.5

Om saam te vat, in die woorde van Jakobus, wat die basiese tema is van die Jakobus brief:

21 Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. 22 En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. (Jak.1)

EN DIT KAN ONS ALLEEN DOEN, AS ONS IN CHRISTUS, DIE REGVERDIGE IS !

MAG ONS HEMELSE VADER ONS DAARMEE HELP.

Amen.

2 thoughts on “Preek: Jakobus 5:16b-20 Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag

Add yours

  1. Baie dankie, dis so ‘n bemoedigende preek, veral in hierdie tyd wat ons ernstig bid vir die NG Kerk.

    Eks 2:23-25 is net so ‘n pragtige voorbeeld van God se volk wat sug en kreun, en hoe hul geroep “opgaan” tot God. Dan die wonderlike reaksie: Hy hoor, dink na oor Sy verbond, sien hulle nood raak en neem dit ter harte.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: