Vir die wat belangstel, ek stuur daagliks per epos Skrifoordenkings uit (as u wil inteken (stuur ‘n boodskap na proregno@gmail.com met die subject ‘Skrifoordenkings’):
a. Afrikaanse Skrifoordenkings van ds MJ Booyens oor die lewe uit die geloof. In 2016 doen ons die eerste van ‘n reeks van drie:
Deur die geloof (Hebreërs 11): Gesprekke oor die geloof uit die Ou Testament
Sien hier onder ds. Booyens se voorwoord en 1 Januarie se Skrifoordenking.
b. ‘n Verskeidenheid van engelse dagstukkies oor verskillende onderwerpe
2. Bybel leesplanne
Hier kan u ook verskillende Bybel leesplanne kry: Bible Reading Plans
“Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit U wet.” – Ps.119:18.
Groete
Slabbert Le Cornu
Woord Vooraf
U het hier geen “wetenskaplike studie” oor Hebreërs 11 nie. Dit is bloot ‘n gesprek oor gelowige mense en dit is bedoel vir gelowige mense
Indien dit die leser se geloof sou skraag en sterk; indien dit hom of haar bly en dankbaar maak, omdat hy of sy deur die geloof lewe, dan is dit vir my genoeg.
Die Skrywer
Heilbron 1981
Deur die geloof . . . is deel een van ‘n reeks van drie boeke.
Deel twee is: Jou geloof het jou gered (gesprekke oor die geloof uit die vier Evangelies).
Deel drie is: Die werk van julle geloof (gesprekke uit die boek “Handelinge” oor die geloof).
Januarie 1: Ek glo
Die geloof dan is ‘n vaste vertroue — Hebr. 11:1
“Ek glo” so bely ons. Ons is gelowiges.
Die geloof onderskei ons van ander mense. Dit is ons unieke kenmerkende eienskap — ons vaandel of onderskeidingsteken.
Daaraan word ons uitgeken in die kerk — “die vergadering van gelowiges”.
Ons leef uit die geloof in ons huisgesin. Wanneer ons gaan slaap en wanneer ons opstaan, wanneer ons in huis sit en wanneer ons op reis is. In ons werk en spel; in ons wetenskap en kuns — oral en altyd wapper die vaandel van ons geloof.
“Ons glo” staan oor ons hele lewe geskrywe.
“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop”
Vir die skrywer van die Hebreërbrief is die geloof die wortel van standvastigheid, teen die wankelmoedigheid en wispelturigheid van die ongeloof. Dit is ‘n lewe in vertroue met die oog op die toekoms — die dinge waarop ons hoop.
Ek glo, daarom is ek verseker!
Ek het ‘n uitsig en daarom besiel met innerlike krag.
Die krag deurstraal my ganse lewe.
Dit is die krag in my wat uitsien en wag en volhard ondanks druk en nood en vervolginge.
Deur die krag besit ek “lydsaamheid” — die vermoë om aan te hou en uit te hou onder druk en lyding en nood. “Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry” — 10:36.
‘n Ware geloof is ‘n vaste vertroue
Ek glo, daarom besit ek ‘n vaste vertroue.
“‘n Ware geloof is ‘n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk dat nie alleen aan ander nie, maar ook aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid deur God geskenk is uit loutere genade alleen terwille van die verdienste van Christus.”
Juis daarom het ek ‘n toekoms.
Juis dit wil die skrywer van hierdie brief benadruk. Ons kan met sekerheid en blymoedigheid die toekoms tegemoet stap. Ons hemel word immers oorkoepel deur die reënboog van God se verbondsbeloftes. En Hy is getrou — onwankelbaar getrou. In Hom glo ons — op Hom hoop ons — op Hom wag ons.
Ons sal nie beef of rugwaarts gaan
Die “vaste vertroue” is die grondslag waarop ons lewe vasstaan. Dit is veel meer as die vaste aarde onder ons voete.
“Laat dan maar buig en beef al wat ons hier omgeef; laat berge uit hul stee wegwankel in die see — ons sal nie beef of rugwaarts gaan” — Ps. 46.
Ons glo — en ons het die bewys.
Die “eiendomsbewys” dat ons deel het aan die koninkryk van Christus. Daarom sal ons dit nooit verloor nie.
“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” — Joh. 10:27, 28.
God hou my vas . . .
“Ek glo” beteken nie in die eerste plek dat ek aan God vashou nie, maar dat Hy my vashou. Daarom kan ek die geloof nooit verloor nie.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” — Ef. 2:8.
Daarom is die dinge waarop ons hoop geen wankelmoedige of onsekere verwagting nie. Dit lê nie verborge agter newels en wolke van menslike prestasies of vermoëns nie. Dit lê onwankelbaar vas in die beloftes van God.
“Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is” — Hebr. 6:17-19.
Ek is verseker!
Ons kan met Paulus ons pelgrimslied sing: “Ek is verseker!!”
“Maar nee, ons sal oorwinnaars bly deur Hom vir Wie ons leef en ly. Ja ‘k weet gewis, geen lewe of dood, geen eng’lemag bomenslik groot, geen skepsel in die skepping wyd, geen ding in tyd of ewigheid — niks kan ons van Gods liefde skei wat ewig-vas in Christus bly” —
Skrifberyming 10 — Totius.
Leave a Reply