Skrifoordenking: Salig is hy wat die woorde bewaar (Op. 22:7)

SALIG IS HY WAT DIE WOORDE BEWAAR !

deur ds. MJ Booyens

Lees: Matt. 7:16-29

“Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.” (Openb. 22:7)

Salig – gelukkig – is elkeen wat glo in die Woord van die Here.

Die saligheid of geluk geld al vir hierdie lewe.

Die Here sê: “Salig is hy.”

So ‘n mens het innerlike geluk en vrede en krag en uitsig. Die geluk kan niks en niemand van hom ontneem nie. Selfs deur die dood word ons nie daarvan geskei nie. Dit is ‘n geluk wat duur tot in ewigheid, omdat ons in lewe en in sterwe aan ons getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort.

Bewaar jou goeie pand!

Hou vas wat jy het!

Om te bewaar beteken om dit te oordink en dit jou eie te maak. Grawe daarin en ondersoek dit en bepeins dit! Hierdie boek – trouens die hele Bybel – is die moeite werd om te bestudeer. Dit maak jou ryk en sterk en salig.

Bewaar die woorde van hierdie boek!

Jy moet dit nie alleen oordink en bepeins nie, maar dit moet van jou lewe besit neem. Jy moet ook doen wat daarin geskryf is.

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar Hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is.” (Matt. 7:21).

‘n Mens kan die woorde ook verkeerd oordink en verkeerd toepas.

“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie ? En dan sal Ek vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22, 23).

Lewe volgens die woorde beteken om vir die Here te lewe en nie vir jouself nie. Pasop vir die roem op geestesgawes – dit mag uit die Bose wees.

Bewaar die woorde van hierdie profesie!

Hou dit vas met liefde en eerbied. Volhard daarin – bestendig tot die einde toe! Moet dit nooit loslaat nie – jy sal dit altyd nodig hê.

Nooit kan jy daarsonder nie!

Dit moet elke dag die lig vir jou pad en die lamp vir jou voet wees. Jy moet altyd, sonder ophou, daaruit lewe. Om formeel ‘n stukkie te lees, miskien elke oggend of elke aand, en dit dan toe te maak en te vergeet, bring jou nêrens. Só bewaar ‘n mens nie jou kosbaarste skat nie. Dit is jou innerlike voedsel wat geëet en verteer moet word. Herkou die Woord saam met jou gesin en jou vriende.

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Bewaar die woorde van die profesie van hierdie boek.

Dit is in hierdie verband die boek Openbaring. Dit geld vanselfsprekend van die hele Bybel. Dit beteken nie dat jy die bepaalde boek moet bewaar en die ander maar kan vergeet nie.

Onthou: “die hele Skrif is deur God ingegee.” (2 Tim. 3:16).

Moenie die Ou Testament geringskat nie. Moenie alleen die toekomsverwagtinge benadruk en die ander negeer nie.

Bewaar die hele Bybel.

Bewaar die woorde.

Die boek bestaan uit baie woorde – dit bevat ‘n groot verskeidenheid van profesieë. Bewaar hulle almal – elke deel afsonderlik.

Ook dit kan ons gerus maar te pas bring op die hele Bybel.

En dan word die woorde van die boek profesie genoem. Dit karakteriseer die inhoud van die boek. Dit is profesieë en nie letterlike geskiedenis nie. Die Here praat hier in simboliese beelde en getalle. Dit is egter nie verborgenhede nie, maar openbaringe. In die lig van die aard van die boek self en in die lig van ander profesieë, is dit duidelik waarom dit gaan. Die groot saak is maar om dit as profesie te benader en te ondersoek en toe te pas.

En dan: bewaar dit! Bêre dit in u hart! Laat dit gesien word in u hele lewe!

Bron: : Kom Here Jesus – Die Openbaring aan Johannes – toegelig en toegepas in die vorm van ‘n Bybelse Dagboek.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: