Preek: Joshua 1:10-18 My eenheid met die Here beteken eenheid met sy volk

My eenheid met die Here beteken eenheid met sy volk

Skriflesing: Numeri 32; Josua 1:1-18; 1 Timoteus 3

Preekteks: Jos.1:10-18

 

Preeknotas:

Geliefdes in Christus,

Ons tema vir die prediking vandag is,

My eenheid met die Here beteken eenheid met sy volk

Ons geloof is wel baie intiem persoonlik maar nie individualisties nie.

Kyk na ons belydenis, ons hoor elke keer ‘ek glo’ … maar ook ‘ons glo’.

Ons sien dit uit ons Skrifgedeelte, in die eenheid wat ons saam deel:

  1. in die rus wat die Here belowe en gee, v.10-13
  2. in die goeie stryd van die geloof wat ons saam stry, v.14-15, en
  3. in die aanvaarding van die bediening van sy gesag deur sy diensknegte, v.16-18

1 In die rus wat die Here belowe en gee, v.10-13

In verse 1-9 het ons geleer van Joshua wat versterk en bemoedig word,

aangaande sy roeping en taak wat voorlê.

Hy volg Moses op om die volk in die beloofde land in te lei,

wat die Here aan die aartsvaders beloof het om te gee, v.2-4,

Joshua het verder gehoor dat, v.5,7,9:

  1. niemand voor hom sal standhou nie,
  2. dat die Here met hom sal wees soos met Moses,
  3. dat die Here hom nie sal begewe of verlaat nie

En daarom moet hy en kan hy sterk en vol moed wees vir die taak op hande.

Maar, saam hierdie verbondsbeloftes, kom ook die eis:

Joshua word ook opgeroep, herinner, dat hy soos Moses, v.7,8

nougeset moet wandel, dus sy roeping en taak moet uitvoer

‘volgens die hele wet van Moses’ ….

Hy moet dit bepeins die hele dag, want dit bepaal sy weg.

Dit is wat ons geleer het tot en met vers 9.

En as getroue dienskneg van die Here, gaan Joshua nou oor tot die daad,

tot die uitvoering van die Here se opdragte, vanaf vers 10 en verder.

Joshua gee aan die opsigters bevele om deur te gee aan die volk.

Vers 11 is aan almal gerig, en vers 12-15 in die besonder aan 3 stamme,

terwyl dit tog ook almal aanspreek.

Die opsigters van vers 10 kan oor die algemeen verstaan word as die leiers, opsieners, ouderlinge van die volk, maar hier spesifiek gaan dit oor die leiers wat verantwoordelik was om die slagordes, die weermag, die manskappe van Israel te orden vir oorlog, sien Deut.20:5-9.

Die opsigters moet deur die laer gaan en die manskappe voorberei om deur die Jordaan te trek om die land in besit te neem.

En dan belangrik, herhaal Joshua deur die opsigters aan die volk, die manskappe die belofte van die Here wat hul saambind:

“om die land in besit te gaan neem wat die HERE julle God aan julle gee, om dit in besit te neem.”

Hierdie troosryke belofte behoort nie net aan Joshua nie, maar aan die hele volk.

En nou moet ons hier iets raaksien wat vir ons hele geloof geld.

Die Here gee … en hulle moet in besit neem.

Nie die Here gee of hulle moet in besit neem nie, maar albei.

Beter gestel: Omdat die Here gee, daarom sal en moet hul in besit neem.

Hierdie belofte van die Here (sien Dt.34:4) word regdeur die hele Skrif geleer.

Die werkwoord verskyn op so manier dat dit op een plek beteken:

Hy het reeds gegee, dit is ‘n voldonge feit, al het dit nog nie prakties gerealiseer nie, en op ander plekke wys dit op die proses van gee, Hy is besig om vir sy volk iets te gee, deurlopend.

En dit sien mens deur die res van die boek Joshua.

In die Here se raadsplan het Hy reeds ‘n ‘rusplek’ vir sy volk gegee, Kanaan.

Dit wat ons lees daar in vers 13, “Die HERE julle God verskaf ‘n rusplek aan julle en sal hierdie land aan julle gee”

Dit is klaar bepaal, maar die volk moet dit nog in die tyd inneem, dus die proses wat die Here gee.  Dit wat die hele boek Joshua verder oor gaan en beskryf.

Hulle moet daarom ‘klaar maak’, reg maak, voorberei vir die goeie stryd wat voorlê, hulle moet bewapen, helde wees, deurtrek, doen !

Dus handel met die Here se beloftes !

So is dit ook met die ewige rus, die redding, die hemel wat die Here vir sy kinders gee, deur die geloof.

Hy gee, en daarom neem ons aan.

Bv. soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees – Ef.1:4

12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. – Filp.2

Ons moet ingaan deur die geloof in sy ewige rus, dit is die roeping en plig !

Dit is juis omdat die Here alles bepaal, gee, dan ons kan doen, antwoord, gehoorsaam, ens.

En daarom, as ons een is met die Here deur die geloof,

deel ons almal saam as sy kinders in hierdie belofte van die Here.

Hy gee ons ewige rus in Christus alleen, Hy gee ons ‘n rusplek deur die geloof

Hoor wat Jesus self sê: “Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” Luk.13:24 

En ook:  

Die Here gee:

Hebr 4: 9 Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; 10 want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. 

En daarom neem ons aan, moet aanneem:

11 Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.” 

Daar is rus vir elke kind van God, en daarom beywer jou, stry om in te gaan !

En Hy gee sy belofte van ewige rus vir ons saam om te koester.

Nie net aan my afsonderlik nie, maar saam met die hele gemeente,

sy hele volk, al sy kinders

Dit sien ons in die tweede plek:

 

2. Ons eenheid in die goeie stryd van die geloof wat ons saam stry, v.14-15

In verse 12 lees ons dat die Joshua spesifiek 3 stamme aanspreek, of twee en half.

Hoekom ?

Want, kyk op u kaart in die agterkant van u Bybel of in die nuusbrief,

hierdie 3 stamme het reeds grondgebied gekry oos van die Jordaan. ,

Ons lees daarvan in Num.32 dat Moses reed vir hul grondgebied gegee het.

Die ander stamme moet nog die grondgebied oorkant die Jordaan,

wes van die Jordaan inneem.

Maar nou beteken dit nie dat hul nie saam met die res van die volk,

die ander stamme nie die goeie stryd moet stry nie.

Dat die lotgevalle van die ander stamme niks te doen het met hierdie 3 stamme nie.

En Joshua, soos Moses in Num.32 gedoen het, wys hierdie 3 stamme op

hul gesamentlike roeping en verantwoordelikheid teenoor die hele volk, teenoor al die stamme.

Hy doen dit deur te verwys, na Moses se woorde, sien v.13-15, ‘n verwysing na Deut.3:18-20.

Joshua roep hul op om te ‘dink aan die saak van Moses …’

Hulle moet mooi dink wat hul doen, besin, hulle moet dus onthou wat die Here se Woord deur Moses hul geleer het, en die beloftes wat hul gemaak het om saam die goeie stryd te stry, Num 32 en Dt.3 !

Let wel: die manne, nie die vroue en kinders nie (vandag se tyd: mans het so slap geraak, vrouens het so mannetjiesagtig geraak,dat rolle omgegooi word.  Manne moet voor trek in die stryd in ‘n fisiese oorlog. En ja, beide manne en vroue is saam in die geloofstryd, maar die manne moet die leiding neem. Ons kort manne van geloof en krag en daad !)

Die manne moet dapper helde wees,

gewapend en hulle broers, hulle volk help !

Hulle kan dapper helde wees, hul broers help,

want hulle deel ook aan al die Here se beloftes van hy gee die land vir hulle,

Hy is met hulle, sal hul nie verlaat nie !

Vir hulle het dit dan ook spesifieke fisiese dapperheid behels,

en so moet dit vandag ook wees dat manne hul vrouens, gesinne, gemeentes,

volk sal beskerm.

Maar dit moet ons ook laat dink aan geestelike dapperheid !

Wat beteken dit om vandag ‘n dapper held vir Jesus te wees ?

Vir ampsdraers geld 1 Tim.3 wat ons gelees het, maar sekerlik vir ons almal geld dit ook in beginsel ?

Ons broeder wat bevestig gaan word vanoggend as diaken, moet dit opnuut hoor !

Om in en deur die geloof vas te staan.

Dit behels om ook sagmoedig te wees, nie kwaad met kwaad te vergeld nie,

nie verbitterd te raak nie, te ly ter wille van Jesus, op te offer vir die mede-gelowige, my gemeente, gesin.

Om ‘n dapper held of heldin te wees is om ongeag die sondige aanslae van my hart, die wêreld, die Satan getrou aan my hemelse Vader te bly, lief en getrou teenoor my gemeente, met al sy gebrokkenhede en worstelinge en ja, sondes en swakhede.

Om my broer en suster te help in hul fisiese en geestelik nood

Onthou geliefdes, dit is omdat die Here my gehelp het, my gered het, my verdra het met my verskriklike sondes, my swakhede en worstelinge ken …

Dat ons mekaar nou kan verdra, liefhê, omgee vir mekaar, mekaar dien en help … al moet ek myself daardeur kruisig.

En weet dan geliefdes, wees getroos dat daar ‘n einde sal kom aan my en my broer en suster se onvolmaaktheid:

Moses en Joshua wys vir die 3 stamme dat hul moet saam stry ‘totdat’ (v.15)

die hele beloofde land deur die hele volk, stamme ingeneem is, dan kan hul terugkeer om waarlik te rus, en so is dit gedoen.

Vir ons beteken dit, die goeie stryd teen my eie sonde, teen wêreld en Satan

sal duur tot die laaste dag !

Afsonderlik en saam moet ons die goeie stryd stry deur die geloof.

Saam my gesin, saam my gemeente, saam mede-gelowiges,

tot en met my sterwe, tot met die wederkoms !

In my aardse werk kan ek dalk op ‘pensioen’ gaan, maar nie in die geloofstryd nie, sien weer Hebr.4:11.

In Op.14:13 lees ons ook wanneer die volkome rus aanbreek:

En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle. 

Dit bring ons by ons laaste punt.

 

3. Ons eenheid in die aanvaarding van die bediening van die Here se gesag deur sy diensknegte, v.16-18

Ons sien in hierdie verse die stamme aanvaar die Here se dienskneg wat Hy aangestel het, aangesien die Here met Joshua is, en hy Moses opgevolg het.

Hulle wil na hom luister, omdat hul die Here se stem hoor deur Joshua.

Vers 17 kan verstaan word as of ‘n bede of ‘n vereiste, d.w.s.

as jy Moses naspreek, as die Here by jou is, sal ons jou volg, of

mag die Here met jou wees, deur jou ons lei, soos Moses ons gelei het !

En weë die man wat Joshua verwerp, want dit sou beteken dat die Here se leiding en woorde verwerp word, waarop so volksgenoot die doodstraf sou ontvang.

Die woord ‘wederstrewig’ wys op rebellie, opstand, verwerping van gesag.

En nou geliefdes, dit is ongelukkig die tye waarin ons vandag ook lewe,

nie net in die wêreld nie, maar ook baiemaal in die kerk.

Gesag word bloot verwerp, God se orde, sy kerkregering geopenbaar in die Skrif word verag.

En die ergste, baie doen dit in die Naam van die Here, kamstig met die woorde:

Ek respekteer net die Here, geen mens nie

Ek aanvaar net die Here se gesag, maar nie die gesag wat Hy bedien deur geroepe diensknegte nie.

Natuurlik het die Here nie meer buitengewone ampte nie, profete en apostels nie, niemand is meer ‘n Joshua of Moses of Paulus nie !

En Hy spreek nie meer deur fisies en persoonlike openbaringe nie.

Nee, Hy het sy Woord wat die norm is, en werk deur sy Gees.

Tog het Hy ook die besondere ampte gegee, 1 Tim.3, blywend vir die kerk van Christus tot die laaste dag.

En ons moet dit erken dat die Here volgens sy Gees en Woord,

ons deur die besondere ampte: diakens, ouderlinge en predikante wil lei.

Dit wat ons daar gelees het in 1 Tim.3:14,15, net na die vereistes genoem is van die ampsdraers:

14 Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou te kom. 15 Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.

En ook daaraan erken ons ware kerke, daardie kerke wat die 3 kenmerke van ware kerkwees handhaaf, ook die kerkregering (3de kenmerk).

Te maklik verag baie die ampte, of die leiding van ander oor hul aangestel deur die Here, omdat hul dalk ‘n persoonlike vendetta het teen hom, of meen hy is nie bekwaam of slim genoeg na my mening nie.

Kyk wat bely ons egter ook by die 5de gebod, HK So.39,

104 Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).

(a) Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21.

Ja, dit beteken ook dat ampsdraers moet hulself opnuut ondersoek of hulle bekwaam is en belangrik, groei in hul kennis in geloof:

Is jy as ampsdraer besig met Jos.1:7,8 se oproep, bepaal dit jou hele lewe, ook jou dienswerk in die gemeente ?

Ja, dit geld vir elke gelowige, maar soveel meer vir ’n ampsdraer:

Broeders ouderlinge en diakens, ons moet elke dag groei in ons geloof, liefde vir Jesus en sy skape, sy wet oordink.

Diakens: HELP ons regtig in die gemeente, of dra ek net ‘n sakkie rond ?

Broeder diaken, volhard in jou roeping, om te dien, barmhartigheid bevorder, wees en weduwee en eensames op te soek, want die Here is met jou en sal jou nie begewe nie, 1:5-9.

So daar is dit geliefdes,

ons geloof in die Here, ons redding in Christus, beteken

– ons deel dieselfde redding, die ewige rus in Christus, in beginsel en tydelik nou, maar volmaak in die ewigheid – hoe kan ek dan afsydig staan teenoor my medegelowige ?

– ons deel dieselfde roeping en taak, die evangelie, om die Woord uit te dra aan alle mense, om te oorwin deur sy Gees en Woord, van geslag tot geslag, waar die Here ons ook ons erfdeel rusplek hier op aarde gee, in alle omstandighede.

– ons deel dieselfde gesag wat die Here oor ons aanstel, die kerkraad, die diakens, predikante wat die Here roep om ons te lei in ‘So sê die Here’.

Gemeente, bid u werklik vir die broeders ampsdraers, gee u om vir hulle, versterk en bemoedig hulle, soos die volk ook hier doen vir Joshua, sien die laaste woorde van v.18,

Wees net sterk en vol moed !

Mag die Here ons help, om saam, op grond van die Here se belofte van redding, die goeie stryd aan te hou stry,

“…. terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. 15 Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie.” (Titus 2) 

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: