Preek: Luk.13:1-5 Bekeer na Christus of gaan verlore

Bekeer na Christus of gaan verlore

Skriflesing: Lukas 12:49-13:9

Preekteks: Lukas 13:1-5

Hier is die preekopname (GK Carletonville, 2016-01-10):

 

Preeknotas:

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Hoe beoordeel ons die tye waarin ons lewe?

Wat doen ons as ons hoor, of berigte lees van:

– die droogtes wat die ergste is in dekades ?

– die verskriklike warm temperature wat ons land tref ?

– die ekonomiese, politieke en gesagskrisisse waarin ons land is ?

– die moord en misdaad wat so alledaags geword het ?

Wat doen ons as ons berigte hoor en lees van ’n menslike tragedies,

mense wat moed opgee, nie meer lewe nie …

soveel mense wat selfmoord pleeg.

Baie se reaksie, is vinnig, om dadelik te dink:

Dit is die Here se straf en oordeel oor mense wat baie sondiger as ons is,

daarom dit is hul verdiende loon !

Maar is dit hoe ons as gelowiges moet dink daaroor geliefdes ?

Nee, ons leer vanoggend uit ons teksgedeelte,

dat ons Here Jesus Christus ons op ’n ander weg wys.

Jesus leer ons dat ons ons tye reg moet ken en verstaan,

die skokberigte van ons tyd mooi en goed moet oordink,

dat wat ookal met wie gebeur,

dit net nog ’n geleentheid is vir MY, vir ONS om te bekeer tot Hom,

sodat ons nie sal omkom en ewig verlore sal gaan nie.

So ons tema vanoggend is:

Alle tragiese gebeure moet ons lei tot

bekering en geloof in Jesus Christus,

sodat ons nie verlore sal gaan nie.

Ons let op 2 sake:

1 Hoe ons nie ons tye moet lees en verstaan nie

2 Hoe ons wel ons tye moet lees en verstaan

1 Hoe ons nie ons tye moet lees en verstaan nie

Jesus is besig om sy dissipels en ’n groter skare te onderrig (hfst.12 en 13),

aangaande die aard van sy Koninkryk.

In ‘dieselfde tyd’ wat Hy dit doen, kom daar ’n paar mense

en vertel hom dat die Romeinse goeweneur Pilatus,

’n groot gruweldaad gepleeg het:

Hy het ’n klomp Galileërs laat uitmoor,

nie waar nie, in die tempel, sodat hul bloed so baie was,

dat dit met hulle offers gemeng het.

Verskriklik, skokkend !

Dink maar aan ons eie tye se skokkende berigte van plaasmoorde,

misdaadmoorde, verkragtings, radikale moslem aanvalle ens.

… waaraan ons so maklik ook ‘gewoond’ raak ?

Maar, wat dalk nog meer skokkend, is Jesus se reaksie daarop.

Sy reaksie is nie soos die Selote (yweraars) van sy dag wat uitroep om

wraak, haat, bitterheid en moord en opstand teen die Romeine nie,

maar sy woorde, is woorde van diepe selfondersoek, v.2 (lees)

Die berig-aandraers, soos baie van die Jode destyds,

het meestal gedink dat daardie Galileers baie slegte sondaars was,

en dat hul vermoording outomaties beteken dat God hul spesifiek gestraf het,

omdat hul ‘groter sondaars’ as hulself (die beriggewers) was.

Hulle bring die berig van ander se dood en oordeel sogenaamd,

sonder aan hul eie dood en oordeel te dink !

En dit is wat Jesus aanspreek, v.3 (lees)

Christus leer almal wat na Hom luister, ook vir ons vandag,

dat alles wat gebeur om my, en met ander, met my

moet my oproep om te dink aan my eie lewe,

my eie ewige geluksaligheid,

of ek werklik bekeerd is, of ek gaan lewe,

of ek gaan omkom, d.w.s. ewig verlore gaan of nie.

Dit herhaal Jesus ook in die verwysing daar in vers 4 en 5,

Hy verwys na die geval van agttien wat gesterf het in ’n fratsongeluk klaarblyklik, die toring van Siloam het op hul geval en hul is dood.

Beteken dit die 18 was meer skuldig, groter sondaars as die res van Jerusalem?

En dan antwoord Jesus weereens met die woorde van v.3 in vers 5 (lees),

d.w.s. Bekeer en lewe, weier om te bekeer, gaan ewig verlore !

Let wel, Jesus praat vanselfsprekend nie die moord op die Galileërs goed nie,

en, Jesus sê ook nie dat die Here nie ook oordeel/straf in die geskiedenis deur

verskillende gebeure deur die natuur en mense nie (ons weet deur die res van

die Skrif Hy doen dit, dink maar aan die droogte in Elia se tyd, dink maar hoe Hy die heidense volke gebruik het in die OT om sy eie volk te tug),

Onthou ook die woorde van Rom.12:19 ! (Ek sal vergelde …)

MAAR wat Hy wel hier leer is dat ons nie moet dink dat ander mense groter

sondaars is as ons as sekere dinge hul tref nie …

en dat ons daarom nie ook bekering nodig het nie !

Ons Here Jesus wil hê dat alle mense, ook gelowiges, moet insien

dat alle gebeure ons moet oproep om ons EIE lewens te ondersoek

en te vra: IS EK BEKEERD, GLO EK WAARLIK IN JESUS CHRISTUS ?

Het my lewe en denke werklik omgedraai, teruggekeer, verander terug van Christus toe ?

En daarom is hierdie oproep van Jesus gerig op beide ongelowige en gelowige mense.

Ons word almal gekonfronteer om stil te staan met elke tragiese of skokkende

gebeurtenis, by elke dood en begrafnis:

Wat van my eie dood, is my saak reg met die Here, is ek voorberei, ken EK Hom werklik?

En dit is wat Jesus heeltyd hier besig is om te leer in die Skrifgedeelte wat ons gelees het, van 12:49 tot 13:9, dit sien ons in die 2de plek:

 

2 Hoe moet ons die tye/gebeure van ons tyd beoordeel en verstaan

In 12: 49 is die waarskuwing, lees …

Hierdie vuur wys op die Here se komende oordeel,

dit wys op die Here se oordeel wat tydelik maar veral

met die wederkoms ewig gaan geskied.

Dit is in die lig van hierdie komende werklikheid waarin ons moet leef (sien Tit.2:11-15; 2 Pe 3).

Dit is hierdie komende werklikheid van dat die Here gaan kom

om oor die lewendes en die dooies te oordeel,

waarin ons moet dink met elke tydelike dood, tragedie,

ramp of wat ookal ons tref.  Die droogtes, die swak omstandighede,

die verval, moorde – laat dit ons besin oor die lewe, laat stilstaan !

Maar tegelykertyd moet ons dan ook dink aan die uitkoms en troos in antwoord op die komende oordeel, dit sien ons in vers 50,

Die doop hier in vers 50 verwys na die feit dat Jesus vir ons aan die kruis onderdompel sou word, letterlik verdrink sou word in ons plek deur die Vader se heilige oordeel oor ons sonde.

Jesus gaan dra die ewige straf in ons plek, sterwe in ons plek,

sodat ons kan bekeer, en elkeen wat hul bekeer, wat in Hom glo,

sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe be-erwe (Joh.3:16,36).

Daarom moet elke mens hul bekeer van hul sonde,

en glo in Jesus se volkome werke,

anders nie: gaan elkeen wat weier om te bekeer,

omkom, 13:3 en 5, dus verlore gaan.

Die allerbelangrikste vraag met elke gebeure of berig,

waarvan ek more en elke dag hierdie jaar gaan lees, koerante en in die media,

is: waar staan EK met die Here, het ek die ewige lewe ?

Jesus herinner ons ook, onthou: hier op aarde sal geen volkome vrede wees nie, die volkome vrede kom eers met die wederkoms. Sy woorde daar in v.51-53, Jesus het nie gekom om vrede te bring nie, maar verdeeldheid !

Daardie woord verdeeldheid beteken, om onderskeid te maak,

om te verdeel tussen reg en verkeerd, vir Hom en teen Hom

Dit is die groot antitese van Gen.3:15,

Jesus bring vrede, vir elkeen wat tot Hom bekeer van sy sonde,

maar onvrede, vir hulle wat nie bekeer nie en bly in hul sonde!

Daarom sal huise verdeel word OOR HOM

Daarom sal kerke verdeeld raak OOR HOM

Hoor u nou mooi geliefdes, wat is die wese van die stryd ?

Nie of ZUMA weer president gaan word nie

Nie lande wat oor grondgebied veg nie,

Nie wat met die ekonomie of weer gaan gebeur nie

MAAR WAAR STAAN EK MET CHRISTUS !

WAAR STAAN ELKE MENS, GESIN, KERK, VOLK, LAND MET CHRISTUS !

En Christus waarsku almal daaroor, veral die godsdienstige Jode van sy tyd,

ook die kerkmense van ons tyd, in verse 54-59, asook 13:6-9

In verse 54-59 word elkeen gewaarsku wat die tye waarin ons lewe nie

reg verstaan en gebruik nie, al is dit hoe duidelik !

Hy bestraf die Jode van sy tyd, wat so maklik die natuur kan beoordeel,

vers 54 … weste = reën; suidewind = baie warm wees.

Maar, hul kan nie die tyd van Jesus se koms, die beloofde Messias raaksien en bekeer nie, hul erken nie die tyd van Mark.1:15 nie:

Bekeer julle, want die Koninkkryk van God het naby gekom !

Jesus is hier reg voor julle, sien julle, al sy wonderdade, Hom raak ?

Vandag ‘sien’ ons Jesus elke keer as ons Bybel lees, die Woordverkondiging hoor, ‘sien’ u Hom nog raak ?

In 13:6-9 is dit ook ‘n bestraffing van die Joodse volk,

wat beskryf word as ‘n vyeboom wat deur die Here versorg is,

maar daar is geen goeie vrugte nie, maar slegtes, en die slegste

vrug daarvan is dat die volk Jesus verwerp !

Daarom die tyd van oordeel wat sou plaasvind oor die volk.

En daarom in vers 58,59 van hfst.12, die baie ernstige waarskuwing,

Maak jou saak reg met die Here, voor dit te laat is en jy ewig verlore gaan.

Jesus gebruik daar die verhaal van iemand wat in die gevangenis gewerp gaan word.

Hy moet loskom VOOR hy in gevangenis is, om aan te dui, dat terwyl jy nog lewe … maak jou saak reg met die komende Regter, voor dit te laat is en jy vir ewig in die duisternis uitgewerp gaan word.

Die wat Jesus nie as die Lam ook ken nie, gaan net met die Leeu te doen kry (Op.5 en 19)!

Geliefdes, hoor u die erns van die saak, die Woord wat tot ons kom, ook nou, vandag ?

Hoe lyk dit met u lewe ?

Is u bekeerd, glo u werklik in die Jesus (van die Skrifte), of nog nie, onthou die woorde wat ons gesing het, VANDAG as ek sy stem hoor ….. bekeer na Hom (Ps.95)!

As u glo, dra u nog goeie vrugte wat by die bekering pas, sien Luk. 12:43 (Matt.3:8), sien u dit in u lewe ?

Groei u kennis en liefde vir die Here, sy Woord, sy kerk ?

As u tragedies om u sien en lees, regverdig u uself (“ek is darem nie so nie”), of vlug opnuut na die Here,

na sy genadetroon, na sy beskerming,

watter woorde is op u mond en in u hart,

die tollenaar of fariseër s’n, lees Lukas 18:9-14 ?

Maar geliefdes, daar is ook die wonderlike troos en uitkoms:

Hoe wonderlik is ons Here Jesus ook, VANDAG, wat ons verlossing en redding soek, wat ons in liefde oproep tot geloof en bekering.

Kyk na die woorde daar van ons Tuinier, Jesus Christus in Lukas 13:8, (lees)

Dit verwys eerstens na die tydperk tot en met Jesus se dood aan die kruis, die volk het Hom verwerp, en die Here het toe die volk verwerp en geoordeel, 70 AD, maar dit geld ook vandag vir ons tye, vir my tye.

Vir elkeen wat nog nie waarlik bekeer het totaal na Jesus nie,

hoor u sy stem vandag, bekeer en glo in Jesus Christus, en jy sal gered word !

Vir elkeen wat dalk begin het en twyfel, bekeer jou en doen weer jou eerste liefdeswerk (sien Op.2:4,5)!

Maar, vir hulle wat weier om te bekeer, onthou die woorde van Luk.13:3,5,

“… maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”

Daarom, bekeer na Christus, of gaan verlore ! Amen.

Amen.

One thought on “Preek: Luk.13:1-5 Bekeer na Christus of gaan verlore

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: