Skriflesing: Jesaja 35
Preekteks: Jesaja 35:4 “Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.”
Hier is die preekopnames:
1 GK Carletonville, 2016-01-31:
2 GK Bet-el: Jesaja 35 (gaan na 2016-03-20)
Preeknotas:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Wat bring ´n mens op die punt dat jy nie meer wil lewe nie
Wat bring ´n mens op die punt dat as jy die oggend opstaan,
jy nie eers kans sien vir die dag se gewone take, my werk wat ek moet doen nie ?
Wat bring ’n mens dat jy voel jy wil liewers die lewe vir die dood verruil ?
Dalk was u al daar … dalk is u nou daar … of, vir ons wat dalk staan en dink ons
kan nie val nie (1 Kor.10:12) … dalk kom jy eendag op daardie punt …
Die antwoord, of ten minste een van die belangrikste redes is,
Omdat ’n mens by ’n punt gekom het, wat ons dink of voel daar is geen
meer hoop nie, alles het nou net te donker geword, alles maak my moedeloos,
die lewe het geen meer sin nie, alles gaan maar net aan en voort …
ASOF NIKS OOIT GAAN VERANDER NIE.
En die donker oorweldig my al meer dag vir dag, pyn vir pyn,
hartseer op hartseer …
Ons ken dit almal een of ander maal in ons lewe,
of van ons geliefdes en familie en kerk:
– ’n skielike siekbed en afsterwe,
– ’n motorongeluk, ’n motorfiets ongeluk
– ek verloor my werk en daar is soveel onsekerheid, hoe gaan ek sorg ?
– die land en sy politiek en ekonomie wat so agteruitgaan ?
Gaan dinge ooit verander, beter word, gaan daar verligting kom ?
Ons roep baie maal in ons sorge die woorde uit van Klaagl.5:20,22
Here het u ons vergeet, ons verlaat, is u toorn groot oor ons ?
O geliefdes, dit is juis in sulke tye, waar ons opnuut die Evangelie moet hoor,
en dit aangryp met ons hele lewe, al is dit met laaste kragte, selfs in my wanhoop
en moedeloosheid, in my moegheid !
En wat is daardie Evangelie, daardie goeie nuus ?
– DIT IS DAT ONS HERE, ONS VADER IN DIE HEMEL
DEUR SY SEUN ALLES NUUT KOM MAAK HET
– DAT HY ALLES KOM VERANDER HET
– HY HET DIT GEDOEN IN DIE VERLEDE
– HY IS BESIG OM DIT TE DOEN ELKE DAG
– EN HY SAL DIT VOLMAAK EN VOLKOME DOEN OP DIE LAASTE DAG !
Dit wil ons hoor en leer vanoggend vanuit die lewende Woord van ons Here,
spesifiek Jes.35, en dan spesifiek die woorde in v.4
HYSELF SAL KOM EN JULLE VERLOS
DIE HERE SE HEERLIKHEID, JESUS CHRISTUS,
MAAK ALLES NUUT !
En, daarom, kan ons moed hou, daarom kan ons aanhou die goeie stryd
stry, daarom kan ons aanhou doen wat reg en goed is
want die Here het, is besig en sal alles volkome nuut maak !
Die profeet Jesaja is deur die Here geroep, om in die 8ste eeu,
die Here se Woord aan die volk te bring.
Deur eeue se volhardende ongehoorsaamheid aan die Here,
wys Jesaja vir die volk dat die Here ander volke sal stuur,
om hul te tugtig en te straf weens hul oortredings.
Hulle land, die beloofde land sal vertrap word,
soos heidense volke, veral die Assirieërs die land plunder en verwoes.
Ook sal dit gepaardgaan met droogtes en agteruitgaan.
Die beelde en beskrywings in Jes.35, wys daarop:
In vers 1 word gepraat van woestyn,, die dor land en die wildernis
Vers 7 van die gloeiende grond en die dorsland,
wat so verlate word dat slegs die jakkalse nog daar woon,
verskeurende diere wat in die land is
En hierdie wete, en hierdie werklikheid het die volk,
het die mense moedeloos en wanhopig gemaak
Laat begin twyfel aan die Here se beloftes,
dat Hy altyd hul God sal wees, dat Hy sal sorg
Dit het veroorsaak dat, v.3 hulle slap hande gehad het,
hul nie meer hard kon werk en arbei nie
die knieë het gestruikel, moeg geraak, geen lewenslus meer nie.
Die harte het angstig, bang begin raak, v.4 (vervaard)
Hulle het bevrees begin raak vir al die heidense volke,
vir mense, vir die toekoms …..
In Jes.40:27 hoor ons dan die toppunt van hul moedeloosheid en
wanhoop: “Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?”
Ja, het die Here van ons vergeet, is daar nog hulp en hoop, ‘n toekoms ?
T: Is dit nie wat ons ook baiemaal vra, geliefdes, in die lig van ons tye nie,
hoe hierdie jaar vir baie van ons begin het sterftes, ongelukke, beserings,
hospitale, land se situasie, ens ?
Here sien u ons nog raak, of het u van ons vergeet ?
So het die volk van die Here ook begin dink, daar in die 8ste eeu VC,
deur die eeue as dit begin swaar gaan ….
Dit is dan in sulke tye, waar die Here ook met sy bemoedigende woorde
na sy volk kom, ja, ek tugtig wel weens julle sondes,
maar Ek red vir ewig, Ek verander alles vir my kinders, wat ek ewig liefhet !
Die Here se belofte van redding en sy teenwoordigheid staan vas,
al lyk dinge baiemaal swaar en mismoedig.
In vers 4 kry Jesaja daarom die opdrag om vir sy mismoedige volk, te ‘sê’,
dus die preek, te verkondig:
dat die HEERLIKHEID van die Here, die ‘sieraad’ (majesteit/grootheid) van God alles gaan verander, selfs tydelik ten dele vir die volk, maar bo alles vir die ewigheid!
As die Here in sy heerlikheid optree, dan bring dit verandering, hoop, toekoms.
En HYSELF, kyk vers 4 sal dit doen!
Hy doen dit deur regverdige vergelding – Hy sal elke vyand en heidense nasies oordeel wat sy volk aangeval het en bedreig het, Hy sal teen hulle opstaan (soos die laaste deel van die boek Jeremia wys).
en verder Hy sal ook verlos:
En hierdie verlos behels, spesifiek vir sy volk, dat hul ook – soos uit slawehuis – ook bevry sou word uit die balllingskap, bevry van die heidense volke om weer in die beloofde land te lewe.
Die Here sal weer herstel bring vir die beloofde land, en ons sien dit plaasvind
onder Esra en Nehemia, eeue later.
Die woestyn, dor land, wildernis sal weer lustig bloei soos ’n narsing … pragtige blom, dalk ’n roos
Hulle sal soos die Libanon, Karmel en Saron raak … gebiede wat bekend was vir baie bome en groen weivelde en goeie plantegroei
Hierdie is alles beelde om te verduidelik, as die Here kom in sy redding,
dan verander alles, selfs die natuur en die skepping
Dit behels fisiese herstel, maar bo alles geestelike herstel
Die volk word ook verander, daarom die oproepe dat
die Here in hul midde is, en daarom
kan hul slap hande versterk word, hul kniee weer reguit gemaak word,
hulle harte kan versterk word,
hulle kan weer juig en jubel in die Here ! v.2,3
Geliefdes, en ook hier sien ons ’n heenwysing,
na die verlossing wat Christus alleen kan bring,
wat sy kinders verlos van hul grootste nood en ellende,
en dit is die sonde … die dood, ekonomiese of politieke krisisse nie !
Vers 4 spreek profeties dat HYSELF sal kom om te verlos !
En die Here se verlossing is altyd, OT of NT tye, in Jesus Christus !
As die boek Jesaja deurgelees word, word daar heeltyd vir die volk
voorgehou van die Kneg van die Here wat gaan kom (bv. Jes.9 en veral
hfst 42 en verder)
Hy bring die volkome verlossing, Hy bring die wesentlike verandering,
Hy maak alles nuut, in beginsel reeds deur die wedergeboorte,
maar dank ook ons hele lewe geleidelik meer nuut, deur heiligmaking
maar Hy sal dit ook volkome finaal nuut maak met sy wederkoms!
Ons lees daarvan in Op.21:5, En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut.
Verse 5 tot 10 beskryf hierdie verandering, vernuwing wat Christus bring (lees vers 5 en 6),
Wat hoor ons in die Evangelies, Jesus wat vir Johannes die Doper se dissipels sê:
Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.
= dit wys op die volkome nuutmaking wat gaan kom, en dit moet ons hoop gee !
In verse 7 word beskryf van die droeë plekke, die gloeiende grond en die dorsland
wat weer baie water sal hê, daar sal weer fonteine wees …
Ja, dit wys op die Here wat die beloofde land weer versorg met die nodige reën letterlik OT … en ons het dit weer die afgelope week ook beleef … soos die reen weer val, maar ons moet bo alles sien dat hierdie beeld wys op die VERANDERING WAT DIE HERE DEUR SY VERLOSSING BRING
Die beeld van water, word baiemaal gebruik om juis te wys daar is weer hoop, lewe vanuit die dood, woestyn verander in ’n paradys (woestyn – dors na water !)
EN DIT IS WAT DIE HERE DOEN VIR SY VOLK DEUR SY GEES
Joh 4:13-14 Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.
In verse 8 en 9 word die volk verseker dat daar ’n tyd gaan kom, wat die Messias bring, weer veiligheid sal wees vir hulle, beangs en vreesagtig te wees nie,
geen meer plek vir die onreines, die vyande van God nie,
vir ‘verskeurende diere’ nie …. EN DIT MOET ONS BESEF, MET DIE VERSKRIKLKE GEWELD EN MISDAADPLAAG IN ONS LAND … DAT SO IETS NIE MEER SAL PLAASVIND IN DIE EWIGHEID NIE
O, is dit nie wonderlik om aan te dink nie, veral ons in NSA – ’n plek waar geen meer misdaad, vyande, gevaar, angs, vrees vir die toekoms is nie !
Die Here gee hierdie profesie vir sy volk daar in die 8ste eeu, dat hul nie moed verloor nie, dat hul nie dink daar is geen toekoms nie, hopeloos sal raak nie.
OOK VIR ONS VANDAG: Die Here sal sy beloftes hou, Hy sal in Christus ons lei op die grootpad wat lei na die ewige Jerusalem, v.8, hierdie pad is so duidelik gebaan dat selfs dwase (eenvoudige/swakkes) daarop sal kan wandel, hoekom ?
Want Jesus is die WEG, die waarheid en die lewe … Joh.14:6
Hyself het gekom om ons sy kerk te verlos, vervulling van 35:4 !
Hoor u hierdie wonderlike beloftes weer vandag geliefdes,
Daar kom ’n tyd, oftewel ’n ewigheid wat gaan aanbreek,
waar alle gebreke en gevolge van die sondes in die hemel gaan verdwyn, v.5,6
waar die skepping herstel gaan word, ook die natuur, geen meer natuurrampe nie, 7
waar geen meer gevaar of bedreiging gaan wees nie, v.8,9
WANT DIE HERE MAAK IN CHRISTUS ALLES NUUT ! (lees 2 Pe.3!)
Daar bly egter een laaste allesbepalende saak oor om te noem:
Die vraag is nie of die wederkoms gaan plaasvind, en al hierdie beloftes in volkome vervulling gaan gaan nie … alles gaan verander, nuut, toekoms … dit sal so wees, soos dit hier staan.WAT NOU BAIE BELANGRIK IS OM RAAK TE SIEN,
is einde vers 9 en vers 10: wie is die erfgename van hierdie komende heerlikheid,
die hemel, die ewige heerlikheid:
Dit hoor ons daar, dit is die ‘verlostes’, die ‘losgekooptes’, wat NOU reeds jubel en juig, wat NOU reeds hul ewige vreugde in Sion, in die Here Jesus vind, dit is hulle alleen wat vry gaan raak van die kommer en gesug. Dit is hulle wat NOU uitroep:
DAAR , vers 4,9 – dit wys na Jesus – Daar is die Lam van God – sy huis, sy Woord !
En hierdie Lam sê elke dag vir ons, vanoggend ook:
Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? – Joh.11:25,26
Geliefde kind van God, die lyding, swaarkry, van die lewe sal verby gaan, die dood sal verbygaan, pyn en wroeginge sal verby gaan, WANT JESUS HET ALLES NUUT KOM MAAK, HY IS BESIG DAARMEE, EN SAL DIT VOLKOME DOEN …
Geliefde, glo JY dit ?
Amen.
Leave a Reply