Preek: Josua 2 Ragab se geloof getuig van die Here se oordeel én genade

Ragab se geloof getuig van

die Here se oordeel én genade

Skriflesing: Josua 2 en Jakobus 2:21-26

Preekteks: Josua 2

Preekopname (GK Bet-el, gaan na 2016-03-13): Josua 2

Preeknotas:

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

In die boek Josua, is die Here besig om sy beloftes aan die aartsvaders,

Abraham, Isak en Jakob, te vervul.

Die Here het aan hulle die land Kanaan belowe,

en gee dit nou aan die volk wat die land moet inneem, onder leiding van Josua.

So sien ons dat die Here alle volke en tye en mense in sy Hand het,

en dat sy raad- en reddingsplan sal geskied deur al die eeue.

In die bybelse tyd, deur alle eeue, vandag tot en met die wederkoms.

 

Maar wat nou so wonderlik is en ons spesifiek nou moet raaksien,

is dat in sy groot reddingsplan waar Hy met volke en in die geskiedenis besig is,

ontferm Hy Hom oor spesifieke individuele mense,

oor sy uitverkorenes in en onder al die volke,

ongeag hoe groot hul sondes was,

ongeag hoe verskriklik hul teen sy gebooie gesondig het.

ongeag dat hul binne of buite die sigbare kerk is.

Hy is genadig en barmhartig vir elkeen wat hul sondes ken én na Hom vlug,

wat hul verlossing en redding by Hom soek.

En dit sien ons treffend hier in ons teksgedeelte,

deur die lewe van Ragab …. die hoer.

Ons tema is daarom:

Ragab se geloof getuig van die Here

se regverdige oordele en sy onverdiende genade

Ons let op 3 sake:

  1. die werke van Ragab se geloof, v.1-7
  2. die inhoud van Ragab se geloof, v.8-13
  3. Die vrug van Ragab se geloof, v.14-24

1 Die werke van Ragab se geloof, v.1-7

Josua stuur 2 manne, verkenners, spioene om die land,

maar spesifiek Jerigo te gaan verken (sien op kaart waar Jerigo is)

Moses het 12 manne gestuur, om ook die land te verken, Num.13,

maar Josua stuur slegs 2 om te gaan kyk hoe lyk Jerigo militer gesproke,

en uit te vind wat die gemoedstoestand van die Kanaaniete is.

Weereens sien ons, God se almag dat Hy die land gee,

is die fondament van Josua se geloof om alles menslik te doen,

militer vir die stryd wat voorlê.

En as die manne die stad ingaan, gaan bly hulle by wat

waarskynlik ‘n hotel of bordeel of beide was van Ragab die hoer.

Nee, die manne het nie by haar gaan slaap nie,

maar soos die teks sê, hulle het ‘daar gaan slaap’, v.1

Hoekom het hul haar plek verkies ?

Uit ‘n menslike oogpunt kan dit wees dat dit ‘n besige plek

is waar hul ongesiens nie opgemerk sou word nie.

Of andersins was dit ‘n donker afgeleë plek, waar hul kon wegkruip.

‘n Plek om ook te hoor deur stories wat die toestand van Jerigo is.

Aangesien hul verblyf nie ongesiens verby gegaan het nie, v.3,

lyk dit meer na die eerste opsie.

Maar onthou, God se Hand, sy voorsienigheid,

Hy wil die spioene red en vir Ragab en haar familie !

Die koning van Jerigo word in kennis gestel van die 2 spioene se teenwoordigheid,

en die koning eis hulle op van Ragab.

En wat nou hier gebeur, is beide die wonder of openbaring van Ragab se geloof,

asook ‘n paar moeilike vrae wat gevra is oor die gebeure.

Ragab het die 2 spioene weggesteek,

sy mislei duidelik die koning se manskappe:

– deur vir hul te vertel dat die 2 spioene nie meer by haar is nie,

– dat sy nie weet van waar hul is nie,

– en dat hul reeds deur die poorte uit die stad is, v.4-7.

Nou wat maak ons hiermee?

Het Ragab gelieg, leuens vertel, die 9de gebod oortree ?

Wat dit moeiliker maak, is die getuienis wat die Skrif self gee aangaande Ragab,

in die NT op twee plekke:

Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. – Hebr.11:31

En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie? – Jak.2:25

Die een standpunt van verklaarders is: dit is 3 duidelike leuens wat sy vertel het. Die Bybel keur dit nie eksplisiet goed of af nie, maar in konteks van 9de gebod, is en bly dit leuens. Haar geloof word erken en geprys, nie die presiese metodes wat sy gebruik het om die spioene te help nie (let wel op die woorde van Hebr 11:31 en Jak.2:25 wat nie vermeld van die leuens of metodes wat sy ingespan het nie).  Net soos bv Dawid se geloof erken word, maar nie al sy dade nie, so is dit die geval met Ragab.

Die ander standpunt van heelwat verklaarders is: juis omdat die Bybel nie eksplisiet haar optrede afkeur nie, moet ons versigtig wees om dit te doen. Een verklaarder meen ‘waarheid’ is nie bloot om te spreek volgens wat ‘ooreenkom met die werklike feite’ nie, maar  waarheid beteken ons woorde moet in diens staan van ons ‘lojaliteit ten opsigte van die Here en ons naaste’ (B Holwerda).

Dit sou beteken om die feite dan te weerhou van sekere mense, juis is om die doel van die wet na te kom: liefde tot God en die naaste!

Dink ook aan die vroedvroue wat die Here meer gehoorsaam was as die Farao (Ex.1:17-21) en Petrus en Johannes  in Hand.5:29: ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense.

DUS = as iemand feite van ons eis, moet daardie eis nie in stryd wees met ander gebooie van die Here nie, en in diens wees van God en ons naaste.

Hoe dit ookal sy, die belangrike is om raak te sien, in die woorde van Jakobus 2:25,

dat Ragab se werke oor die algemeen hier gewys het dat sy ‘n gelowige is, wanneer en waar presies sy tot geloof gekom het, weet ons nie, maar dat sy nou ‘n gelowige was, sien ons ook in haar belydenis, verse 8-13, wat vir ons wys wat die inhoud van haar geloof was.

Ons sien dit in die 2de punt:

 

2 die inhoud van Ragab se geloof, v.8-13

Na die koning se manskappe daar weg is, gaan Ragab na die spioene,

en hoor ons van die inhoud van haar geloof, dit behels 3 sake,

a. sy erken en bely die Here se belofte, die verbondsbelofte,

dat Hy die land vir Israel gaan gee, v.8 lees ons … Ek weet ….

sy het die woord gehoor, en glo dit, ware geloof is ‘n vaste kennis (HK So.7)

Daarmee vereenselwig sy haar ook met daardie belofte, aanvaar dit as haar eie.

b. sy erken ook die grootheid en heerlikheid van God, die vrese vir die Here,

deurdat sy verwys na sy groot dade en majesteit:

die deurtog deur die Skelfsee, die 2 konings wat verslaan is

en daardeur, baie belangrik, erken sy die komende oordeel oor haar en haar

volk, die woorde van vers 10 en 11 … en die angs van hierdie oordeel is ‘n groot werklikheid.

Sy erken met die woorde ‘Hy is die God in die hemel …’ dat Hy die ware en enigste God is, dit is die inhoud van haar geloof, wat sy deel met die volk Israel..

Sy het gehoor, hoe en deur wie ook al, en sy glo en haar dade wys dit, sy is ‘n regverdige !

Hierin sien ons ook ‘n baie belangrike kontras, tussen mense nog altyd !

Sekerlik, almal in Jerigo het gehoor van die groot dade van die Here deur Israel,

maar vir sommige lei tot verharding en vyandskap, bv. die koning en sy manskappe,

maar vir ander, Ragab en haar familie, lei dit tot geloof en redding.

In NT sien ons dit ook, baie sien dieselfde wonders, hoor Jesus,

maar sommig volhard in hul ongeloof en ongehoorsaamheid en gaan verlore,

en ander, die dissipels, die NT kerk vlug na die Here vir genade en redding.

En dit is presies wat Ragab doen daar in verse 12,13

sy erken die heilige regverdige God wat hul kom oordeel,

en daarom pleit sy vir genade by sy verteenwoordigers, die spioene.

dat die Here hulle ook fisies sal spaar,

EN PRAGTIG HOE OPENBAAR HAAR VERBONDSGELOOF

OOK HIER IN HAAR WOORDE, NIE NET MYSELF NIE,

MAAR OOK VIR MY GESIN, PLEIT SY VIR REDDING KRAGTENS DIE HERE SE GENADE!

Sy het ook sekerlik gehoor en geleer dat God ‘n genadige God is,

ja wat straf tot in die 3de en 4de geslag,

maar barmhartig is tot in die duisendste geslag ! (Ex.20:5,6)

Onthou alles was vir haar op die spel, haar hele lewe, bestaan, toekoms, familie, besittings!

En soos die Hebreër skrywer dit inderdaad stel, sy wandel DEUR DIE GELOOF

Sy gryp na God se GUNS, bedien deur sy volk, deur die spioene hier.

En daardie guns geliefdes is begrond en

is in niks anders te vinde as in Jesus Christus nie!

Daarom dat sy deel is van die geloofshelde en heldinne van Hebr.11

wat deur die geloof in die Here se beloftes, opgetree en gelewe het.

En daarom sien ons ook in die laaste punt,

die vrug, die uiteinde van haar geloof.

 

2 die vrug van Ragab se geloof, 14-24

Die 2 spioene maak ‘n belofte aan haar, om haar en haar familie te spaar,

wanneer hul Jerigo gaan inval.

Hulle vra van haar om ‘n teken te laat aan haar huis,

en dat al haar familie daar by haar moet wees,

sodat hul gespaar kan word van die komende oordeel.

Die teken is ‘n gedraaide rooilyn wat sy aan die venster moet vasbind.

En almal wat nie in die huis is nie, sal nie gespaar word nie.

Dit is saak van lewe en dood, geloof en ongeloof.

Dit laat mens dink ook aan die uittog uit Egipte,

waar die volk die bloed van die lam aan hul deurkosyne moes smeer,

om van die komende oordeel oor Egipte bevry te word.

En dit is dan ook wat gebeur het, in Jos.6 gaan ons daarvan leer,

maar hoor die woorde solank:

21En alles wat in die stad was, het hulle deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref, man sowel as vrou, jonk sowel as oud, tot bees, skaap en esel toe.
22En aan die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: Gaan in die huis van die hoer, en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daaruit, soos julle vir haar gesweer het.
23Die jongmanne, die spioene, het toe ingegaan en Ragab met haar vader en haar moeder en haar broers en almal wat aan haar behoort het uitgebring—al haar familiebetrekkinge het hulle uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel laat bly.
24En die stad met alles wat daarin was, het hulle met vuur verbrand; net die silwer en die goud en die koper— en ystervoorwerpe het hulle by die skat van die huis van die HERE gevoeg.
25Maar Josua het Ragab, die hoer, laat lewe en haar familie en almal wat aan haar behoort het; sodat sy onder Israel gewoon het tot vandag toe, omdat sy die boodskappers weggesteek het wat Josua gestuur het om Jérigo te verken.

So sien ons die vrug van haar geloof,

– dit bring redding vir haar en haar familie,

– sy word ‘n instrument in die Here se hand om die spioene te bewaar,

sodat die Here se verbondsbelofte plan kan vervul word aan Abraham, Isak en Jakob (Dt.34:4).

Deur hierdie gebeure word, Jos.6:25, Ragab ‘n moeder van Israel,

en is nie meer ‘n hoer nie, sy is nuut gemaak deur die bloed van Jesus.

Sy het getrou in Israel, met Salmon en word so die moeder van

Boas, en Boas die vader van Obed, Obed Isai en Isai van Dawid …

en so word sy een van die voorgeslagte waaruit Jesus ons Verlosser,

die volkome Josua gebore sou word, die geslagsregister van Jesus, sien Matt.1:5.

 

Wat moet ons hieruit leer geliefdes,

Ek wys op drie sake:

i. Ons moet ook erken, soos Ragab gedoen het,

dat die Here se oordeel nog steeds oppad is.

Ons moet weet en bely dat die Here heilig en regverdig is,

en dat Hy kom om te oordeel oor die lewende en die dode,

die geskiedenis het ‘n doel en stuur af op die laaste dag van oordeel,

dit wat ons elke Sondag bely in die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. – 2 Kor.5:10 

ii. En daarom moet onsself, elke dag vlug na die guns en genade wat alleen by Jesus te vinde is, Hy is die Lam by wie ons moet skuil, sy bloed alleen versoen en bedek ons.

Buite Christus en sy kerk, is die dood en die ewige oordeel.

En ons moet almal waarsku, ons gesinne, vriende, land !

Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. – Joh.3:36 

iii. En heel persoonlik geliefdes. Die Skrif verwys na Ragab die hoer, nie omdat sy so gebly het nie, maar omdat sy daarvan gered is, haar werke openbaar dit, sy het ‘n regverdige geword deur die geregtigheid van die geloof in Jesus Christus !

En dit is en moet vir elkeen ‘n wonderlike troos wees, gee nie om wat my verlede is nie, gee nie om wat ek was of dalk is nie.

Die volmaakte Josua sê (Matt.11;28-30), Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is, en ek sal jul rus gee, volkome rus, al het ons nog ‘n aardste stryd.

Jesus is die een wat allles volkome nuut maak, ook vir u en my,

Hy is genadig en barmhartig oor hulle wat hul sondes ken, dit bely en daarteen stry.

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. – 2 Kor.5:17

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: