Sommige van die konferensiegangers
VERSLAG VAN DIE KGKSA KONFERENSIE: 9 APRIL 2016
deur Francois van Deventer
Saterdagoggend 08.00 was `n besonderse oggend, want ons het kerk toe gekom… Dit is besonders, want ons kom gewoonlik op `n Sondagoggend bymekaar. Hierdie was egter `n spesiale geleentheid, want ons het bymekaargekom om saam met ander kerke te besin oor wat die kerk is onder die titel `CHRISTUS se kerk of ONS kerk`.
Talle gelowiges van 11 kerke en 9 predikante het baie moeite gedoen om hierdie vergadering by te woon. Hulle het van alle rigtings aangekom
- Twee gesinne al die pad vanaf Pietersburg
- 6 lidmate van Carletonville
- Ds Jack Lakalakala vanaf Makolokwe in Noord Wes
- Blikkies en nog twee ander vanaf Middelburg
- Die suide van Johannesburg was ook nie uitgesluit nie, want Ds Dirk Dykstra van Nigel het ook deurgekom.
- Daar was ook ‘n hele paar broers al die pad van Pietersburg.
- En dan was Pretoria ook heel goed verteenwoordig met tientalle lidmate vanaf verskeie kerke in en rondom Pretoria.
Ben Smit het klem daarop gelê dat eenheid voort moet kom uit `n gemeenskaplike belydenis en dat die klem moet val op die prediking. `Daar moet gevra word wat is jou belydenis en nie wie is jou gemeente nie. Die kerk/gemeente moet institusioneel onder Christus staan.`
Hennie Momberg het gepraat oor `Hoe dit gebeur dat die kerk steriel raak.` Hy het die volgende punte uitgelig:
- Sodra sy haar afhanklike gehoorsaamheid aan Christus vervang met iets anders.
- Sodra sy nie meer die basiese funksies van `n gemeente uitoefen nie.
- Sodra haar lig onder die maat-emmer beland, haar sout laf geword het.
- Sodra die lidmate hulle roeping tot gesinsvorming en gesinsverbreiding versaak het.
- Sodra haar godsdiens in `n stuk drama verander het.
Cobus Rossouw het Markus 8 aan die vergadering voorgehou toe Christus gevra het: “Wie sê julle is Ek?” Petrus bely dat Jesus die Christus is, dat hy die Verlosser Koning is en Sy heerskappy in die wêreld inbring en dat Hy ons Koning is. Enige besinning oor “Hoe die kerk regeer moet word,”moet hier begin – Jesus is die Koning van die kerk. Die kerk word regeer deur die ouderlinge. Hierdie ouderlinge moet toegerus wees uit die Woord sodat hulle bekwaam sal wees om te onderrig sodat hulle kan regeer volgens God se Woord. Christus regeer ook deur dienskneg ouderlinge, want die kerk is die dienskneg van die Koning. (Mark 10:42-45)
Daar moet geregeer word deur te dien. Ware dissipels dien mekaar. Ons gee ons lewens vir mekaar, want ons Koning het sy lewe gegee vir ons. Hy het gedien soos `n slaaf wat in die proses dood gegaan het. Ons moet nie as heersers oor die erfdeel wees nie maar as voorbeeld vir die kudde van dienaar en slaaf wees aan mekaar soos Jesus vir ons was. Dien ons mekaar in selfopofferende liefde? Hierdie is die wese van kerkwees, van dissipel wees: As ons liefde onder mekaar het. Hier moet die ouderlinge leiding gee, anders is kerkwees totaal sinloos. Hoe moet die kerk regeer word? Direk deur Christus. Is hy ons Koning? Die kerk moet weergebore word deur die ouderlinge se verkondiging van die Woord. Hierdie ouderlinge moet diensknegte wees wat hul lewens gee.
Barend Hefer het klem daarop gelê dat kerkverband nie die wese is van kerkwees nie, dat kerkwees nie voortspruit uit kerkstrukture nie. Hy het ook daarop gewys dat `n gemeenskaplike Bybelse belydenis die beginpunt moet wees van samewerking tussen kerke. Hy het beklemtoon dat die gemeente in alle opsigte kerk is en dat kerkverband daarom die samekoms is van volwaardige kerke. Dit is daarom meer korrek om te verwys na die Gereformeerde KerkE in Suid Afrika of die Afrikaanse Protestantse KerkE wanneer na die kerkverband verwys word. Dit is nie korrek om te verwys in die enkelvoud nie.
Middagete het ons heerlik gesmul aan geregte wat die susters van GK Bet-el met groot liefde voorberei het. Almal het genoeg gehad en daar het amper niks oorgebly nie.
Ds le Cornu was laaste aan die woord toe hy gesels het oor “Kerklike Reformasie : Wat is nodig?”. Hy het verwys na Neil Postman se boek “Amusing ourselves to death” en hierdie postmoderne eeu waar dit gebeur dat plaaslike gemeenskap onderbeklemtoon word. Dit gebeur dan dat die kerkgemeenskap deur die tydsgees ingesluk word. Meeste mense word vasgevang deur die sosial emedia en die prentjiemediums. Op die einde gebeur dit dat mense nie meer met mekaar kan kommunikeer nie. Ons moet weer die ou waarhede van die Skrif ontdek. Reformasie is nie ’n nuwe boodskap nie… ons moet weer terugkeer na die ou waarhede van die Skrif. Ds le Cornu het ook die volgende punte voorgehou:
- Ons moet die tye en mense verstaan vir wie ons die Evangelie moet bring.
- Christene moet “radikaal” wees volgens die ou en nuwe dinge van die Skrif. Dit beteken om diensbaar te wees en kruis te dra agter Christus aan, terwyl ons radikaal teen die sonde is.
- Die pastrorale briewe maak dit duidelik dat die fondamente vir reformasie vandag bestaan uit: Persoonlike reformasie (1 Tim 1:15, 2 Tim 2:11), Gesinsreformasie (1 Tim 2 en 3, 1 Tim5, Tit 1), ampsdraer reformasie (1 Tim 3) en Konkinkrykreformasie (1 Tim 4:9).
Aan die einde van die dag was dit opmerksaam hoe die tema dat God se Woord in die middel moet staan weer en weer na vore gekom het. Dit was ook opmerksaam hoe lidmate van verskillende kerke en kerkverbande eenstemmig kon wees.
Hierdie was die program vir die dag: KGKSA program