In die geskiedenis vandag: Stigtingsdag, 6 April 1652

Stigtingsdag, oftewel van Riebeeckdag, word deur gereformeerde Christene beskou as die volksplanting van die Afrikaner in Afrika.  Wat baie ‘Afrikaners’ egter vergeet het (partymaal doelbewus), is dat die ‘wortel van ons volksplanting’ en dus ‘volksbestaan’, die Calvinisme was.

Die Calvinisme wat hier geplant is, was gefundeer in Statebybel met sy Verklarende Aantekeninge, die Psalmboek, die gereformeerde teologie van Johannes Calvyn (sien sy Institusies van die Christelike Godsdiens), en die ‘ou skrywers’, o.a. a’Brakel, Smytegelt, ens.

Geen moderne Afrikaner wat heiden, liberalis, evolusionis of nazi-is wil wees, kan hom beroep op die volksplanting of die wortel van ons volksbestaan nie.

In  prof. Willie Snyman se artikel “Die Afrikaanse Volk se krag is in Calvinisme“, skryf hy onder meer:

“Is dit te veel om te sê dat die Afrikaner wat met die Calvinisme breek, met sy verlede breek en ontrou is aan sy afkoms? Ons het hier ‘n lyn wat deurloop tot aan die begin van sy geskiedenis. Die Calvinisme is die tradisie van die Afrikaner. Die tradisionele Afrikaner moet ‘n Calvinis wees.”

Daarom, ongeag hoe vervalle die nuwe SA is en nog meer gaan word, sien ek ongelukkig nie enige hoop in al die (politieke) stemme wat opgaan tot ‘volksreformasie’ binne Afrikanergeledere nie, omdat dit meestal ‘n postmoderne oproep is waarin ‘heiden, liberalis en evolusionis’ ook welkom is ter wille van die ‘volksaak’.

So word die kerklike verskeurdheid onder die Afrikaner maar bloot aanvaar, en word dit nie as ‘n probleem beskou dat ‘n Afrikaner aan nie-gereformeerde kerke of selfs liberale kerke behoort nie. Prof Snyman skryf:

“(Die vyand het die Calvinus) nie probeer loskry van sy Kerk nie, maar van sy Calvinistiese geloofsoortuiging, deur dit te ondermyn met ‘n oppervlakkige, metodistiese volksvroomheid. Daarmee moes die ,,harde” Calvinis week gemaak word. Nou nog. Ook deur die liberalisme. Reeds toe al. Die liberalisme is nie ‘n vyand wat eers in die twintigste eeu opgeduik het nie. Miskien het baie hom nou eers gewaar. In die vorige eeu het dit die Afrikaner al kerklik geskeur. Ons moet ons ook nie daarteen blind staar as die enigste gevaar wat ons bedreig nie. Die eintlike gevaar, die prysgewing van die Calvinisme, vir watter ,,isme” ook, of bloot die prysgewing daarvan. Dit is die prysgewing van ons eersgeboortereg. Dan word ons afgesny van ons wortel, en is ons oorwonne voordat die slag gelewer is, soos Simson.”

Die oplossing moet gesoek word in die lyne van dr. HG Stoker se artikel, “Die Calvinisme as wortel van ons volksbestaan“.

Sien in die besonder die volgende woorde van Stoker:

Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.

Intussen, moet ons ons opnuut verootmoedig voor die Here, en onsself ondersoek in hoe ‘n mate ons afgedwaal het van ons roeping, soos verwoord in

VAN RIEBEECK SE GEBED (1652)

“Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader , dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in water mate ook al op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus … wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is, … Amen”

VAN RIEBEECK SE GELOFTE, 6 April 1654

“Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God’s hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het,  het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot God’s eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.”

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑