PROFETIESE REFORMASIE WOORDE
Ons gedenk komende Maandag, 31 Oktober 2016, die Kerkhervorming wat nie-amptelik begin het met Maarten Luther wat sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenburg vasgenael het.
Uit daardie en baie ander gebeure, het die kerkreformasie van die 1500’s en 1600’s gevolg.
Ook ons eie land en volk het die genadige vrug daarvan geproe, maar ongelukkig ook laat vaar, of net lippediens daaraan gegee.
Ek plaas hier onder ‘n deel uit prof. dr. HG Stoker se klassieke werk, Stryd om die Ordes, waar hy reeds in 1941 profetiese woorde daar skryf wat klink asof hy dit vir ons vandag skryf.
Hy skryf hoe belangrik dit is (en dit is waaroor sy boek ook gaan), om die geeste (ordes) te toets, in sy tyd veral die Liberalisme, Kommunisme en die Naziisme (vandag ook nog – net in ander klere gepoets?), en dan te besef:
Ek glo vas, ja ek weet, dat ons volk, as hy verstaan waaroor die stryd van die geeste gaan, veral dié tussen Liberalisme en Nasionaal-Sosialisme, hy geen van beide nie, maar die Calvinistiese erfenis van sy voorgeslagte gaan kies.
Ja, ons volk met sy calvinistiese wortels, het onsself oorgegee aan verskillende vreemde ideologië wat vreemd is aan ons geloofsworstels, en dan wonder ons nog hoekom dit so sleg gaan op elke lewensterrein ?
Sy woorde getuig opnuut van die Afrikaner wat reeds destyds sy eerste liefde verlaat het, nie meer die geeste onderskei nie, en vandag is dit nog so, dalk nog veel erger ? Dit word veral gesien in al meer Afrikaners wat deesdae:
- die geskiedenis verag, beide kerk- en volksgeskiedenis.
- wat kerklos raak en kerkvyandig raak.
- wat die gereformeerde geloof verlaat vir metodisme, charismatiese dwalings en die nuutste amerikaanse revivalisme opswepings.
- wat ons kinders nie meer die vrese van die Here leer nie, en nalaat om hul te laat doop.
- wat die geloof heeltemal verlaat en humanistiese ateiste word.
- wat verval in vreemde ideologieë soos swart of wit teologie, die Brits-Israelvisie, ens.
- wat verheidens en antwoorde soek by die wêreldse filosofieë en idees, soos teologiese en wêreldse liberalisme.
- wat net wil eet, speel en ‘partie’ en basta met die res.
- wat geen meer roepingsbewustheid het nie, alles gaan net oor ‘my’ begeertes en behoeftes.
- wat ons verbondsbeloftes in terme van geloofsbelydenis, huwelik en doop nie meer nakom nie.
- wat net wil rock in ‘my taal’, sonder Christus.
- wat net blank wil bly, maar nie christelik nie.
- wat nie meer reformatories wil glo en dink nie, maar self rewolusioner raak soos die tydsgees, los van die Here en sy gebod.
Prof. Stoker het ‘n ander bekende artikel ook geskryf, wat ek reeds hier in die verlede geplaas het, gaan lees dit gerus weer:
Calvinisme as wortel van volksbestaan
En in hierdie artikel maak hy dit duidelik, en dit geld vandag nog:
geen ware individuele, gesins- of volksreformasie sonder wesentlike kerkreformasie nie.
Ons moet terug na die huis van die Here, terug na (NGB art.29):
- die suiwer verkondiging van die Woord alleen en die hele Woord alleen
- die suiwer bediening van die sakramente
- die liefdevolle toepassing van die christelike tug
Hy skryf van die hoop wat ons ook voor moet bid en werk (beklemtoning bygevoeg):
“Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou. Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is. Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.”
Ek sien dit ook nie anders nie, hoe ‘onmoontlik’ dit ookal in vandag se tye lyk met soveel verval in kerk en staat, en veral in al meer gemeentes, teoloë, kerkverbande wat dwalend en afvallig raak, en hul eerste liefde verlaat, en sinkretisties te werk gaan om alles te akkommodeer.
In die woorde van Totius se vader, dr. SJ Du Toit:
“Liewer ‘n ongeleerde Afrikaner met sy Bybel, as ‘n geleerde Europiaan (nuwe Suid-Afrikaner?) sonder God en sy gebod”
Prof. Stoker noem in sy artikel hier onder ook hoe verskillende organisasies begin het om die volkslewe in die regte rigting op te bou, en vandag sien ons hoe baie van daardie organisasies ongelukkig iewers langs die pad die spoor byster geraak het, in die woorde van prof. Stoker, die calvinistiese wortel van ons volksbestaan heeltemal verloor het, juis weens die sonde van sinkretisme:
“Sinkretisties is ons huweliks- en gesinslewe; sinkretisties ons skoolwese; sinkretisties ons maatskaplike lewe; sinkretisties is ons pers (met sy onverkwiklike sensasionalisme); sinkretisties ons politieke organisasies en ons volksbewegings en volksorganisasies; sinkretisties is ons ekonomiese lewe en arbeidersorganisasies; sinkretisties is verskillende staats-wette; sinkretisties is ons wetenskaplike denke; sinkretisties is ons letterkunde; sinkretisties is ons sedelike lewe; sinkretisties sou selfs ons godsdienstige en kerklike lewe genoem kon word weens die vereniging van die gereformeerde godsdiens en belydenis met die metodisme en met die dialektiese teologie.”
Ag, mag die Here ons genadig wees, en soos in die 1500’s weer opnuut reformasie skenk orals, maar veral ook in die gemeentes van Christus, sodat die ware leer met ‘n passie weer tydig en ontydig verkondig mag word en dit ons hele lewe reformeer tot eer van God (2 Tim.4:1-5).
In die lig van bogenoemde opmerkings, kom ons luister na prof. Stoker se woorde van 75 jaar gelede (die res van die boek kan by die skakels hier onder afgelaai word. Beklemtonings bygevoeg):
________________________________
DIE STRYD OM DIE ORDES – PROFETIESE WOORDE VIR ONS
Ons volk, en ek bedoel daarmee net daardie menslike verband, wat as volk ’n organiese eenheid is, nl. ons Afrikanervolk, afstammelinge van Voortrekker, Hugenoot en Watergeus, — in oorsprong en wese Calvinisties, — staan al vir meer as ’n eeu, en veral in die laaste veertig jaar, onder die invloed van die Brits-Imperialistiese Liberalisme.
Die gees van hierdie Liberalisme het op verskillende wyse ’n groot deel van ons volksleiers op alle gebiede van godsdiens en kultuur verower en ’n groot deel van hul volgelinge beïnvloed, met die gevolg dat ons volk in die algemeen nie meer die helder, skerp en suiwer Skriftuurlike onderskeidingsvermoë in beginselsake van hul voorvaders besit nie. Ons volk is in sy begrippe en in sy denke verward. Daar is gebrek aan kennis.
En in hierdie verwardheid kom ander nuwe stelsels hul van buite af aanmeld, eers die Kommunisme (Bolsjewisme), nou weer die Fascisme en veral die Nasionaal-Sosialisme. Ook hulle ken hy nie. Hy weet nie hoe hy teenoor hierdie nuwe dinge moet staan nie. Sy gebrek aan kennis en die nood van sy tyd bring saam dat hy in gevaar staan dat hy hierdie vreemde stelsels, veral dié van die Nasionaal-Sosialisme, sy eie gaan probeer maak, sonder dat hy insien wat hulle is en dat ook hulle nie by hom pas nie. Die Skrifwoord: “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis” kan ook op die Afrikanervolk toegepas word.
Hierdie boekie wil ’n bydrae wees om ons volk te leer onderskei tussen Liberalisme, Kommunisme (Bolsjewisme), Fascisme, Nasionaal-Sosialisme en Calvinisme.
Eers as in hierdie sake skerp onderskei word, kan ons volk reg kies en weet wat om te doen. Kennis is ’n wonderlike gawe van God, en wie die juiste kennis verwerf, kan verantwoordelik en vry handel. Of moet ons soos ’n klomp skape eers agter die stem van die Brits-Imperialistiese Liberalisme aanloop, om daarna weer die nuwe, verleidelike stemme van die Fascisme en die Nasionaal-Sosialisme onkrities te volg?
Ek glo vas, nee ek weet, dat as ons volk leer onderskei het, hy weer die Calvinistiese voetspore van ons voorvaders gaan betree in die rigting van ’n Christelike en onafhanklike Republiek, waarin, soos van ouds, die welluidende klanke van Gods Woord en Wet geëerbiedig word.
Maar ek weet ook dat as ons volk nie nou onderskei nie, ons mettertyd in ons nuwe staat verwarring op verwarring, stryd op stryd, broedertwis op broedertwis sal kry, wat hom veral gaan toespits op die verhouding van kerk tot staat, van godsdiens tot kultuur en van huisgesin tot skool. As ons fondamente nie nou — en wel deur juiste onderskeiding, — reggelê word nie, sal die gebou wat ons daarop gaan vestig, skeef, wankel, geskeurd staan, en sal ons nie ons roeping in hierdie sonnige Suiderhoek van die Afrikaanse kontinent op die juiste wyse kan vervul nie.
Ek glo vas, ja ek weet, dat ons volk, as hy verstaan waaroor die stryd van die geeste gaan, veral dié tussen Liberalisme en Nasionaal-Sosialisme, hy geen van beide nie, maar die Calvinistiese erfenis van sy voorgeslagte gaan kies.
Want ons volk, nieteenstaande sy gebrek aan kennis, veral aan kennis van God se Woord en van die daarin geopenbaarde beginsels, en van die vreemde stelsels wat van buite af ingevoer word, is in sy hart nog ’n diepgelowige Calvinistiese volk. Daarvan het getuig die wonderbaarlike Ossewatrekfeeste in 1938 rondom die luttele ossewaentjies. Hier het ons volk hom spontaan beken tot die God van ons vaders en tot die bestemming wat Hy vir ons weggelê het, tot die bestemming waartoe Hy ons nou gaan roep in hierdie ure van volkskrisis, wat ons belewe.
Hierdie volksbeweging is nie aan die gang gesit deur Liberalisties bederfde, maar ook goedbedoelende volksleiers op die verskillende lewensgebiede nie, maar het sy oorsprong in die Spoorbond, wat met sy onderneming die sluimerende, Calvinisties-gelowige “volksiel” gewek het. Verag die dag van die kleine dinge nie; sien ook daarin die hand van God. Dieselfde gees word geopenbaar en behoort geopenbaar te word deur die volkse organisasies, soos die Ossewabrandwag, die Reddingsdaadbond, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, die onderskeie Afrikaanse Jeugorganisasies, ens.
Calvinisme: Hoe min weet ons vandag wat dit is. Pynlike onkunde spreek uit die Liberalisties-Metodisties-onAfrikaanse woorde wat ons so dikwels hoor en lees, nl. dat ons as Calviniste, Calvyn bo Christus stel. ’n Mens voel lus om hiermee die spot te dryf, as die hier geopenbaarde onkunde nie so ’n diep-ernstige saak was nie. Wat Calvinisme is, sal hierdie boekie o.a. probeer verduidelik. Al wat ek nou wil sê is dat:
- die Calvinisme Christus tot Koning uitroep op alle terreine van die wêreld en van die lewe;
- dat die Calvinisme die eer van God Drie-enig soek orals en in alles wat hy doen en laat;
- dat die Calvinisme die leiding van Gods Woord as ’n lig op sy pad en ’n lamp voor sy voet wil soek in alles wat sy hand vind om te doen.
- Calvinisme wil juis teenoor die ander vorme van Christendom die mees konsekwente en harmoniese Christendom wees deur Christus in alles te volg, nie net as Verlosser nie, maar ook as Herskepper, nie net as Middelaar tussen God en mens nie, maar ook as Koning oor die hele skepping.
Calvyn, ’n feilbare mens nes elkeen van ons, het in sy Reformasie daarop gewys dat die Skrif ons God as Soewerein oor alles wat Hy geskape het en Christus nie net as Verlosser en Middelaar openbaar nie, maar ook as Herskepper en Koning van Hemel en Aarde. En nou noem ons ons “toevallig” maar Calviniste om ons te onderskei van Christene soos Katolieke, Metodiste, Lutherane, ens., waarvan die lg. twee bv. Christus net as Verlosser en Middelaar sien, en nie die konsekwensies trek uit wat die hele Skrif vir die hele lewe openbaar nie. Calviniste is juis daardie Christene, wat in Christus nog veel meer sien en volg as ander Christene. Hoe sou dan juis ons Calvyn bo Christus stel? Calvinisme is die mees konsekwente en harmoniese Christendom.
Die koers van ons volk moet Calvinisties wees! ….
Die Calvinistiese beskouingswyse gee ek later weer in besonderhede.
Hier gee ek net enkele van sy grondstellings vir sover hulle vir die kritiek op die ander stelsels nodig mag wees. Die Calvinisme handhaaf:
(a) Dat God Drie-enig, die God van die Skrifte, Uitgangspunt en Doelwit van alles is; dat Hy die absolute Soewerein oor alles wat Hy geskape het, is, en dat Hy alles om Sy ontwil geskape het, tot Sy eer en verheerliking; dat Hy die Alfa en die Omega is, uit Wie, deur Wie, tot Wie alle dinge is; dat Hy die mens na Sy beeld geskape het en as sodanig wesensverskillend van die dier, die plant en die stof; en dat Hy aan die mens as individuele en as sosiale wese ’n roeping gegee het om op aarde te vervul; dat die godsdiens, dat elk van die onderskeie kultuurkringe, dat elk van die onderskeie natuurgebiede van God ’n enigsoortige, ’n eie-aardige, ’n eie wet, ’n eie sin, ’n eie betekenis, ’n eie waarde ontvang het, en dit nie van die mens of van mekaar verkry het nie; dat ons dus die een kring of gebied skerp van die ander moet onderskei; maar dat ons hulle ook moet leer sien in hulle onderlinge samehang, vervlegtheid, aangewys-wees op mekaar, asook in hul verhouding tot die mens as individuele en as sosiale wese; dat hier dus onderskeid en samehang beide gehandhaaf moet word;
(b) dat die mens tegelyk individuele en sosiale wese is, tegelyk individu en bv. volksgenoot, kerklidmaat, staatsburger, gesinslid, ens.; dat die mens, bloot as enkeling of as individu gesien, ’n abstraksie is; dat die mens bloot as sosiale wese (volk, staat, ens.) gesien, ’n abstraksie is; dat die volle, konkrete, werklike mens tegelyk individueel en sosiaal (groeps- of verbandswese) is; dat beide aspekte van die mens (nl. die individuele en die sosiale) nodig, ewe uniek, ewe eieaardig, formeel gelykwaardig en mekaar aanvullend is; dat hierdie mens volle (individuele en sosiale) wese dienskneg van die Allerhoogste is, en nie net direk in sy godsdiens nie, maar ook indirek in sy natuurbeheersing en kultuurskepping God se Heer-likheid moet soek en sy van God gegewe roeping moet vervul;
(c) dat die onderskeie menslike verbande (kerk, staat, volk, gesin, ens.) elk ’n eie eenheidstruktuur, ’n eie struktuurprinsipe, ’n eie sin, doel, taak en roeping het, wat dit in beginsel van God ontvang het; dat geeneen van hierdie menslike verbande die ander mag oorheers nie, die ander mag probeer vervang of vernietig nie; dat elk van hulle selfstandig is, en as sodanig alleen sy van God gegewe roeping kan vervul, en wel volgens sy van God gegewe sin en eieaard; dat hierdie menslike verbande nie los langs mekaar, nie van mekaar geïsoleerd bestaan nie, maar onderling vervleg is, in elke individu mekaar kruis, op mekaar aangewys is, van mekaar afhanklik is, mekaar aanvul en dat hulle dus onderling behoort te harmonieer, saam te werk en onderlinge, vrye wisselwerking behoort te verseker, sonder dat die een die ander oorheers; sodat elkeen en almal saam aan hul doel beantwoord, wat uiteindelik gelyk staan met die eer en verheerliking van God; dat ook hier onderskeid en samehang erken moet word;
Die formele hoofprinsipe van die Calvinistiese Reformasie is dat die Bybel God se onfeilbare Woord is, en Sy lig op alle terreine van die menslike lewe en die wêreld werp en nie net vir die godsdiens en vir die saligmaking van die mens van belang is nie.
Die materiële hoofprinsipe van die Calvinistiese Reformasie is dat God absolute Soewerein is oor alles wat Hy geskape het, ook oor die politiek, wetenskap, kuns, handel, industrie, ens., en dat al hierdie gebiede van menslike bedrywighede as sodanig reformatories verchristelik moet word.
(d) dat die mens (as individuele en as sosiale wese) en as dienskneg van die Allerhoogste, geroepe is om in sy godsdiens God te soek en alle eer toe te bring; dat hy as sodanig ook geroepe is om die aarde te beheers, oor die natuur te heers en daardeur kultuur te skep; dat hy hierin met die van God bepaalde natuurwette en kultuurnorme rekening moet hou; dat hy ook hierdeur God groot maak; dat hy in die eerste plek nie ter wille van homself die natuur beheers en kultuur skep nie, maar as vervulling van ’n goddelike roeping; dat die godsdiens, die kultuur- en die natuurgebiede elk ’n onderskeie bestemming het en onderling saamhang; dat ook hier onderskeid en samehang erken moet word;
(e) dat die staat as regsvormer en regshandhawer onreg moet bestry, sorg moet dra dat elke individu en elke menslike verband, in sy natuurbeheersing en kultuurskeppmg en godsdiens die vrye, regmatige moontlikhede sal besit om sy van God gegewe roeping te kan vervul; dat die staat as regsvormer en regshandhawer bo die individu en die menslike verbande staan, maar dat in sover die individu en die ander menslike verbande elk ’n eie van God gegewe, soewereine taak ontvang het, die staatlike regshandhawing nie bo, maar naas daardie taakvervullinge staan; met ander woorde dat die staat nie bevoegd is om wetenskap, kuns, sedelikheid, taal, ens., te vorm nie en dus die van God gegewe soewereiniteit en selfstandigheid van die betrokke kringe asook die mondigheid van die individu moet eerbiedig; dat die owerheid, die gesagdraer in die staat, sy gesag nie van die mens ontvang het (nie van die menslike individu, soos die Liberalisme leer, nie van die staatshoof self, soos die Fascisme leer, nie van die volkse leier, soos die Nasionaal-Sosialisme leer, nie van die werkersklas, soos die Kommunisme (Bolsjewisme) leer nie), maar dat die owerheid sy gesag van Bo af, van God ontvang het, in Wie se Naam hy regeer en aan Wie hy verantwoordelik is; dat die bepaalde staatsorganisasie (monargie, aristokrasie, driemanskap, republiek, diktatuur, Führerstaat, ens.) geen prinsipiële, maar ’n praktiese aangeleentheid is, bepaal deur historie en tradisie, deur volksaard, deur eise en node van tye en omstandighede, ens., en dat enigeen van hulle goed kan wees, mits dit Gods ordinansies eerbiedig, die reg volgens Sy wil vorm en handhaaf, aan die individu en aan elke menslike verband die moontlikheid verseker om selfstandig, mondig en soewerein op eie gebied asook in wisselwerking met ander, sy van God gegewe bestemming te verwesenlik.
___________________________________
Prof dr HG Stoker se boek kan hier afgelaai word: Stryd om die Ordes
Hier kan meer inligting gekry word oor wie prof Stoker was asook sy werke wat op CD beskikbaar is: HG Stoker
Leave a Reply