Skrif oordenking: Waarom dit so moeilik is vir ordentlike mense om gered te word (Lukas 18:9-14)

WAAROM DIT SO MOEILIK IS

VIR ORDENTLIKE MENSE OM GERED TE WORD

deur dr. Willie Jonker en dr. Flip Theron 

Lees: Lukas 18:9-14 en Romeine 4:1-8

Wie probeer om deur die werke van die wet geregverdig te word – deur sy eie gehoorsaamheid, gestrengheid, nederigheid of wat ook al – is per definisie hooghartig, omdat hy op homself vertrou dat hy sy eie saak met God reg kan maak.

Hy is die gesonde wat die geneesheer nie nodig het nie.

Wat hom betref, is die hele evangelie van die genade van God tevergeefs geskrywe.

Hy verwerp immers die hart van die evangelie:

dat God die goddelose regverdig, die goddelose vir wie Christus gesterf het, en nie die regverdige wat meen dat hy in sy eie krag voor God kan staan nie. …

Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. – Romeine 4:4,5

Net goddeloses kan geregverdig word.

As ‘n mens gered wil word, moet jy as ‘n goddelose voor God kom, moet jy glo dat jy niks anders het om voor Hom te bring nie, as net maar jou goddeloosheid.

Solank ‘n mens nog dink dat jy darem beter is as andere, dat jy nie die bekering en die vreemde geregtigheid van Christus so nodig het as die uitvaagsels, die skuim van die samelewing, die straatvroue en die boewe nie, kan jy nie gered word nie.

Dit is wat dit so moeilik maak vir ordentlike mense om gered te word:

  • die middestandsmens met sy middestandswaardes en -fatsoenlikheid,
  • die akademici met hulle waardigheid en prestasies,
  • die algemene kerkmens met sy kerklike getrouheid.

Hulle almal vind dit moeilik om te glo dat hulle net so verlore is as die eerste die beste tollenaar van ons dag, tensy hulle ongekwalifiseerd tot die genade van God vlug.

Ons het hier met die geheimenis van Gods genade te doen, dat hierdie tollenaar homself in sy sonde ontdek en tot God vlug.

Hoe het dit gebeur?

Waar kom dit vandaan?

In die gelykenis self vind ons nie die antwoord op hierdie vrae nie. Maar uit die res van die Skrif weet ons dit:

– dit gebeur as God ons in sy genade aanraak en ons tot die innerlike verbryseling bring wat gepaard gaan met die insig in ons hopelose posisie voor Hom.

– wanneer God ons deur sy Woord en Gees tot ‘n goddelose maak in die ontdekking van ons skuld, bevry Hy ons van die behaaglikheid van valse sekerheid, en

– dryf Hy ons uit tot die nood wat ten hemel roep – om genade !

En wie homself so verneder voor God, sal verhoog word (Jak.4:8-10).

Niemand roep tevergeefs uit sondenood tot God nie. … (en dan):

… Geloof is lewend, of dit is nie.

Geloof sonder werke is nie werk-lik geloof nie.

Geloof as sodanig kan ‘n mens natuurlik nie sien nie; lewe as sodanig ook nie.

Tog kan jy baie goed sien of ‘n persoon leef en of jy met ‘n lyk te make het. Kom jy iemand tee wat praat, sing, asemhaal, ensovoorts, kan jy my woord daarvoor neem: hy lewe.

So ook geloof.

Kom jy ‘n geloof tee wat geen beweging maak tot die leniging van die nood van ‘n medegelowige nie (vs. 15,16), kan jy Jakobus se woord daarvoor neem: só ‘n “ geloof ” is dood (vs. 17).

En Paulus verskil ook nie op die punt van Jakobus nie.

Hy staan wel skerp afwysend teenoor die wetswerke waardeur jy jouself probeer red, maar dan weet hy ook van geloofswerke wat juis die vrug is van die afsien van eie reddingspogings.

Paulus praat dan ook van “die geloof wat deur die liefde werk” (Gal. 5:6).

Heidelbergse Kategismus 64 Vraag: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie?

Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie (a).

(a) Matt 7:18; Joh 15:5.

______________________

Nota: verwerk uit Vreemde geregtigheid – oor die regverdiging uit genade alleen (dr. W.D. Jonker & dr. P.F. Theron, NG Kerk – Uitgewers, Kaapstad, 1983, p.14,15,63).

One thought on “Skrif oordenking: Waarom dit so moeilik is vir ordentlike mense om gered te word (Lukas 18:9-14)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: