ONS HERE JESUS SAL NIE
‘N GEKNAKTE RIET VERBREEK NIE !
Skriflesing: Jesaja 42:1-7 en Matteus 12:9-21
Preekteks: Matteus 12:20
‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.
Preekopname (GK Carletonville, 2016-11-13):
Aflaai: Matteus 12:20 (regs kliek en dan “save ….”)
Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Ek verkondig vanoggend aan u die evangelie, die goeie nuus
dat ons Here Jesus Christus
nie ’n geknakte riet sal breek nie,
en dat Hy nie ’n lamppit wat rook, sal uitblus nie.
Hierdie wonderlike belofte lees ons in ons teksgedeelte,
daar by Matt.12:20 (lees).
Die beelde van ’n geknakte riet en ’n rokende lamppit wil wys
op die gelowige wat gebroke, nederig is van hart voor die Here,
met sy hele lewe.
Dit wys op ons swakheid en worstelinge as kinders van God,
dit wys op ons nietigheid en verganklikheid,
op ons gebrokenheid en broosheid,
ja, die nog onvolmaakte kind van die Here se pelgrimspad
oppad na die volmaakte hemelse heerlikheid.
Een van die kerkvaders, Hieronimus, sê dat herders, skaapwagters
het dun riete gevat en as fluite gebruik, om musiek te maak.
Maar as die riet dan beskadig word, dalk op hom getrap het,
en hy knak, dan het hy daardie riet weggegooi,
want hy was beskadig, geknak en kon nie meer musiek maak nie.
Die beeld van die lamppit wys op daardie stukkie materiaal wat
in die olie gedruk is om dan te brand,
en as die olie opraak, dan begin die lappie net te rook en te stink
en word dan heeltemal doodgedruk.
En nou gebruik ons Meester hierdie beelde,
om ons as sy kinders te beskryf in ons worstelinge,
onvolmaaktheid, swakhede en stryd.
En is ons nie maar te bewus daarvan nie, geliefde geknakte riete
en rokende lampitte ?
Ja, weens die sondeval en die gevolge daarvan …..
asook ons eie sondes … is ons geknak,
is ons nie meer volkome in harmonie met die Here nie,
is ons geknak deur die gevolge van die sondeval en ons eie sonde.
En selfs as kinders van die Here wat gered is, in Hom glo,
word ons nog baie maal geknak,
is daar baiemaal in ons lewens net so klein bietjie rook wat nog trek
uit ons lewens ….
Daar kom dalk tye wat ek dalk twyfel in my saligheid,
wat ek worstel met die Here se liefde en sorg vir my.
En die knak, die kneusplekke, die pyn, die wonde van die verlede …
en dalk die hede – nou hier wat ek sit – maak my so swak en nietig.
Ja, ’n geknakte riet … :
Dalk is dit die worsteling met sekere sondes in my lewe wat my knak ?
Dalk is dit ’n dierbare geliefde van my, my kind, my vriend, my man of vrou wat die Here weggeneem het … wat my geknak het ?
’n Lang siekbed, ’n geliefde wat lank ly aan kanker of ander ongeneeslike siekte?
Dalk die worsteling met ’n werksituasie, vrae oor waarvan gaan ons leef ?
Die sorge van die tye waarin ons lewe wat my vermoeid en belas maak
Dalk die verval van ons tye in ons kerklike lewe, ons gemeentes wat kleiner word
My kinders wat afdwaal van die geloof … ?
Ja, al hierdie dinge en soveel meer wat my al deur die lewe geknak het,
dat dit voel asof daar geen meer passie, vuur en ywer in die geloof is nie.
En nou, kind van die Here,
Kom ons Here Jesus vanoggend na ons, na jou … na my …
En sê: my kind, vir wie Ek ewig liefhet,
Ek sal jou as geknakte riet nooit breek nie,
ek sal die geloofslewe wat nog in jou is, nie uitblus nie.
DUS, jy sal nooit vir ewig verlore gaan nie, sien Joh.10:28
En, hoekom nie ?
Want, KYK, vers 17 (aanhaling uit Jes.42) …. lees
Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig.
Christus is dié Kneg wat die Vader uitverkies het in wie die Vader ’n welbehae het.
Jesus is die Geliefde van die Vader.
En Jesus het deur die Gees van God die reg kom aankondig
Hy is die een wat, v.20, die reg tot oorwinning uitbring.
In sy Naam sal die heidene hoop !
En daardie hoop, daardie troos is:
Jesus het gekom om self geknak, oftewel verbruisel te word
vir die oorsaak van waarom ons geknak is = die sonde en die
dood wat daaruit sou vloei, OM DIT ALLES TE OORWIN !
Hy as Kneg het gekom om die reg van God – die oordeel oor die sonde – te dra
in ons plek, en vir ons te verdien die geregtigheid van God se wet wat ons
as geknakte riete so nodig het om vir ewig te lewe voor Hom.
Ons lees dit daar in nog ’n profesie in Jes.53:5,10
Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. … 10 Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; …
En daarom, geliefde geknakte riete,
omdat Jesus as geknakte riet vir ons gebreek/verbrysel is aan die kruis
omdat sy lewe uitgeblus is in ons plek, Hy Godsverlatenheid ondergaan het in ons plek, daarom hierdie wonderlike trooswoorde van vers 20 vir ons (lees) !
Weet dit: omdat Jesus weet wat dit is om in sy mensheid om ook geknak te word, daarom kan Hy met ons medelye hê,
wanneer ons geknak en swak deur hierdie lewe gaan …
of dit nou iemand anders … OF EKSELF DEUR MY EIE SONDE IS … wat my geknak het !
Sy karakter, sy Persoon getuig van iemand wat lief is en lankmoedig is met
sy kinders, met elkeen wat gebroke van hart is en Hom soek, genadig is.
Ons sien dit ook in hierdie gebeure in Matt.12 toe Jesus
’n arme man met ’n verdorwe hand,
ja ’n geknakte riet, ’n rokende lampit genadig is en gesond gemaak het.
Hy ontferm Hom oor die swakkes, die ellendiges, die siekes.
Daarteenoor, die Fariseers, met die verdraaiing van God se wet,
het geen medelye met die man gehad nie,
en is skynheilig besorgd oor die sabbatswette,
wat hul nie onderhou het nie,
want die Skrif leer barmhartigheidswerk op die Sabbat
Kyk Jesus se woorde van barmhartigheid en sorg daar in vers 11 en 12. (lees)
11 Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? 12 Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.
En ja, toe die Fariseers Jesus wou ombring, v.14
dan sien ons Jesus se reaksie, daar in vers 15
– dat Hy nie in ’n stryery of geveg betrokke raak nie,
want Hy weet Hy het gekom as Kneg om te kom dien,
om die Vader se wil te vervul,
om vir die Here se geknakte riete te kom sterwe
En Hy laat hom nie afdwaal van sy roeping deur ‘n stryery nie.
Die woorde van v.19 getuig ook daarvan (lees)
Hy het nie gekom as politieke koning nie,
as een of ander aardse rewolusionêre bevryder nie,
Hy het nie gekom om met die Fariseers te kompeteer nie.
Hy het gekom om te dien in waarheid en liefde.
Soos ons laasweek gehoor het, sy koninkryk is nie aards nie,
maar Geestelik wesentlik van aard, hartlik.
Hy het gekom, om die Gees van God aan sy dissipels te gee, v.18
Om hul te wederbaar, en as geknakte riete te kom red.
Ja, Hy ontferm Hom oor mense se fisiese, maar veral geestelike nood, v.16
En daarom ook die woorde van Hom wat ons hoor net ’n hoofstuk vroeër,
aan elke geknakte riet en rokende lamppit vanoggend (Matt.11):
28Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30want my juk is sag en my las is lig.
Maar geliefdes,
Laat ons dit ook baie duidelik stel, ons moet dit ook in liefde sê:
dat hierdie gedeelte nie misbruik word om te leer dat die Here nie ook
regverdig sal oordeel oor hulle wat Hom en sy Woord verag nie.
Kyk mooi wie dit is wat die Here genadig is:
Dit is hulle wat besef, gebroke dat hulle is geknakte riete is,
dit is hulle wat besef hulle lewe is nietig en swak in hulself,
dit is hulle wat besef hul gaan dood gaan vir ewig sonder die Here se redding !.
Die Here let nie op die hoogmoediges van hart nie,
Hy let nie op die mense – om die beeld van vers 20 te gebruik – wat dink hulle is boomstompe of ysterpilare wat nooit geknak is of geknak kan word nie, of wat die lig in hulself het in hul eie denke en hart nie !
Hy let nie op op hulle – soos die Fariseers – wat dink hulle kan sy gebooie en wil vertrap en verag, en het Christus nie nodig as Verlosser van hul sonde nie, wat wil lewe in volhardende sonde en trots daarop is, sien aan die einde van hfst 12 wil die geknakte riete is wat die Here naby is, v.49,50.
In Esg.34:16, hoor ons wie die Here nie sal breek nie en wie wel:
Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: .
Psalms (51:19) Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
Uit Jesus se mond self: 3 Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. – Matt.5
So geliefde kind van God vanoggend, geliefde geknakte riet van die Here,
as die lewe jou al geknak het,
as die sondes en gevolge jou geknak het,
dan KYK (v.17) op na Jesus Christus, deur die geloof in sy beloftes:
Kyk na die Kneg wat die Here liefhet
glo in Hom, hou vas in Hom, word vertroos in Hom
Leer van Hom, want sy juk is sag en sy las is lig
Onthou, Hy sal nie ’n geknakte riet breek nie
Hy sal nie ’n rokende lamppit uitdoof nie.
Volhard in die goeie geloof, in die wedloop tot die einde toe al is jy hoe geknak en swak ! Hy het belowe dat die werk wat Hy in elkeen van sy kinders begin het, dat Hy dit sal volbring tot die laaste dag. (Filp.1:6) Onthou die woorde van Hebr.4
14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. 15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Miskien is u vanoggend hier as geknakte riet wat wankel ?
Dalk besef u vandag vir die eerste keer dat u ‘n geknakte riet is ?
Kyk dan na op na die Kneg van die Here, ons Here Jesus Christus !
Amen.
Leave a Reply