Die Kerk (9) – Die begin van die kerk in die Nuwe Testament

vermaak_churchDIE BEGIN VAN DIE KERK IN DIE NUWE TESTAMENT 

deur prof. WJ Snyman

(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)

Die Kerk is nie ‘n werk van die mense nie, maar ‘n wonderwerk van die Here. Ons kan dit vergelyk met ‘n boom. ‘n Boom is ook ‘n werk van God. Selfs ‘n kind kan dit sien en bewonder, hoewel hy dit nie kan begryp nie. So kan ons ook die Kerk nie begryp nie.

Ons het hier nie gekom om die Kerk te verstaan nie, maar om die Kerk te bewonder soos ons dit sien in Psalm 122:2 en 3. Die gelowige digter bewonder die Kerk wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is. Mag ons deur hierdie lesings oor die Kerk ook gebring word tot aanbidding, en mag ons seker weet dat ons ook ‘n tak van daardie boom is, ‘n lewende lidmaat van die Kerk.

In die Bybel lyk die leer oor die Kerk soos ‘n rivier waarvan ‘n mens die loop byna nie kan volg nie, maar wat uitloop in die oseaan. In hierdie lesings oor die Kerk sal ons dan ook hier en daar langs die oewer gaan staan om hierdie rivier te bewonder. In Openbaring 12 sien ons duidelik die begin van hierdie rivier. Die begin van die Kerk in die N.T. is die krip van Christus. By die begin van die Kerk in die N.T. is daar niks vir die oog om te sien nie, maar daar is des te meer om te hoor. Ons hoor lofsange. Ons hoor mense wat God loof en prys. Daar begin die Kerk.

Die Kerk begin met dinge wat God gedoen het en wat met lofsange van mense beantwoord word. By die krip van Christus hoor ons die Kerk. Dit herinner ons wat die Kerk moet wees en wat die Kerk moet doen. Hierdie lyn loop dwarsdeur die N.T. Ons kan dit byvoorbeeld hoor in Efese 1 waar ook gesing word tot eer van God.

Ons moet ‘n singende Kerk wees.

Nou kan ons die lofsange nader bekyk. Daar is mense wat God loof, want Hy het heerlike dinge tot stand gebring. Ook al verstaan ons nie alles van die Kerk nie, as ons maar hierdie een ding doen: God loof en prys, dan doen ons al ‘n groot ding. Die mense loof God vanweë die verbondstrou van die Here en ook vanweë Sy almag en genade. Dit is die eerste lofsang van die Kerk. En hierdie eerste lofsang van die Kerk in die N.T. is meteens ‘n belydenis.

Daarom kry ons hier die eerste belydenis van die Kerk in die N.T. Belydenis is lofsegging. Nou sien ons daardie belydenis groei. Dink maar aan die Twaalf Artikels waarin ook die Kerk bely word. Ook in die drie Formuliere van Enigheid sien ons ‘n uitbreiding van die belydenis oor die Kerk. Ons moet hierdie belydenis bewaar. En as ons bely dan moet ons jubel. Dan is ons werklik Kerk.

Wanneer ons nou luister na die lofsang van Maria, dan kan ons hoor hoe groot die Kerk is. In Lukas 1:48 sien ons die loop van die Kèrk wat soos ‘n rivier deur die historie kronkel. Die Kerk loop deur alle geslagte. Die geslagte word opgeneem in die Kerk. En dan tref dit ons in hierdie teks dat Maria nie heilig genoem word nie, maar sy word salig genoem. Maria is net deur geloof salig. Maria se geloof bestaan daarin dat sy God nie teenspreek nie. Sy het geglo soos Abraham.

En almal wat glo, sal ook salig geprys word.

En vervolgens is daar die herders. Hulle het gehoor van die geboorte van die Kindjie (Lukas 2:11). Hierdie Jesus wat gebore is, is die Christus, die Seun van God. Hoe weet hulle dit? Hulle het dit gehoor. Die engele het hulle dit verkondig. Die eerste verkondiging kom van God. En die eerste verkondigers in die Kerk in die N.T. was engele. ‘n Engel is ‘n boodskapper. Daarom word in die Openbaring van Johannes die predikante ook engele genoem.

Ons as predikante mag dan ook nie ons eie boodskap verkondig nie, maar ons mag alleen die boodskap bring wat ons ontvang het. Hier in Lukas 2 kan ons sien hoe heerlik dit is om ‘n verkondiger te wees.

Na die engele word die herders ook verkondigers (Lukas 2:17). Die eerste predikante in die Kerk van die N.T. was herders. Dit beteken nie dat ons sommer uit die veld gevang moet word om te predik nie. In die N.T. is daar ‘n duidelike aanwysing dat daar predikante moet wees wat die waarheid moet verdedig en wat dieper in die waarheid ingelei moet word om ander gelowiges ook dieper in die waarheid te kan inlei. Maar dit beteken wel dat alle gelowiges getuies moet wees. Alle mense moet verkondig aan hulle naaste. Ons het in die Kerk mondige lidmate nodig wat teenoor die ander mense van Christus kan getuig.

In die lofsang van die engele hoor ons ook iets oor die omvang van die Kerk. In die oudste handskrifte staan in Lukas 2:14: In mense van sy welbehae. Dit laat ons duidelik die omvang van die Kerk sien. Die Kerk is nie maar net Israel nie. Hier hoor ons van die uitverkiesing. Dit is die vergadering van die Kerk. Die sendelinge is nog steeds besig om die mense van die welbehae te haal. Ons moet egter nie te gou sê as iemand nie glo nie: jy is nie van God se welbehae nie.

Die engele sing ook van vrede op aarde. Dit gaan hier om ‘n innerlike vrede. Op die nuwe aarde sal daar ook ‘n uiterlike vrede wees. Die vrede waarvan die engele sing, begin in die hart. Dit is ‘n vrede met God, ‘n vrede met sy lot en ‘n vrede met sy medemens. God het alles gedoen, ons kan net antwoord en loof.

Die Kerk is die vergadering van gelowiges en lowendes uit alle volkere, tale en nasies, van die begin van die wêreld tot die einde.

Die Kerk is die gelowiges wat God loof.

_________________________________________________

Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman

Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman

_________________________________________________

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: