DIE VERVOLGING
VAN DIE KERK
deur prof. WJ Snyman
(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)
Heerlikheid en vernedering
Ons moet nog besondere aandag gee aan die lofsang van Simeon(Lukas 2:25-35). Uit hierdie lofsang kan ons ook leer hoe dit is met die Kerk. Simeon besing twee dinge van daardie Kind. Hy besing Sy heerlikheid en Sy vernedering. Die heerlikheid is so groot dat een volk alleen dit nie sal ontvang nie, maar dit sal wees vir alle volkere. Christus is ‘n lig tot verligting van die nasies (Lukas 2:32). Jesaja het dieselfde ook al geprofeteer, soos ons kan lees in Jes. 49:6.
Maar Simeon sing ook van die vernedering van die Kind. Daar kom ‘n skeiding. Sommige sal val en ander sal opstaan deur hierdie Kind. Christus bring skeiding tussen gelowiges en ongelowiges. Dit gebeur in Israel en wat in Israel gebeur, sal ook in elke volk gebeur. So bring die verkondiging die Kerk te voorskyn in alle nasies. Dit is nie Christus wat sy rug op die volk keer nie, maar dit is die volk wat Hom verwerp. En dit gebeur in elke nasie.
Wanneer ontstaan daar ‘n Kerk?
Die Kerk ontstaan as die Evangelie na ‘n volk gebring word, want dit gaan maar nie net om die enkeling nie, maar om die volk. En wanneer ontstaan daar nou ‘n Kerk? Die Kerk ontstaan as ‘n deel van die volk sy rug op Christus keer en as die res van die volk Hom aanneem. Daarom moet die Kerk hom rig tot die volk. God het sy uitverkorenes onder elke nasie. Dit weet ons uit die Openbaring van Johannes. En daarom moet ons met die Evangelie kom tot die volk. By Jesus se geboorte sien ons al die verteenwoordigers van alle nasies. Hulle is die wyse manne uit die Ooste wat gekom het om Christus hulde te bewys. Dit is al ‘n vervulling van Simeon se profesie.
Maar ook die donker kant van die profesie van Simeon gaan al gou in vervulling. In Openbaring 12 lees ons van die draak wat die Kind wil verslind. Koning Herodes trek sy swaard om die Kind te dood. Maar nou tref die swaard van Herodes nie die Kindjie nie, maar ander kinders. Ons kry die geskiedenis van die kindermoord te Betlehem. Daar vloei die eerste martelaarsbloed in die Nuwe Testament. Ons het lofsange gehoor, maar nou hoor ons geween. Hier word nie alleen bely nie, maar hier word ook gely. Ons moet ook bereid wees om vir ons belydenis te ly. Die weg van die Kerk, ook onder ‘n volk, is ‘n weg van lyding. Die Kerk groei juis deur lyding. In die Kerk word geloof en geprys, maar ook gely.
En dan sien ons in Matthéüs 2 dat die Kindjie vlug. Hy moet padgee vir die draak. Die engel het groot blydskap verkondig en nou is alles geklaag en geween. Die Verlosser moet verlos word. Sy ouers moet Hom neem en met Hom vlug. En wie sal glo in ‘n vlugtende Koning? Christus moet vlug na Egipte. En wat word dan deur Matthéüs gesê? Hy skrywe:
“Sodat die Woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my seun geroep” (Matt. 2:15).
Hier kom ons by ‘n diep saak. Hier kan ons sien wat die Kerk is. Uit Egipte het Ek my seun geroep. Dit kom uit die Ou Testament. Dit het ook in die Ou Testament gebeur.
Israel kom uit Egipte. Israel moes opstaan uit die dood. So moes van hom ‘n volk gemaak word.
Dit is God se weg met Sy Kerk. Dit leer ons by Calvyn. Hy verklaar Matt. 2:15 op hierdie manier: die roeping van Israel uit Egipte was nog maar ‘n profesie. Daardie verlossing uit die dienshuis van die sonde was nog nie die werklike verlossing nie. In Christus word die profesie vervul. Noudat Christus uit Egipte geroep word, gebeur daar ‘n werklike verlossing met Israel. Egipte was maar ‘n uiterlike diensbaarheid. Toe Christus uit Egipte geroep is, toe is Israel werklik verlos uit die slawerny van die sonde en van die dood. Dit kan ons ook leer by Paulus. Toe Christus opgestaan het uit die dode, toe het die Kerk opgestaan. Toe Christus uit die dood verlos is, toe is ons in Hom uit die dood verlos. En hier val die volle lig op die groot gedagte van Paulus: die Kerk is die liggaam van Christus. Wat met die Hoof gebeur het, het ook met die liggaam gebeur.
En hoe word ons nou salig?
Deur dit te glo. Deur te glo dat ons in Hom begrepe was toe Hy gesterf en opgestaan het. Dit is dieselfde wat ook met Adam gebeur het. Ons het met Adam geval. Nou is Christus die tweede Adam. Soos ons in die eerste Adam verlore gegaan het, so word ons verlos deur die tweede Adam. Uit Egipte het Ek my seun geroep, beteken dat ons almal in Christus uit die sonde en die dood geroep is. Die Kerk is daarom almal wat in Christus begrepe is. Hulle wat nie glo nie, is nie in Christus begrepe nie. Deur ons val in Adam was ons in Egipte, en daar kom Christus ons haal. As ons daarom praat van die Christelike Kerk, dan beteken dit nie dat daar ook nog ander kerke is nie, maar dan wys dit op die eenheid tussen Christus en die gelowiges. As ons die eenheid met Christus verstaan, dan verstaan ons al veel van die Kerk.
As ons hierdie wonderlike eenheid raaksien, dan kan ons ook die lyding van die Kerk, die vervolging van die Kerk verstaan. Die draak vervolg eers die Kind wat die vrou gebaar het, en daarna vervolg hy die vrou (Openbaring 12:13). Die Kerk kan met sy lyding die genade nie verdien nie. Hy glo dat Christus alles gedoen het en dat ons slegs een ding kan doen: dit is om te glo soos Abraham en Maria alleen kon glo. Maar die lyding en die vervolging van die Kerk kan ons alleen verstaan uit die diepe eenheid tussen die Liggaam en sy Hoof.
En hierdie lyn van Matthéüs 2 waarin geteken word dat dit wat met die Hoof gebeur het ook met die liggaam gebeur het, loop deur tot die Efesiërsbrief. Paulus trek daar die lyn van Matthéüs deur.
_________________________________________________
Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman
Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman
_________________________________________________
Leave a Reply