DIE STREWERSVERENIGING EN DIE VERBOND
deur Totius
“Dat hierdie indeling van die gemeente nou volgens die geloof van die mens en nie volgens die belofte van God in die genadeverbond nie, volgens die wisselvalligheid van die menslike glo of nie glo nie en nie volgens die vastigheid van wat God doen nie, onbybels en ongereformeerd is, hoop ons om netnou aan te toon. …. Daardie verbond (Gen.17:7; Hand.2:39) bind dus nie alleen enkele persone nie maar ook families en geslagte; nie alleen die wat van hierdie verbond bewus is nie (Abraham en die Pinkstergelowiges), maar ook die wat daarvan nog onbewus is (die nageslag en die klein kindertjies).“
Hierdie vereniging, meer bepaald bedoel vir die jongeres in die gemeente, het ons insiens sy ontstaan te danke aan die feit dat die heerlike Verbondsleer van ons vaders in vergetelheid geraak het. Om dit aan te toon is die doel van hierdie hoofstuk.
Ons gaan weer eers na die Metodisme terug, omdat hier al weer die oorsprong lê van wat in die metode en praktyk van die Strewers gesien word.
Wesley se optrede
Wesley se optrede was nie volgens die Gereformeerde opvatting van die genadeverbond nie. Almal wat nie bewus en beslis “bekeer” was nie, het hy beskou as “heidene gedoop of ongedoop” (Works, V, bl. 108).
Wat dus deur hom verlang is voordat iemand ‘n lid van sy vereniging kan word, was “ontwaking”, “bekommering”, “bekering” of ook “‘n begeerte om weg te vlug van die toorn wat aan die kom is”. As hy ‘n plek die eerste keer besoek en bevind het dat diegene wat (deur sy prediking) tot ontwaking gekom het, begeer het om by sy vereniging aan te sluit, was dit sy gewoonte om die doel daarvan duidelik te maak en hulle te ontvang wat gewillig was om lid te word (J. Telford: Life of Wesley, bl. 145). Die lede was dan die bekeerdes, die nie-lede die onbekeerdes.
So is dit ongeveer nou nog in die Wesleyaanse Kerke. Op die vraag: Is die Wesleyaanse Metodistiese Kerk ‘n suiwer vrywillige (voluntary) vereniging? antwoord dr. Gregory (Handbook, bl. 262): “Ja. Niemand kan ten volle lid daarvan wees deur geboorte of deur die daad van ander (hetsy doopgetuies of predikante) nie maar deur sy eie uitdruklike toestemming.”
Die kinders, van wie so iets nie verwag kan word nie, is gevolglik nie volle lede nie. In ‘n sekere sin is hulle dit by die Gereformeerde ook nie, maar kyk nou hoe ‘n verskil tussen die Wesleyaanse en ons doops-beskouing [bestaan]. Die “Kategismus van die Wesleyaanse Metodiste” vra (hfst. II. IX § 2): “Is gedoopte kinders deelgenote van hierdie seëninge?” en antwoord: “Hulle het die uitwendige voordele van die Christelike kerk, en al die seëninge van die verbond word aan hulle verseker vir die toekoms as hulle aan die voorwaardes van die evangelie sal beantwoord!”
Die deur ons gekursiveerde woorde gee te kenne dat die kinders van die Metodiste gedoop word nie omdat hulle “in Christus geheilig is” nie (soos ons Doopformulier sê), maar sodat hulle in die toekoms geheilig sou word. Die kind het volgens hierdie beskouing nie die seëninge van die verbond nie, maar sal dit nog ontvang as hy hom bekeer. In die statistieke vind ons dienooreenkomstig die indeling: (1) kerklede, (2) probationers (wat nog op die proef gestel word) en (3) Sondagskoolkinders (Telford: Life of Wesley, bl. 375).
Tereg het Julia Wedgwood daarom opgemerk dat die Christen se geboortedag deur die Metodis van sy doop na sy bekering verskuif is (Rigg: Churchmanship of Wesley, bl. 37). Of, om meer Gereformeerd te spreek, die aanvang van die nuwe lewe het nie meer in die vastigheid van God se verbond gelê nie maar in die wisselvalligheid van die mens se “bekering”.
Die Strewersvereniging
Die spreek van “bekeerdes” en “onbekeerdes” het, seker ook weens die optrede van die Strewers, in ons land algemene spraakgebruik geword.
Die Strewers beywer hulle “om kinders vir Christus te win” (Christian student, V. 2, bl. 2), sodat húlle, voordat hulle gewin is, deur hulle nie as die eiendom van die Here beskou word nie.
Self deel hulle hulle soos volg in: Werkende lede, medelede en erelede. Werkende lede is jongmense “wat glo dat hulle Christene is” ens. (kyk Modelkonstitusie, art. III), “wat die Heer gekies het”, wat dus bekeerd is en die gelofte van art. V (huishoudelike reglemente) kan onderteken. Medelede (in ‘n ander konstitusie word hulle “meegaande” lede genoem) is “jongmense van goeie beginsels wat nog nie as Christene beskou wil word nie”, en “die Vereniging sal altyd in die oog hou dat hulle mettertyd tot werkende lede behoort oor te gaan” (Modelkonstitusie, art. III). Húlle staan, sover ons kan uitmaak, nog tussen die bekeerdes en onbekeerdes in, en die wat hulle nog buite die vereniging bevind, moet as onbekeerdes beskou en behandel word.
Wie voel nie dat ons hier met dieselfde onderverdeling as by die Metodistiese Kerke te doen het nie? Daar is: (1) die wat glo dat hulle Christene is, (2) die wat dit byna glo maar nie as sodanig beskou wil word nie, en (3) die wat nog vir Christus “gewin” moet word.
Dat hierdie indeling van die gemeente nou volgens die geloof van die mens en nie volgens die belofte van God in die genadeverbond nie, volgens die wisselvalligheid van die menslike glo of nie glo nie en nie volgens die vastigheid van wat God doen nie, onbybels en ongereformeerd is, hoop ons om netnou aan te toon.
“Bekeerdes” en “onbekeerdes”
Nou bepaal ons ons tot die onderskeiding “bekeerdes” en “onbekeerdes”, want wie glo, is, volgens die tans gangbare spraakgebruik, “bekeerdes”, en wie nie glo nie, is nog “onbekeerd”.
Laat ons nou aan dr. A. Kuyper, die groot stryder vir die Gereformeerde leer in Holland, die woord gee (kyk Uit het Woord, II. 2, bl. 312 e.v.).
Onseker
Hy sê daarvan: “Die onderskeiding van alle mense in ‘bekeerdes’ en ‘onbekeerdes’ is onseker, hou ‘n ernstige gevaar in en is ongenoegsaam. Dit is onseker, want niemand op aarde besit ‘n toetssteen om die bokke van die skape te skei nie. Van jouself kan jy weet of jy bekeerd is. Wel nie altyd dadelik nie. Soms is daar selfs onvaste siele, wat tot by hulle doodsnik onseker bly. Maar afgesien van dié buitengewone gevalle is dit tog die reël dat God Almagtig op sy tyd sy uitverkorenes van hulle ewige heil verseker. Sodaniges vra nie meer angstig: Sou daar heil wees? nie maar bely ootmoedig en vreugdevol: ‘Ons dan geregverdig deur die geloof, het vrede by God deur ons Here Jesus Christus.’
Maar al hou ons met hand en tand vas dat die begenadigdes wel terdeë van hulle roeping verseker word, kan of mag ons nooit toegee dat ons die middel besit om die bekeerdes en onbekeerdes buite ons te onderskei nie.
Wel is daar kentekens van die kinders van God, maar eerstens kan dié kentekens soms só verduister wees dat ons hulle nie meer bespeur nie; ten tweede kan ons oog te vooringenome en beneweld wees om te sien wat daar is, en ten derde het die leuen nou eenmaal so fataal (noodlottig) in die hart van die mens ingedring dat hy ook dié kentekens naboots en so ‘n lewe voorwend wat daar nie is nie. Die geestelike komediante! Hoe noukeurig ‘n mens dus ook oplet – en ons erken dat die ernstiger Metodiste hulle metterdaad hierop toegelê het – tog moet elke splitsing in bekeerdes en onbekeerdes onverbiddelik afgewys word, omdat so ‘n skeiding óf volkome verseker moet wees of dit pleeg die verskriklikste onreg. Die onreg naamlik om die geknakte riet te breek en die indringer met ‘n ontsteelde kinderdeel te begiftig.
Gevaarlik
“Maar nie alleen is hierdie splitsing onseker nie, maar dit hou ook ‘n gevaar in, t.w. die geestelike gevaar van selfverheffing vir die bekeerdes.
“Elke tere kind van God weet uit ervaring hoe ontsettend groot dié gevaar is en hoe, as dié selfverheffing eenmaal deurbreek, alle geestelike wasdom versteur word. Skeiding moet daar nou eenmaal wees. Wie uit die ryk van die duisternis oorgesit word in die koninkryk, kan of mag sy oë nie toemaak vir die groot feit dat daar ‘n sondige wêreld is, wat hy moet veroordeel nie, en ‘n heilige koninkryk, wat hy moet soek en moet loof. Daaraan kan nie ontkom word nie. Dit behoort tot ons geestelike roeping.
Maar nooit, nooit kan ons dit sonder selfverheffing doen nie, tensy daar aan hierdie dubbele voorwaarde voldoen is: (1) dat ons die wêreld in onsself op dieselfde oomblik die hardste veroordeel, en (2) dat ons, self uit die wêreld gered, aan redding van ander uit hierdie selfde wêreld glo.
En kyk, juis dit word by hierdie willekeurige skifting in bekeerdes en onbekeerdes byna onmoontlik. Die kring van bekeerdes staan dan soos ‘n heilige kring eenkant; beskou hulleself asof hulle ‘aan niks gebrek’ het nie, en het sodoende reeds meer as halfpad deur die poort van ‘geestelike hoogmoed’ gegly. Dit strem alle waaragtige lewe, hou die genade teë en verwarm ons gebed. En geen groter diens kan daarom aan die begenadigdes bewys word as dat u rusteloos vir hulle daardie gemaakte heiligheidsbeeld uit die nis van hulle hart wegneem nie.
Ag, daar is honderde en honderde wat die aanbidding van heiliges by Rome afkeur en in hulle eie hart, op nog aanstootliker manier, aan dieselfde sonde mank gaan.
Ongenoegsaam
“As ‘n splitsing in ‘bekeerdes en onbekeerdes’ derhalwe reeds om hierdie dubbele rede verwerp moet word, behoort dit nog meer teëgegaan te word as volstrek ongenoegsaam.
“Doel van so ‘n splitsing is tog – nie waar nie? – om die akker waar die saad van God in is, te onderskei van die akker wat met die saad van die sonde besaai is. Die grens moet dus só getrek word dat niks wat uit die saad van God is, daarbuite mag val nie. En daarvoor is die indeling in bekeerdes en onbekeerdes ten enemale ontoereikend en onbekwaam.
“Want tot die akker van God behoort nie alleen hulle wat nou reeds tot bewuste bekering gekom het nie, maar net so goed sodaniges in wie die genadewerk wel reeds begin het maar nog sonder dat hulle dit self agterkom, ja, selfs al sodaniges vir wie die genadewerk, hoewel nog nie in hulle persoonlik begin nie, tog reeds in die ewige besluit van God gereed lê.
“Van die werk van die versoening sê die apostel in Hebr. 4:3 dat al die werke van God wat die versoening teweegbring, hoeseer ook eers daarna geopenbaar, tog in die wese van die saak ‘reeds van die grondlegging van die wêreld afvolbring is‘.
En so behoort ‘n kind van God reeds tot die akker van God van voor die grondlegging van die wêreld af, ook al is dit dat die genade eers op ‘n later tydstip tot hom oorgaan en in hom openbaar word. Bekeerd of onbekeerd is dus volstrek nie die enigste kwessie waarmee rekening gehou moet word nie. Om jou dit in te beeld is om van die werk van God ‘n veels te geringe denkbeeld te koester.
Nee, die werk van God gaan deur ‘n goue ketting vanuit die ewige raad deur ‘n hele reeks van skakels na die eindelike heerlikheid toe, en in dié goue ketting is die bekering net een van die middelste skakels. Elke indeling wat op die bekering alleen gegrond word, moet dus altyd oppervlakkig en gebrekkig bly. Dit gee ‘n stuk van die saak maar kom nie tot die omvatting van die geheel nie.”
Die middelstaat
Ons hoop dat deur almal ten volle verstaan word wat dr. Kuyper bedoel.
Met die maatstaf van die “bekering” mag ons die gemeente nie meet nie,
(i) omdat dit [die maatstaf] onseker is, aangesien ons wel van ons eie bekering sekerheid kan hê maar nooit onfeilbaar van ander kan sê of hulle bekeerd is nie, en juis op die beoordeling van hierdie ander kom dit by ons arbeid in die gemeente van God;
(2) omdat dié bekering maklik diegene wat dit deelagtig geword het, tot geestelike hoogmoed verlei en hulle, soos die ondervinding, helaas! te duidelik leer, op die onbekeerdes uit die hoogte laat neersien, en
(3) omdat hierdie “bekering” (as dit van goddelike oorsprong is) slegs ‘n middelstuk is van die groot werk van God aan die siel, sodat as daarmee begin word, al die voorafgaande werk, reeds van ewigheid af begin, uit die oog verloor word.
Maar nou is daar nog ‘n middelstaat, naamlik van mede- of meegaande lede. Hulle is, sover ons dit verstaan, nie heeltemal wêrelds, soos die onbekeerdes nie, en ook nie heeltemal godsdienstig nie maar “half en half persone wat die wêreld laat vaar maar ook nog nie ‘n Jesus ontvang het nie”. Hulle moet dan “mettertyd” tot die staat van werkende lede oorgaan.
“Hierdie hele derde staat,” sê dr. Kuyper (t.a.p., bl. 322), “is ‘n suiwere versinsel en bowendien ‘n allerverderflikste versinsel…. Kyk, ‘n sogenaamde bekommerde siel is óf ‘n reeds gebore kind van God maar wat nog in die windsels lê en daar dus uitgehelp moet word, óf só ‘n bekommerde is ‘n vyand van God met ‘n sluier voor sy gesig en dus een wat homself en ander bedrieg en vir wie die sluier hoe gouer hoe beter voor die gesig afgeruk moet word.”
Op ‘n gegewe oomblik is ‘n mens ‘n kind van God of is jy nie ‘n kind van God nie. “Mettertyd” kan ‘n mens nie een van die twee wees nie. Weliswaar is daar oorgangstoestande – ‘n oorgaan van onbewuste tot bewuste vyandskap teenoor God en ‘n oorgaan van onbewuste tot bewuste kind-wees, maar hierdie toestande kom tot hulle reg in die genadeverbond, soos dadelik aangetoon sal word, sonder ‘n tussenstaat tussen kinders van die Here en van die duiwel te belewe.
Die uitverkiesing as maatstaf
Intussen kan die vraag gestel word: “Is dit nie moontlik om die uitverkiesing as maatstaf te neem by ons werke in die gemeente nie ? – waarop deur ons met ‘n besliste nee! geantwoord word.
Van ons eie verkiesing kan ons in die binnekamer van die siel verseker wees, en dit is ons plig om ons roeping en verkiesing vas te maak (2 Petr. 1:10), sonder om daarmee in die wêreld te koop te loop.
Die verkiesing van ander is egter ‘n geheimenis waar ons nie mag indring nie.
Niemand mag die gemeente in twee gaan deel deur vir die een te gaan sê: Jy is verkies, en vir die ander: Jy is verlore, nie, om die eenvoudige rede dat God die mense nie met die name van die verkorenes en verworpenes bekend gemaak het nie.
Laat ons dan so die uitverkiesing nie los deur net met die verbond rekening te wil hou nie?
O nee! Juis “daardie laat skiet van die Verbond het die siele van die mense van die Verkiesing afkerig gemaak,” sê dr. Kuyper (bl. 823), en tereg.
As jy net die uitverkiesing preek, jaag jy die mense weg, of jy moet al die hoeke en kante van daardie leerstuk afslyp en dit heeltemal misvorm. Dan trek jy wel weer die mense maar begaan die verskriklike sonde dat jy hierdie heerlike waarheid van God misvorm het.
Nee, verbond en verkiesing is twee sterk pilare wat die gebou van ons saligheid dra, en nie een van die twee kan omgeruk word nie, of die gebou stort inmekaar.
Verkiesing en verbond behoort bymekaar, soos in Jesus se prediking. ,,Al wat die Vader My gee . . . sal Ek nooit uitwerp nie” – is die verbond, albei in een vers verbind (Joh. 6:37). Wie bekom is, het vastigheid nodig, ‘n fondament vir hulle saligheid, en juis dit bied die verkiesing: daardeur word die verbond ‘n verbond van die genade, ‘n vaste en ewige verbond. En wie moet kom, het ‘n band nodig waardeur hulle getrek kan word, ‘n band wat juis deur die verbond gaan werk, deur die lokkende en trekkende uitnodiging: “Kom, en Ek sal julle nooit uitwerp nie.”
Die genadeverbond
So is ons dan eindelik waar ons moet wees, en kan maklik verduidelik word wat eintlik onder die verbond verstaan moet word.
Dit is deur God met Abraham en sy nageslag opgerig:
“Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte” (Gen. 17:7).
Let nou goed daarop met wie hier gehandel word.
Ten eerste met ‘n persoon (Abraham);
ten tweede met sy nageslag (Isak en Jakob), en
ten derde met hulle geslagte (die 12 geslagte van Israel).
Daarom is hierdie verbond dan ook weer aan die voet van Sinai vernuut en bevestig.
Dieselfde belowe God aan sy volk sodra dit op die Pinksterdag gebore is. Dan roep Petrus uit:
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is” (Hand. 2:39).
Al weer daardie selfde drie:
(1) persone (hulle wat op die Pinksterdag die Heilige Gees ontvang het),
(2) nageslag (julle kinders) en
(3) geslagte (almal wat daar ver is).
Daardie verbond bind dus nie alleen enkele persone nie maar ook families en geslagte; nie alleen die wat van hierdie verbond bewus is nie (Abraham en die Pinkstergelowiges), maar ook die wat daarvan nog onbewus is (die nageslag en die klein kindertjies).
Die werking van die verbond
Met hulle almal worstel die verbond van God nou. Met die grotes en die kleintjies, met die oues en die jonges, met die “bekeerdes en onbekeerdes”, met die geborenes en ongeborenes. Vandaar dat dit nie nodig is om die gemeente in onbekeerdes, bekommerdes en bekeerdes te verdeel en elke klas besonderlik te groepeer nie.
Hulle is almal in die verbond en word gelykop bewerk. Almal wat deur die doop in die gemeente ingelyf is (om dit kortheidshalwe so te stel), word beskou en aangespreek as “uitverkorenes, heiliges en geliefdes” (Kol. 3:12).
‘n Kind van die gemeente moet as die eiendom van die Here, as “in Christus geheilig” aangemerk word en kan gevolglik nie meer vir Christus “gewin” word soos die Strewers sê nie, of dit moet heeltemal oneintlik bedoel wees. ‘n Kind van die gemeente hoef hom nie deur “‘n gelofte” (kyk Modelkonstitusie) aan die Strewers te verbind nie, omdat hy al van voor sy geboorte af aan die Here verbonde is. En as hy tot die jare van onderskeiding gekom het, aanvaar hy met bewustheid daardie verbond en bely ook die leer van die verbond in die midde van die gemeente.
Die onbekeerdes
Maar daar is dan tog onbekeerde verbondskinders?
Alte seker.
En moet hulle nie van die ander afgeskei word nie?
Nee, hulle behoort ook tot die verbond.
Ons moet hulle as verbondskinders vermaan, aanhoudend vermaan so lank as hulle deur leer of wandel nie opsetlik met die verbond breek nie, en dan nog eers afsny deur middel van die kerklike tug, d.w.s. afsny as kind van die verbond!
So maak die Here.
Israel het afgewyk en het die afgode gedien, en nou kom roep Hy: “Keer terug, o afkerige kinders” (Jer. 3:22). Nie: Keer terug, julle heidene, julle ongelowiges, julle vreemdelinge van die verbond nie. Nee: wél “afkeriges” maar tog nog altyd “kinders“.
Ag, as hulle in ons dae die Here se vermaning as model geneem het, hoe anders sou die prediking wees?
“Om te doen wat nou gedurig gebeur, dat die gemeente van Christus toegespreek word as ‘n klomp wilde mense wat hier- en daarvandaan bymekaar gekom het, is deur en deur verkeerd. Dit mag ‘n evangelis, dit mag ‘n sendeling doen; maar nie ‘n bedienaar van die Woord wat voor die gemeente optree nie. En alle aandrang en vermaning tot bekering in hierdie gemeente moet altyd en onveranderlik hierdie veel skerper en heiliger karakter dra van te sê: ,U staan of sit hier in u hoedanigheid van bondgenote van die lewende God. Is u dit?‘ Nie maar net: ‘Wil u na Jesus toe kom?’ nie, maar veel deurdringender: U doen u voor asof u een van diegene is wat deur die Vader aan Hom gegee is. En nou, word dit in u gevind?” (Kuyper, bl. 346).
As in ons dae so gespreek sou word, hoe anders sou die seën dan uitgespreek word; “veral daardie na Metodisme lykende ‘mag wees of mag bly’, waardeur hulle ook by hierdie slothandeling nog ‘n wenk [aanduiding?] wil gee dat daar wel in die vergadering [mense] kan wees wat nog nie tot die gemeente behoort nie, wil ons, hoe goed die bedoeling mag wees, ook omdat dit nie daar staan nie, afkeur” (Kruif: Liturgiek, bl. 139).
Met opset gee ons hierdie aanhalings, hoewel daarmee op kerklike terrein oorgegaan word.
Want, kyk, ons glo dat die Strewersverenigings nooit sou opgekom het as die kerke by die verbond gebly het en hulle lede as verbondskinders aangesien het nie.
‘n Bedenking
Een bedenking kan nog geopper word.
As almal dan, ook die wat later blyk verwerp te wees, in die verbond is en as sodanig in enige opsig daaraan deel het, dan is – so kan ‘n mens aflei – die verbond ook vir die verworpenes, terwyl die verkiesing net vir die uitverkorenes is.
Maar dit is ‘n verkeerde redenering.
“Bondgenoot in daardie verbond is niemand behalwe die wat genade ontvang het of vir genade bestem is nie.”
Kaf en koring sit wel nog aan mekaar vas solank daar nog nie gedors is nie, maar die grond, die mis, die water, die lug, die son is nie daar vir die kaf, wat wegwaai nie, maar vir die koring, wat in die skuur ingedra word. Die verbond werk in die tyd, in die sondige menslike geslag. Vandaar hierdie tydelike vermenging.
Tog is die verbond van die genade in die wese van die saak alleen vir die begenadigdes.
_______________________________
Bron: Versamelde Werke (1977 stel, deel 6, bl.251 tot 260). Sien Totius se volledige geskrifte teen verskillende sektes wat op verskillende maniere die genadeverbond met ons én ons kinders verwerp, asook die belangrikheid van die plaaslike kerk, in hierdie deel 6 van sy Versamelde Werke, onder andere:
– Die Metodisme (bl.129-214)
– Die Reveil in Nederland (bl.217-228)
– Die Strewersvereniging beoordeel vanuit Gereformeerde standpunt (bl.241-278)
– Die Christelike Strewersvereniging (C.S.V.) nog eens (bl.279-325)
– Die “Doop van die Gees” – Bestryding van die leerstellings van die AGS (bl.328-352).
– Spiritisme (bl.366-382)
Nota: Totius vermeld in die begin van sy artikel (bl.243) dat die amptelike naam van die “Strewersvereniging” is: “die Jongeliedevereniging vir Christelike Strewe”.
Sien ook hierdie artikel van Totius oor die gereformeerde doopsformulier vir kinders: Hierdie kind van U